In die skoene van grotes

Om groot te doen in die skoene van die grotes

Daniel Hugo

 

                                Uit die gevormde literatuur

                                is nooit weer poësie te maak nie,

                                uit die ongevormde wél

 

Hierdie uitspraak van N.P. van Wyk Louw staan in sy gedig “Ars poetica” uit die bundel Tristia van 1962. Sedertdien was daar al ‘n hele paar dapper, digterlike pogings om hom verkeerd te bewys. Sulke waaghalsigheid het Louw by voorbaat in dieselfde gedig getipeer as: ” om groot te doen of te misdoen / in die skoene van die grotes”.

En juis daarom is daar nie ‘n groter uitdaging nie as om dié pontifikale stelling aan Louw-tekste self te toets. In sy jongste bundel, Die algebra van nood, sit Johann de Lange die grote Van Wyk Louw deeglik op sy plek. Afdeling III van die bundel het die titel “Náspele en voortvlugte” wat sinspeel op die “voorspele en vlugte” in die subtitel van Tristia. Verder gebruik De Lange reëls uit die einste “Ars poetica” as motto by dié afdeling.

Johann de Lange

Johann de Lange

 

“Teen die berghang”, die openingsgedig van die afdeling, is ’n besonder geslaagde herskepping van ’n gedig én ’n prosateks deur N.P. van Wyk Louw. Die gedig is die welbekende, welgevormde “Karoo-dorp: someraand”. Die eerste strofe gaan só:

 

                Die laat-middag het room geword    

                en treine wat ver fluit

                en ’n wit-bont klaas-skáwagter

                wat wag-hou op ’n kluit.

 

Van belang is sekerlik dat “Karoo-dorp: someraand” in Tristia staan en direk op “Ars poetica” volg.

                Die belangrikste bron vir De Lange se gedig is egter die eerste drie paragrawe van Van Wyk Louw se opstel “’n Gesprek – waarin niks beslis word nie”. Dit is in Julie 1938 geskryf en die volgende jaar gepubliseer in die bundel Berigte te velde. Louw skryf hier besonder liriese, sêmaar poëtiese, prosa – emosionele interpunksie en al:

                               

Ons het soos dikwels wanneer dit ’n openbare vakansiedag was, ver bokant die stad en die see tussen die dennebome gelê. Dit was so ’n goue herfsnamiddag soos die Kaap alleen ken – roombleek lug, sagte wind; en die baai en die rante daaragter, die stad en die dennekruine was geel in die koel son soos die skynsel van botterblomme …  

Ons het oor Kloos gepraat. Hy is kort tevore dood, en juis dié dag het ons in ’n heel paar koerante stukke oor hom gelees: beskouings, stilistiese proewe, heelwat amptelike roubeklag … maar alles vir die man wat ons nie een geken het nie en wat in ’n vreemde land dood was. En tog het ons hom geken en sy woorde gesê; en ons kon dié dag juis nie glo dat daardie pragtige wilde kop dood en begrawe was nie, nou dat die digter, ná ’n paar jaar saakliker bewondering, weer so naby ons was.

En dan het ons weer tussen die denne deur oor die stad gekyk. Die rook uit die fabrieke het op die vakansiedag dunner getrek, en die paaie deur die vleilande rondom het gelewe van motors en busse en mense.

 

In sy biografie Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, pp. 241-242) haal J.C. Steyn aan uit hierdie gedeelte en sê hy dat Louw se metgesel dié dag teen die hang van Tafelberg Truida Pohl (later Louw) was. Steyn wys ook daarop dat die Nederlandse digter Willem Kloos op 31 Maart 1938 in Den Haag oorlede is en dat die vakansiedag waarvan Louw praat, waarskynlik in die Paasnaweek van 15 tot 18 April geval het.

                Dat Johann de Lange op die Louw-teks afgekom het via Steyn se biografie, blyk uit die datumaanduiding by sy gedig. Louw se beskrywing van die Kaapse herfsmiddaglug as “roombleek” het klaarblyklik die onmiddellike verband gelê met “Karoo-dorp: someraand”:

 

                                Teen die berghang

                                Paasnaweek, April 1938

 

                                Die ná-middag het tóé reeds idioom

                                geword met roombleek lug & sagte wind;

                                die baai en rante, denneboom op -boom

                                geelkroon in die koel son, die ganse bergkom

                                met die oker glans van botterblom.

 

                                Kloos is dood. Daardie pragtige wilde kop

                                rus nou woord- & gedagteloos strak

                                in ’n vreemde land. En g’n klaas-skáwagter hop

                                flink op ’n kluit, of probeer kwinkeleer

                                om die nuus van sy dood vir laas te skandeer.

 

                                Die sinne prikkel met die geur van dennehars

in die gewyde stilte bo ’n stad wat wispelturig blaak.

                                Fabriek- & lokasierook veryl; die lug stuif vars.

                                Kruis & dwars met lintjiespaaie langs weef

                                motors & busse onhoorbaar, ’n kabelkar sweef –

 

                                Kloos is dood. Maar sy woord

                                bly na-leef soos ’n spreuk

                                in hierdie oogwit Boland-lig, in elke boord

                                & wingerd wat prilgroen brand.

                                Maar dit is ’n ander dag in ’n ander land.

 

Benewens die eerste strofe van “Karoo-dorp:someraand” met sy “idioom-geworde” eerste reël (“Die laat-middag het room geword”), betrek Johann de Lange ook die volgende reëls uit Louw se gedig: “en rook uit die lokasie rook” en “dóér op die nasionale pad / loop motortjies onhoorbaar, hoog”. Die verwysing in Louw se opstel na fabrieksrook en motors in die verte maak De Lange se verbandlegging tussen opstel en gedig ongedwonge en eintlik vanselfsprekend.

                In “Ars poetica” sê Louw dat dit wel moontlik is om op die temas van die heiliges “variasies en besuinigings, selfs palinodes te versin”, maar dat die stilistiese vormgewing van die gekanoniseerde, klassieke tekste onaantasbaar is.

                Myns insiens het Johann de Lange finaal bewys dat die kanon nie heilig is nie en dat die grotes se formulerings hergebruik kan word om ’n nuwe, welgevormde teks te produseer.

 

Bronne

 

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950-1957. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde prosa I. Kaapstad: Tafelberg

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

 

Mei 2009

Bookmark and Share

Comments are closed.