Joan Hambidge. Ruth Padel

 

Ruth Padel: The poem and the journey And sixty poems to read along the way

Chatto & Windus, Londen Random House 2007

Flapteks

 

Stel jou voor iemand skryf oor die funksie van die digkuns en analiseer gedigte sodat almal dit kan verstaan en geniet? Camille Paglia se reeks onderhoudende essays Break, Blow, Burn (2005) beleef ‘n Britse pendant, naamlik Ruth Padel se The poem and the journey, ‘n wonderbaarlike reis deur die digkuns. Paglia lees 43 van die beste gedigte, terwyl Padel vir ons agtergronde skets oor die funksie van die digkuns en hoe gedigte werk in ons gemoed. Hoewel mense dalk nie bundels koop nie, praat gedigte deur ons. Hoeveel jongmans het nie al bely dat Antjie Krog se gedigte hul deur die weermag gedra het nie!

Vriend Johann de Lange het The poem and the journey vir my geskenk en Padel analiseer gunstelingdigters soos James Fenton en Craig Raine se gedigte. Hierdie teks vra om ‘n saamlees met haar 52 ways of looking at a poem, wat die leser uiteraard weer herinner aan Wallace Stevens se “Thirteen ways of looking at a blackbird”.

Dit was Auden wat gemeen het “For poetry makes nothing happen” – en dit word dikwels aangehaal sonder die belangrike nagedagte: “it survives / in the valley of its making” (“In memory of W. B. Yeats”). Walter Benjamin het ondert andere insig beskryf as die bliksemstraal en die teks / gedig as die donderslag wat agterna kom.

Die onlangse Versindaba bewys dat die digkuns haar ondersteuners het.

Padel stel die digkuns en reis gelyk. Beide is ‘n beweging, wat sowel tyd as opoffering vereis. Beide laat jou nadink oor ander dinge terwyl jy aan’t beweeg is, skryf sy. Beide kan ontstig en jou laat verwonder. Daar mag selfs vervelige oomblikke wees, maar by nabaat kan jy na sodanige oomblik as belangrik of grensverskuiwend ervaar.

Goeie verse is nooit oor-eksplisiet nie, omdat die leser op ‘n soort ontdekkingsreis moet gaan. En gewildheid is nie noodwendig ‘n goeie teken nie!

‘n Gedig stel ‘n verlies voor; selfs al dig jy oor ‘n boom is dit nie meer daardie boom nie, maar hoe jy die boom onthou in jou gemoed of herinnering.

Elke leser se leeseraring van ‘n gedig is persoonlik, net soos ‘n reis uiteindelik nie vir reisigers dieselfde betekenis of relevansie het nie.

Padel betrek vorme en tegnieke, maar sy skryf oop en eenvoudig hieroor. In hierdie verband is haar lesing van Paula Meehan se gedig oor ‘n kind se begrafnis openbarend, sonder om ooit die digter se lewe te betrek. Sy verwys na die mitologisering wat in die gedig plaasvind en hoe die leser eerder hierop moet fous. By Elizabeth Bishop aksentueer sy haar gewildheid en waar relevant haar stormagtige lewe met drankverslawing en siektes.

Sy leer ons om die gedig as uitgangspunt te neem en dit te verken soos wat ‘n mens ‘n nuwe ruimte probeer verstaan. Daar is veel te sê vir behendige close reading (stiplees) en wat ‘n leser behoort te sien en geniet in ‘n gedig.

Ruth Padel is self ‘n gerekende skrywer en digter en Tigers in Red Weather behandel haar verkennngs deur Asië.

‘n Gedig kan nie ons genees nie; nie die lees of skryf daarvan nie. ‘n Gedig kan wel ons ervaring van verlies of vreugde karteer of ons anders na die lewe laat kyk.

En daar is niks op aarde waarvoor die digter die digkuns sal versaak nie, het Celan geskryf.

Moderne gedigte word teen klassieke verse geplaas in hierdie studie. Sy gebruik die Odusseia en ander bekende reistekste in die letterkunde om die lewe en digkuns te lees.

Want lees, skryf Tsvetajeva, is ‘n medepligtigheid in die kreatiewe proses.

Ons gereelde rubriek in BY waar lesers in leketaal oor gedigte van hul keuse skryf, is ‘n kopknik aan sowel Paglia as Padel.

En Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poety (1978).

 

Joan Hambidge

 

[Die artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn]

 

Bookmark and Share

Comments are closed.