Daniel Hugo. Die panorama in my truspieël

 

  

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

 

 

 

 

 

Waaiers van vuur en sy

 

 

Hennie Aucamp resenseer Daniel Hugo se Die Panorama in my truspieël

 (Protea Boekhuis, 2009)

 

Hierdie resensie is uitgesaai op FMR

 

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

 

 

 

Daniel Hugo verteenwoordig ’n kosbare en skaars spesie binne die Afrikaanse poësie, naamlik ’n digter wat “die ligte, ligtende erns” (Van Wyk Louw) glansryk uitleef in sy verse. Sy aanslag is lugtig, maar selde triviaal; dis geestig, en van ’n Fransheid wat Rita Elferink sou verbly het, want sy het ’n hekel gehad aan swaartillendheid.

                Die titel van sy jongste bundel, Die panorama in my truspieël, stel ons in op ’n verskynsel wat al hoe meer voorkom in Afrikaans, naamlik ’n trek na herinneringsliteratuur, wat ’n terugkyk impliseer; ’n bestekopname van wat reeds gebeur het. Maar by Hugo is daar geen sprake van gekonstipeerde nostalgie nie; hy is hom van die “hiermaalse” bewus, en toe en nou, soos ook in sy gedig met dié titel, is nie eintlik opposisies nie; hulle speel op mekaar in, meestal vrolik. Die mottogedig van die bundel, van Herman de Coninck, kon nie beter gekies gewees het nie, want dit wys die rigting aan wat die digter gaan inslaan:

 

                                Ik heb het tijdelijke met het eeuwige

                                vaak genoeg verwisseld in mijn poëzie

                                om te weten dat ik het tijdelijke wil.

 

Nou is dit bekend dat Daniel Hugo Herman de Coninck liefdevol in Afrikaans vertaal het, want ook De Coninck is, as ek Marsmaniaans mag raak, van die “waaiers van vuur en sy”-skool.

                Ja, die hele gedig “Paradise regained” van Hendrik Marsman sou ook ’n motto tot Die panorama in my truspieël kon gewees het. Dit begin só:

 

                                De zon en de zee springen bliksemend open:

                                waaiers van vuur en zij;

 

en later in die gedig volg dié woorde:

 

                                en langs de stralende pleinen van ‘t water,

                                voer ek een blonde vrouw aan mijn zij.

 

Liefdesgedigte neem ’n belangrike plek in die bundel Die panorama in my truspieël in; geen donker of week liefdespoësie nie, maar uitbundige liefdesverse, waarin die spreker ’n vrou – ja, ook blond – langs ’n strandmeer koester, of in ’n spieël betrag, of terugvind in die geure van die bed van die vorige nag. ’n Viering van die liefde, inderdaad.

                Wat Daniel Hugo se liefdesverse ’n ekstra bodem besorg en in ’n hoë mate teen geclicheerdheid hoed, is dat hulle telkens inspeel op die digterlike ambag, en altyd met flitse humor.

                ’n Mens soek nie beeldestormende gedagtes by Hugo nie, en hy sê ook prontuit wat hy van filosofiese verse dink in die gedig “Sinne en sin”, wat kennelik Hugo se eie ars poetica is. Dié gedig begin só:

 

                                die gedagte-inhoud van gedigte

                                is dikwels maar dun

                                wanneer jy dit baie goed tref, maak dit

                                wonderbaarlik sin

 

                                die beste gedigte blink uit in klank

                                en ritme en beeld

                                hul prikkel die oog en die oor …

 

Musiek speel ’n sterk rol in Die panorama in my truspieël, maar dan, in die volste sin van die woord, na-tuur-like musiek: die gekraai van ’n haan, die “gebabbel” van water, ’n paddatjie wat “kik”, mossies wat tjilp. Stellig die sjarmanste vers in die musiek-“reeks” is “Komponis”, waarin los note getem word:

 

                                die note bly swenk, swalk

                                en swerm in my kop:

                                tjilpende swaels in die wind

 

                                hopelik kom hul nou

                                tot rus op ’n notebalk:

                                drade wat sing in die wind.

 

Die poësie het nie ’n onuitputlike voorraad temas nie. Die wonder van die poësie lê hierin dat dít wat doodgewoon konvensioneel kon gewees het, deur die alchemie van ’n ware digter tot ewige lewe gewek word; ewig, nie soos die teoloë dit bedoel nie, maar die digter, in die sin van hier en nou.

                Ter illustrasie, “Reisgedig” van Daniel Hugo, waarin die spreker bespiegel oor die aantal stede waarin hy en die geliefde mekaar liefgehad het. Dié gedig eindig só:

 

                                Ons sal aanhou tot

                                ver anderkant Z

                                omdat verliefdes

                                die ewige lewe het.

 

Wie ’n goeie liefdesvers skryf, kan gewoonlik ook ’n goeie elegie skryf, want beide soorte vra om die emosie respek. Daniel Hugo se huldeblyk aan Barrie Hough, skrywer van besondere jeugboeke, beweeg in op Hough se spraakgebrek, maar met groot deernis, en op ’n ongedwonge manier word terme in die uitsaaiwese herlaai, soos: “redigeer”, “dooie lugtyd” en “sonder snitte”. Ek haal die gedig “Die hakkelaar” volledig aan:

 

                                Die hakkelaar

                                (Barrie Hough 1953–2004)

 

                                hy moes elke volsin snakkend

                                uit ’n eindelose stilte red

                                soos ’n hengelaar iets wat skitter

                                uit die donker na die lig toe trek

 

                                onderhoude met hom was moeilik

                                maar maklik om te redigeer:

                                haal net al die dooie lugtyd

                                tussen die vinnige sinne uit

 

                                nou het hy tog die stilte gekies

                                die diepste wat te vinde is

                                die een wat sonder snitte

                                uiteindelik ten volle sin maak

 

Ironie is ’n belangrike bestanddeel van die digterlike toerusting van Daniel Hugo. Hy sê byvoorbeeld in “Lees by lamplig”: “Natuurgedigte laat my maklik gaap”. Tog slaan die lieflikhede van hierdie aarde telkens van sy blad af op; die geure, die glanse, die klanke. Wel het die konvensionele natuurgedig al hoe meer in die rigting van ’n ekologie-gedig ontwikkel, ook in Afrikaans, met eksponente soos Johann Lodewyk Marais en Lina Spies. By Hugo kom daar twee ekologie-gedigte voor, een regstreeks. “Lament” is ’n openlike treurlied oor die aarde wat verloeder, en uiteindelik verteer word deur die mens. “Loflied op die letterkunde” is een van die skerpste en interessantste verse in Hugo se bundel. Die positiewe openingsreël, “Ek het die Afrikaanse letterkunde lief”, word onmiddellik hierna gekanselleer, tot en met die verpulpingsgedagte. Soveel boeke, soveel bome, sê die gedig óók by implikasie, bestem vir verpulping; en dis hier waar ekologie ter sprake kom.

                Die geestige vers en die vernufvers het hulle eie ingeboude gevare. ’n Leser kyk, om beeldspraak by te haal, hoe ’n digter in sy vers klippiehink oor ’n rivier; van klip tot klip, tot aan die anderkant van die rivier. Hy kyk met “sympathetic suspense”, soos Elizabeth Bowen op ’n keer gesê het; en dan, op nommer laaste, by die laaste klip, val die digter in die water. Kortom, die slot van die gedig is iets van ’n antiklimaks; geforseerd of flou of gemeenplasig.

                Dié gevaar meld hom ook by Daniel Hugo aan in Die panorama in my truspieël; altyd teen die einde van ’n vers soos in “Zen-digter”, wat opvallend aanleun by Opperman, of “Geurige sfeer” of “Astrale kat”.

                Maar dis aan die werklik skitterende verse dat aandag gegee moet word. Die panorama in my truspieël bevat van die sterkste verse in die Hugo-oeuvre. Ek noem die gedigte wat my die meeste aanspreek: “Sonland”; “Die goue renostertjie van Mapungubwe”; “Filmologie”; “Die hakkelaar”; “komponis”‘ “Loflied op die letterkunde”; ’n verruklike haikoe “Storm” – nee, my lys gaan te lank word.

                Die panorama in my truspieël het ’n jonkheid van gees wat verkwiklik is en vreugde aan ’n herwonne paradys oordra aan die leser.

Bookmark and Share

Comments are closed.