Elisabeth Eybers

‘n Slotwoord van Eybers: “Is” en “Was”

 

Dr. Zandra Bezuidenhout

Lesing gehou tydens Eybers-huldiging, Amsterdam.

23 Feb. 2008

 

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers se laaste gepubliseerde digbundel, Valreep/Stirrup-cup (2005), maak ‘n minder spektakulêre indruk as haar vorige werk. Die verse is relatief klein in getal en heel kort; geen opvallende nuwe temas kom aan bod nie; daar is ‘n kariger aanwending van beeldryke taal en relativerende ironie, en die toon is oorwegend somber. 

 

Tog is hierdie publikasie nie onbelangrik nie. Dit kan enersyds gelees word as ‘n finale poëtiese egodokument in ‘n uitgebreide biografiese reeks: ‘n bewuste aflsluitwoord oor ‘n lewe en ‘n oeuvre deur die digter self. Aan die ander kant word kerneienskappe van haar digterskap op ‘n selfs meer gedronge en gestroopte wyse saamgetrek. Kortom, die astrak van haar ‘n poëtiese strewe word in haar slotwerk tot die uiterste gevoer. Daarby dui gedigtitels soos “Opsomming”, “Kringloop”, “Oorweging”, “Slot” en “Laaste poging tot logika” op ‘n besinning oor finaliteit as die laaste, en dalk enigste sekerheid oor die menslike toestand.

 

Twee kwatryne, “Vir Bert”/“To Bert” (p32/33) en “Waarneming”/”Observation” (p34/35), is afgestem op die polêre paar “is” en “was”. Eenvoudiger kan dit oënskynlik nie, maar om dié paradoks van menslike bestaan in sy volle betekenis te deurgrond, en aan die wete en nie-wete wat daarmee saamhang op poëtiese wyse gestalte te gee, stel besondere eise.

 

In “Vir Bert”, ‘n vers wat na aanleiding van die dood van haar volwasse seun ontstaan het, word die stilte iets begeerliks wanneer die spreker-digter haar eie sterwensmoment in die vooruitstig stel:

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my om ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die aardse sekerheid van ‘n “naelstring wat nie breek”, is opgehef. Die “roulynolie vir my krieketkolf” sal nie weer opklink nie, nóg uit die stem van die seun, en aanstons nóg uit die woord van die digter. Deur die pynlike verlies het die “onderdak” van geluid en spraak, en by implikasie ook dié van die poëtiese aktiwiteit, vir die spreker haar vroeëre allure verloor. Onverwags vervloei “is” en “was”, en word hede en verlede gesamentlik ondergeskik gestel aan ‘n alternatiewe teenpool, die stilte wat “sal wees”.

 

Dit is egter in “Waarneming”/”Observation” dat die teenstelling ten opsigte van die tydsdimensie noukeuriger geartikuleer word:

 

“Dit is my seun” het ek verwaand verklaar

soos een wat sorgeloos ‘n feit aanvaar,

dog plots staan daar slegs één gegewe vas:

dat is wreedaardig snel verword tot was.

 

Die ommekeer hier bestaan nie alleen in die “is” wat deur die dood tot “was” getransformeer word nie, maar in die spreker se “verwaand(e)” sekerheid wat gefnuik word deur die besef dat maar één feit vasstaan, naamlik dié van eindigheid. Die ongunstige implikasies van “verword”, tesame met die potensiële dubbelbetekenis van “was” (beide in die slotreël), konsolideer die verganklikheidsgedagte in enkele woorde. Die sprekershouding blyk nog sterker uit “wreedaardig” in dieselfde reël, wat klankmatig en ten opsigte van betekenis resoneer met “verword” en “was”, maar paradigmaties kontrasteer met “verwaand” (r1), hoewel klankverbande deur beide assonansie en alliterasie opgeroep word. So ook staan “sorgeloos” (r2) semanties gesproke teenoor “dog plots”(r3) en “verword” (r4) – ten spyte van die berekende klankverwantskap.

 

Verstegnies is daar meer kunsgrepe aan die hand, soos die afwisselende paarrym van die eerste en die laaste twee reëls, gesteun deur “dog” aan die begin van r3, waardeur die ommekeer in die spreker se gemoed op ‘n ikoniese wyse bevestig word. Die aforistiese slot, nog ‘n tipiese Eybers-procedé, dien waarskynlik om die ontnugtering deur `n algemene waarheid te maskeer, en die aanvaarding te vergemaklik van haar “Waarneming”, soos die titel lui, maar wat semanties sinspeel op meer as observasie. Dit is ook ‘n manier om te konstateer dat die spreker dit wat “waar” is, “neem” of “aanneem”. Terselfdertyd is die digter se voorkeur vir woorde soos “plots” en “snel”, wat ‘n groter gebruiksfrekwensie in die Nederlandse as die Afrikaanse spreektaal het, en die spel met “een”/“één”, ‘n aanduiding van haar inskakeling by die Nederlandse taal- en leefwêreld.

 

Die mees kenmerkende en waardevolle van hierdie kwatryne is geleë in Eybers se vermoë om tot en met die afsluiting van haar oeuvre pregnante, toeganklike verse te skryf waarin skrynende emosie beheers word deur ‘n nugtere blik en gedissiplineerde vormgewing. Hierdie werkwyse was een van die dominante elemente van Eybers se werk, soos ook haar sorgvuldige woordkeuse wat kulmineer in die strategies geplaasde slotwoord “was” aan die einde van die slotgedig, waarmee die laaste bundel ná sewentig jaar die besluit van `n merkwaardige digterskap aankondig –  en die stilte bevestig.

 

[Gepubliseer in Tirade.]

Bookmark and Share

Comments are closed.