Poëtiese Leerjare

Johan Lodewyk Marais

Johan Lodewyk Marais

Poëtiese Leerjare

Johann Lodewyk Marais

Oor die jare was ek bevoorreg om ’n stuk of sewe akademiese lesings by te woon wat ’n buitengewone indruk op my gemaak het. Elkeen van die sprekers het oor ’n onderwerp gepraat en dit so boeiend gedoen dat ek my daardie geleenthede nog helder in die herinnering roep. Hierdie lesings is deur ’n kunstenaar, ’n argeoloog, ’n paleoantropoloog, twee letterkundiges en twee filosowe aangebied. Oor elkeen van hierdie geleenthede sal ek hopelik nog ’n een en ander vertel wanneer die geleentheid daar is, maar ek hou voorlopig die name geheim. Ek begin egter my gesprek deur kortliks na een van hierdie lesings te verwys.

 

 

In 1980 was ek met my honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria besig toe ek een van daardie sewe groot lesings kon meemaak. In September daardie jaar het die beroemde Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer (1900–2002), toe reeds in sy tagtigste jaar, Suid-Afrika besoek. In sy lesing in die volgepakte Aardrykskundesaal het hy oor ’n onderwerp gepraat wat ek nie meer vinnig volledig kan agterhaal nie. Een van die fassinerende dele van die lesing van hierdie vader van die filosofiese hermeneutiek met wie ek in my derde jaar in die filosofieklas kennis gemaak het, was sy opmerkings oor die wesenskenmerke van menswees. Dit wat die mens uniek maak, was volgens hom onder meer dat ons kan onthou en ons afgestorwenes in die herinnering kan hou.

                In daardie stadium was die opmerkings nie vir my heeltemal nuut nie. Ek kon selfs die idees van die groot Martin Heidegger, leermeester van Gadamer en talle ander twintigste-eeuse filosowe, oor die noue semantiese verwantskap tussen dink en dank (of “denken en danken” in die Nederlands) in die woorde hoor naklink. Gadamer se opmerking dat ons ons dooies se graftes onder meer met skulpe versier het my egter verras. Ek kon onmiddellik my eie kinderervarings in ’n groter denkverband plaas. Vir my toekomstige skryfwerk was hierdie helder insig ingrypend, veral ten opsigte van die bundel Palimpses (1987) waarin ek my jeugwêreld in terme van lae van die geskiedenis probeer herskep het.

                Gadamer se opmerkings was die direkte aanleiding tot een van die gedigte in die bundel:

 

BINNELANDS

 

                Die see is ’n foto en anderkant

                die berg. Heeljaar spoel kleurige skulpe

                mooi, mooier en mooiste uit op die strand.

 

                Die wit henne pik-pik uit die klipbak

                skulpgruis op. Die Eagar-kindertjies het

skulpe op al drie grondhope gepak.

 

Louis Rosing weeg ’n pond vir die maand af

waarin ek bly krap tot ek die heles

bymekaar het vir ’n tortel se graf.

 

                In die eerste strofe is die see “’n foto en anderkant/ die berg” soos ek dit inderdaad as kind ervaar het. Die strand waarop die skulpe uitspoel, is nie iets waarmee die verteller self al kennis gemaak het nie. Ek was inderwaarheid sewentien jaar oud toe ek die see die eerste keer vanaf Kusweg in Seepunt gesien het. In die gang van ons plaashuis het daar darem ’n geraamde kleurfoto van Tafelberg gehang wat vanaf Bloubergstrand geneem en in Die Huisgenoot gepubliseer is. Dit is die “foto” waarna ek in die gedig verwys en wat lank my enigste visuele beeld van die see was.

                My eerste konkrete kennismaking met die see was die skulpgruis wat ons elke maand op Harrismith by die groothandelaar Louis Rosing gekoop het om vir die henne te voer sodat die doppe van hulle eiers sterker kon wees. Hierna word in sowel die tweede as die derde strofe in die gedig verwys.

                Om elke maand die nuwe pak skulpgruis sorgvuldig deur te soek was een van my en my speelmaats se lekkerste tydverdrywe. In daardie gruis was immers talle verrassings: pragtige heel skulpe met allerlei vorme. Eers baie jare later sou ek die name van hierdie skulpe leer ken. In daardie stadium het ek natuurlik nie geweet dat daar verskillende name vir die skulpe was nie; en van iets soos spesies het ek geen sout of water geweet nie.

                Maar daar is ook iets anders in die gedig. Klein kindertjies pak naamlik skulpe op “al drie grondhope”, terwyl die spreker (of “ek”) die heel skulpe uit die skulpgruis op “’n tortel se graf” gaan sit. Interessantheidshalwe (en waarom mag ’n mens nie interessanthede in verband met ’n gedig noem nie?) kan ek noem dat die Eagar-kindertjies, my neefs en niggies, inderdaad skulpe op hulle vroeg gestorwe pa, boetie en sussie se grafte in die kerkhof op die plaas Sans Souci gepak het. Volgens een van die simboolwoordeboeke dui skulpe in begrafnisgebruike op opstanding. Van daardie skulpe is vandag, baie jare later, nog op die drie Eagar-grafte te sien. Ek kan ook noem dat ek as kind self van tyd tot tyd begrafnis vir dooie voёls gehou het, waarskynlik omdat ek baie begrafnisse bygewoon het. Dr. Francis Galloway, wat ’n lang artikel oor Palimpses gepubliseer het, het opgemerk dat ek in die bundel vreemde speletjies speel.

                Ek het al vertel dat ek in Palimpses my tydgenootlike skrywers “geantwoord” het deur op een na géén verwysing na skrywers of kunstenaarsfigure te maak nie. In daaropvolgende bundels het ek my ook doelbewus teenoor my medeskrywers probeer posisioneer deur by voorkeur na natuurwetenskaplike figure te verwys. Direkte verwysings is natuurlik nie al verwysing in die literêre teks nie, soos waarskynlik uit die gedig “Binnelands” duidelik behoort te wees.

 

Ek is oortuig daarvan dat die belangrikste temas, onderwerpe en/of obsessies reeds in ’n digter se eerste werk voorkom. Min digters slaag daarin om later as ’t ware met ’n volledige nuwe literêre DNA te spog. Selfs N.P. van Wyk Louw, wat homself tot drie keer kon vernuwe, kon dit nie doen nie.

Ná “Binnelands” sou see- en watergedigte meermale in my bundels opduik. In my derde bundel, By die dinge (1989), verskyn “Aankoms”, “Middagete” en “Twee visse”, en in al drie val ’n sekere fassinering met veral die see op. Vanaf my volgende bundel, Verweerde aardbol (1992), tree die omgewing in my werk op die voorgrond en verwys al die see- of watergedigte in ’n meerdere of mindere mate na ’n bewustheid van die kwesbaarheid van lewe op aarde. Dit sien ek veral in gedigte soos “Haaie”, “Rob” en “Walvis”. In Aves (2002), my “voёlboek”, is boonop gedigte oor water- en seevoёls, naamlik “Grootmalmok”, “Witbaardmeersterretjie” en “Waterploeёr”.

                Die lees van hierdie gedigte sal vir die leser weliswaar ’n wending (of “Kehre”?) tussen die gedigte in Palimpses en dié sedert Verweerde aardbol laat vermoed. Een van die ooglopende verskille is dat hierdie digter nou by die see uitgekom het en ten minste as vakansieganger heelparty ervarings opgedoen het, soos “Aankoms” en “Middagete” getuig. Natuurlik was die digter nog ’n sekere afstand van die see en was daar moontlik selfs (onvermydelik) ’n sekere oppervlakkigheid in hierdie ervaring.

 

                AANKOMS

 

                Tot in die nag hou vakansiegangers

                in gelaaide motors by woonstelle

                aan die seefront stil. Hulle klim styf uit

                onder die sterrehemel en die maan

                wat op die see dryf. ’n Koraalboom troon

                bo ’n straatlig vol motte; sy skadu

                val oor koffers en ’n Zoeloenagwag

                vroetelend na sleutels in sy jassak.

                ’n Rooi duisendpoot loop op dounat grond

                en vloek as jy aan hom raak. ’n Grys meeu

                sweef skuins verby. Oorkant slaan branders dof.

                Die wind swaai die nekke van die palms

                in die kraag sand en klap vensters hard toe

                waar die sonsoekers tam afpak. Ligte

                glim en wolke skuif in met hoogwater.

                In die nag kom die binnelanders tuis

                in ’n droomwêreld tussen land en see.

 

By die skryf van “Aankoms” is ek deur een van my skerpsinnige literêre raadgewers daarop gewys dat die “grysmeeu” wat ek aanvanklik in die gedig genoem het in werklikheid nie bestaan nie. Ja, daar was wel ’n “gryskopmeeu” en haar vinger het na ’n tekening in Kenneth Newman se Voëls van Suider-Afrika gewys. Maar die meeu waaroor ek geskryf het, was bloot “grys”; dit was nie ’n soort of ’n spesifieke spesie meeu nie. My klein soektog na die korrekte woord en inligting het iets in my wakker gemaak wat tot ’n betekenisvolle verandering in my werk gelei het.

                Toe ek Verweerde aardbol begin skryf het, het ek al baie in wetenskaplike boeke rondgeblaai en gelees. Eintlik het ek ’n belangstelling in die natuurwetenskappe begin uitleef wat van my kinderjare gekom het. Weer eens was die hunkering na die werklike ervaring selfs belangriker, maar die wetenskaplike boeke het ook in die skryfwerk saamgepraat. ’n Voorbeeld hiervan is die gedig “Haaie” wat ek geskryf het na aanleiding van ’n besoek aan die Nasionale Haaieraad in Durban waar ek aanskou het hoe ’n skeurtandhaai vir die kykers oopgesny word. Ek het die heeltyd aantekeninge gemaak van wat ek voor my gesien en wat die gids te vertelle gehad het, maar ek moes tog ook iets meer oor haaie lees.

 

                HAAIE

                Vir Beulah Davis

 

                Bont stroom vakansiegangers in, gelok

                deur die sensasie van die sluwe haai

                wat in die donker en in vuil water

                jag en ook die uitbundige baaier

                of soepel branderplankryer sal gryp.

                Hy aas in riviermondings en snuif bloed

                in die see: een druppel in een miljoen!

                ’n Wyedoekfilm wys in volkleur

                hoe hy onverwags uit die bloutes kom

                en deurskiet tussen see-anemone,

                wier, koraal en verskrikte skole vis.

                Daarna dring almal deur die uitgange,

                wil hulle die oopsny van die skeurtand

                buite gaan aanskou: die snit deur die buik,

                die blootlê van die lewer vol olie,

                die pens soos ’n bruin aartappelsakkie,

die klein hartjie, die brein wat slim bepaal

wat en waarnatoe, wanneer en waarom.

Deur die anatomieles praat die gids

oor die haai, wat deur die tyd verfyn is

tot die doelmatige, vaartbelynde,

geruislose jagter, altyd soekend

aan die swem deur die paaie van die see

tot in die haainette aan ons strande.

 

               

                Die digter wat van wetenskaplike kennis in sy werk gebruik maak (digters soos die Tsjeg Miroslav Holub, die Sweed Lars Gustafsson, die Duitser Hans Magnus Enzensberger, die Nederlander Hans Faverey en die Suid-Afrikaner T.T. Cloete) probeer om met hulle taalgebruik en werkwyse woorde anders as die natuurwetenskaplike aan te wend en om met taal ander betekenisse (onder meer deur suggestie) bloot te lê. Sodoende word daar hopelik spanning tussen die wetenskaplike teks en die gedig bewerkstellig. Ek probeer egter in my gedigte nié noodwendig om wetenskap en kuns rigied van mekaar te skei nie. Ek is egter nie die enigste wat so te werk gegaan het nie. Van die grootste natuurwetenskaplikes, soos Charles Darwin, Konrad Lorenz en Richard Dawkins, het hulle ook nie aan “voorskrifte” gesteur om hulle by hulle wetenskaplike lees te hou nie. Hulle het byvoorbeeld ook elemente van die vertelling in hulle geskrifte gebruik om hulle lesers mee te voer.

                Die bundel seegedigte waaraan ek tans werk, kan dalk finaal bewys dat die see ’n sekere obsessie in my skryfwerk geword het en ook dat ek by voorkeur eenheidsbundels probeer skryf. Vanaf die binneland het ek bowendien nou tot by die see gevorder en verken ek soos Ronél Nel (nee, hierdie keer nie die digter nie, die mariene bioloog!) met verwondering die sandstrandekologie waar allerlei interessante (lewende) dinge voorkom. Dit is ’n uitdaging om hierdie eiesoortige werklikheid tot spreke te bring, dit te gedenk en my dankbaarheid te betoon vir die geleentheid om in hierdie lewe sy menslike metgesel te wees.

 

NÁ ’N BESOEK AAN KAAPSTAD

 

“Ek hou nie van die inkyk in die see

en die afloer van haaie nie,” sê hy.

“Daar is ’n klomp ou digters in die Kaap

wat daaroor kan skryf. Los dit vir hulle.

Waarom skryf jy nie liewer oor berge,

die kremetarte teen die Limpopo

en die dorre Vrystaatse vlaktes nie?

Moet jý opsluit die walvis se beentjies

                                loop tel en seegoed begin versamel?”

 

 

 

 

———————————-

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.