Onderhoud met Joan Hambidge

“Die gedigte skryf hulself.”

Irna van Zyl het ’n paar vrae aan Joan Hambidge

gestel na die verskyning van haar nuwe digbundel Vuurwiel.
         Joan Hambidge

Joan Hambidge

Hierdie is die volledige onderhoud wat in ’n verkorte weergawe verskyn hetin Boeke-Insig (Herfs, 2009)

1. Jy is ‘n ervare dosent in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Elke nou en dan vlam daar ‘n debat op oor of mens iemand kan leer kreatief skryf. Wat, uit jou ervaring, kan ‘n mens studente oor die skryf van spesifiek gedigte leer?

Jy leer mense tegniese vaardighede. Hoe om ‘n kwatryn / sonnet / distigon of watookal te skryf en beheer oor jou emosies te kry. Jy begelei mense deur moeilike prosesse. Jy kan mense leer met talent – om dit te verfyn.

 

2. Jy neem dikwels vurig deel aan literêre debatte, maar dit lyk of gewone lesers selde saampraat en dikwels in briewe aan LitNet en dagblaaie te kenne gee dat die twis tussen skrywers en akademici hulle koud laat. Wat is vir jou die sosiale funksie van ‘n literêre polemiek?

 

Die funksie hiervan is beslis nie tydmors of onnodig nie. Daar gebeur dikwels dinge agter die skerms – soos boeke wat opgehemel of afgetakel word – en dan moet die kritici dit regstel.

 

3. Bogenoemde debatte kan soms ook nogal erg venynig en persoonlik raak. Tog weet mense wat jou ken dat jy eintlik ‘n baie klein hartjie het. Hoe raak kritiek jou persoonlik en hoe verwerk jy dit?

 

Kritiek is ‘n leerproses. En as iemand jou die Dolly Parton van die Afrikaanse letterkunde noem, is dit op sy rekening, nie joune. Kritiek as boemerang sou ‘n mens kon opmerk. En dan weet ek as iemand persoonlik raak, is die argumente (dikwels) maar minnetjies en dunnetjies.

As jy ‘n fout maak in jou oordeel of resensie, erken dit en beweeg aan. As ‘n mens op ‘n tendens wys – wat volgens jou verkeerd is – dan is dit jou mening.

 

Ek het wel ‘n probleem met die ‘anything goes’-aanslag veral op Litnet waar elke Kretie en Pletie ‘n Mening het wat uitgebasuin word. Dit is dan waarskynlik weer ‘n ellende van ons tyd. Blogosfere, e-posse, Facebook en wat nog, gee aan almal ‘n stem.

Dit word waarskynlik al hoe moeiliker om in hierdie tsoenami van uitsprake iets te lewer wat standhoudend / belangrik is.

En ‘n mens verwerk kritiek deur te leer wat daaruit te lere is en kritiek te vat van wie dit kom.

 

‘n Mens moet wel die persoonlike en die kritiese bedryf skei. Daar is vele mense van wie ek nie hou nie wat skitterende skrywers is, en andersom.

 

4. As jy as kritikus twee dinge, houdings of instellings in die Afrikaans literatuurbedryf kan verander, wat sou dit wees?

 

1 Swak opgeleide boekeredakteurs wat hul graag posisioneer as demi-godjies en oor skrywers en ander resensente skinder.

Boekeredakteurs kom en gaan en hulle behoort nie hul persoonlike verhoudings / vendettas ‘n rol te laat speel by die keuse van ‘n resensent nie. Of besluit ‘n boek van ‘n eks mag nie geresenseer word nie. (Daar is goddank uitsonderings hier.)

 

2 Die valse familieskap van die Afrikaanse letterkunde. Ek weet al wanneer ek iets skryf hoe A gaan reageer op B en wat C gaan dink en D sal skryf. Hierdie ongesonde verbintenisse steek veral kop uit by prysbeoordelings waar mense agter die skerms sal toutrek vir Klein Tollie wat die Groot Boek geskryf het, omdat hy professor Slimjan se student is of Babbelapie wat om persoonlike redes bekroon word net om ‘n ander skrywer op sy plek te sit.

Die Afrikaanse letterkunde se telefoniese gekonkel – ‘n beoogde MA-studie deur Maria Kroeskamp (studieleier: Gesoek).

 

5. Wat het jy geleer by die Jungiane en hoe beïnvloed dit jou skryfwerk?

 

Ek is in die psigoanalise geïnteresseerd. Ek doseer ‘n kursus hieroor: Freud, Jung, en al hul avatare. Jung het my veel geleer oor die innerlike reis en die bakens na buite wat jy moet volg om die binnereis te begin. Sy studie oor die tarot het my veel geleer en sy boek oor simbole in die besonder. Lacan interesseer my geweldig, soos Melanie Klein.

 

6. Charles Bukowski het gesê ‘n digter het pyn net so nodig soos ‘n tikmasjien. In jou jongste bundel, Vuurwiel, is daar soos in jou vorige werk ‘n hele aantal gedigte aan liefdesteleurstellings gewy. Stem jy saam met Bukowski? Het jy dalk liefdesteleurstellings nodig om te kan skryf?

 

‘n Mens jaag nie die pyn na nie. Ek begin nie ‘n verhouding om daaroor te skryf nie. Die gedigte skryf hulself. ‘n Kritikus het op ‘n keer opgemerk dat die vele liefdesgedigte dalk die integriteit van die ervaring oor die liefde mag aantas. Dalk gaan hierdie liefdesgedigte nie oor ‘n persoon nie en is dit dus eerder ‘n proses? Dalk skryf ek oor die liefde soos wat Norman O. Brown opgemerk het dat Petrarca vir Laura ontdek het om oor die liefde te kon skryf.

Ek het nie ‘n ‘liefdesteleurstelling’ nodig om te kan skryf nie.

 

7. Jy skryf ‘n gereelde rolprentrubriek in BY. Vertel vir ons meer oor jou passie vir flieks. Wat is dit wat jou fassineer? Watse soort rolprente verkies jy? Het jy ‘n groot DVD-versameling?

 

Psigoanaliste kyk dikwels na films en die betekenis daarvan. Films funksioneer immers soos drome en dit bring ‘n mens dikwels uit by jou onbewuste. Ek hou van Hitchcock, Nicolas Roeg, Woody Allen, Fellini, Truffaut, Roman Polanksi en natuurlik: Bergman. Ek hou van slim films – die Coen-broers, en filmmakers wat ‘n nuwe aanslag op bekende of geykte kwessies gee.

Vr ‘n skrywer is daar veel te put uit films – omdat dit iets oopmaak in jou waarvan jy nie geweet het nie. Terselfdertyd is ek gek na James Bond-films (juis omdat dit so vernuftig werk) en Mr Bean. En slim tekenprente soos Toy story.

My DVD-versameling is nie so uitgebreid as my biblioteek nie. Ek is nog steeds verslaaf aan filmhuise ofskoon ek graag DVD’s kyk.

 

8. Ek onthou toe ons studente was het jy meer boeke as enigeen van ons ander in die Honneursklas op Stellenbosch gelees. Een vakansie het ek nog probeer byhou, maar dit was onmoontlik en ek was byna voos gelees. Hoe kry jy dit reg om so baie te lees? Hoeveel boeke lees jy gemiddeld per week?

 

Ek lees geweldig baie. Die hele tyd. Daar staan ‘n stapeltjie voor my bed, in my badkamer, in my kombuis is daar rakke en rakke boeke. Trouens, ek woon in ‘n argief-cum-biblioteek.

Ek het nie TV nie. Ek lees elke dag, skryf elke dag, en kyk net DVD’s tuis. En dan uitgesoekte DVD’s. Ek dink die meeste mense se lewens word opgeslurp deur reekse. Een keer ‘n jaar kyk ek Sewende laan en al die ander reekse – en binne ‘n week weet ek wat het gebeur (en sug, wat gaan gebeur).

 

9. Jy is ‘n toegewyde reisiger. Waarom later jare verkieslik na stiller plekke soos Hurgada en Marrakesj? Het New York langs die pad sy bekoring verloor? Reis jy elke jaar?

 

Nee, New York het nie sy bekoring verloor nie – beslis nie. Ek was onlangs daar en het verse gepubliseer oor NY in Ruggespraak (2002). Stiller plekke hou ‘n digterlike bekoring in en in gedigte oor Japan het TT Cloete opgemerk dat ek die gedigte ver gaan haal het. Ek was verlede jaar in Turkye en Zanzibar.

En voor dit in Machu Picchu (na ‘n kongres in Rio de Janeiro) waar ek die gedig geskryf het oor hierdie stad. Voor dit na Hong Kong, Thailand, Kanada, ‘n uitgebreide reis deur die Verenigde Koninkryk, Indië, Kuba & Mexiko,Tarkastad, Putsonderwater. O name, o versugtinge!

 

10. Op ‘n persoonlike vlak glo jy ook nogal in gereelde oefening. Jy stap die hele wêreld vol in Tamboerskloof waar jy woon en gaan gereeld gim toe, maar jy eet ook graag uit. Enige gunsteling-kuierplekke of restaurants in die Kaap en enige plek in die wêreld?

 

Ek gym om fiks te bly.

Elke dag probeer ek daar uitkom. ‘n Gesonde liggaam huisves mos ‘n gesonde gees, nie waar nie? Dis ‘n goeie manier om stres te verwerk en my sosiale lewe bestaan uit ontmoetings met vriende in kuierplekke. Kaapstad het verruklike eetplekke: Colçacchio, Miller’s Thumb, Theo’s, Haiku, Bukhara, en nou pas in Zanzibar die restaurant by Langi Langi waar ek gebraaide vis met ‘nkokosneutsap of chili’s verorber het. Pretensieuse restaurante met ‘n pruimpie op ’n wit bord versier met ‘n groen sprietjie wat uitgedink is deur ‘n megalomaniese sjef waarvoor jy ten duurste betaal, is nie vir my nie.

Ek kook self lekker en skroom nie om ‘n bord terug te stuur as dit benede peil of oorgaar is nie.

 

11. Het jy ‘n vaste roetine vir skryfwerk, staan jy byvoorbeeld elke oggend vroeg op?

 

Ek het vir lang tye tussen drie en vyf elke dag geskryf.

My roetine is nou eerder skryf net voor gym, werk (vergaderings / klasse) lunch met iemand, middagslapie en dan so vanaf sewe is dit skouer aan die wiel tot na twaalf.

 

12. Gebruik jy sabbaticals om te reis of om te skryf?

 

My laaste sabbatsverlof het ek deurgebring by Harvard waar ek navorsing aan my tweede doktorsgraad gedoen het as besoeker. Dit het tot uiting gekom in my roman Kladboek en my digbundel Ruggespraak.

Selfs in Vuurwiel staan daar verse wat uit hierdie ryke ervaring geput is. Ek het ongeveer negejaar lank aan Vuurwiel geskryf en het die bundel ten minste twaalf keer herskryf.

 

13. En wat het van die hygromans en prosa geword?

 

Ek het weer begin met ‘n Sonja Verbeek. Voor ek onthou, heet dit en sy vertel vir ons van al haar liefdeservarings. En die letterkunde natuurlik. Ek het darem Palindroom en Kladboek verlede jaar gepubliseer.

 

14. Kritici het al gemeen dat jy te veel publiseer en nie streng genoeg uitsoek nie. Dink jy dis geregverdigde kritiek?

 

Daar is nie meer ‘n meesternarratief nie en ook nie meer ‘n Groot Kritikus wie se woord Wet is nie.

Ek skryf baie en gevolglik sal hierdie beswaar geopper word.

Met elke bundel herskryf / herroep ek die vorige…

Die resepsie van Groot Verseboek bewys dit. Die postmodernisme het die finale idee van goed / sleg finaal geproblematiseer.

 

15. Is daar enigiets groots wat jy nog wil aanpak in jou skryfwerk of jou doseerwerk?

 

Ja ek is tans besig met ‘n uitgebreide studie oor die digkuns van Johann de Lange wat al oor die 100 bladsye beslaan. Ek wil hiermee ook die periode van 80 probeer karteer.

 

16. As jy ‘n kwatryn uit jou werk moes kies vir jou grafsteen, hoe sou dit lees?

 

Ek lewe met ‘n drif

ter wille van dié skrif –

omrede die durende

koors genaamd poësie.

 

Hierdie aanhaling uit ‘n gedig oor Emily Dickinson uit Palinodes (1987).

 

 

 

 

 

 


Bookmark and Share

Comments are closed.