Onderhoud: HP van Coller

Vertaling maak jou nederig

HP van Coller in gesprek met Louis Esterhuizen 

 

 

HP van Coller

HP van Coller

  

 

Hendrik Petrus van Coller is op 24 Maart 1949 in Pretoria gebore. Tans is hy  uitstaande professor en hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV.  Hy is  lid van verskeie nasionale en internasionale verenigings en sedert 2005 ook voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Prof. Van Coller is ook betrokke by die redaksies van verskeie geakkrediteerde tydskrifte: hy is onder meer redakteur van Stilet, redaksielid van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en was ook die redakteur van Perspektief en Profiel. Onlangs het ’n bundel vertalings van gedigte deur Luuk Gruwez (Bandelose Gedigte), sowel as ’n bundel literêre opstelle, Tussenstand, uit sy pen verskyn. Prof. Van Coller se stokperdjies en belangstellings sluit wynproe, wynmaak en –veroudering, kosmaak en skryf in.

 

 

 

Hennie, jy is sedert 2005 voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Kan jy, ter inleiding, vir ons ’n breë oorsig van jul werksaamhede gee?

 

Die werksaamhede van die Akademie is onder andere die uitbou van die Afrikaanse taal as wetenskapstaal en taal van hoër funksies. Daarom ook ons taak as opsteller van die Spelreëls vir Afrikaans én ons bekroning van letterkundige werke van gehalte oor ʼn breë spektrum. Met die instelling onlangs van die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur dek ons as Akademie (deur die letterkundekommissie) nou waarskynlik die meeste van die aspekte en vertakkinge wat verband hou met die Afrikaanse literatuur.

 

Binne ’n enkeltalige gemeenskap is dit vir die staat natuurlik moontlik om ’n enorme bydrae ten opsigte van die behoud en verbreding van hul letterkunde te lewer, terwyl die staat se direkte betrokkenheid ten opsigte van ’n spesifieke taalgroep se letterkunde binne ’n meertalige gemeenskap veel meer kompleks en derhalwe genuanseerd is. Voel julle as Akademie dat julle ’n besonderse rol het om te speel ten opsigte van beleid en kanalisering van ons letterkunde?

 

Die SA Akademie probeer literatuur in Afrikaans daadwerklik bevorder, veral deur die toekenning van pryse vir bykans alle genres en sub-genres en deur die aanmoediging van vertaling. Naas die Hertzogprys, wat steeds die mees prestigieuse literêre prys is, ken ons die Eugène Marais-prys toe vir die eerste of tweede literêre publikasie van ʼn skrywer (dus nog iets van ʼn aanmoediging), pryse vir kleuter-, kinder- en jeugliteratuur én selfs vir nie-fiksie. Ons ken ook twee vertaalpryse toe en selfs pryse (die Poortpryse) aan leerders op skool, dus jong, ontluikende skrywers om hulle daardeur aan te moedig én te beloon. Die Gustav Preller-prys vir literêre kritiek en literatuurwetenskaplike prestasie in Afrikaans is bestem vir akademiese skryfwerk. Die Akademie het in die verlede belangrike publikasies die lig laat sien, soos Afrikaans in English Translations, iets wat ons tans weer oorweeg.

 

Die toekenning van pryse is helaas iets wat dikwels kontroversie ontlok; veral wanneer die prys – soos die Hertzog-prys, byvoorbeeld – die mees gesogte prys in die Afrikaanse letterkunde is. Bestaan daar ’n vaste stel riglyne wat julle in jul beoordeling toepas, of bepaal die aard van die voorgelegde tekste die modus operandi?

 

Die literêre prystoekennings van die Akademie was in die verlede dikwels omstrede en het by tye aanleiding gegee tot hewige polemieke. Vir ʼn goeie oorsig hiervan kan geïnteresseerdes gerus Draer van ʼn droom lees. Hierdie eeufeespublikasie deur die bekende Pieter Kapp is ʼn geskiedenis van die Akademie se afgelope 100 jaar en word tydens ons eeufeesvierings in Bloemfontein (24 Junie 2009) bekendgestel. Prof. J.P. Smuts het ook ʼn boeiende artikel gepubliseer in Tydskrif vir Geesteswetenskappe (45(1): 1-14, Maart 2005) en ʼn artikel van my verskyn ook eersdaags in dieselfde tydskrif. Maar ons kommissie wat uit sewe lede bestaan (Louise Viljoen, die voorsitter, Helize van Vuuren, Heilna du Plooy, Daniel Hugo, Stewart van Wyk, Heinrich Ohlhoff en Hennie van Coller), bekroon elke drie jaar die beste boek van die voorafgaande drie jaar in een van die hoofgenres. Vanjaar was dit die drama se beurt, volgende jaar die poësie en so voort. Ons laat ons lei deur letterkundige oorwegings en daar word telkens ʼn “verkenner” aangewys vir elke prys om ʼn kortlys saam te stel.

 

Ek is bewus daarvan dat daar in vele van die Akademie se afdelings ’n definitiewe uitreik na ander taalgroepe in ons land is. Deel die Letterkundekommissie hierdie ingesteldheid of is jul belang uitsluitlik die Afrikaanse letterkunde?

 

Die Akademie self reik uit na alle taalgroepe, veral deur die hulp wat ons verleen ten opsigte van terminologieskepping, die opstel van spelreëls, die maak van woordeboeke (wat dikwels drietalig is!) en die bekroning by tye van bv. televisiestukke wat nie net in Afrikaans is nie. Maar ons Engelse literêre pryse is in die loop van die tyd oorgedra aan instansies wat primêr verantwoordelik is vir die Engelse literatuur én die kundigheid besit. ʼn Mens moet jou nie te veel aanmatig nie. Maar veral deurdat ons vertaling só aktief ondersteun, wys ons dat ons ander literature ag.

 

Dan het jy – bo en behalwe al bogenoemde werksaamhede – ons verlede jaar verras deur ook nog as vertaler te ontpop! Uit jou pen het naamlik vertalings van Luuk Gruwez se gedigte (Bandelose gedigte, Praag Uitgewers) verskyn. Hoekom het jy juis op Gruwez besluit?

 

Louis, dis eintlik ʼn lang storie. Ek was in 2002 gasdosent by die Rijksuniversiteit van Groningen en het een middag saam met die Nederlandse digter, Willem van Toorn geëet. Tydens ete het ek hom vertel van my ideaal om ʼn werkswinkel te reël waaraan Nederlandstalige en Afrikaanse digters deelneem en waartydens hulle mekaar se gedigte vertaal. Hy was onmiddellik entoesiasties daaroor. Terug in Suid-Afrika het ek so ʼn werkswinkel georganiseer in Bloemfontein. Willem het die Nederlandstalige digters – hy self, K. Michel, Miriam Van hee en Luuk Gruwez, uitgenooi (die Afrikaanse digters was, soos jy weet, jyself, Daniel Hugo, Vincent Oliphant en Charl-Pierre Naudé).  Tydens die werkswinkel wou ek nie ledig sit nie en het besluit om ook deel te neem aan die vertaling. Luuk het baie van my vertalings gehou, veral dié van “Dikke mensen”. Ek het besluit om ook van sy ander gedigte te vertaal en so het ek werklik geïnteresseerd geraak in sy werk, waarskynlik omdat ek baie van die vernufspoësie hou. Boonop is Gruwez se poësie toeganklik, humoristies, ironies en selfs ietwat sinies – eienskappe (byna sê ek “deugde”) wat ek ʼn paar jaar gelede gemis het in die Afrikaanse digkuns. Dit het uiteindelik gelei tot die publikasie van Bandelose gedigte, ʼn keuse uit sy werk in Afrikaanse vertaling.

 

In een van Paul Muldoon se Oxford-lesings (uitgegee as The end of the poem – Oxford lectures in poetry, Faber  & Faber, 2006) betoog hy dat die vertaalde weergawe van ’n gedig volwaardig ’n gedig is in sy eie reg; net soos die oorspronklike teks (gedig) in wese óók “vertaling” is (The end of poetry, p.195). Stem jy saam met hierdie stelling?

 

Die begrip “vertaling” is uiteraard wyd toepasbaar. Selfs die interpretasie van ʼn teks word soms ʼn vertaling genoem omdat dit ʼn herenkodering van ʼn boodskap is. Maar vertaling veronderstel eintlik die omsetting van ʼn bepaalde teks / diskoers in ʼn ander taal sodat daar sprake is van ʼn bepaalde ekwivalensie tussen die oorspronklike teks (dié in die brontaal) en die vertaalde teks (in die doeltaal).  Maar dit impliseer ook dat die nuwe produk ʼn volwaardige, relatief outonome teks moet wees.  André P. Brink neem byvoorbeeld vertalings van gedigte op in die nuwe uitgawe van Groot Verseboek sonder die oorspronklike tekste sodat dit vanselfsprekend beteken dat hy die vertalings as volwaardige gedigte beskou.

 

Daar bestaan ’n algemene opvatting dat die vertaler uiteindelik moet kies of hy getrou wil bly aan die letterlike betekenis van die vers óf die toon daarvan, aangesien dit bykans onmoontlik is om aan beide reg te laat geskied in die teikentaal. Was jy ook met so ’n keuse gekonfronteer?

 

In die afgelope dekades, was die vertaalwetenskap ʼn wetenskaplike fokusgebied en was veral bybelvertaling ʼn belangrike stimulus. Vertalers is nie altyd ook vertaalwetenskaplikes nie, maar die meeste neem wel deeglik kennis van nuwe teoretiese uitgangspunte.  Volledige ekwivalensie tussen die bron- en die doeltaal is ʼn onbereikbare ideaal, sodat die meeste teorieë op ʼn spektrum geplaas kan word wat strek van opvattings wat  veral getrouheid teenoor die brontaal predik, of dié wat die doeltaal as die belangrikste ag, in só ʼn mate selfs dat die vertaler ʼn groot mate van vryheid gegun word wat die omgaan met (en getrouheid teenoor) die brontaal betref.  Daar het al baie stemme opgegaan wat beweer dat poësie in wese onvertaalbaar is en die ou stelling sou bevestig dat vertaling altyd ontrouheid impliseer.  Binne my vertaalopvatting is die oorspronklike teks baie belangrik en probeer ek om dit sover as moontlik te eerbiedig wat “vorm en inhoud” betref.  Daarom domestikeer ek nie soveel nie:  name en plekke bly behoue: ʼn merel word nie ʼn Suid-Afrikaanse sangvoël nie en lente vind plaas in Mei en nie in September nie.  Maar Gruwez het self aan my gesê dat klank en ritme skering en inslag vorm van sy poësie en dat as ek móét kies tussen betekenis en die klankmatige, laasgenoemde die deurslag moet gee.

 

Wat was die moeilikste aspek van hierdie projek vir jou? En die mees bevredigende?

 

Die moeilikste van hierdie projek was om Gruwez ʼn Afrikaanse tong te gee. Alle vertalers uit Nederlands weet van “valse vriende”, woorde wat oënskynlik dieselfde beteken omdat hul dieselfde lyk, maar in feite wolwe in skaapsklere is. Nederlandse woorde dra meestal veel meer betekenisse as Afrikaanse woorde en ʼn vertaler moet derhalwe dikwels één betekenis kies. Weens die feit dat Afrikaans nie beskik oor die Imperfektum as grammatiese tydsvorm nie, word ʼn vertaler ook verplig om kreatiewe maniere te bedink om die verlede weer te gee sonder die dreun van die Perfektum se “het ge”.  Vertaling is vir my ʼn strewe na ʼn ekwilibrium, ʼn “balanstoertjie” waartydens die bron- en doeltaal gelykberegtig word: wat jy verloor aan alliterasie, probeer jy voor vergoed deur assonansies of akkonsonansies te benut; wil binneryme byvoorbeeld nie werk nie, dan probeer jy “vergoed” deur rykryme te gebruik. Omdat ek ʼn bepaalde rympatroon en ʼn bepaalde metriese skema as belangrik beskou, was die mees bevredigende wanneer alles saamwerk, byna soos ʼn Nederlandse wintersjas wat omskep word tot ʼn Afrikaanse jagbaadjie. Dan voel jy – dalk net vir ʼn oomblik, asof die muse jou ook met ʼn besoek vereer het.

 

Ten spyte daarvan dat daar uitstaande vertalings in die Afrikaanse digkuns bestaan, wil dit tog voorkom asof poësie in vertaling selde indien ooit na waarde geskat word; terwyl dit júís een van die belangrikste funksies in enige dinamiese letterkunde behoort te wees … Waaraan sal jy hierdie apatie ten opsigte van vertaalde tekste in ons eie digkuns toeskryf?

 

André P. Brink het begin om in die twee laaste uitgawes van sy Groot Verseboek meer aandag te gee aan vertalings. Boonop het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns onlangs ook ʼn nuwe vertaalprys, naamlik ʼn prys vir die beste vertaling van kinder- en jeugliteratuur by sy reeds bestaande vertaalprys te voeg.  Dit is alles tekens dat die gety dalk begin keer.  Want oral ter wêreld kla vertalers omdat hul werk nie na waarde geskat word nie en hul name òf dikwels ontbreek òf êrens in kleinletters vermeld word.  In Suid-Afrika is uitgewers besonder onwillig om poësievertalings uit te gee omdat dit (nes die poësie self) swak verkoop en boonop dikwels die skyf is van bitsige resensies van mense wat eintlik dink dat hulle dit beter sou kon doen.  En moet ek byvoeg, dikwels geskryf deur mense wat nog nooit hul hand gewaag het aan poësievertalings nie. Vertaling maak jou nederig.

 

Hennie, jy is uiteraard bekend as akademikus en dan nou ook as vertaler. Maar – daar lê nie dalk ook nog ’n paar verdwaalde verse in ’n onderste laai by jou waarmee jy ons binnekort gaan verras nie?

 

Louis, ek was verlede jaar die medewenner van die AB se letterkundekompetisie vir “debuutskrywers” met ʼn bundel verse, getitel Grimlag. Dit lyk my dit sal verskyn as ek al dood is, omdat hierdie (verwerkte) bundel reeds maande lê by die uitgewers sonder dat ek ʼn woord van hulle verneem. Inmiddels skryf ek voort: ʼn klompie gedigte het verskyn in tydskrifte, Pomp en huldigingspublikasies. Ek was onder meer ook deel van Franci Greyling (NWU) se projek “Kreatiewe Kreature” by Aardklop 2008 en was in 2008 en vanjaar weer ʼn deelnemer aan Bernard Odendaal en Ben Botma se “Allooi-inisiatief”, waaraan digters en kunstenaars deelneem.

 

Dankie vir ’n heerlike gesprek, Hennie. Sal jy so vriendelik wees om een van jou verse hieronder vir ons lesers oor te tik? En dalk sommer jou vertaling van Luuk Gruwez se “Dikke mensen” waarna jy hierbo verwys het?

 

Graag. Terloops, die gedig hieronder hoort by die “Allooi-inisiatief” waarna ek verwys het.

 

 

OLEA EUROPAEA

 

Selfs die liefde duur nie,

sê die ietwat siniese Siënese digter,

skynbaar oortuig dat min dinge

ooit  ʼn ewigheid kan duur.

 

Maar sý gebied is die streke

van dun denne, druiwe,

bosse vol skugter duiwe,

bronne, beke en brame –

byna asof vog en genade te veel was.

 

Jy, daarteenoor gedy in droogte,

skraal grond, klippe om jou wortels

stewig aan te anker;

winde waarmee jy moet saambuig.

 

God self het jou bedink

en fluister by tye deur jou blare,

al hoor mens dikwels in jou bysyn net

ou deur-die-blare-Bacchus sing.

 

Jou kreupelstam verberg

die gang van eeue.

Jou hout behou die son se blink.

Jou maagdelike, suiwer sap

word wêreldwyd geskink

en in jou kinkels en jaarringe

sit jou onthou.

 

Mooi moet dit wees

om uit te kyk op die asuurblousee,

terracotta bruin berge

klipperig soos grou Karookoppe;

gekoester te word

deur lou, souterige seewinde

wat in jou vrug-vlees nasmaak;

bruin te raak van die blakende son,

vrugbaar te bly deur eeue

om altyd weer soos ʼn jongvrou

keurig uitgedos te wees

in ʼn silwer-groen bruilofskleed.

 

(c) HP van Coller

 

*           *           *           *           *

 

 

DIKKE MENSEN (BG, bl. 90)

 

I

 

Dikke mensen weten alles van de liefde,

tot in de meest verloren uithoek van hun lijf,

de catacomben van hun vlees.

 

Hun buik is buitenland waarin zij wonen,

aldoor verlangend naar de slankste tailles

die hen doen watertanden als gebak.

 

Er is geen mens oprechter droef,

zo goedlachs treurig in die afgelegen balg,

die verre tenen en die bolle billen,

 

alsof zij slechts uit overschot bestaan:

zo ’n kleine honderd kilo niets

die niemand ooit zal willen.

 

II

 

Zij kunnen zich zo dwaas vermaken met hun vlees

dat aast op suikerspin of speculaas,

tot in hun laaste kilo ridicuul

op zoek naar al het zoets der liefde.

 

Hun lichaam is het hunne niet.

Elk klein teveel is groot gemis.

Maar stropen zij het zwoerd af van hun ziel,

zij blijven ingeduffeld in hun vet

 

dat zij nooit ontberen kunnen:

alsof zij slechts van buik en billen

niet al te onbemiddeld zijn

en enkel dat behouden willen.

 

Want ieder afscheid weegt hun zwaar.

Wie staat er klaar met gul applaus

wanneer zij straks in aller ijl

de glijbaan naar het graf afgegaan?

 

(c) Luuk Gruwez 

 

VET MENSE

 

I

 

Vet mense weet alles van die liefde,

tot in die verste uithoeke van hul lede,

die katakombes van hul lyf.

 

Hul buike is die buitepos waarin hul woon,

voortdurend hunkerend na die slanke lyf

waarna hul smag soos na koekstruif.

 

Daar is geen mens só hartlik hartseer nie,

só doodtevrede treurig in die afgeleë pens,

die veraf tone en die bultende boude,

 

asof hul uit oorskot slegs bestaan:

so amper honderd kilo niks

wat niemand ooit wil hê nie.

 

II

 

Hul kan hulself so dwaas vermaak met hulle lywe

wat aas op suikerdons of spekulaas,

tot in hul laaste lawwe kilogram

op soek na soetheid in die liefde.

 

Hul liggaam is hul eie nie.

Elke klein oordaad is groot gemis.

Maar pluk hul ooit die siel se vetlaag af,

hul bly soos in ’n jas gehul in vet

 

wat hulle nooit kan mis nie:

asof hul slegs van boude en buik

nie al te arm is nie

en slegs dít wil gebruik.

 

Want elk afskeid is vir hulle swaar.

Wie staan gereed met gul applous

wanneer hul later in aller yl

met die glybaan na die dood toe pyl?

 

(c) HP van Coller

 

 

 

 

Lees ook –

Om blare aan ʼn boom te hang

Luuk Gruwez in gesprek met Louis Esterhuizen

*****

Of besoek Luuk Gruwez se webtuiste by

http://www.luukgruwez.be

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.