Bernard Odendaal. Oor digkunsvertaling

Groot verseboek is klaarblyklik dié uitstalkas in die huis van die Afrikaanse poësie. G’n wonder nie dat André P. Brink se samestellings van 2000 en 2008 dus nuwe aandag getrek het vir vertaalde digkuns in Afrikaans, aangesien D.J. Opperman sulke werk voorheen uitgesluit het.

In die voorwoord van Groot verseboek 2000 het Brink die opname van vertalings deur Uys Krige gemotiveer as ’n wyse om erkenning te gee aan ’n digter wie se beste bydraes juis op hierdie terrein lê, aan iemand wat deur middel van sy vertaalwerk vernuwing van die Afrikaanse letterkunde gestimuleer het (byvoorbeeld by Ingrid Jonker). Sonder enige verdere verduideliking, behalwe om te sê dat die besluit oor Krige nou ook tot latere digters kan deurwerk, sluit hy ook werk deur enkele ander vertalers in die 2008-samestelling in – maar ignoreer terselfdertyd ewe verdienstelike pogings deur talle ander.

’n Paar kommentatore het op die onbegryplike inkonsekwenthede van Brink se keuses in hierdie verband gewys. Daarom gaan ek nie verder hierop in nie. Maar ek wonder darem hóé die turksvy wat Brink gepluk het – en wat ’n ewe soet, hoewel kleiner oes as oorspronklike digwerk in Afrikaans verteenwoordig – se stekelige kante glad gevryf kan word. Miskien deur ’n Verseboek van Afrikaanse vertalings te laat saamstel? Sal dit nie ’n eiesoortige lekkerte wees nie!

Die onteenseglik positiewe wat Brink bewerkstellig het, is erkenning van die feit dat gepubliseerde poësievertalings in Afrikaans nie die waardering kry wat dit verdien nie.

Baie – en gevleuelde – dinge is al gesê oor die kulturele waarde van literêre vertaling. In hul boek Translators through history beweer Delisle en Woodsworth byvoorbeeld dat die ontstaan van moderne nasionale letterkundes, en dié van minderheidstale in die besonder, dikwels teruggevoer kan word na vertalings van oorspronklike tekste uit toonaangewende letterkundige stelsels.

Op veel kleiner skaal kan ek getuig dat, toe ek nog op hoërskool was, die lees van in Engels vertaalde keure in die reeks Penguin Modern European Poets (boekies wat ’n ouer broer van my vakansies van die universiteit af saamgebring het plaas toe) my belangstelling in die poësie sterk geprikkel het. Rieme en rieme rymelary en wild-rankende vryevers, gepleeg in die afsondering van my buitekamer, was die onmiddellike resultaat.

In my laaste jaar op universiteit het ek self vir my Penguin se Eugenio Montale. Selected Poems (vertaalwerk deur George Kay) aangeskaf – nog teen ’n skrale 70c!

Bring me the sunflower for me to transplant

to my own ground burnt by the spray of sea,

and show all day to the imaging blues

of sky that golden-faced anxiety.

Things hid in darkness lean towards the clear,

bodies consume themselves in a flowing

of shades: and they in varied music – showing

the chance of chances is to disappear.

So bring me the plant that takes you right

where the blond hazes shimmering rise (sic)

and life fumes to air as spirit does;

bring me the sunflower crazy with the light.

Nog aangrypender het dié Italianer se werk vir my geword toe Rosa Nepgen se vertalings van ’n keur uit sy verse ’n jaar later in Afrikaans verskyn het (by Tafelberg).

Bring my die sonneblom dat ek dit verplant

hier in my grond waar die sout van die seeskuim brand;

laat dit heeldag deur teen die hoë spieëling van die blou

die gretige angs van sy geel blomgesig hou.

Uit die donkerte neig alles op na die lig

en in kleuregloed vloei liggame ontledig

tesaam – soos in die musiek. Om te vergaan,

bly dus die grootste kans van ons bestaan.

Bring jy my die plant wat lei na die vergesig

op die bron waar deursigtige wit lug skyn

en die vlugtige gees van die lewe verdwyn.

Bring my die sonneblom, dolsinnig van lig.

Darem ’n jammerte dat groot dele van die wêreld, vanweë die bevoorregte posisie van Engels, ’n beeld van Motale se digkuns moes kry via Kay se vertalings, en nie via die van Nepgen nie, of hoe?

Hoewel die uitgee van poësievertalings dalk nie veel onmiddellike sakesin maak nie (soos in die meeste gevalle eintlik ook nie die publiseer van oorspronklike digwerk nie), maak dit kulturele en taalsin – en is dit dus tog ook gesonde uitgewersbesigheid met die oog op die toekoms.

Gunther Pakendorf skryf byvoorbeeld in Rapport-Perspektief van 24 Februarie 2008, na aanleiding van H.J. Pieterse se Afrikaanse vertaling van die Duitstalige digter Rainer Maria Rilke se Duino-elegieë (Protea Boekhuis, 2007), dat die “kwasi-mistieke ervaring” van “universele heelheid” wat deur Rilke in dié elegieë uitgedruk word, “net deur middel van die kuns én deur die begenadigde digter moontlik” is.

Sonder sulke fyn kuns, wat op onvervangbare wyse uitdrukking gee aan die mees verhewe of mees diepgevoelde menslike ervaringe, kan ’n taal kwalik op die lange duur voortbestaan. Want dan sal van sy toonaangewendste mensemateriaal (dié wat dikwels ook ywerige boekkopers is) hom verlaat, omdat hulle geen volle geesteslewe in hom kan voer nie. Dis ’n gevaar vir ’n klein taal waarop Van Wyk Louw al dekades gelede gewys het.

Vernuwing is ’n ander voorwaarde vir ’n letterkunde om sy lesers taalgetrou te hou. En vernuwing van ’n literêre sisteem kan deur middel van vertaling ‘ingevoer’ word. Dit het Krige se werk bewys. Daarvoor het Brink hom tereg erkenning gegee.

Vertaling, ook (en miskien veral) literêre vertaling, is een wyse waarop Afrikaans ruim genoeg gehou kan word om te verhoed dat sy fynste geeste uit hom wil “emigreer”. Des te meer noudat die onderrig van Duits, Frans en ander vreemde tale in ons skole, selfs aan ons universiteite, so drasties afgeskaal is. Al minder Afrikaanse mense is in staat om oorspronklike digkuns in sulke tale te lees.

Wat my by ’n ander vraagstuk bring. Hoe lank gaan Afrikaanse vertalings van gehalte, direk uit die oorspronklike tale, nog moontlik wees as die waarde van vreemdetaalonderrig so onderskat word soos die onderwyspaktyk in Suid-Afrika toenemend laat blyk?

’n Waarheid skuil in wat na ’n teenstrydigheid lyk, naamlik dat jou en jou taalgenote se kennis van soveel vreemde tale as moontlik jou miskien juis die hartlikste in jou moedertaal kan laat tuisvoel. Want dan kan leestogte in én vertalings uit daardie tale, naas oorspronklike skeppinge in jou eie taal, die kultuurruimte waarin jy jou bevind groot genoeg hou om in te (wil) bly woon.

Ten slotte oor ’n klippie in my vertaalskoen: Ek vind dit onaanvaarbaar dat literêre tekste soms lustig vertaal word uit ánder tale as die oorspronklike waarin dit geskryf is. Met ander woorde: dat vertalings gemaak word (uitsluitlik) aan die hand van ander vertalings van die brontekste.

Die Italianers het nie verniet ’n gesegde wat lui dat ’n vertaler ’n verraaier is nie. Elke vertaling verteenwoordig in wese ’n interpretasie, ’n verwringing van die bronteks. En om ’n interpretasie van ’n interpretasie te maak laat jou al verder van die oorspronklike beland. Dis soos om te soen deur sluier op sluier.

En die verwringing kan so erg word dat dit ’n soen op die agterwêreld meebring, pleks van op die mond.

Dis in elk geval hoe ek sou gevoel het as ek Jacques Brel se “Le moribond” (= Die sterwende) aan die hand van die bekende Engelse vertaling, “Seasons in the sun”, moes omgesit het in Afrikaans. Hoewel ek skaars ’n krieseltjie Frans ken, het ek in 2005 ’n (steeds voortgaande) Brel-vertaalprojek aangepak in vennootskap met Naòmi Morgan, professor in Frans aan die Vrystaatse Universiteit waar ek werk, en ’n Brel-kenner. (Sy is besig om ’n biografie oor Brel in Afrikaans te skryf.)

Eers toe ons aan “Le moribond” gewerk het, het ek besef hoe ver die Engelse vertaling die pot mis sit. Onthou julle die refrein in Engels?

We had joy

we had fun

we had seasons in the sun

but the wine

and the song

and the seasons have all gone.

Naòmi se letterlike vertaling van die oorspronklike Frans lui soos volg:

Ek wil hê mense moet lag

Ek wil hê mense moet dans

Ek wil hê mense moet dit gate uit geniet

Ek wil hê mense moet lag

Ek wil hê mense moet dans

Die dag wanneer hulle my die gat in sit (= begrawe).

Totaal verskillende betekenisimplikasies, in totaal verskillende toonaarde.

Ons vertaling van die refrein klink uiteindelik só:

Jul moet lag

Jul moet dans

Hou ’n opskop steek ’n dop

Jul moet lag

Jul moet dans

As jul my die gat in stop.

Vertalers mag in wese verraaiers van die oorspronklike werke wees, maar hoogverraad teen hulle eie beroep en die aansien daarvan moet hulle nie pleeg nie. Anders kan uitgewers en lesers hulle gerus lag-lag “die gat in stop”.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.