Klinkklare weerbaarheid.Ena Jansen

Versindaba: Dana Mouton-gedenklesing, 5 September 2008

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers

Klinkklare weerbaarheid: Elisabeth Eybers 1915-2007
[’n fragment]

Ena Jansen

 

Geagte dames en here,

Baie dankie vir die uitnodiging om vandag oor Elisabeth Eybers te kan praat hier op Stellenbosch. Tydens die volgende driekwartier wil ek ’n kort oorsig gee van die laaste vier jaar van Elisabeth Eybers se lewe en werk. Ek gaan die jare 2004, 2005, 2006, 2007 asook hierdie afgelope jaar, 2008, langsloop. In die tweede helfte van die lesing brei ek uit oor die belang van merels en dubbelpunte vir haar werk en sal ek in die proses verduidelik wat die titel van my lesing en van haar cd-bloemlesing Klinkklaar beteken. Dit is die eerste keer na Elisabeth Eybers se dood dat ek in Suid-Afrika oor haar werk praat.

 

2004

In Maart 2004 is die Woordfees hier op Stellenbosch geopen met lesings, onder andere deur my, oor Elisabeth Eybers. Sy was toe 89 jaar oud. Die aand voor my vertrek uit Amsterdam het Eybers soveel herinnerings aan haar kleintyd-besoeke aan Stellenbosch aan my vertel dat ek in my lesing na sommige daarvan verwys het: onder andere aan Stellenbosse vakansies by haar ouma Le Roux, gebore Bosman in Murraystraat en aan hulle strandhuis Thalassa op Gordonsbaai. Ek het ’n transparant in EE se handskrif laat sien van haar jongste ongepubliseerde gedig tot op daardie moment, die Engelse gedig “Insomnia”. My lesing se titel was Elisabeth Eybers as transmigrant – haar Kaapse draai. Eers het ek die gedig “Februarie” gelees, opgedra aan haar ou vriendin Rita Elfrink wat buite Stellenbosch op ’n plaas gewoon het en wat net soos sy in Februarie verjaar het. Die teenstelling tussen Februarie in Amsterdam met sy grou straatplaveisel en die Stellenbosse laatsomerwingerd word in die gedig in twee kort treffende strofes verbeeld. “Februarie” was die aanloop na ’n ander gedig getiteld “Terug”. Hieroor straks meer.

Elisabeth Eybers se teenwoordige tyd in Amsterdam is altyd geteken deur daardie Suid-Afrikaanse verlede. Die posisies van nou en toe, van hier en daar, is deur middel van teenstellings in balans en in stand gehou. As transmigrant, ’n moderne woord vir wat Eybers al die jare gedoen het, het sy dus nie gemigreer met agterlating van die verlede land van herkoms nie, het sy nie doelbewus by die nuwe land probeer assimileer nie, maar albei plekke in jukstaposisie aanwesig gehou. Eybers het altyd met Suid-Afrika verbonde gebly ondanks, of juis danksy afstand. Dit is in die spanningsgebied van haar gedigte dat lesers uit sowel Suid-Afrika as Nederland haar kan opsoek en waardeer.

 

In 2004

het Elisabeth Eybers ná “Insomnia” wat ek op die Woordfees voorgelees het, nog ’n hele paar gedigte geskryf, o.a. die Afrikaanse teëhanger daarvan, “Slaaploosheid”.

Haar laaste bundel, Valreep/Stirrup-cup, is gereed gemaak vir publikasie.

Eind 2004 het ’n nuwe uitgawe van haar Versamelde gedigte verskyn; gedruk in Amsterdam. Dis ’n boek met ’n blou omslag en dit was ’n opdatering van die oranje uitgawe. (Ongelukkig is geen drukproewe aan Eybers of haar Suid-Afrikaanse uitgewers voorgelê nie en dit het talle drukfoute wat eers ná die publikasie danksy Daniel Hugo se oplettendheid op ’n ry gesit is. ’n Nuwe gekorrigeerde uitgawe sal hopelik een of ander tyd verskyn noudat Elisabeth Eybers se lang oeuvre van meer as 70 jaar afgesluit is met Valreep.)

 

2005

’n belangrike jaar:

Eybers se 90ste verjaardag

Valreep/ Stirrup-cup verskyn

Opnames vir ’n cd

 

In Januarie 2005 het die Suid-Afrikaanse fotograaf Karina Turok foto’s van Eybers voor haar venster aan die Stadionkade geneem. Dit is die laaste professionele foto’s van haar en is vervat in Turok se boek Life and Soul – Portraits of Women who move South Africa.

Elisabeth Eybers het 90 jaar oud geword op 26 Februarie 2005. ’n Feestelike byeenkoms is vir haar in die Singelkerk in die hart van Amsterdam georganiseer en gelukkig kon Eybers oorreed word om die geleentheid by te woon. Sy het op die voorste ry met haar drie dogters, skoondogter en kleinkinders gesit. Haar bundel Valreep/ Stirrup-cup is op die dag deur Lidewijde Paris, Querido se uitgewer, aan haar gepresenteer. Tomas Lieske het as mede-digter en vriend oor haar gepraat, haar dogter Marita Wessels het ’n paar gedigte gelees terwyl toonsettings deur Hendrik Hofmeyr, Berta Tideman-Wyers en Marjo Tal van haar gedigte vertolk is deur Julia Bronkhorst. Op versoek van die Suid-Afrikaanse Instituut, gevestig in die Zuid-Afrika Huis aan die Keizersgracht 141 te Amsterdam, is ’n toonsetting van “Uitsig op die kade” gemaak deur Caroline Ansink. Hans Ester en ek het lesings oor haar werk gelewer. Ester het gepraat oor haar gedigte 1936 tot 1961, terwyl ek oor die gedigte 1961 tot 2005 gepraat het. Die grootste deel van my lesing was gewy aan die gedig “1 Desember” en die dubbelpunt wat daarin voorkom. Dit is een van die nagenoeg 600 gedigte wat Eybers tydens ongeveer 45 jaar in Amsterdam geskryf het. Omdat sy twee jaar later uitgereken op 1 Desember oorlede is, wil ek graag nou kortliks terugkyk op wat ek op haar 90ste verjaardag daaroor gesê het. Hiervoor het ek die metafoor van die draaideur bedink:

“Die draaideur van die dubbelpunt hef teenstellings op. Dit stel binne en buite gelyktydig aanwesig. ’n Draaideur is immers ’n stel van twee deure wat mekaar kruiselings sny en wat draaibaar is om ’n vertikale as. In een beweging kan jy by wyse van spreke tegelyk uit en tuis, en wéér uit wees, kan jy die koue in jou gesig voel, die warmte nog in jou rug, en dan wéér die koue.” Wat ek die draaideur van die dubbelpunt genoem het, is dus ’n metafoor om die proses te beskryf wat so baie van Eybers se Amsterdamse gedigte kenmerk: die gelyktydige aanwesigstel van verlede en hede, van hier en daar.

In “1 Desember” beskryf sy ’n natuurverskynsel wat ’n mens soms, maar heel selde, in Nederland in die winter sien: ’n feloranjerooi sonsondergang. Hoe raak is haar beskrywing daarom van “Die grillige son in die mom van ’n vuurrooi ballon” wat hom versigtig deur stekelige takke [laat] afsak” en wat “weggesuig [word] in één gulsige horisonhap”. Dan “plots” “ontpop ’n maanspaander hom […] uit die spaarsame dag”; “alles word bedek met silwer beslag.’’ Iemand wat Eybers se gedig “1 Desember” lees kan so ’n sonsondergang nooit anders meer as in haar woorde sien nie. Veral nie as jy deel is van die groep lesers wat óók met ’n soort bifokale of kontrapuntale visie sowel Suid-Afrika as Nederland op hulle netvlies het. Vir hulle is die laaste reël/sin van die gedig des te meer aangrypend:

 

Dan hemelse manna: ’n hoëveldse Julienag.

 

Die dubbelpunt in hierdie laaste versreël is so belangrik. In een beweging draai die winterse Nederlandse toneel op sy as en waaier die Lae Lande in drie woorde oop na ’n ander ruimte, na ’n ander kontinent en halfrond. Tussen die titel “1 Desember” en die laaste woord “Julienag” word ’n helder grensmoment beleef, vind ’n alcemistiese proses plaas, een wat egter tegelyk so lugtig en speels is danksy die woorde “ballon”, “plots” en “ontpop”. Tegelyk betrek Eybers “manna”, ’n Bybelwoord wat sy goed moes geken het van kleintyd af: iets wat nuwer Bybelvertalings letterlik kan vertaal as graan, gras, suiker, brood of genade, maar wat altyd ’n magiese klank sal behou. Die onmiddellikheid van die proses van transformasie wat in hierdie kort gedig plaasvind, is verstommend. Net soos in “Terug” en talle ander gedigte met dubbelpunte tref die trefsekerheid van die verplasing jou. Danksy die gedig kan sy háárself volg na die ander wêreld, kan óns haar volg, na daar waar die einder dobber tussen son en sand. Nederland het aan haar die vastrapplek gegee om dit te kan doen. Hierdie verplasingsproses vind dikwels in ’n droomtoestand plaas, meestal snags, maar soms ook helder oordag wanneer ’n enkele beeld of klank die draaideur van haar herinnering in beweging bring. Die draaideur van die dubbelpunt verlei haar om wispelturig te wees, om “agteloos” te wees, maar dis slegs skyn, want doelgerig, langsaam en aandagtig word ons as lesers deel van afstand neem en die gevolglike verbintenis met haar wêreld wat die dwingende krag van haar digterskap is.

In die pragtige gedig “Uitsig op die kade” word die skeiding ek/ jy, binne/buite, selfs Suid-Afrika/Nederland, afstand/verbintenis, lewe/dood by implikasie opgehef. Die dood sal gebeur, sonder dat die sin van die lewe noodwendig saamgevat word in woorde. Lewe en dood is ‘n kontinuüm waarin ‘n mens moet versink. Hierdie sin, die dood self, is onuitgesproke aanwesig in die leegte rondom die gedig. Wat vroeër benoem is as grens word ingeruil vir ‘n domein wat nie meer beheers word deur die dualisme van grens-grensloos nie.

 

Kort na Eybers se 90 ste verjaardag het Marita Wessels die plan gekry om gedigte van haar moeder voor te lees en op ‘n cd op te neem. Dit was gou duidelik dat uitgewers huiwerig was om iets daarmee te make te hê. Voorbeelde is genoem van selfs Breyten se cd’s wat nie regtig verkoop nie. Tog het ek gedink wat wel kan slaag is dat Elisabeth Eybers self lees en ek het haar dus gevra of sy dit wou doen. Tot ons groot verrassing was sy dadelik lus om mee te werk, terwyl sy andersins glad nie daarvan gehou het om haar gedigte voor te lees of in die openbaar op te tree nie. Met geen goud sou sy byvoorbeeld beweeg kon word om op geleenthede soos die Woordfees of Versindaba op te tree nie.

Terwyl baie hedendaagse digters dikwels en graag hulle gedigte ten gehore bring op die talle skrywersfeeste in Nederland, het Elisabeth Eybers veral die stilte bewaar. Min van haar lesers ken dus eintlik haar stem. Op ’n stel Suid-Afrikaanse langspeelplate uit 1965 is opnames van sewe gedigte wat sy in 1960 voorgelees het in ‘n Johannesburgse studio. In die argief van die Nederlandse Wereldomroep is ‘n opname van ‘n stuk of ses gedigte, gemaak in Brussel in 1963. Toe my boek Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam in 1998 in Nederland verskyn het, het Elisabeth Eybers ingestem om as gas deel te neem aan Hanneke Groenteman se baie gewilde kulturele televisieprogram “De Plantage”. Voor ‘n ontroerde saal- en televisiepubliek het sy drie gedigte voorgelees. Enkele jare later kon Suid-Afrikaanse M-Net-kykers hoor hoe sy enkele gedigte voorlees in Sandra Prinsloo se onderhoud met haar vir die program “Sandra op ’n drafstap”. Nooit egter het Elisabeth Eybers by poësiefeeste opgetree of voorgelees op ’n podium nie. Sy het haar selfs nadruklik daarvan gedistansieer, soos blyk uit haar gedig “Vooruitlopend op die nag van die poësie”:

 

Aan ongepaste blootstelling verwant

is die digkuns as dit skaamteloos paradeer,

waggelend op stelte, luidspreker in hand.

 

Maar gelukkig het sy tog ingestem om in die vertroudheid van haar eie huis voor te lees op voorwaarde dat sy niks met die keuse van die gedigte te make gehad het nie. Ek het toe 53 gedigte uitgesoek uit haar ondertussen omvangryke oeuvre van ongeveer 900 gedigte. Die opnames begin met “Maria” en eindig met “Vir Bert” – onderskeidelik haar eerste en haar tot op daardie stadium laaste gepubliseerde gedig. Op twee oggende in November 2005 het Marita Wessels en ek saam met ’n klankman opnames gemaak. So druk het almal dit gehad dat ek slegs een foto gemaak het en nooit daaraan gedink het om byvoorbeeld my digitale filmkameratjie op die samewerking rondom haar ronde tafel op die Stadionkade te rig nie.

Klinkklaar bevat ´n vyftigtal gedigte. My strewe was om ´n weliswaar beknopte maar tog omvattende beeld van haar oeuvre op die cd te kry. Die belang van teenstellings, haar soeke na helderheid, haar strewe na ´n strak vorm en na balans, die aftas van grense, kenmerk haar werk vanaf haar allereerste gedig tot die laaste. Ongeveer ´n derde van die gedigte op die cd is in Suid-Afrika geskryf. Die res het Eybers in Amsterdam geskryf.

2006

Vroeg in dié jaar het Elisabeth Eybers ’n nuwe gedig geskryf – dit sou uiteindelik haar allerlaaste volledige nuwe gedig wees en is iets minder as twee jaar later deur haar familie op haar oorlydensberig afgedruk.

 

Godsdienstigheid beweer

die siel bly voortbestaan

terwyl ek self begeer

om grondig te vergaan.

 

Die jaar het verder redelik gesond en rustig verloop.

 

2007

In Februarie 2007 het Elisabeth Eybers 92 jaar oud geword. Oorwegend gesond en steeds nuuskierig, steeds met die Times Literary Supplements en haar woordeboeke om haar. Nuwe gedigte het sy nie meer geskryf nie, maar danksy ’n gelukkige toeval van ander se behoeftes het sy twee ouer gedigte van haarself verwerk in vertalings. In albei gevalle het die gedigte met kuns te make. Albei die gedigte het op ’n interessante manier tot stand gekom. Daaroor wil ek graag iets vertel.

Vroeg in Februarie 2007 het Thérèse Cornips, ’n goeie vriendin van Eybers en vertaalster van Marcel Proust se werk in Nederlands, my gebel om te vra of Elisabeth se gedig “So-called” wat in 1993 in Respyt gepubliseer is, ’n Afrikaanse ekwivalent het. Mevrou Cornips wou die gedig aanhaal by ‘n “vernissage”, die opening van ’n kunstentoonstelling wat sy moes waarneem, maar sy wou liewers nie ´n Engelse gedig lees nie. “So-called” staan in die Versamelde gedigte op bladsy 633, en ek het gou gesien dat dit inderdaad nie ’n Afrikaanse eweknie het nie; dit is een van die baie min gedigte wat Eybers net in Engels geskryf het. Dit was trouens eers ’n aantal jaar en twee bundels ná Respyt, in Tydverdryf/ Pastime (1996), Verbruikersverse/ Consumer’s Verse (1997), Wintersurplus (1999) en ten slotte Valreep/ Stirrup-cup (2005) dat Elisabeth Eybers so goed as konsekwent sowel ’n Engelse as Afrikaanse weergawe van haar gedigte gepubliseer het.

“So-called” volg wel direk op die pragtige kort gedigte “Inspirasie” en “Inspiration”, die énigste stel Afrikaans/Engelse gedigte in Respyt. Toe ek vir mevrou Eybers sê van mevrou Cornips se wens dat sy ’n Afrikaanse gedig wou lees, was dit dadelik vir haar ’n impuls om “So-called” in Afrikaans te her-dig. Ongeveer twee weke lank het sy my telkens gebel met weer ’n iets ander variasie. Die gedig wat sy op 10 Februarie 2007 aan my gedikteer het om in getikte vorm aan mevrou Cornips te gee, was die finale Afrikaanse vertaling van “So-called”. Terloops, wanneer ’n nuwe Versamelde gedigte van Eybers verskyn, sal ’n beslissing geneem moet word of hierdie vertaling uit 2007 gevoeg moet word by die bundel uit 1993 se oorspronklike gedig, of agter in die bundel. Ek lees albei gedigte aan u voor:

 

So-called

The so-called artis-

tic temperament

is straight as a blade

and craftily bent

it dilates like a heart

and shuts tight like a fist

it clamps you apart

cut down to size

it puts you wise

however inane

it drives you desperate

and keeps you sane.

 

 

Sogenaamd

 

Die sogenaamd kuns-

tenaarstemperament

is strak soos ’n lem

en slu afgewend

dit ontspan soos ’n hart

en sluit styf soos ’n vuis

dit klem jou apart

op maat ingekort

dit laat jou wys word

hoe sinneloos ook

buiten wanhoop beloof

dit ’n trefhelder hoof.

 

‘n Paar maande later het Marlene Dumas toevallig met ’n soortgelyke versoek as mevrou Cornips gekom. Ten behoewe van die katalogusboek by haar groot oorsigtentoonstelling Intimate Relations wou sy ’n Engelse vertaling afdruk van Eybers se gedig “Geluk” uit haar bundel Bestand uit 1982 (Versamelde gedigte, p. 451). Sy wou weet of ek dit kon vertaal. Geen haar op mijn hoofd die erover piekerde, soos die Hollanders sou sê. Ek het dadelik gesê dat ek mevrou Eybers sou vra om haar gedig self te vertaal. Kort voor aandete het ek haar gebel. Later die aand het sy ‘n keer gebel om te sê sy’s besig met die vertaling en die volgende oggend om half 9 het sy die voltooide vertaling vir my oor die telefoon voorgelees. Ek lees albei gedigte.

 

Geluk

Jare gelede dit maak nie saak wanneer

by my eerste ontmoeting dit maak nie saak met wie

het ons mekaar op ’n tydstip los van tyd

stip aangekyk, gekyk.

 

Soms flits dit weer in my bewussyn terug

verblindend skerp, ’n pyl van louter lig,

bewys en waarborg van ek weet nie wat.

Happiness

Ages ago it doesn’t matter when

as I first encountered it doesn’t matter whom

we fixed our gaze on one another

at a moment unfettered to time.

 

Sometimes it flashes back in my consciousness

blindingly sharp, an arrow of sheer light,

token and warrant of I know not what.

 

As ‘n mens na Dumas se Eybers-skildery kyk wat groot langs die gedigte afgedruk is, kan jy sien dat die intense vierde reël – “stip aangekyk, gekyk” – waarskynlik ’n groot inspirasie vir die skildery was. In die Engelse vertaling het die blik, die aankyk, ‘n reël boontoe verskuif en word dit steeds doeltreffend, maar eintlik gewoner verwoord: “We fixed our gaze on one another”.

In September 2007 het ’n nuwe bundel van Wislawa Szymborska in Nederlandse vertaling verskyn, getiteld Dubbele punt en ek het dit onmiddellik vir Elisabeth Eybers gekoop. Eybers, wat nog die lesing onthou het wat ek by geleentheid van haar 90ste verjaardag in die Singelkerk van Amsterdam uitgespreek het, “Die draaideur van die dubbelpunt”, was baie in haar skik dat die Nobelprys-digteres wat sy so bewonder ook kennelik iets met dubbelpunte gehad het. Hierdie bundel, soos al Szymborska se werk, was voortdurend onder Eybers se handbereik.

Op 15 Oktober het ek soos gebruiklik vir Kerneels Breytenbach vergesel tydens sy jaarlikse besoek aan Eybers. Sy het besonder goed gelyk en die besoek geniet. Die hele Oktober was sy nog ‘vol dinge’, soos my oupa sou sê. Dit het ek byvoorbeeld gedemonstreer gesien in verband met die inskripsie wat ek op haar versoek in die Szymborska-bundel moes skryf. Ons het soos so dikwels gesit en ’n wyntjie drink aan die einde van die middag wanneer ek van die VU te fiets op weg was huis toe. Vroeër het sy altyd graag Suid-Afrikaanse rooiwyn gedrink, meestal uit so ‘n 5 liter box van die Hema, maar die laaste jaar of wat was dit vir haar te droog en het sy oorgeslaan na die Hema se rosé. ’n Bietjie grappig maar ook bewus van die eindigheid van alles, het ek inderhaas iets in die bundel geskryf in die trant van dat ek hoop dat daar nog baie sulke ‘laatmiddag-kuiers’ mag wees. Toe ek enkele dae later, op 30 Oktober, weer daar was, het sy vir my gewys dat sy ’n woord van die inskripsie verander het. Kuiers was deurgestreep en vervang deur besoeke. “Kuiers klink te veel na uiers; dis nie ’n mooi woord nie,” het sy verduidelik. Hierdie lekker dwars en eiesinnige korreksie moet een van die allerlaaste woorde wees wat sy geskryf het. Jammer genoeg het dit haar nie opgeval dat ek in plaas van draaideur per ongeluk swaaideur in die inskripsie geskryf het: ek sou daarvan gehou het as sy dit in verband met my metafoor van “die draaideur van die dubbelpunt” maar ook gekorrigeer het.

Op 31 Oktober het sy sleg geval en is sy in die VU-hospitaal opgeneem waar besluit is om haar tog nog op 14 November te opereer. Na enkele baie moeilike weke, eers in die hospitaal en later tuis, is sy oorlede vroeg op Saterdagoggend 1 Desember.

Agtien jaar eerder het sy die reeds genoemde gedig “1 Desember” geskryf, een van die min presies gedateerde gedigte in haar oeuvre. Die slotreël is “Dan hemelse manna: ’n hoëveldse Julienag”. Net soos in twee briefgedigte wat sy in Suid-Afrika geskryf het voordat sy na Nederland vertrek het en waarin haar Nederlandse verblyf al in die vooruitsig gestel is, blyk sy in “1 Desember” in staat om met “een verende sprong” die omgeving waarin sy haar níé fisiek bevind nie, óók te beleef, met aandag en verbeelding aanwesig te stel in die gedig.

Op 6 Desember 2007 het Elisabeth Eybers se begrafnis plaasgevind. Die sprekers was twee van haar dogters, die jongste Jeanne en die oudste Lisbeth. Die middelste dogter, Marita het ’n paar van haar moeder se gedigte voorgelees. Haar kleindogter Emma het ’n eie gedig voorgelees, goeie ou vriende Thérèse Cornips en Toon Tellegen het oor hulle verbintenis met haar gepraat, terwyl die uitgewer-digter Jan Kuijper vertel het van Querido se jarelange samewerking met haar. Alle toesprake was in Nederlands terwyl Lisbeth Bradley se dankwoorde in Engels uitgespreek is. Ek het in Afrikaans gepraat oor haar betekenis as digter en enkele van haar begrafnisgedigte met mekaar gekontrasteer: “Wespark”, uiteraard, en “Vreemd”.

 

2008

Haar huis is verkoop en baie sake is afgehandel. Talle huldeblyke het verskyn. Onlangs het die familie ’n swart granietsteen op Elisabeth Eybers se graf laat plaas. Haar graf is trouens reeds opgeneem in die sogenaamde literêre roete van Zorgvlied. Ander bekende Nederlandse digteresse wat daar begrawe is, is onder andere M. Vasalis en Annie M. G. Schmidt.

Hans Ester het aan Jeanne Wessels voorgestel dat Eybers se boekery in ’n spesiale kamer in die Zuid-Afrika Huis op Keizersgracht 141 te Amsterdam gehuisves kan word en die familie het haar boekery aan die Suid-Afrikaanse Instituut geskenk. Met twee assistente het die bibliotekaris Corine de Maijer die verhuising van die boeke beplan. Ek het eers foto’s van alle boeke in die boekrakke op die Stadionkade geneem voordat dit ingepak is. Op die Keizersgracht kon dit presies so teruggepak word in haar eie boekrakke wat weer daar opgebou is. Presies hoe die boekery gebruik en toeganklik gemaak kan word, wat die nut en waarde daarvan kan wees vir toekomstige Eybers-ondersoek, is voorlopig nog onduidelik. Dis naamlik belangrik om te weet dat Eybers met redelik min boeke Amsterdam toe gekom het uit Johannesburg en met verloop van jare baie van haar boeke weggegee en selfs weggegooi het, ook dat haar kinders en kleinkinders na haar dood geneem het wat hulle self wou hê. Op die Keizersgracht is dus nogal ’n eklektiese boekery wat geen volledige beeld van Eybers se boekebesit bied nie en selfs ’n vertekening kan wees van haar belangstellings. So het sy byvoorbeeld ’n groot gedeelte van die uitgewer Van Oorschot se Russiese Biblioteek in Nederlandse vertalings besit. Die teenwoordigheid van hierdie boeke sou kon dui op ’n passie vir Russiese romans, terwyl daar ’n persoonliker rede is vir hulle plek op haar rakke: sy het die boeke as geskenk van Van Oorschot, haar eerste Amsterdamse uitgewer ontvang nadat sy in Amsterdam aangekom het. Haar boekery bevat talle Suid-Afrikaanse poësiebundels en romans; sommige het sy self aangekoop, ander present gekry. Verder is daar biografieë van byvoorbeeld Helen Suzman en Irma Stern en ook haar man Albert Wessels se outobiografie. Engelstalige digters was haar groot liefde en die rakke met haar Engelse bundels het sy nog dikwels geraadpleeg. Omdat sy nie dikwels of enigsins konsekwent met ’n potloodjie gelees het nie is haar boekery van ’n ander orde en vasstelbare belang vir haar digwerk as byvoorbeeld die boekery van NP van Wyk Louw wat by die Universiteit van Johannesburg bewaar word. Die enigste boeke behalwe haar Engelse poësiebundels wat werklik vir haar belangrik was, was haar woordeboeke. Verder was sy verslingerd aan die Times Literary Supplement wat sy weekliks van hoek tot kant deurgelees het – waarskynlik meer op soek na nuwe woorde as wat sy sodanig geïnteresseerd was om self die nuwe publikasies te lees wat bespreek is. Wat presies die belang van die boekery vir navorsers kan wees, is nou nog onduidelik. Totdat alles gekatalogiseer is, is die versameling ontoeganklik.

 

’n Belangrike aktiwiteit van die afgelope maande was om die cd met gedigte wat ons in 2005 opgeneem het gereed te kry om uiteindelik die wêreld in te gaan. Marita Wessels se plan was aanvanklik om dit in eie beheer uit te gee en self kopieë te maak, maar toe ek Annette Portegies van Querido vroeg vanjaar pols oor ’n professionele uitgawe was sy dadelik entoesiasties en nou gaan die cd saam met ’n boekie met die gebloemleesde gedigte en ’n inleiding in Oktober verskyn. Produksiemense in Hilversum het vir Marita gehelp om die stroom gedigte in zap-bare brokkies te verdeel, terwyl ek die inleiding geskryf het waarin ek my keuse van gedigte verantwoord. Eybers het naamlik voorgelees op voorwaarde dat sy niks met die keuse te make sou hê nie. Tussen die uitgewers, Marita en my was baie oorleg nodig om tot ’n konsensus te kom oor die formaat, omslag en titel van die boekie. Vir alles is mooi oplossings gevind.

Die titel is Klinkklaar en ek wil graag verduidelik waarom dit vir my so toepaslik is, soveel so dat ek nog voor die cd-titel gefinaliseer is enkele maande gelede reeds vir Louis en Marlise laat weet het dat die titel van my lesing vir Versindaba “’n Keel vol klinkklare weerbaarheid” sal wees. Of en wanneer Human & Rousseau ’n Suid-Afrikaanse weergawe sal uitgee is nog onduidelik.

[Einde fragment]

 

[Naskrif: Op die valreep het H&R in Oktober 2008 ’n klein oplaag van Querido oorgeneem. Die omslagteks is in Afrikaans vertaal, maar die binnewerk, inklusief my inleiding, het in Nederlands gebly. Uiteraard is alle gedigte wel in Afrikaans. ’n Groot deel van die res van my Dana Mouton-lesing is in die Inleiding tot Klinkklaar vervat. Bowendien het ek vier gedigte uitgebreid beskryf waarin merels voorkom: “Roem”, “Terug”, Somersonstilstand”en “Sonnige voorjaar”. My slotsinne was: “Die opname van Elisabeth Eybers se voorlesing van haar gedigte is ‘n bewys van “klinkklare weerbaarheid”, ‘n “afgeronde brok respyt” – om na te luister sáám met die lees van die gedrukte gedigte in die bloemlesing. Altyd ook in die konteks van haar hele oeuvre. Suid-Afrika het vir haar ‘n soort hemel gebly, die beliggaming van lig en haar jeug; van ‘n ruimte en stilte waarna sy altyd verlang het en waarheen haar gedigte dikwels oopgewaaier het. Om Elisabeth Eybers, nadat sy die helfte van haar lewe in Amsterdam gewoon het, haar gedigte in onvervalste Afrikaans te hoor voorlees, is ‘n uitsonderlike geskenk. Ter afsluiting kan ons ’n klinkende demonstrasie kry van Elisabeth Eybers se helder weerbaarheid deur te luister na enkele gedigte wat sy self voorlees.”]

 

Bookmark and Share

Comments are closed.