Onderhoud: Willem Fransman

Vrugtekoek vir ’n kulturele woelgees

 

Willem Fransman Jr. in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Willem Fransman

Willem Fransman

Willem Fransman jr. skryf in feitlik elke genre. In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam radiodrama-kompetisie met Om te bedel is ’n kuns. Ander opdrag-radiodramas is Die belofte in ’n skilpaddop (die verhaal van Sarah Baartman in die vreemde) en Martelaar van Calvinia (verhaal van die bruin versetleier, Abraham Esau, gedurende die Anglo-Boereoorlog.) Die volgende dramas uit sy pen is al by kunstefeeste opgevoer: Om te bedel is ’n kuns (1999), Die mense van Langesaan (2000), Leipoldt soos nog nooit vantevore (2004-opdragwerk), Ma se melk (2005) en Paljas van Dirk Ligter (2006-opdragwerk). Fransman is ook ’n grafiese kunstenaar, rubriekskrywer, kortverhaalskrywer, digter en storieverteller. Hy is ’n stigterslid en tans nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Willem, jy is nogal iets van ʼn kulturele woelgees hier in die Kaap; by soveel projekte betrokke op soveel fronte … Alhoewel jou éíntlike belangstelling die drama is, is jy byvoorbeeld ook gemoeid met poësie‑ontwikkeling, en soveel ander projekte. Vanwaar hierdie wye betrokkenheid? Kry jy byvoorbeeld ooit tyd vir jou eie skryfwerk?

 

Weet jy Louis, ek het in ʼn huis met Afrikaans (want watter taal praat plaaskinders tog!) grootgeword. Alhoewel my ouers analfabete was, het ons met Springbokradio, die Afrikaanse radiodiens (vandag RSG) Die Burger, Dagbreek en Landstem, Die Beeld en Rapport grootgeword. Ons was geslaan sou ons ‘Kaaps’ gepraat het. Vandaar die feit dat ek tot vandag toe ‘Kaapse Afrikaans’ as ʼn luukse sien! Hierdie is nou eintlik ʼn lang aanloop om jou te sê dat ek veral versot was op lees en om na die radio, veral die radiodramas, te luister. Vandaar my groot liefde vir die radiodrama as medium van uitdrukking.  Maar dit was Anna Neethling-Pohl se teatrale stem wat my weer die liefde vir poësie, veral voordrag geleer het. Ek kry nou nog hoendervleis as ek na haar stem luister. Maar wat miskien nie so algemeen bekend is nie, is die feit dat van my gedigte en kortverhale opgeneem is in skoolhandboeke (Afrikaans Eerste en Tweede Taalgebruikers) en dat ek my liefde vir die kortverhaal jaarliks voor honderde matrieks uitleef!

 

Wat my verhoogdramas betref: Hulle was op enkeles na, almal opdragwerke van instansies of kunstefeeste! Op sigself reken ek dat dit erkenning is van ʼn individu se kreatiewe vermoë!

 

Weet jy, Louis, Langenhoven se spreuk: “Hoe meer ʼn man hom laat gebruik, hoe minder is hy vir homself bruikbaar”, is beslis waar! Miskien is die liefde, wat vroeg by ons aan huis ingeprent is om onselfsugtig deur die lewe te gaan, my ondergang. Dit gee my ʼn groot gevoel van genoegdoening om die gesig van ʼn digter of skrywer te sien as sy of haar werk die eerste keer in druk verskyn!  Aan die anderkant is dit ook ʼn selfopgelegde taak om die nagedagtenis van Patrick Petersen, my voorganger by die Afrikaanse Skrywersvereniging, uit te dra.

 

Ek moet in alle eerlikheid erken dat die ASV (Afrikaanse Skrywersvereniging) ʼn albatros om my nek is, wat negatief op my kreatiwiteit inwerk! Maar andersyds is dit tog ook weer ʼn heerlike uitdaging en beloning om aan jong skrywers leiding te gee.

 

Soos jy hier bo na verwys, het jy in jou hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging die afgelope paar jaar ʼn beduidende rol gespeel in die ontwikkeling van jonger skrywers in die Kaap. Vertel ons so ietsie van die ASV se bedrywighede? Is daar spesifieke projekte wat julle nog hierdie jaar beoog?

 

Broer, ons poog jaarliks om ons aktiwiteite so aanloklik as moontlik te maak om lede te werf. Ons het weer verskeie werkwinkels wat op gesette tye aangebied gaan word. Daar’s een vir Beaufort-Wes, Port Elizabeth en ook  een vir plaaslike skrywers. Ons dek verskeie genres (byvoorbeeld, Die kuns van storievertel, Skryf van dramas, Gedigte, Kortverhale, Kinderverhale en Musiek & liriek.) Die besoek van die groep Surinaamse skrywers verlede jaar was ʼn groot inspuiting en inspirasie! Ons het saam met hulle ʼn publikasie, Diversity is Power, (saamgestel deur EKM Dido) uitgebring. ʼn Ander opwindende nuutjie vanjaar is ʼn Oggend met ʼn Grote! Dit is ʼn program waarin ons op ʼn Saterdagoggend gaan fokus op een van ons groot digters of skrywers. Ons kry ʼn spreker om met ons lede en die publiek, in ʼn biblioteek (waar is daar ʼn beter plek?!) te kom praat.

 

Dan is daar natuurlik ook nog die Patrick Petersen-prys wat julle jaarliks toeken, is dit nie? Waar kom dié idee vandaan en aan wie was die toekenning verlede jaar gemaak?

 

Die prys is vernoem na die digter-dominee, Patrick James Petersen. In lewe ʼn boorling van Wolseley in die Boland. Pat sou hom eers as predikant in die destydse NG Sendingkerk, (vandag die Verenigende Geformeerde kerk in Suidelike Afrika), bekwaam. Hy publiseer sy eerste digbundel, Amandla Ngawetu by die Genadendalpers. By hom ontstaan die drang om swart Afrikaanse skryfwerk in druk te sien. Soveel so dat hy en ʼn paar skrywersvriende hul eie uitgewerytjie in die pastorie op St. Helenabaai stig. Die uitgewery staan bekend as Progressiewe Uitgewery. Later word sommer net van Prog gepraat. Prog sou verskeie bundels (Aankoms uit die skemer, Advent, Ons kom van veraf en Vergenoeg) onder Pat se leiding uitgee. Willy Adams en Leonard Koza sou ook later deur Pat bemagtig word om hul eie uitgewery, Domestica Uitgewers, op die been te bring.

Pat sou instrumenteel wees in die reëlings van die eerste (te UWK, Bellville, 1985) en tweede Swart Afrikaanse Skrywerssimposium (te Paternoster, 1995). Alhoewel hy lid van die destydse wit oorheersende Afrikaanse Skrywersgilde was, beywer hy hom vir ‘’n inklusiewe, voetsoolvlak skrywersorganisasie. Heel gepas word hy dan ook by die stigtingsvergadering, te Zevenwacht-wynlandgoed, Kuilsrivier, as die eerste nasionale voorsitter van die nuutgestigte Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) gekies. Pat sterf tragies, juis op die Paternosterpad, op 7 Julie 1997.

Om Pat se nalatenskap te vereer… en te laat voortleef, onderneem die Uitvoerende Bestuur van die ASV, onder voorsitterskap van Elias P Nel, om jaarliks ʼn verdienstelike skrywer met die Patrick Petersen Gedenkprys te vereer. Hierdie verering ‘deur skrywers aan ʼn medeskrywer’ word die eerste keer in 2000 aan die digter/dramaturg Adam Small toegeken. Daarna is Elsa Joubert (2001-haar totale bydrae), AHM Scholtz (2002- romanskrywer), Ivan Sylvester (postuum) en Peter Braaf (2003-gemeenskapsteater), Marzanne Leroux-van der Boon (2004- haar totale bydrae) Abraham H de Vries (2005- doyen van Afrikaanse kortverhaalkuns), Riana Scheepers (2006-bemagtiger par excellence) en Willem Fransman Jr. (Bemagtigingswerk dmv drama-/storievertelwerkswinkels onder jeug stedelik sowel as plattelands) vereer. Abraham (Ronnie) Phillips van Worcester was in 2008 die ontvanger van hierdie prestige prys van die ASV.  

 

Ten spyte daarvan dat jou posisie as voorsitter van die ASV geweldig inbreek maak op jou tyd en eie skryfwerk, het julle tog ook heelwat suksesse behaal. Is daar iets in die besonder wat vir jou uitstaan as ʼn hoogtepunt in jou tyd van assosiasie met dié vereniging?

 

Publikasies, Broer, ons eie publikasies! Terwyl Elias P Nel voorsitter van die ASV was, is ek getaak om fondse te bekom om ʼn eie uitgewers-arm vir die ASV  op die been te bring. Ons het dit toe !Xthorro-publikasies genoem. Die naam is afgelei van die Nama-begrip wat beteken ‘om te gesels’. Gepas was die eerste werk wat ons uitbring “Palawer van die woord.” In 2003 uitgegee. Nou weet ons almal dat ʼn ‘palawa’ ʼn doellose geselsery is, maar met die bundel kortverhale het ons gepoog om lesers en skrywers opnuut doelgerig aan die praat te kry. Die boek is nogal goed ontvang en het goeie resensies gekry! Daarna sou !Xthorro ook “deur die oog van ʼn Perd”, ʼn kortverhaal bundel van Edwina H Fransman uitgee in 2007. Verder het ek lede gehelp om hulle werk drukgereed te kry vir Riana Scheepers se “Die melkweg het ʼn ster laat val” en EKM Dido se “Diversity is Power”! In die proses het ek etlike lede gehelp om hul ideale verwesentlik te kry. Dit is die monumente waaraan ek onthou wil word. En die dankbaarheid op jong skrywers se gesigte. Sameerah Frost van Port Elisabeth het uit dankbaarheid vir my ʼn vrugtekoek met ʼn mini-bus taxi gestuur uit dankbaarheid dat ek die ‘kaalvoetdigter’ tot publikasie gelei het! Dis dankbaarheid soos dit wat die ‘albatros om die nek’ ligter maak! 

 

Wanneer ʼn mens iets daadwerklik en positief wens by te dra, word jou pogings egter dikwels ook deur terugslae en frustrasies belemmer. Wat sou jy wou uitsonder as jul besonderse uitdagings ten opsigte van jul werksaamhede by die ASV?

 

Die frustrasie dat skrywers vir wie ek baie respek het, nie uit hul eie vir my kom vra hoe kan hulle tot hulp wees nie. Mense soos Braam de Vries, Elias P Nel, Diana Ferrus, Andre Boezak, Hein Willemse, byvoorbeeld wat ons skrywers se harte ken, en vir wie ek die heiligste van respek het, kan gerus nader kom om my van hulp te wees. Almal het Patrick Petersen in lewe ge-eer, maar na sy dood het ek die enigste enkele vaandeldraer vir sy saak geword…sy dissipel gebly…om jong skrywers te bemagtig. En as ek by NP van Wyk Louw se “Dias” kan gaan leen “’n Mens het ook maar net sy krag.”

 

My grootste uitdaging is om die ASV so lewenskragtig te maak, so selfonderhoudend te maak, dat iemand soos ek, se trefkrag nie gevoel sal word, sou ek nie meer betrokke is nie. Totdat daar nie daadwerklike ondersteuning van die gevestigde skrywers is nie, sal ons ʼn kwynende organisasie bly!

 

 

Dit is nogal onrusbarend hoe stil die stem van die Bruin digter in ons digkuns geword het; die afgelope paar jaar het daar byvoorbeeld net twee bundels (Ronelda Kamfer en Hendrik Januarie) by hoofstroom‑uitgewers verskyn. Toegegee, soms verskyn daar darem nog bundels in eigen beheer, soos die Nederlanders sê, maar hoekom sélf uitgee wanneer gevestigde uitgewers tans soveel meer ontvanklik staan teenoor die digkuns?  Het jy enige idees hieromtrent?

 

Kyk, was ek nou opgewonde oor Hendrik Januarie, wat na soveel jaar se stilte weer sy digtersstem laat hoor het! Hy het gematrikuleer by Elsiesrivier Hoërskool, wat altyd in kompetisie was met Elswood Hoërskool, my alma mater, wat ook in Elsiesrivier is. Wat dit nog lekkerder maak, is die feit dat uit dié twee skole redelik baie skrywers gekom het! Leonard Koza, my beter helfte, Edwina, en Rudi Daniels is van die ander skrywers van die twee skole!

 

Oor Ronelda is daar selfs ʼn groter opgewondenheid! Om die Akademie-prys op so ʼn jong ouderdom en nogal ʼn bruinvrou daarby te kry, is ʼn sonderlinge prestasie. Ons is verstaanbaar trots op haar!

 

Ek hoop nie wat ek nou gaan sê gaan afbreuk doen aan haar prestasie nie, maar tog kon ek nie help om tog in ʼn mate ‘kwaad’ vir die Akademie te wees nie! Wat moet Adam Small dan nog doen om ééndag wel ʼn Akademie-prys te kry? Kanna hy ko’ hystoe is al deur André P. Brink ‘as die grootste enkele prestasie in Afrikaans’ bestempel, maar ongelukkig dink net hy so! En ek reken dis ook die gevoel by ander bruin digters. As die grootste digter onder ons nie eens die eer kry wat hy verdien nie, hoekom dan nog hoofstroom met ons werk vertrou! Tog reken ek ook dat ʼn gebrek aan selfvertroue ʼn ander faktor is. Te veel van ons digters is nie onderleg in die grondbeginsels van poësie pleeg nie, met die gevolg dat met die eerste voorlegging en afkeuring die ‘digter’ ʼn stille dood sterf. Jong digters se nerwe is ook te dun en die determinasie ontbreek by baie wat te gewoond is aan ʼn kits-omgewing wat hul reken kits-digbundels  moet bring!

 

Ja-nee, om gedigte te maak is ʼn ambag wat jy maar moet bemeester soos enige ander. Ongelukkig word dit nie altyd ter harte geneem nie. Nietemin, ek herinner my dat die ASV enkele jare gelede nog manuskrip-ontwikkeling in samewerking met aspirant digters gedoen het; wyle Ronnie Belcher was hiermee gemoeid en later Floris Brown, as ek dit nie mis het nie … Is dit ʼn diens wat julle steeds lewer?

 

Verseker, ons het ook al van mense soos Prof Ampie Coetzee, Peter Snyders, Prof Steward van Wyk gebruik gemaak. Maar intussen het ons besluit om dit net vir ons lede te doen. As dit so oopgegooi word vir die publiek, kan dit nogal baie werk word!

 

 

Willem, daar is natuurlik ook heelwat ánder organisasies wat dieselfde oogmerke het as die ASV. (Ek dink nou byvoorbeeld aan iemand soos die Breederivier Skrywersvereniging.)  Is daar baie skakeling onderling, of stoei elkeen maar in sy eie kryt?

 

Moenie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging vergeet nie! Ons is jonger as  die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en ouer as die Breederivier Skrywersvereniging. Nee, daar is nie formele skakeling nie. Alhoewel ons ons lede as individue aanraai om hul kreatiewe werk so wyd as moontlik aan te bied vir beoordeling en publikasie. Dis eintlik jammer dat ons, as hoender so elkeen op sy eie mishoop skrop!

 

ʼn Laaste vraag, Willem. Jy het nou die dag aan my genoem dat jy ʼn besonderse program aanmekaar gesit het rondom gedigte van C. Louis Leipoldt. Vertel ons ietsie meer hiervan?

 

Dit was ʼn opdragwerk van die direksie van die Cederbergfees te Clanwilliam. Die werkstitel was: “Leipoldt soos nog nooit vantevore” ʼn Loslit-Leipoldt produksie deur drie bruin manne op die planke…soos nog nooit vante vore! Was dit nou ʼn lekker projek! Dit het foto-materiaal van Leipoldt se hele lewe beslaan, ons het van sy gedigte gevat en nuut berym (hier moet ek krediet aan Albertus Davids en Victor C Fredricks gee) Ek was die voordragkunstenaar. Ek het veral van daai lang epiese gedig, “Die Storie van Koenrad Fiet” gehou. Dis lank, maar ek het daai gedig, met die baie strofes so geniet om voor te dra!

 

Baie dankie vir hierdie gesprek, Willem. Hoe lyk dit – wil jy nie vir ons van jou nuwer verse as ’n lusmakertjie hieronder gee nie? Voorspoed met al jou planne en veral die ASV se werksaamhede.

 

 

 

Gedig

 

 

Die gedagtes van ʼn Bricklayer

 

En soe sit o’s ammal

Innie third class compartment

o’s gat hys toe nou!

Swaa’ gedjob

die hele blêrrie dag.

 

Ennie Lanie het glattie vi’ djou mercy

want djou getal stiene moet djy lê

die vinge’ moet na net getrek wid!

 

But who cares …

 

Vrydag, dan kommie pay

nie baie nie, maa da’em iets…

ek mien die wiek se wages

want die rient het weggebly!

 

But soes ek nou voel:

Lyfsee’, knuckles is ne’faf

vannie stiene oppie site…

 

Sometimes dan wish ek soe

ek vang’ie Lotto…

Dan sal ek nog een kee’

truggat na my djob toe:

Om my Lanie…

in sy office

lekke kak te ve’tel!

 

 

©  Willem Fransman jr

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.