SJ Pretorius:’n miskende digterskap?

S.J. Pretorius: ’n miskende digterskap?*

H.P. van Coller en B.J. Odendaal

1. Inleiding

S.J. Pretorius

S.J. Pretorius

Sarel Jakop Pretorius het in 1943 met Vonke by J.L. van Schaik gedebuteer as digter. Tot met sy dood in 1995 het hy bestendig bly dig en publiseer. Altesame 12 bundels uit sy pen het die lig gesien.1
Die profiel van sy digterskap word in die mees onlangse geskrif oor hom (Van Rensburg, 2000:1) geteken as “een wat gekenmerk word deur ‘n opvallend sterk sosiale gevoel, wat sowel mens as dier, in werklikheid elke lewende wese omsluit, en waarin deernis met die geskondenes oorheers”. Voorts is daar “‘n nooit aflatende onvrede – ‘n slingering tussen hemel en hel – en ‘n versoening van hierdie en ‘n verskeidenheid ander ver-uiteenliggende pole in ‘n ironiese visie wat sowel skrynend as speels is”, wat in sy verskuns oorheers.
Sy “meegevoel met die verstotenes in agterbuurt en krot” (Kannemeyer, 1988:110) word dikwels uitgesonder as sy mees kenmerkende bydrae tot die ontwikkelinge wat na 1940, as voortbouing op die vernuwing van Dertig, in die Afrikaanse poësie plaasgevind het. Dis ‘n periode toe die temas van “oorlog en die stad met die ekonomiese vraagstukke wat die verblyf daar gekenmerk het” (Ohlhoff, 1999:131-132), ‘n “harder en kantiger vers, ‘n meer gedronge poësie” (Kannemeyer, 1988:110) en ‘n ruimer, “anti-liriese (…), strakker, objektiewer” taalgebruik en beelding (Grové, 1965:6) op die voorgrond getree het.
Sy vernaamste debuuttydgenote2 was D.J. Opperman en Ernst van Heerden, met wie hy dikwels ongunstig vergelyk is (Du Plessis, 1996:13.) Trouens, in vergelyking met hulle is hy deur André P. Brink (1977:15), wat in die sewentigerjare vanweë sy gereelde resensies in die nasionale Sondagblad Rapport as ‘n belangrike hekwagter3 en smaakmaker4 in die Afrikaanse literêre sisteem opgetree het, as ‘n “minor poet”5 bestempel (hoewel “met ‘n onmiskenbare bydrae”).
Pretorius was van mening dat tiperings soos bostaande (“gietsels”, soos hy dit genoem het) die siening en waardering van sy volle digterskap ernstig belemmer het; dat die etikettering van hom as “die (…) skrywer van maatskaplike deernis” tot gevolg gehad het dat die ontwikkelinge in sy digterskap “sedert daardie eerste dae” misken word (Oggendblad, 30 September 1982:9).6 Dis asof Pretorius in die oë van die kritici nie uit die keurslyf van sy besondere bydrae tot die “Veertiger”-vernuwing kon ontsnap nie, terwyl sy aanvanklik vergelykbare tydgenoot Ernst van Heerden wel kon7 en vir meer onthou word as “die worsteling van ‘n gevoelige en weerlose mens teen die moderne wêreld en maatskappy” (soos sý uiting van die Veertigers se “nuwe maatskaplike bewussyn” deur Kannemeyer, 1988:110, getipeer word).
By Pretorius se dood in 1995 was ‘n aantal kommentatore (Hambidge, 1995:7; Grové, 1995a:41; Van Rensburg, 1995) daarom die (uitgesproke of geïmpliseerde) mening toegedaan dat ‘n herwaardering van Pretorius se digterskap nodig geword het – iets wat wel in ‘n mate geskied het met veral die grafskrifte by sy dood deur Grové (1995a) en Van Rensburg (1995:107-109) en met die publikasie van E.C. Britz (1999) se opgedateerde profiel van Pretorius in die jongste Perspektief en profiel. Ook Van Rensburg (2000) se samestelling van ‘n keur uit Pretorius se digterlike nalatenskap sou hiertoe kon bydra, maar is ongelukkig op klein skaal en nie vrylik in die handel versprei nie.
‘n Herwaardering van Pretorius as digter is ook nie die oogmerk met hierdie artikel nie. Ons wil eerder poog om, aan die hand van ‘n plasing van Pretorius en sy digterskap ten opsigte van die ontwikkelinge binne die Afrikaanse literêre veld van sy leeftyd, vas te stel en te verklaar wat alles aanleiding daartoe (kon) gegee het dat Pretorius nie die etikettering as digter van die tweede plan van hom kon afwerp nie; wat dus die redes vir die moontlike onderskatting van sy digterskap was/is.

2. Die digterskap van Pretorius teen die agtergrond van ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie

In die onderhoud wat hy in 1972 met Pretorius gevoer het, onderskei Bekker (1972:79) tussen “die na-buite-gerigte verse en dié wat na-binne-gerig is” in Pretorius se oeuvre tot in daardie stadium. “Elemente van deernis is in albei gevalle aanwesig; in die eerste geval veral wanneer jy mens en dier in die stad uitbeeld, en tweedens, ook ‘n sekere selfdeernis.” Bekker beweer dan dat die gedigte “oor figure in die stad (…) ongetwyfeld die beste van hierdie vroeëre werk” is, en dat die subjektief-belydende verse “jou swakker werk verteenwoordig” – ‘n bewering waarmee Pretorius akkoord gaan, hoewel hy voel “dat die kritiek soms te hard oor die gedagteverse geoordeel het. Dié fase lyk my soms onvermydelik (soos bv. W.E.G. Louw se Terugtog wat in die algemeen, meen ek, as ‘n insinking beskou is) in ‘n mens se ontwikkeling.”
Laasgenoemde ‘onvermydelike’ ontwikkeling in Pretorius se digterskap behels ‘n teruggryping in Inkeer (1948) en Die swyende God (1949) na die belydenisverstipe wat nog sy debuut oorheers het. Tussenin het Die arbeider en ander gedigte (1945) gelê, sy tweede bundel, waarin die meer realisties-beskrywende verse oor die teenstelling tussen Johannesburg (waar hy toe gewoon en –werk het) en Griekwaland-Wes (sy landelike jeugwêreld), asook die meer objektief-beeldende gedigte oor misdeelde stads- en dieretuingestaltes op die voorgrond gestaan het. Aanleiding tot hierdie na-binne-kering was ‘n “geesteskrisis van die ek wat deur sy depressie, angs en bewustheid van verganklikheid en dood gepynig word” (Kannemeyer, 1988:202), ‘n religieuse vertwyfeling wat volgens Pretorius se eie getuienis (Pretorius, 1953:141; Bekker, 1972:77) ‘n eerste impuls tydens sy jeugjare gekry het met die afsterwe van sy geliefde oupa, en gevoed is deur skuldgevoelens as gevolg van “die erg konserwatiewe” opvoeding wat hy in sy Gereformeerde ouerhuis ontvang het.
Literêr-esteties het die ‘na-binne-gerigte’ verse van Pretorius aangesluit by die belydeniskuns van ‘n voorafgaande Afrikaanse digtersgeslag, naamlik die Dertigers. Dit het dus poësie verteenwoordig wat, in terme van Even-Zohar (1979) se siening van die literêre (poli-)sisteem, as ‘n sekondêre (voorafbepaalde of geoutomatiseerde) tekstipe beskryf kan word (Even-Zohar, 1979:299), en wat deur die proses van konversie vanaf die sisteemsentrum na die –periferie gedryf is (Even-Zohar, 1979:293). Die “Dertiger-clichés” (Kannemeyer, 1988:202) in dié vroeë bundels van hom het – naas “abstraksies, metriese en rymdwang en ‘n sekere koersloosheid in die bou”, asook “hinderlike samestellings” (weer Kannemeyer, 1988:201) – die negatiewe resepsie van hierdie verstipe in Pretorius se werk bepaal.
Hierteenoor is die ‘na-buite-gerigte’, meer realisties-beskrywende of -vergestaltende gedigte van Pretorius, waarin “gewone, onmooie” (Grové, 1995a:41) woordeskat uit die wêreld van die sosiaal-ekonomies misdeeldes van die stad benut word, ervaar as primêre tekssoort (soos Even-Zohar, 1979:299, na sterk vernuwende tekste verwys). Dis gou geïdentifiseer met die toonaangewende ontwikkelinge binne die Afrikaanse literêre sisteem in die negentien-veertigerjare en onmiddellik daarna (vergelyk Bekker, 1972:78; Schutte, 1982:3-4; Van Rensburg, 1995:107-109; en Grové, 1995a:41), en dusdanig gekanoniseer8.
Pretorius se digterskap was egter geen statiese een nie. Hoewel “die diep pessimistiese lewenstoon wat uit sy verse spreek” (Britz, 1999:474) konsekwent gebly het in sy oeuvre, is bepaalde ontwikkelinge, veral op stilistiese en verstegniese vlakke, aan te stip. Vanaf Die mummie en ander verse (1963) raak die direk belydende verstipe op die agtergrond9; ‘n uitbreidende intertekstuele verwysingsveld, waaronder mitologiese, argeologiese en argivale gegewens, gee ‘n universeler klank aan die tematiek; die “lewenspyn word (…) heftiger en in meer fasette (…) verwoord” (Rossouw, 1995:3); motiewe uit die sirkuswêreld en betreffende die maskerspel tree op die voorgrond, in samehang met ‘n speelser, ironies-satiriese toonaard.
Daar is selfs sprake (Britz, 1999:474) van “’n periodieke ‘vernuwing’ van sy poësie gebaseer op die navolging van stylkenmerke wat deur die ontwikkelende Afrikaanse liriese tradisie verskaf is”. Naas die aansluiting wat Pretorius se vroeër werk by Dertig en “Veertig” gevind het, vermeld Britz (1999) nog die volgende:
• Die mummie en ander verse kan as Pretorius se “eerste ‘Sestiger’-bundel” beskou word, met kenmerke soos “korter en ekonomieser, nugterder (gedigte), met ‘n analitiese, verstandelike kwaliteit” (479).
• In Argekrobaat (1969) word dié tendens voortgesit. “Onder invloed miskien van ‘n mode in dié jare onder digters van die Rand en veral Pretoria om in die vorm van ‘n vernuftige bouspel met woorde in ‘wetenskaplike’ trant ‘n soort koel kriptiek te lewer, neig ook Argekorbaat na ‘n afsydige en bewuste woordakrobatiek, uiteraard met diepsinnige pretensie.” (480-481)
• Lemma (1974) verklap die toenmalige modeneiging om weg te beweeg van “die serebraal-meditatiewe, net-afgewerkte metafoor na ‘n skilderagtige, assosiatiewe, op die oog af amorfe spel met woorde en morfeme” (482).10
• Die groep nuwe gedigte in Album, die keur uit sy eie werk wat Pretorius in 1976 publiseer, bevat weer ‘n “reeks grimmige hekel- en striemverse” oor “die rol van die bot en wrede baas” wat die Afrikaner aangeneem het “in die Suid-Afrika van die sewentigerjare” (483) – dit wil sê in aansluiting by die destydse tendens tot betrokke letterkunde.
‘n Belangrike ontwikkeling in Pretorius se digterskap om in die oog te hou, is die toenemende versoening van die na-binne- en na-buite-gerigthede van sy digterlike fokus, dit wil sê die wyse waarop die belydeniselement in sy werk nie verdwyn het nie, maar identifiserend geprojekteer is op beskrewe of uitgebeelde mens- en dieregestaltes (Grové, 1995b:10). Die subjektiewe “gedagteverse” (om ‘n term van Pretorius self te benut – vergelyk Bekker, 1972:79) en die meer objektief getekende gestaltes van sy vroeër bundels – in hoofsaak weerspieëlend van “die tydsgebonde lot van die destydse Afrikaner in die stad” (Schutte, 1982:4-5) – het steeds enger versmelt geraak tot wat “gestaltegedigte met ‘n sterk subjektiewe substraat” genoem kan word (Schutte, 1982:8).11 Grové (1995a:41) koppel die versoening van die liriese met die gestaltevers in die tweede fase van Pretorius se digterskap aan die maskerade- en spelelemente (gepaardgaande met meer satire, spot, ironie en teenstellings) wat daartydens op die voorgrond getree het: “In talle gedaantes, vlugvorme – van hanswors tot doofhouer-kewer – skuil die weerlose mens om die pyn te vermy…”
Die benutting van mitiese, historiese, argeologiese en dieptepsigologiese sienings vanaf veral Argekrobaat hang met laasgenoemde saam. En dis geen oppervlakkige appropriasie van vreemde metaforiese materiaal nie. Pretorius het deur die jare “knaend met die gevoel geloop dat ek geestelik deur die fases van menslike ontwikkeling gaan (…) Goue eeu of ‘Griekse periode’ (…) Donker Eeue (…) Middeleeue (…) ‘n rasionalisme, ‘n romantiek en ‘n moderne periode wat verder kan gaan (…) dat my eie ervaring ‘n breë implikasie het (…) in argetipiese sin (…) Daarom die mitologiese verwysings. Ek het dit as persoonlike ervaring aangevoel…” (Bekker, 1972:86-87) Bowendien kon Pretorius op hierdie wyse die moontlikhede van eksistensiële en psigologiese heling wat onder meer religieuse en mitiese verhale inhou, verken vir die gekweldhede wat hy in sy verskuns vergestalt het (Schutte, 1970b:16-19 & 1982:8-11).
Die genoemde ontwikkelinge ten spyt, het Pretorius se digterskap dus deurgaans ‘n bepaalde essensie behou: die uitdrukking van “lewensleed” of “’n seer-gevoelige menslikheid” (Britz, 1999:474 en 485) in ‘n pessimistiese toonaard, soos dit onder meer, en in toenemende mate, neerslag vind in die satiries-ironiese, maar steeds deernisvolle uitbeelding van misdeeldes en verskoppelinge. Dis ‘n sentrale gegewe en lewensvisie wat hy volgens Britz (1999:485) met “volhardende ontwikkeling, ‘n gestadige verryking en toename van presisie” in sy digwerk vergestalt het, sodat hy “dit vir sy leser moeilik (maak) om nie tóg, duursaam, onder die invloed en die indruk van sy werk te kom nie”. In totaal het hy dus ’n oeuvre daargestel wat, soos gestel is, “na vorm en inhoud ‘n wye gebied bestryk” (Grové, 1995a:41), “een van die rykste en mees geskakeerde oeuvres waaroor ons beskik” (Van Rensburg, 1995:109), en wat in elk van sy bundels ‘n “kwota goeie en selfs uitstekende gedigte” opgelewer het (Grové, 1995a:41). Waar Antonissen (1951a:38) in ‘n stadium kon beweer dat Pretorius nie een werklik onthoubare gedig geskryf het nie, verwys Hambidge (1995:7) jare later na verskeie “klassieke verse” van hom wat “deel uitmaak van ‘n mens se poësie-lêer. Dit is verse wat jy altyd onthou en wat ‘n bepalende invloed het op hoe jy ander digters lees.”
Grové (1995a:41) en veral Van Rensburg (1995:107-109) stippel uit in watter opsigte Pretorius, op soms gedurfde wyse, die Afrikaanse poësie “anders agtergelaat (het) as wat hy dit gekry het” (Van Rensburg, 1995:107):
• Hy was een van dié digters wat die oorgang van ‘n landelike kultuur na ‘n stadkultuur in Afrikaans onder woorde gebring het.
• Hy was ‘n baanbreker in die dikwels treffend realistiese uitbeelding van die wese en lot van die gepynigde gemarginaliseerdes van die moderne geïndustrialiseerde samelewing, waaronder sy eie.
• Hy het die Afrikaanse poësiewoordeskat steeds verder uitgebrei, onder meer deur die omgangstaal van stadsarbeiders en die Griekwa-Afrikaans van sy jeugwêreld te benut.
• Hy het die intertekstuele spel oor ‘n veel breër linie as vantevore in die Afrikaanse digkuns op tou gesit.
• Sy sosiale deernis het hy in die later fase van sy digterskap verknoop met ‘n sekere humorvolheid. “Satire , deernis en spel het in ‘n eiesoortige ironiese visie verenig, en het ‘n merkbaar nuwe skakering tot die Afrikaanse poësie toegevoeg.” (Van Rensburg, 1995:108)
• In sy latere strewe om ‘n transendente blik op die mens en sy ganse geskiedenis te werp, het hy die taalgebruikskonvensies van die retoriek op besielde wyse laat herleef, byvoorbeeld in ‘apokaliptiese’ gedigte soos “Wat het hulle met die mens gedoen?” en “La chute” uit Lemma.
Uit bostaande lyk dit of die grondslae van ‘n herwaardering van Pretorius se digterlike statuur in die afgelope dekade deur kommentatore soos Britz, Grové, Van Rensburg en Hambidge gelê is. En tog het belangrike agente en instansies in die Afrikaanse literêre veld, insluitende sommige van die genoemde herwaarderingsgrondleggers, uitsprake gemaak of opgetree op wyses wat ‘n mens laat wonder of so ‘n proses op gang sal kom.
Hambidge (1995:7) noem Pretorius se digkuns in haar huldigende rubriekbydrae byvoorbeeld “belangrik”, maar ook “beskeie”. Britz (1999:485) bestempel Pretorius se digterskap aan die einde van die profiel oor hom weer as “n beperkte, selfs eensydige” een, “sonder oorspronklikheid en diepgang van waarlik grootse statuur”, dit wil sê naas die gekwoteerde positiewe uitlatings wat hy daaroor maak. Hy begaan in die proses die oorsig om Pretorius se derde laaste bundel, Serusiet, te bespreek of selfs net te noem (terwyl hy die res een na die ander volgens chronologie bekommentarieer).12 Iets dergliks gebeur as die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum ‘n biografiese skets van Pretorius laat opstel (Rossouw, 1995:3) en die bundels Smartlap en Serusiet as Bybeldramas uit sy pen aandui – en klaarblyklik hierdie vals inligting aan die media deurgee (vergelyk Rooi Rose, 27 Mei 1994:48).
In haar perspektief op die Afrikaanse digkuns vanaf 1960 tot 1997 (die tyd waarin Pretorius sy beste werk lewer) wy Van Vuuren (1999:266) ‘n enkele paragraaf aan Pretorius se werk – ‘n paragraaf wat die bekendheid van sy gedigte oor “die bedrukkende stad” en oor “die werkersklas en hul lot as oorgelewerdes aan die tegnologie” vermeld, en voorts slegs die titels van sy bundels in die betrokke tydperk opnoem (met weglating van Amper postuum uit 1995).
Dít is nouliks die soort ding wat gebeur wanneer dit om ‘n onbetwiste digterskap van die eerste plan gaan.
Soortgelyke getuienis oor die eintlik steeds tanende status van Pretorius as digter blyk uit statistiek aangaande die hoeveelheid gedigte van hom wat in die drie (literêr-)histories oorsigtelike Afrikaanse bloemlesings uit die afgelope dekade verskyn het, dit wil sê in vergelyking met die hoeveelhede van sy digterlike generasiegenote wat opgeneem is.13
Dié teenstrydighede betreffende die huidige waardering vir Pretorius se digterskap spruit onses insiens hoofsaaklik uit die relatief beskeie rol wat hy in die Afrikaanse literêre sisteem gespeel het, asook uit die geskiedenis van die kritiek op sy werk.

3. “Verskoppeling” en sisteemrandfiguur

Ons het genoem dat Pretorius ‘n streng Gereformeerde opvoeding tuis gehad het, wat hom skuldig laat voel het oor sy godsdienstige vertwyfelinge. Hy vertel self (Bekker, 1972:77) hoe die “opstand teen God, selfs twyfel” in die bundels van Dertigers soos die vroeë N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw hom “angstig” gemaak het, “omdat dit dinge in my geroer het wat latent in my aanwesig was. Terselfdertyd kon ek geen spoor by my ouers, hul kennisse of enigiemand in die dorp (Postmasburg – HPvC & BO) kry van twyfel in die doel van die lewe of die Godsbestier nie.” Hy verwoord iets van sy gevoel van buitestaanderskap as gevolg hiervan in die nagelate gedig “Dopperdigter” (Van Rensburg, 2000:130):
Tussen Gods uitverkorenes
uit wortels van die oerste Calvinis,
waar deugde as die vrug van sede
ryp in die peule van die rede,
die lied uit elke voël se strot
sing van ‘n herderlike God,
is ek gebore rykgeseën,
maar het in maat en rym
skuins uitgebloei in die geheim
van ‘n wêreld waar die wonder
van die genade in die algemeen
meer is as dié in die besonder.14
Sy deernis met die “verskoppelinge” of die “under-dog” koppel hy aan die feit dat hy, soos almal in sy jeugkontrei, arm grootgeword het en hom kon vereenselwig met die gemarginaliseerdes wat hy later in Johannesburg leer ken het. Sy Afrikaansheid in die Engelsgedomineerde stad het sy belewing van vervreemding verder versterk. (Bekker, 1972:80; Schutte, 1982:4-5)
Hier vind ‘n mens wortels van die swaarmoedigheid wat soveel van Pretorius se verskuns oorheers.15 Lees ‘n mens deur onderhoude met of berigte oor hom (byvoorbeeld Mocke, 1953; Schutte, 1970a; Bekker, 1972; Oggendblad, 1982; Erasmus, 1992), kom jy onder die indruk dat hy in die werklike lewe ook dikwels depressief was (hoewel hy soms ontwykend daaroor sou praat16), byvoorbeeld voortdurend verontreg gevoel het deur die literêre kritici en emosioneel baie swaar getref kon word deur “persoonlike verliese en traumatiese ervarings” (Erasmus, 1992:10)17. Die mensbeeld wat gevolglik in sy digwerk neerslag gevind het, was dikwels die van die gefnuikte of mislukkeling, die gekarikaturiseerde mens, “die ‘aap’- of dan ‘gek’-figuur” (Bekker, 1972:83-84).
Hy was heel waarskynlik ‘n teruggetrokke persoon wat nie gemaklik met mense kon omgaan nie.18 Dié (dikwels wrokkige) afsydigheid het ook sy posisie in die Afrikaanse literêre wêreld gekenmerk. Hy het relatief laat – eers op vyf-en-veertigjarige leeftyd – tot die akademiese wêreld toegetree en eers op vyf-en-vyftigjarige ouderdom ‘n hoogleraar aan die Universiteit van Suid-Afrika geword. Hy het gepromoveer oor die Bybelse epos in die sewentiende eeu met spesifiek toepassing op Joost van den Vondel se Johannes de Boetgezant, en in die sewentiende-eeuse Nederlandse letterkunde universiteitsonderrig gegee.19 Trouens, hy het klaarblyklik ook aspekte van die heersende, retorika-geïnspireerde literatuuropvattings uit daardie Goue Eeu van die Laelandse kultuur gedeel.20 Dit was kwalik geskikte wyses om in die stroomversnelling van ontwikkelinge in die eietydse Afrikaanse literatuur te beland (Du Plessis, 1996:13; Van Rensburg, 1995:109; Hambidge, 1995:7).
Pretorius het hom – in kontras met Britz se voorheen vermelde siening oor die “periodieke ‘vernuwings’” in Pretorius se werk in navolging van veranderinge in die Afrikaanse poësie – by geleentheid (Oggendblad, 30 September 1982:9) juis skepties uitgespreek oor die literatuurontwikkelinge van sy tyd. Die praatpoësie van die negentiensewentigerjare vind hy vormloos en onmusikaal, terwyl baie van die ‘betrokke’ letterkundige werke syns insiens “bloedlose, ideedraende poppe” as karakters oplewer. Wat die vroeë tagtigerjare betref (die tyd toe onder meer T.T. Cloete as toonaangewende digter gevestig geraak het), veroordeel hy die “mode” om “intellektuele slimmighede tot poësie te verhef”, asook die oordrewe “woordontginning” wat aanleiding gee “tot ‘n klakkelose spel met woorde wat na alles dood op die papier lê”. Voorts is die “huidige gebruik om die gedig heeltemal los te maak van die digter” (dus: die outonomistiese literatuurbeskouing) vir hom onaanvaarbaar. Die “biografiese besonderhede en die konteks waarin ‘n gedig staan”, is volgens hom van groot belang.
Die intense, hoewel argwanende betrokkenheid by gebeure in die Afrikaanse literêre veld wat spreek uit tirades soos dié, klop nie met uitsprake van Pretorius – soos teenoor Elfra Erasmus (1992:10) geuit – dat hy geen Afrikaanse poësie lees nie, omdat hy deur niemand beïnvloed wil word nie.
Vakkundig het Pretorius hom nie met die Afrikaanse poësie (of die Afrikaanse literatuur in die breë) besig gehou nie. Anders as sy groot tydgenote D.J. Opperman en Ernst van Heerden het hy nie opgetree as resensent of bloemleser, en geen wetenskaplike of kritiese artikels oor die Afrikaanse letterkunde geskryf waardeur hy sy posisie daarbinne kon bevorder nie. Soos dit ietwat neerhalend in ‘n koerantberig (Oggendblad, 30 September 1982:9) gestel is: dit was “selde dat jy hom tussen die ringkoppe van die letterkunde op sy eie kassie hoor skree” het.21
In geen ander genre as die poësie was hy beduidend aktief in die Afrikaanse literêre veld nie.22 Slegs deur sy verse kon hy hom daar laat geld. Die bloemlesing van besnoeide en dikwels herbewerkte gedigte wat hy uit sy voorafgaande bundels in Album saamgebring het, was ‘n verwante strategie wat hy gevolg het om sy “onderskatting” as digter teen te werk, soos Britz (1999) en Van Rensburg (2000) aangetoon het – hoewel hulle ook moes konstateer dat sy seleksies en herskrywings nie altyd gunstig uitgeval het nie!

4. Pretorius en die Afrikaanse poësiekritiek

Dit is geen oordrywing om te beweer dat die literêre kritiek van sy tyd Pretorius gegrief het nie. Naas die reeds vermelde uitsprake wat hy in onderhoude in hierdie verband gemaak het, het hy hom ook herhaaldelik in gedigte hieroor uitgelaat. Die uitstaande temas in hierdie response is sy weerstand teen wat hy ervaar het as die kritiese opdwinging van poësieopvattings23 wat nie strook met dié wat in sy eie werk gereflekteer word nie, sy wrewel teen wat hy beleef het as ‘n klakkelose napratery24 van die opinies van toonaangewende kritici (die “uitkraai” van “His Master’s Voice”, soos hy dit in die gedig “Die taalman cum literêre kritikus” noem – Van Rensburg, 2000:83), asook sy gegriefdheid oor kanoniseringsprosesse waardeur generasiegenote van hom, soos D.J. Opperman en Ernst van Heerden, meerdere status25 as hy, die “(m)islukte digter”, (vergelyk Van Rensburg, 2000:135) verwerf het.
Literatuurteoretici het al aangetoon dat bepaalde agente in die literêre veld, soos literêre kritici en historici, asook uitgewers, ‘n belang daarby het dat kanonvorming bevorder en ‘n kanon bestendig word.26 Veral literatuurhistorici is berug daarvoor dat hul die oordele van vorige kritici (kyk Rosengren, 1985 en 1987) en literatuurhistorici dien ten gevolge bestendig en selfs bykans woordeliks oorneem. In hierdie verband kan gepraat word van ‘balseming’: skrywers word (dikwels op grond van debuutwerke) in ‘n bepaalde literêre tradisie / skool geplaas; kenmerke van hul werk word van die een kritikus na die ander oorgedra27; hul plek binne die literêre rangorde is skynbaar vas (al verskil latere werke aanmerklik van debute of vroeëre werke); daar word min gewysig aan die intertekstuele relasies wat aanvanklik gesinjaleer is. Kortom, veral in die geval van ‘mindere’ skrywers is hul lot dié van die mummie: dalk redelik permanent bewaar in ‘n sarkofaag op die periferie van die grafkelder (die literêre kanon), maar met weinig kans om ooit na die middel gekarwei te word.
‘n Mens merk heelwat hiervan ten opsigte van Pretorius op. Veral A.P. Grové en Rob Antonissen blyk naamlik aanvanklik toonaangewend in hierdie verband te gewees het, hoewel ook André P. Brink in later jare nagepraat is. Vroeër uitlatings van hulle oor Pretorius se digkuns word meermale instemmend deur latere kritici/historici aangehaal.28
Bestendiger, en daarom klaarblyklik deurslaggewender, is die oorname van sekere tiperende woorde of frases, of naby-verwante variasies, om Pretorius se digkuns te beskryf. Weer is dit bewoordings van vernaamlik Grové (1948:15-17 en 1949:79-89) en Antonissen (1951b:134-135 en s.d.:32) wat oor dekades heen telkens in resensies, artikels en literatuurgeskiedenisse geëggo word, byvoorbeeld dat Pretorius
• “geen hartstogtelike liriese digter (is) wat ons boei met ‘n verwikkelde sielestruktuur nie”29,
• sodat die tematiek, emosionele reikwydte en voorstellings in sy werke “beperk”, “eenselwig” en “eensydig” aandoen30;
• dat hy sy “natuurlike talent (…) forseer”31 wanneer hy hom aan liriese belydenisse waag (‘n “rigting vreemd aan sy aanleg”),
• aangesien sy krag lê in sy fyn waarnemingsvermoë32
• en “plastiese beelding” en projeksie in gestaltes33;
• dat hy eers werklik geïnspireer word deur sy “sosiale deernis” met “die verskoppelinge van die agterbuurt en slagoffers van die (…) stad”34;
• dat daar ‘n “objektief-beeldende” tendens naas ‘n “subjektief-liriese lyn” in sy werk bestaan, en dat eersgenoemde die beste en potensierykste, en laasgenoemde – weens die weke, sentimentele, betogende of verstandelik-redenerende toonaard waartoe dit aanleiding gee – die swakste in sy oeuvre verteenwoordig35;
• dat daar te veel “poëtiese slang”, retoriek of “stereotipe sieninge” in sy bundels voorkom, wat die groei- en prestasiepunte daarin vertroebel36;
• dat hy in sy realistiese beelding van dinge te selde bo die “alledaagse, dooi-stoflike” uitstyg “tot die ewig verlossende simboliek”37.
‘n Relatief belangrike akademiese indikator van ‘n digter se kanonieke status is die hoeveelheid verhandelings en proefskrifte wat oor sy werk geskryf is of word. In die eerste plek reflekteer dit die mate van geokkupeerdheid met die bepaalde digterskap in die navorsings- en onderrigprogramme aan tersiêre onderwysinstellings. In die tweede plek word via sulke geskrifte verslag gedoen oor indringende ondersoeke na aspekte van die betrokke digterskap, wat ‘n stewige basis sou kon daarstel vir ‘n grondige herevaluering daarvan. Uit sulke ondersoeke volg dikwels akademiese publikasies, soos artikels in vaktydskrifte, wat die belangstelling in die digterskap in groter verband lewend kan hou.
Ook in hierdie opsig is die stand van sake vir die digterskap van Pretorius allermins rooskleurig: (‘n gedeelte van) een proefskrif in 1957 en een M.A.-verhandeling in 1993.38
Trouens, Pretorius had geen invloedryke “champion” of populariseerder om sy werk te bevorder en in die belangstellingsveld van lesers te hou nie39, soos byvoorbeeld sy generasiegenote Ernst van Heerden40 en D.J. Opperman41 kon geniet. Sy vriend Pirow Bekker, met die reeds vermelde onderhoud uit 1972, sy kollega aan die Universiteit van Suid-Afrika, H.J. Schutte, met onder meer die genoemde “gesprek” uit 1970 en die “kwintessens”-artikel uit 1982, asmede E.C. Britz met ‘n resensieartikel (1978) en ‘n telkens uitgebreide profiel in opvolgende uitgawes van die literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel (1982 en 1999), is persone wat die naaste aan sodanige rol ten aansien van Pretorius gekom het.
Ook het niemand, naas die genoemde vroeëre keur wat hy self saamgestel het, kommersieel gepubliseerde versamelde werke of bloemlesings/keure van sy werk42 byeengebring en gepubluseer gekry, soos Daniel Hugo (1994) en W.H. Vos (1967) wel onderskeidelik ten aansien van sy tydgenote Olga Kirsch en S.V. Petersen (laasgenoemde saam met werk van P.J. Philander) gedoen het nie.

5. Samevatting

Daar is dus aanduidings dat Pretorius se digterskap in ‘n mindere of meerdere mate misken is (en steeds word), terwyl oproepe gemaak is dat ‘n herevaluering van sy digterlike bydrae moet geskied. Tegelykertyd bestaan daar weinig bemoedigende indikasies dat sy betreklike randposisie in die Afrikaanse literêre veld aan ‘t verbeter is, of dat ‘n daadwerklike herwaardering van sy digterskap onderneem (sal) word. Trouens, uit onlangse bloemlesings van die Afrikaanse poësie blyk eerder die teendeel.
Die geïdentifiseerde oorsake van sy kanonieke marginalisering, van sy ‘balseming’ as digter van die tweede plan, kan in kategorieë van oeuvre-spesifieke, persoonlike en literêr-sistemiese aard onderverdeel word – onderskeidelik soos volg saamgevat (waaruit die noodwendige vaagheid van die grense tussen die kategorieë blyk):
• Die talle gedigte van mindere allooi wat hy in sy bundels ingesluit het, het die waardering vir die werklik goeies afgeswak. Voorts het die neerslae van sy bemoeiing met die Nederlandse Renaissanceskryfkuns in sy werk, vernaamlik dié op stilistiese vlak, die kritiek vervreem. In geen ander literêre genre as die poësie was hy beduidend aktief nie.
• Hy was ‘n swaarmoedige, teruggetrokke persoon. Wrokkige afsydigheid het ook sy posisie in die Afrikaanse literêre wêreld gekenmerk, waar hy op geen wyse behalwe deur sy poësie aan die hoofstroomontwikkelinge meegedoen het nie: nóg as kritikus, nóg as literatuurwetenskaplike, nóg as bloemleser.
• Hy is deur die kritiek grootliks in die keurslyf van sy besondere bydrae tot die “Veertiger”-vernuwing ingedwing, ten spyte van periodieke (veral stilistiese en verstegniese) vernuwings in sy werk. Dit het ongunstige vergelykings vir sy werk meegebring met veral dié van sy groot tydgenote D.J. Opperman en Ernst van Heerden, terwyl hulle werk onderling eintlik weinig met mekaar te doen gehad het. Die belydenispoësie waarna hy in die laat-veertigerjare teruggegryp het, is as sekondêre, cliché-agtige verstipe deur die kritiek beskou, wat nie as behorende tot die hoofstroomontwikkelinge in die Afrikaanse literêre sisteem van destyds geag is nie. Die neiging tot kanonbestendiging onder agente in die literêre veld (soos kritici, historici en uitgewers), het die ‘balseming’ van die beeld van Pretorius se digterskap bevorder. Vroeëre uitlatings en oordele van toonaangewende kritici/historici is dikwels gekontinueer. Beduidende bevorderaars of populariseerders van Pretorius se digterskap het grootliks ontbreek.
Digters kan tot eie voordeel van die eerste twee kategorieë kennis neem. Die aansienlike aantal meganismes en tendense wat die geval Pretorius egter in die literêre veld blootlê, behoort ewe deeglik deur agente (kritici, historici, uitgewers) en institusies (onderwys- en navorsingsingstellings, prystoekenners) in daardie veld verreken te word. Moet daar byvoorbeeld hoegenaamd gedink word in hiërargieë soos digters van die eerste en tweede plan? Is die houding van iemand soos Gerrit Komrij, wat by geleentheid beweer het dat jy ‘n ware digter kan herken aan een goeie gedig, nie wensliker nie, omdat dit die kanse op verontregting minder maak? En is die kanonstabiliseringsdrang in die literatuuronderrig en die uitgewersbedryf, soos ook die periodiseringstendens in die literêre geskiedskrywing, nie buite verhouding kragtig sodat dit keurslywe word waardeur vernaamlik literêr-historiese buitebeentjies benadeel word nie?
Word Pretorius se poëtiese nalatenskap uitgewan, bly daar ‘n behoorlike klomp gedigte oor wat getuig van ‘n onveranderlike kern, maar ook van gestadige groei. Dit is ‘n digterskap wat sy eie pad gegaan en op sy hoogtepunte erfenisse daargestel het waarsonder die Afrikaanse letterkunde beduidend armer sou wees.
Ons moet leer: sonder die agtergrond van die bos sien jy kwalik hoe groot die groot bome is; en sonder die geborge habitat wat die bos bring, is selfs die heel grotes se voortbestaan prekêr.

Universiteit van die Vrystaat
*Dié artikel is voorheen gepubliseer in die geakkrediteerde tydskrif Stilet (nr. 17/1 van Maart 2005, bladsye 1-36).

AANTEKENINGE

1. Die bundels ná sy debuut was Die arbeider en ander gedigte (J.L. van Schaik, 1945), Inkeer (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1948), Die swyende God (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1949), Grou mure (Nasionale Boekhandel Beperk, 1953), Die mummie en ander verse (Human & Rousseau, 1963), Argekrobaat (Human & Rousseau, 1969), Lemma (Human & Rousseau, 1974), Smartlap (Human & Rousseau, 1981), Serusiet (Perskor, 1983), Anamnese (Human & Rousseau, 1991) en Amper postuum (Human & Rousseau, 1995). Ter viering van sy sestigste verjaarsdag verskyn ‘n keur uit sy eie werk, Album, in 1976 by Human & Rousseau. In 2000 laat sien die RAU ‘n gedenkkeur, Veelspalt (saamgestel deur F.I.J. van Rensburg), die lig, wat ook 27 gedigte uit Pretorius se nalatenskap insluit. ‘n Uittreksel uit sy proefskrif, Die stryd tussen hemel en hel, is in 1972 gepubliseer. Daarbenewens het enkele prosastukke (soos ‘n skets in die bundel Flitse! en ‘n biografiese vertelling in die bundel jeugherinneringe, My jeugland, saamgestel deur C.M. van den Heever), letterkundige opstelle en dramas (‘n vertaling – saam met Marie van der Merwe – van Gogolj se Die Inspekteur-Generaal en ‘n eie radiodrama, Noag) van hom die lig gesien. (Vergelyk onder meer Bekker, 1972:90, en Kannemeyer, 1983:84.)
2. Soms word die Afrikaanse digters wat in die negentienveertigerjare gedebuteer het, as generasie benoem met die term “Veertigers”. Die kunsmatigheid en onhoudbaarheid van so ‘n “deseniumafbakening” (Kannemeyer, 1983:59) van ‘n uiteenlopende groep digters (waaronder veral D.J. Opperman, Ernst van Heerden, S.J. Pretorius, S.V. Petersen, Olga Kirsch en G.A. Watermeyer gereken word) is deur talle kommentatore beklemtoon (Aucamp, 1959:114; Grové, 1965:5; Kannemeyer, 1983:59; Ohlhoff, 1999:131) – en tog gereeld gebruik, onder meer deur van die so ewe genoemde kritici (Antonissen, 1982:126; Grové, 1976:115 en 1995a:41; Lucas Malan, 1992:3; Van Rensburg, 1995:107; Ohlhoff, 1999:131; ensovoorts).
3. ‘n Hekwagter (Engels”gatekeeper”) is enige agent, persoon of instansie wat in die proses van kanonisering skrywers of werke uit die kanon weer. ‘n Goeie beskrywing van sodanige prosesse is deur Van Rees (1983:403 en verder) gegee.
4. ‘n “Smaakmaker” verwys veral na literêre kritici, wat as resensente, boekjoernaliste, ensovoorts literêre smaak kan beïvloed en literêre reputasies kan affekteer. Kyk veral Van Rees (1983).
5. Uit wat Lucas Malan (1991:80) en Kannemeyer (1996:20-21) oor Ernst van Heerden se kanonstatus skryf, kan ‘n aantal maatstawwe afgelei word waardeur ‘n “minor poet” (digter van die tweede plan) en ‘n “major poet” (digter van die eerste plan) van mekaar onderskei sou kon word: of hul werk (dikwels hul debute) ‘n vernuwende of ‘n afgeleide indruk maak; die suiwerheid van hul digterskap, met ander woorde die mate waarin minder geslaagde gedigte in bundels opgeneem word, al dan nie; of die beeld van hul poësie as sodanig die leser bybly, of net ‘n paar goeie gedigte (d.w.s. of die geheel van ‘n oeuvre meer is as die som van sy onderdele); en watter digterskap in vergelykende verwysings as die maatstaf dien. Kannemeyer (1996:21) onderskryf die opvatting van T.S. Eliot wat in ‘n opstel uit de Veertigerjare, “What is minor poetry?”, onder andere beweer het dat ‘n “minor poet” slegs onthou sal word vir ‘n handvol verse. Kannemeyer haal Eliot soos volg aan: “The difference between major and minor poets has nothing to do whether they wrote long poems, or only short poems … The important difference is whether a knowledge of the whole, or at least of a very large part, of a poet’s work, makes one enjoy more, because it makes one understand better, any one of his poems. That implies a significant unity in his whole work.”
6. Hoewel Pretorius ietwat vroeër (in onderhoude met Schutte, 1970a:1, en Bekker, 1972:78) self verklaar het dat die sosiale-deernistematiek deurlopend is in sy werk tot Argekrobaat (1969), en dat hy nie probleme het met die “plasing” van hom as “Veertiger” nie: “Dit lyk my ‘n manier van indeling en ek het nie beswaar daarteen nie.” (Bekker, 1972:78)
7. Lucas Malan (1991:80 en 1992:4) toon aan hoe die ‘plasing’ van Ernst van Heerden as “Veertiger” saam met onder meer D.J. Opperman, nadelige gevolge vir sy beeld as digter gehad het. Hoewel daar min ooreenkomste tussen hul digterskappe was, is Van Heerden meermale op grond van hul gedeelde literêr-historiese plasing evaluatief met sy groot tydgenoot vergelyk en het hy gevolglik as ‘n mindere digter uit die verf getree. Trouens, soos Kannemeyer (1996:20) uitwys, is Van Heerden se poësie gewoonlik – in kontras met Opperman se toonaangewende digterskap – saam met dié van S.J. Pretorius bespreek, “‘n digter met wie hy uiters min raakpunte het”.
Die feit dat Van Heerden (soos Pretorius) telkens swakker verse in sy bundels opgeneem het, het voorts bygedra tot die vertroebeling van die beeld van sy digterskap, asook tot ‘n onderwaardering daarvan. Algaande (sedert die verskyning van Die klop in 1961 – vergelyk Lucas Malan, 1991:81-82) het hy egter bokant dié reputasie as digter van die tweede plan uitgestyg en “met sy werk deur die jare ‘n belangrike plek in die Afrikaanse poësie ingeneem (…) (M)et sy laaste aantal bundels is hierdie belangrike plek in ‘n sekere sin herformuleer. Met Amulet teen die vuur bewys Van Heerden finaal dat hy in alle opsigte ‘n ‘major poet’ is.” (Snyman, 1990:32)
Onder al die bundels, wat deurgaans ‘n oorwegend gunstige resepsie by die kritici gehad het, skyn Tyd van verhuising (1975), aldus Lucas Malan (1991:82), die een te wees wat kritici, navorsers en mededigters die boeiendste gevind het. Die biografiese subteks van die bundel – die amputasie van Van Heerden se bene, wat bykomend geskok het omdat hy ‘n bekende sportliefhebber en –beoefenaar asook ‘n skrywer van talle treffende sportgedigte was – het beslis ‘n rol gespeel in die positiewe resepsie, terwyl die biografiese aanslag daarna neerslag gevind het in die werk van verskeie ander digters. Lucas Malan (1991:82) noem in hierdie verband D.J. Opperman, Fanie Olivier, Joan Hambidge en Johann de Lange. Van Heerden se gedig “Voëlverskrikker” word deur Lucas Malan (1991:85) beskou as een van die heel merkwaardigste “klein” gedigte in Afrikaans. Hy vervolg: “In ‘n artikel oor selfontluistering in die Afrikaanse poësie, verswyg Lina Spies (…) hierdie gedig wat weer bewys hoe ‘n voorkeur vir Opperman se werk tot die onderskatting van Van Heerden s’n lei.”
Die uiters private S.J. Pretorius se biografiese gegewens is ewe interessant, maar minder dramaties en boonop onbekend in breër kring (soos uit verdere aantekeninge sal blyk). Hierdie voorkeur vir en ‘n toenemend positiewe waardering van Van Heerden se werk het bepaald nie bygedra tot die waardering vir Pretorius se werk nie.
8. Let op watter Pretorius-gedigte uit die veertigerjare deur D.J. Opperman in Groot verseboek (eerste uitgawe 1951) opgeneem is: “Stakers” uit Vonke; “Sonnet – uit Malvern”, “By die graf van ‘n ou Griekwa-skaapwagter” en “Elia” uit Die arbeider en ander gedigte; “Gebreklike”, “Oop myn … Kimberley”, “Afgestorwene, ‘n portret”, “Die kranksinnige”, “Drupsteen”, “Planeet”, “Pyn” en “Werktuigkundige” uit Inkeer.
9. Pretorius (Bekker, 1972:78-79) het self na hierdie eerste fase van sy digterskap verwys as “die jare van my leerjongenskap” (hoewel hy gereken het dat daar darem ook van sy beste gedigte in hierdie tyd geskryf is), met die implikasie dat sy werk vanaf Die mummie en ander verse die fase van sy ryper, meer geslypte digterskap verteenwoordig.
10. In ‘n onderhoud wat Elfra Erasmus (1992:10) met Pretorius op 75-jarige leeftyd gevoer het, het Pretorius vermeld dat hy vanaf die jare sestig tot tagtig “geëksperimenteer (het) met die surrealisme en met André Breton se siening dat (…) kuns die mens moet uitlei na ‘n beter wêreld deur die onderbewuste te ontgin”.
11. Hoewel Pretorius beklemtoon het dat hy hom reeds intens vereenselwig het met die sosiale verskoppelinge wat hy in die bundels uit die eerste fase van sy digterskap uitgebeeld het. Die uitbeelding van hierdie tipes was ‘n vorm van polities-maatskaplike kritiek; daarom dat hy verkies het om hierdie verse van hom as “anti-sosiale poësie” te bestempel, eerder as “sosiale poësie”. (Schutte, 1970a:3-4)
12. Pretorius se (ironies postuum gepubliseerde) slotbundel, Amper postuum (1995), word eweneens nie deur Britz bespreek nie, wel omdat hy die profiel voor die verskyningsdatum daarvan voltooi het.
13. In 1997 verskyn Ronel Foster en Louise Viljoen se samestelling, Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960, waarin ‘n indruk van tendense in die Afrikaanse poësie gegee word deur telkens ‘n keur van gedigte te maak uit bundels wat in elke jaar van die betrokke tydperk (1960-1995) gepubliseer is. Van Pretorius word 7 gedigte uit die 7 bundels van hom wat in hierdie tyd verskyn het, opgeneem (in vergelyking met die 14 gedigte uit 4 bundels van D.J. Opperman, die 9 gedigte uit 11 bundels van Ernst van Heerden, die 9 gedigte uit 6 bundels van Olga Kirsch, en die 5 gedigte uit 4 bundels van S.V. Petersen). Twee jaar later verskyn Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, waarin hy ‘n plafon van maksimaal 10 gedigte per digter stel. Van Pretorius neem hy egter 11 gedigte op, wat 6 bladsye in Komrij se bloemlesing beslaan (teenoor Opperman en Van Heerden se 10 gedigte elk, telkens op byna 10 bladsye; Kirsch se 10 gedigte op 5 bladsye; en Petersen se 10 gedigte op 7½ bladsye). In 2000 word ‘n nuwe uitgawe van D.J. Opperman se bekende Groot verseboek gepubliseer, dié keer saamgestel deur André P. Brink met die titel Groot verseboek 2000. Pretorius se steeds krimpende status in vergelyking met sy generasiegenote blyk die duidelikste as ‘n mens hulle verteenwoordiging in Groot verseboek 2000 (GV2000) in reliëf sien met ‘n aantal vroeëre uitgawes van Opperman se Groot verseboek (GV). (Die eerste syfer in elke inskrywing in onderstaande tabel verteenwoordig telkens die aantal opgeneemde gedigte, die tweede syfer die aantal bladsye wat daardeur beslaan word in die betrokke uitgawe, waarby in gedagte gehou moet word dat die bladuitleg en lettertipes in verskillende uitgawes verskil, sodat 1 bladsy in een bundel nie noodwendig ewe veel teks bevat as 1 bladsy uit ‘n ander uitgawe nie.)

GV 2de uitgawe GV 6de uitgawe GV 9de uitgawe GV2000 1ste uitgawe
8ste druk, 1968 1ste druk, 1975 1ste druk, 1983 1 ste druk, 2000

Pretorius:
16/9 22/11 28/13 24/10

Opperman:
29/25 33/40 46/49 49/39

Van Heerden:
23/10 30/14 41/20 41/24

Kirsch:
5/2¼ 8/4 14/7 17/7

Petersen:
7/4 7/4 10/5 7/4

Brink snoei in GV2000 nege (dit wil sê meer as ‘n derde!) van die gedigte weg wat in die laaste keur deur Opperman (GV, 1983) opgeneem is, waaronder heel bekend geworde gedigte soos “Afgestorwene”, “Drupsteen”, “Kaartverkoopster, Florence” en “Die skoolhoof”. Dan voeg hy weer vyf gedigte aan die Opperman-seleksie toe uit Pretorius se bundels wat na 1983 verskyn het.
14. Die strekking van hierdie gedig herinner aan die afrekening met die hemelsentriese Christelike waardes in veral Die mummie en ander verse, gepaardgaande met ‘n “nuwe gerigtheid op die aarde” (Schutte, 1982:8-9).
15. Die meer subjektief-belydende bundels Inkeer en Die swyende God is byna in die geheel voorbeelde hiervan. “Gedig op gedig bevat ‘n skrikbeeld van depressie en angs (…) die doel van die lewe probeer hy steeds ontwar. Die kyk op die lewe is donker en die toon dikwels selfbejammerend …” (NALN, s.d.:2) Beukes en Lategan (1952:110) meen “‘n ernstige siekte wat allerhande sluimerende angste en obsessies in hom wakkergeroep het” was die aanleiding daartoe dat hy hom in hierdie werke weer “as ‘n uitgesproke indiwidualis geopenbaar” het.
16. In ‘n selfskets van Pretorius (uit ‘n ongeïdentifiseerde bron in die lêer met biografiese inligting oor S.J. Pretorius te NALN) praat hy byvoorbeeld van ‘n deprimerende voorval wat “seker tussen die digter en sy Skepper alleen bly”, en wat hom gelaat het met ‘n gevoel van totale “verlatenheid”, asof hy “afgesluit (is) in ‘n geestelike lugleegte” en waaruit hy “geleer (het) om hulle wat eenvoudig en klein is lief te hê, omdat hulle nie veroordeel of verag nie”.
17. Pretorius se seun was – blykens ‘n persoonlike mededeling deur dr. Albert van Jaarsveld aan H.P. van Coller – skisofrenies en is dikwels om hierdie rede geïnstitusionaliseer. Dit het waarskynlik sy eie latente depressiwiteit en gevoel van minderwaardigheid gevoed. Dr. Van Jaarsveld is die seun van die bekende historikus, F.A. van Jaarsveld, boesemvriend van S.J. Pretorius.
Die afbrand van sy huis op 4 Julie 1972, twee weke nadat die versekering daarop verval het (Die Transvaler, 14 Julie 1972), is nog ‘n uitstaande voorbeeld. Die verlies aan eiendom, waaronder waardevolle boeke en manuskripte, het hom so diep geskok dat hy, luidens ‘n berig in Die Vaderland van 22 Januarie 1980, na agt jaar steeds nie “weer behoorlik aan die gang kon kom nie”. En: “Sy gedagtes dwaal maar alewig om die groot terugslag.”
18. Mocke (1953) noem dat Pretorius “in minder inkennige oomblikke” wel “soms vry-uit vir sy vriende” sou sing.
19. Kenmerkend van sy gevoelens van verontregting is die verwyt wat hy in ‘n onderhoud met Elfra Erasmus (1992:10) lug dat “(p)laaslike erkenning” uitgebly het vir sy (deels gepubliseerde) proefskrif, terwyl dit “deur verskeie Nederlandse kritici en akademici hoog aangeskryf en in publikasies in Vondel se geboorteland opgeneem” is.
20. Phil du Plessis (1996:13) insinueer sterk, maar ietwat karig beredeneerd (soos Leendert Dekker, 1996:14, in ‘n reaksie per brief op Du Plessis se resensie uitwys), dat die waardering vir Pretorius se werk (waarin ‘n “barok-estetiek” oorheers) bevorder sal word indien dit teen die agtergrond van sy bemoeienis met Vondel en die sewentiende-eeuse “retoriek en welsprekendheid” gelees word. Kenmerke hiervan is volgens Du Plessis “die goed gestruktureerde betoog, vol klassieke verwysings”, en hy noem die gedig “Aandwolke” uit Amper postuum as ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Pretorius het self vroeër (vergelyk Schutte, 1970a) terloops verwys daarna dat sy studie van die Nederlandse sewentiende eeu hom gelei het “tot bewuster skryf”, wat bygedra het tot die vernuwings in die (voorheen vermelde) tweede fase van sy digterskap vanaf Die mummie en ander verse.
‘n Interessante invalshoek in hierdie verband kom van F.I.J. van Rensburg (1995:107-109), wat die “aanklanke” wat Pretorius in sy verse gevind het by byvoorbeeld die Dertigers en by “mede-Veertigers” soos Opperman en Van Heerden, grootliks ‘n “bewuste aansluiting” (kursivering deur Van Rensburg) was “en wel met ‘n bepaalde doel: om uit ‘n gemeenskaplike grondstof ‘n eie gestalte te skep”. Volgens Van Rensburg het Pretorius hiermee voortgebou op “‘n lang en eerbiedwaardige tradisie” wat “minstens vanaf die Grieke dateer”, maar veral “tydens die Renaissance en die Klassisisme ‘n gerespekteerde konvensie geword het”, naamlik “‘n edel wedywering van kunstenaars wat eenselfde grondstof hanteer”. Dié wydstrekkende intertekstuele spel het in die latere deel van Pretorius se oeuvre saamgeval met ‘n strewe om “bo die plaaslike toneel” uit te styg in “‘n transendente perspektief”, en hy het die retoriek, as “taalgebruikskonvensie wat lank reeds tot verlede verklaar is”, vernuwend ingespan hiervoor.
Ons is van mening dat elemente van die sewentiende-eeuse wêreld blyk uit die “roekelose ironie” wat Britz (1999:480) in byvoorbeeld Die mummie en ander verse bemerk wanneer die artiesfigure en sekere van die poppe se “dodedanse, maskerades, karikatuurspele (…) waarin die tragikomiese lot van die mens grotesk en tartend uitgebeeld word”, beskryf word. Dit herinner aan die emblematiese kuns wat in hierdie tyd gewild was. (Kyk ondermeer Schutte, 1988a:141, en Porteman, 1998:158-164.)
Selfs die didaktiek wat Britz (1999:480) in sommige gedigte van Die mummie en ander verse “hinderlik” vind, pas by die sewentiende-eeuse sfeer en is inderwaarheid tipies (Schutte, 1988a:141, en Luijten, 1998:189-195).
Aangaande Argekrobaat – so is reeds angetoon – het Britz (1999:481) gewys op die “vernufspoësie” in “wetenskaplike” trant daarin, die “afsydige en bewuste woordakrobatiek”. In die nar- of artiesfiguur vergestalt die digter die tragikomiese “en tegelyk geheimsinnige absurditeit van die werklikheid”. Waar andert kritici (soos Brink, 1982:172) hierdie bundel in vlamme afgeskiet het, stel Britz dat dit “die uitvoerigste en in sekere opsigte die mees ambisieuse digbundel (is) wat van S.J. Pretorius verskyn het. ‘n Breë verwysingsveld, esoteriese terme en ‘n byna volledig ‘geobjektiveerde’ – en heel genuanseerde – behandeling van die eksistensiële beskouinge kenmerk die bundel.” Met sulke vernufspoësie vind Pretorius eweneens aansluiting by sewentiende-eeuse literatuurbeskouinge, spesifiek met betrekking tot die verowering van die oud-klassieke wat die Renaissanciste by wyse van drie kanale wou bewerkstellig: translatio (vertaling), imitatio (nabootsing) en aemulatio (verbystrewing). (Kyk Schutte, 1988a:138.)
Die twee lang slotgedigte van Lemma, “Wat het hulle met die mens gedoen?” en “La Chute”, wat min genade by kritici kon vind (vergelyk Coetzee, 1974;12; Brink, 1974:16; Brink, 1982:172; Kannemeyer, 1983:89; ensovoorts), word deur Britz (1999:483 – dalk vanweë ‘n groter Middeleeuse of sewentiende-eeuse bewussyn) hoog aangeskryf. Vergelyk sy uitspraak oor “La Chute”: “Dit is ‘n soort oordeelsdagvisoen, ‘n fantasmagoriese ‘Rückblick’ oor die wêreld se beloop, volgedronge en dig-wemelend van die mees uiteenlopende verwysings.” Dit roep bykans ‘n skildery van Bosch of Pieter Brueghel op.
Lees jy dié soort verse van Pretorius, is dit bykans of hier ‘n satirikus in die sewentiende-eeuse modus aan die woord is. Wat gehekel word is die menslike verval, dit wat Britz (1999:484) “‘n bose element” noem van “fanatiese self- en heersug in die menslike aard”.
Die bejaardheidspoësie in veral Anamnese (1991), en vernaamlik die lykspoësie (weer ‘n sewentiende-eeuse vorm – vergelyk Schutte, 1988b) word deur Britz (1999:485) uitgesonder as ‘n hoogtepunt.
21. Daarom dat dit ietwat vreemd is as in dieselfde berig beweer word dat hy toe reeds veertig jaar lank “die saak van die Afrikaanse letterkunde” gedien het. Het hy hiermee sy teenkanting in radiogesprekke ten aansien van die sensuurverbod op Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! in November 1977 in gedagte gehad, waaroor in koerante soos Oosterlig, Die Volksblad, Beeld en Die Burger berig is, en wat hy ook in 2 briewe in Beeld (09/12/1977 en 13/12/1977) gelug het (“SA Media Search Results” verwysingsnrs. 3509, 3513, 3577, 3582 en 3786)?
22. Kyk aantekening 1. Hy het wel dramavertaalwerk gedoen, maar vir die radio, en waarvan slegs enkeles in druk verskyn het (Erasmus, 1992:10; Bekker, 1972:90).
23. In “Die taalman cum literêre kritikus” (Van Rensburg, 2000:83) spreek hy hom sarkasties uit teen kritiese analises van digkuns deur taalkundiges wat nie ‘n sintuig het vir die “één taal van die hart” in die poësie nie. (Waarskynlik die “linguistiese stilici” – vergelyk Merwe Scholtz [s.d.] se streng strukturele analise van Grou mure – ‘n groep wat hulle sedert die vyftigerjare in hulle kritiek toegespits het op “een spesifieke gedig en die gedrag van taal in daardie bepaalde gedig” – Wiehahn, 1965:154.) In “Apologie” (Van Rensburg, 2000:104) verdedig hy die vaster verstegniek en retoriese kunsgrepe teen die voorkeur vir die werk van “onhandiges”, d.w.s. die beoefenaars van die meer amorfe praatvers; in “Bekmirakel” (Van Rensburg, 2000:105), “See” (Pretorius, 1995:43) en “Brief aan ‘n kritikus” (Van Rensburg, 2000:136) die meer barokke, retorika-geïnspireerde dele van sy verskuns teen enige “Plan – soos amptelik goedgekeur” deur die kritiek (“Brief aan ‘n kritikus”).
24. In Oggendblad (30 September 1982:9) noem hy dié napratery minagtend ‘n “kritiese gekwaak”. In dié onderhoud, maar ook in die een met Bekker (1972:82-83) sonder hy Rob Antonissen en T.T. Cloete by name uit as invloedryke kritici wie se negatiewe oordele oor sy werk nagepraat is: “Die groot indoena praat en almal knik niksseggend saam. Die een lees die ander se resensie en bou klakkeloos voort daarop. ‘n Bose kringloop.” Dat sy griewe teen invloedryke kritici soos dié nie deurgaans steek hou nie, bewys sy eie erkenning in die onderhoud met Bekker (1972:83) dat Antonissen “darem ook groot waardering vir party gedigte” gehad het, of dat Cloete (1983 en 1992) grootliks positief geoordeel het oor bundels soos Serusiet en Anamnese, terwyl sommige ander resensente kwaai kritiek oor dieselfde bundels uitgespreek het.
25. Met “Brulpadda” (uit Argekrobaat – Van Rensburg, 2000:53) speel Pretorius in op Opperman se bekende “Paddas” om die andersheid van sy digkuns in vergelyking met dié van Opperman te beklemtoon: “wat ek uit die donker kwaak/ is nie ‘n loflied nie, maar ‘Wraak!’”.
In die gedig “See” bars Pretorius (1995:43) los teenoor sy kritici. Hy mik dit veral op diegene wat voortdurend gepraat het oor sy retoriek. Wat egter belangrik is, is sy implisiete verwysings na twee gekanoniseerde digters, naamlik Opperman (“paarryme, hoor … hoor!”) en Breytenbach (“op sy rots … totdat hy kots”). Net so kom hy in “Na kritiek” (Pretorius, 1995:45) ‘n kritikus by wat dit gehad het oor “die beperktheid” in sy poësie, maar terselfdertyd verwys hy deur die kruideniersbeeld na sy tydgenoot, Ernst van Heerden, en deur die “S.J. Pretorius Bpk.” na Opperman se “Edms Bpk.” Op ‘n bedekte manier suggereer hy dat hierdie digters deur die kritici altyd groter as hyself geskat is, waarna hy in die wrange “Mislukte digters aan beroemdes” (Pretorius, 1995:46) by dié “vorste/ met erelinte op jul borste” pleit vir die gedenking van die mindere “oudgediendes van die gees” wat “ook in die bresse eens … geveg het vir die ewigheid/ teen magte van die chaoshorde”.
Die spottende vers “Oerwoud” (“maar wee hom wat deur klou of tand beseer / ‘n bloedstreep agterlaat, want op sy spoor / begin ‘n hele bos marsjeer” – Pretorius, 1995:53) is ‘n duidelike verwysing na die Van Heerden-kultus wat ontstaan het ná sy bene geamputeer is.
In die gedig “Kaartverkoper, Florence” (uit Argekrobaat – Van Rensburg, 2000:47) heet dit onder andere:
Sê my tog, o God en Heer,
waarom moet party, verlate
staan langs leë, reënnat strate
hopend steeds, maar onverhoord
met hul magtelose woord
voor die ‘Paradys se Poort’?
Hierdie gedig gaan in die eerste plek oor ‘n digter wat (deur hekwagters = kritici) weggewys word, nie toegelaat word in die hemelse domein nie.
Die roem is egter wispelturig en vervlietend van aard, waarsku hy in gedigte soos “Die BBP” (Pretorius, 1995:47) en “By die huldigingskonsert vir groot sterre” (Van Rensburg, 2000:138)!
26. Binne die denke van Kuhn (1970) is hul almal besig met normale wetenskapsbeoefening en glo dikwels met ‘n passie aan die belang van ‘n kanon as ‘tradisie’, ‘verwysingspunt’ en ‘geheue’. Tog tree hulle dikwels op uit eie belang. ‘n Bestendige kanon beteken vir uitgewers byvoorbeeld die voortdurende herdruk van boeke (selfs die moontlikheid om ‘klassieke reekse’ die lig te laat sien, soos onlangs met onder andere J. van Melle se Bart Nel, Etienne Leroux se Magersfontein O! Magersfontein en Etienne van Heerden se Toorberg by Tafelberg-uitgewers gebeur het). ‘n Bestendige kanon is dus én oorsaak én gevolg. Literatore (kritici en literatuurdosente) het veral belang by ‘n stabiele kanon, enersyds omdat hul by wyse van spreke hul literêre tande geslyp het daaraan. Die kanon is dus bekend vir hulle én hul word gereken as kenners daarvan; hulle beskik oor pakke vergeelde aantekeninge daaroor en boonop het hul juis oor die gekanoniseerde skrywers en boeke gestudeer en nagraadse kwalifikasies behaal, navorsing gedoen en gepubliseer. Aantasting van jou skrywer en jou boek hou soms ernstige implikasies in vir jou loopbaan. Daarom moet dit nie veel verbaas as daar byvoorbeeld in ‘n resente proefskrif (Van der Westhuizen, 1997:532) opgemerk word dat Elsabe Steenberg se roman Plek van die bruin geeste (1975) saam kan gesels met groot werke soos André P. Brink se Kennis van die aand (1973) en Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! (1976) wat betrokkenheid betref nie; of dat dié werk die Waarheids- en Versoeningskomitee ‘n kwarteeu vooruit was (533) en boonop ‘n voorbeeld is van ‘n modernistiese teks in die Afrikaanse literatuur nie (338). Ook nie dat T.T. Cloete beskou word as een van ons grootste religieuse digters nie. (Kyk in laasgenoemde verband onder andere Gouws, 1988; Nel, 1993; Odendaal, 1997; Réna Pretorius, 1998).
27. Die onderstaande uitsprake van Eliot (1972:71) verklaar waarskynlik hoe sosiale deernis en die gestaltevers as die “wese” van Pretrius se bydrae vasgestel is: “One of the facts that might come to light in this process (of criticism) is our tendency to insist, when we praise a poet, upon those aspects of his work in which he least resembles anyone else. In those aspects or parts of his work we pretend to find what is individual, what is the peculiar essence of the man. We dwell with satisfaction upon the poet’s difference from his predecessors, especially his immediate predecessors: we endeavour to find something that can be isolated in order to be enjoyed. Whereas if we approach a poet without this prejudice we shall often find not only the best, but the most individual parts of his work may be those in which the dead poets, his ancestors, assert their immortality most vigorously.”
28. Dekker (s.d.:286) haal byvoorbeeld “die uitstekende karakteristiek” deur Rob Antonissen (1951a:35) van Pretorius se digterlike vormgewing aan: “Die vers, die ritmies-melodiese en semantiese gedigseenheid wat as min of meer selfstandige entiteit onvergeetlik bly, was nog nooit Pretorius se sterkte gewees nie (…) (V)ers en logiese sinsdeel het by hom slegs uiters selde saamgeval; die enjambement het reël geword, in só ‘n mate selfs dat geen enkele Afrikaanse digter – ook C.M. van den Heever nie – daar ooit ‘n uitbundiger én meer effektiewe gebruik van gemaak het nie. (…) Hul vastheid het Pretorius se beste gedigte altyd ontleen aan die kragtige, skerpsinnige plastiek. Sy plastiese en by tye ook visionêre vermoë was nog altyd sy grootste talent.”
Wanneer Wessel Pretorius (1982:7) ‘n resensie oor Smartlap skryf, steun hy swaar op aanhalings uit resensies van Antonissen (oor Grou mure, 1953), A.P. Grové (oor Die mummie en ander verse, 1963) en André P. Brink oor Lemma (1974) om S.J. Pretorius se digterskap te kenskets. (Bepaalde uitlatings in Brink se 1974-resensie oor Lemma eggo eweneens in die resensie van C.W. Malan wat vroeg in die volgende jaar in Die Volksblad verskyn, byvoorbeeld met betrekking tot die “pretensieuse en geswolle styl” in sommige gedigte. Op dieselfde wyse verneem ‘n mens eggo’s van Brink se Februarie 1977-resensie oor Album, die keur wat Pretorius uit sy oeuvre tot op daardie stadium saangestel het, in die enkele maande later verskene resensies deur Lucas Malan en Johann Johl, byvoorbeeld met betrekking tot Pretorius se nuk tot sentimentaliteit, sy rymbeheptheid, asook sy krag as digter van die korter, meer gebonde verssoort.)
In Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde (Nienaber et al, s.d.:84) is dit weer Grové (1949:85) wat gekwoteer word: “Pretorius is geen hartstogtelike liriese digter nie, geen kunstenaar wat ons boei met sy verwikkelde sielestruktuur nie. Sy krag lê veeleer in sy fyn opmerkingsgawe, nugtere waarneming en plastiese beelding van die mense rondom hom, die slagoffers van die agterbuurt.” Om “(e)nkele deurlopende lyne” in Pretorius se digkuns aan te stip, maak Ohlhoff (1999:170) eweneens van twee langerige aanhalings uit Grové-kritieke (1992:231 & 1996:222) gebruik.
29. Kyk Watermeyer (1951:712) en Lucas Malan (1977:8).
30. Kyk Beukes en Lategan (1952:116), Schutte (1982:5 & 6), Britz (1982a:516, 522), Snyman (1984:43) en Cloete (1992:8). Dekker (s.d.:289) is dit egter nie in hierdie verband eens met die genoemde kritici nie. Die “beperkte ontroeringscala” lei volgens hom nie “tot eentonige herhaling nie, allermins tot neulerigheid”. “Ons het hier te doen met sterk kuns, ryk aan nuanses,” vervolg hy.
31. Kyk Watermeyer (1951:723 & 730) en Ester (1992:114).
32. Kyk Antonissen (s.d. [1966]:109), Kannemeyer (1983:84, 86, 87 en 88) en Grové (1992:232).
33. Kyk Antonissen (1955:265), Dekker (s.d.:285-286), Lindenberg (1965:67), Van der Walt (1974:10), Schutte (1982:4), Claassen (1982:6), Grové (1992:231) en Grové (1995a:41 en 1995b:10).
34. Vergelyk Watermeyer (1951:723), Beukes en Lategan (1952:110), Nienaber et al (s.d.:84), Dekker (s.d.:285-286), Johl (1977:1), Britz (1978:55-56, 57), Schutte (1982:4-5, 11), Britz (1982a:513), Weideman (1996:2) en Van Rensburg (1995:108).
35. H.A. Mulder (1944), wat Pretorius bygestaan het in die samestelling van sy debuutbundel (vergelyk Pretorius, s.d.), tref reeds ‘n onderskeid tussen “die suiwer liriese gedigte” en “die meer plastiese verse” in Vonke – ‘n onderskeid wat natuurlik aangemoedig word deur die verdeling tussen “Liedere” en “Landskappe en Figure” in die eerste twee afdelings van die bundel. Dié onderskeid sou egter gekontinueer word met betrekking tot die hele res van sy poësie-oeuvre. Vergelyk onder meer Malherbe (1948:348), Anoniem (1949:148), Watermeyer (1951:711 e.v.), Beukes en Lategan (1952:108 – wat Grové se insigte kennelik via Watermeyer oorneem), Antonissen (1955:265), Nienaber et al (s.d.:84), Dekker (s.d.:286-287), Antonissen (s.d. [1966]:108), Schutte (1982:3), Britz (1982a:512, 515), Kannemeyer (1983:84-85) en Grové (1995a:41).
Antonissen (1951b:134, 1955:264 en s.d.[1961]:125) en Grové (1964) was ook van die eerste kritici wat op die vervlegting of verstrengeldheid (die “projeksie” van die subjektiewe op objekte, diere en figure uit die omringende werklikheid) van die twee strominge in Pretorius se verskuns gewys het. Kyk ook Watermeyer (1951:711), Schutte (1982:6), Britz (1982b:11), Kannemeyer (1983:85) en Grové (1995a:41).
Antonissen (s.d.[1966]:108 – in ‘n bespreking van Die Mummie en ander verse wat oorspronklik gepubliseer is in Standpunte (Junie 1964) – meen dat daar eintlik vier wyses is waarop Pretorius hom uitspreek (“en hul kom, byna vanselfsprekend, ook in vermengde vorm voor”): “Die eerste is die onmiddellike uitsegging van gedagtes en gevoelens deur ‘n nie-nader-bepaalde ek (…). Die tweede is alleen hierdeur van die vorige te onderskei, dat sulke gedagtes ens. opkom by aanskouing van die verskynsels (…), en dit word dus beskouing oor of na aanleiding van dié verskynsels (…). In die derde en vierde word die spreker ‘n in die teks homself noemende ek, hetsy mens (…), hetsy dier of ding (…). Die uitsegging mag direk of indirek wees, geprojekteer in mens of nie-mens, van ‘n ‘ek’ of deur ‘n ‘hy’, maar dit is inderdaad altyd uitsegging, en altyd uitsegging van een en dieselfde (hoewel veelsins geskakeerde) menslike lewenservaring. (…) Talryk is dus die antropomorfiserende beskouings oor diere en dinge, en die antropomorfiese self-uitsegging van diere en dinge.”
36. Kyk Antonissen (s.d. [1966]:109), Spangenberg (1975:53), Brink (1974:16), Brink (1977:15), Johl (1977:1), De Vries (1977:6), Britz (1978:58-59), Brink (1982:172), Britz (1982a:514, 515, 516 en 521), Britz (1982b:11), L.I. Bertyn (1982:3), Kannemeyer (1983:84, 86, 89 en 90), Cloete (1983:17), Snyman (1984:43-44), Brink (1983:30), Kannemeyer (1988:203), Hugo (1992:39), Weideman (1996:2) en Britz (1999:484).
Vernaamlik Brink (1982:172) se oordele is skerp in hierdie verband. Trouens, in die bondige oorsig wat hy in sy literatuurgeskiedenisbydrae oor die Pretorius-bundels Argekrobaat en Lemma, asook oor die keur uit sy werk, Album, gee, fokus hy byna uitsluitlik op die “verstarring en logge pretensie” wat hy by Pretorius bemerk. Van die “onmiskenbare bydrae” waarvan hy in sy resensie oor Album gewag gemaak het, bly nou net ‘n “handjievol verdienstelike verse” oor wat agting verdien. Die relatief negatiewer oordele wat spreek uit die beknopter geskrif (die literêr-historiese bydrae) van Brink, herinner aan hoe die verkorte bekommentariëring van Pretorius se Die swyende God in die tweede, hersiene druk van Rob Antonissen (voorganger en akademiese mentor van Brink in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad) se Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, veel negatiewer uitval as in die meer uitgebreide bespreking daarvan in die eerste druk. (Dieselfde gebeur wanneer Kannemeyer sy profiel oor Pretorius in Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 2 [1983] verkort in Die Afrikaanse literatuur 1652-1987 [1988].) Wanneer Brink in 1983 die bundel Serusiet resenseer, is sy oordeel besonder negatief, en betref dit in hoofsaak “die geswolle retoriek”.
Britz (1982a:515, 516) weet tog ‘n pluspunt uit “retoriese digbundel(s)” soos Inkeer en Die swyende God te haal: die “onaflatende, wanhopige klag” wat uit die verse spreek het tot gevolg “dat die retoriek gelaai word met ‘n outentieke, selfs aangrypende intensiteit van gevoel”, wat “sodoende oortuigend (…) voor die leser gebring word”. Aan die ander kant vind hy die “didaktiese” toon van sommige gedigte in Die mummie en ander verse “’n (h)inderlike kenmerk” (Britz, 1982a:518) – ‘n bevinding waarby Kannemeyer (1983:87) aansluit.
Soos reeds uitgewys, sou Van Rensburg (1995:109) en Du Plessis (1996:13) hul later by Britz aansluit in die waardering van Pretorius se strewe om “die retoriek tot herlewing te bring”.
37. Kyk Watermeyer (1951:724), Beukes en Lategan (1952:117 – weer eens via Watermeyer), Johl (1977:1), Kannemeyer (1983:84) en Grové (1992:232).
Oor Grové se geringskattende siening dat Pretorius se sosiaal-realistiese verse ‘n ruimer perspektief of ‘n plasing teen ‘n groter stelsel van waardes mis, het Pretorius (kyk Schutte, 1970a:4-5) skamper geantwoord: “As ‘n man daar niks in sien nie kan jy beswaarlik iets aan hom doen. In essensie dink ek tog is dit wáár dat jy twee partye het wat gemoeid is by ‘n gedig – die skrywer en die leser.” Schutte (1982:6-7) sou later in hierdie verband tot Pretorius se verdediging kom deur byvoorbeeld te konstateer dat dit “verkeerd” sou wees om te verwag dat ‘n bundel soos Grou mure “gemeet moet word aan een of ander omvattende metafisiese konsepsie. (…) Dit gaan om die beswering van ‘n eie wêreld in terme van sy beperkte waardesisteem.” Aangaande die bundel Die mummie en ander verse is Schutte (1982:8) selfs van mening dat daarin “klaargespeel” word “met die verhewe siening van die menslike bestemming”, soos kenmerkend van die Christelike geloofsoortuiging.
André P. Brink (1977:15) maak die interessante opmerking dat die “brute realisme” waarmee Pretorius vernaamlik in die negentienveertigerjare verras het, “inderwaarheid ‘n essensieel romantiese blik” verteenwoordig: “soms ‘n stralende romantiek vol geloof in die uiteindelike goeie; soms ‘n weke en sentimentele bejammering van die arme mens; soms – in die beste verse – ‘n aweregse romantiek wat hom uit in verbittering en opstand en die wrede, wrange skyn van berusting (…).” Britz (1982a:517) sluit gedeeltelik by Brink aan as hy, by name, verskil van iemand soos Antonissen waar laasgenoemde die plaasboer in Grou mure “se meditasies oor sy eie lewe en die algemene stadsbestaan in esteties-liriese vorm onaanneemlik gevind het (…) Nee, Grou mure is soos die vorige bundels ‘n liriese gemoedsuitstorting, ‘n uitbeelding van die kwellinge en verlange van die ‘hart’, ‘n nuwe masker van die lewensleed. En dáárby is nóg die ‘hartstogtelike’ beskrywings, nóg die poëtiese taal waarin die ‘eenvoudige boer en werker’ mediteer, onvanpas.”
T.T. Cloete (1992:8) huiwer in sy resensie oor Anamnese op die rand daarvan om die “rou” of “ruwe” realisme in die realiteitsbeelding te bekritiseer. Wat hom telkens daarvan weerhou, is die sterk sin vir ironie wat Pretorius syns insiens openbaar, of die “tegniese vlotheid en verfyndheid” van die gedigte. En wanneer Grové (1995b:10) die postume Amper postuum bespreek, skryf hy eweneens relatief uitvoerig oor die somberheid, vertwyfeling en bitterheid wat die tematiek en toonaard van die bundel oorheers, met as slotsom: “Dit klink alles so negatief, so na die aanvaarding van die neerlaag.” ‘n “Bevryding” hiervan word syns insiens egter deur die “dramaties-oortuigende” vormgewing bewerkstellig.
‘n Teengestelde siening (reeds deur Antonissen, s.d.[1966]:108-109, aangevoer) is dat die “antropo- en ego-sentriese” beelding van diere en dinge deur Pretorius ‘n “breuk” vertoon “tussen die natuurlike wese van die dier of ding en die menslike toedigsels wat daardie wese ter wille van toepaslikheid moet saamdra”. Vergelyk ook die spottende bespreking van Pretorius se Smartlap deur L.I. Bertyn (1982:3) in hierdie verband.
Op hierdie kritiek van Antonissen het Pretorius geantwoord dat die “breuk”-argument nie opgaan nie, “aangesien (Antonissen) nie bepaal het wat hierdie ‘natuurlike wese’ van die dier of ding waarvan ek sou afwyk, is nie. (…) Hy beskuldig my dat ék van sy (dus die algemene) beeld afwyk en daarom is ék natuurlik verkeerd.” (Bekker, 1972:83)
38. Hoofstuk 21 van M.S. du Buisson se D.Ph.-proefskrif oor ‘n Metafisies-religieuse beskouing van die mens-Godverhouding toegepas op die Afrikaanse poësie as uitdrukkingsbron daarvan aan die Universiteit van die Witwatersrand, in 1959 deur Voortrekkerpers Bpk. in Johannesburg gepubliseer onder die titel Die mens-Godverhouding in die Afrikaanse poësie; en E. Gerber se ongepubliseerde verhandeling aan Pretorius se alma mater, die Universiteit van Suid-Afrika, oor Die spanning stad/land soos vergestalt in die poësie van S.J. Pretorius.
Die feitlike akademiese ignorering van Pretorius herinner aan wat Dana Gioia (2002) oor die Amerikaanse digter Robinson Jeffers geskryf het: dat die akademiese belangstelling in hom “negligible” gebly het (43) en dat hy “not much taught” is nie (44), vernaamlik omdat Jeffers geen belangstelling in die Amerikaanse literêre lewe geopenbaar het nie en geweier het om daaraan mee te doen, byvoorbeeld in die vorm van verhoudingsbou of die uitwisseling van idees, of deur die lewering van gaslesings of voorlesings uit eie werk (51-52). Voorts het Jeffers se digwerk nóg tematies nóg stilisties aangesluit by die hoofstroomontwikkelinge in die Amerikaanse digkuns van sy tyd (44 en 45).
‘n Belangrike verskil tussen Jeffers en Pretorius is dat Jeffers tog gewild en invloedryk gebly het in bepaalde kringe buite die departemente Engels aan universiteite, vernaamlik onder natuurwetenskaplikes en omgewingsbewustes, en wel weens sy selfverklaarde lewens- en wêreldbeskouing van “inhumanism”, dit wil sê sy weiering om enige van die gewone lojaliteite teenoor die mensdom (betreffende ras, klas, godsdiens of nasie) sentraal te stel in sy filosofie, maar wel die meer fundamentele bestaansaspekte soos spesieverskeidenheid, tyd en planeet (Gioia, 2002:45).
39. Fokkema en Ibsch (1987:10 en verder; kyk ook Fokkema & Kunne-Ibsch, 1977:21 en verder) gee ‘n uiteensetting van literêre evolusie en die totstandkoming van ‘n bepaalde periode, en toon in die proses populariseringsmeganismes met betrekking tot skrywerskappe aan. “The writers and their early readers form a primary semiotic community, which plays an active role in the avant-garde and is responsible for the launching and early recognition of the new code. The ‘canonisation’ of the code is accomplished by a much larger, secondary semiotic community, consisting of established literary critics, teachers, publishers and an educated reading public, but which is hardly influenced any more by the writers. A tertiary semiotic community is responsible for the popularisation of the code; it is constituted by strongly commercial publishing houses, editors willing to simplify well-known literary texts, authors capable of writing new texts on the basis of ‘canonised’ devices and motifs, and a reading public looking for entertainment. Neither the avant-garde writers nor the critics have any influence on this tertiary semiotic community. In view of their dominant role in each of these communities, one might say that the avant-garde is made up by writers, the canon by critics, and popular or station-bookstall literature by the publisher.” Bogenoemde wys hoe ‘n ingewikkelde proses “literêre roem” is; iets wat bepaald nie net berus op sogenaamde “intrinsieke gehalte” nie. Sekere skrywers het dit bepaald makliker om “naam te maak”: hulle wie se poëtikale opvattings makliker “vertaalbaar” is, hulle wat vriende het in die tersiêre semiotiese gemeenskap, hulle wat self daarin ‘n rol speel…
40. In onder meer Lucas Malan (1992), wat ‘n gepubliseerde proefskrif oor Van Heerden se digwerk die lig laat sien het.
41. In onder meer A.P. Grové (1974), Merwe Scholtz (1974) en J.C. Kannemeyer (1979 en 1986).
42. Daar was wel die reeds genoemde postume bloemlesing uit Pretorius se werk deur F.I.J. van Rensburg, maar dit is, sos gesê, in beperkte oplaag gedruk en nie algemeen in die handel versprei nie.

VERWYSINGS

Anoniem. 1949. Resensie oor Inkeer. Ons Eie Boek XV(3), September:148.
Antonissen, Rob. 1951a. Afrikaanse poësie van gister en vandag (deel 2). Standpunte 21, 6(1), Oktober:30-48.
Antonissen, Rob. 1951b. Die poësie van 1900 tot vandag. In: Nienaber, P.J. (red.) 1951:60-144.
Antonissen, Rob. 1955. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Eerste druk. Kaapstad, ensovoorts: Nasionale Boekhandel Beperk.
Antonissen, Rob. 1982. Die Afrikaanse letterkunde van 1906-1966. In: Nienaber, P.J. (red.) 1982:35-164.
Antonissen, Rob. S.d. (1961). Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Tweede, hersiene druk. Kaapstad, ensovoorts: Nasionale Boekhandel Beperk.
Antonissen, Rob. S.d. (1966). Poësie van ‘n najaar – van ‘n voorjaar? Spitsberaad. Kroniek van die Afrikaanse lettere 1961-1965. Kaapstad, ensovoorts: NASOU Bpk. 100-114.
Antonissen, Rob. S.d. Middelmaat. Kern en tooi. Kroniek van die Afrikaanse lettere 1951-1960. Kaasptad, ensovoorts: Nasou Beperk. 31-38.
Aucamp, H.C.L. 1959. Die poësie van Ernst van Heerden. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.
Bekker, Pirow. 1972. (I)n gesprek met S.J. Pretorius. Gesprekke met skrywers 2. Kaapstad: Tafelberg. 77-92.
Bertyn, L.I. 1982. Verbystering: dié kerm en lag. (Bydrae tot rubriek “Lekkerkunde”.) Beeld, 28 April:3.
Beukes, Gerhard J. en Lategan, Felix. 1952. Skrywers en rigtings. Pretoria: J.L. van Schaik.
Brink, André P. 1974. Lemma tog ‘n indrukwekkende worp (resensie oor Lemma). Rapport, 29 Desember:16.
Brink, André P. 1977. S.J. Pretorius – ‘minor poet’ met ‘n onmiskenbare bydrae (resensie oor Album). Rapport, 20 Februarie:15.
Brink, André P. 1982. (Perspektief op) Die jongste tydvak: 1967-1977. In Nienaber, P.J. (red.) 1982:165-214.
Brink, André P. 1983. ‘n Sif was baie nodig by dié Pretorius (resensie oor Serusiet). Rapport, 17 April:30.
Brink, André P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.
Britz, E.C. 1978. Skertsende lof en die verlede gekorrigeer. ‘n Bespreking van Oggendlied vir Uys Krige en S.J. Pretorius se Album. Standpunte 134, 31(2), April:52-62.
Britz, E.C. 1982a. (Profiel van) S.J. Pretorius geb. 1917. In: Nienaber, P.J. (red.) 1982:511-523.
Britz, E.C. 1982b. ‘n Sombere fees (resensie oor Smartlap). Die Burger, 18 Februarie:11.
Britz, E.C. 1999. (Profiel van) S.J. Pretorius (1917-1995). In: Van Coller, H.P. (red.) 1999:473-486.
Claassen, George. 1982. Lewenskragtige Pretorius (resensie oor Smartlap). Beeld, 12 April:6.
Cloete, T.T. 1983. Bundel met knap én swak poësie (resensie oor Serusiet). Die Volksblad, 19 Mei:17.
Cloete, T.T. 1992. Onverminderde talent van S.J. Pretorius (resensie oor Anamnese). Boeke-Beeld, 30 Maart:8.
Coetzee, Ampie. 1974. Orkaan van abrakadabra (resensie oor Lemma). Beeld, 19 September:12.
De Vries, Abraham. 1977. Dis ‘n harde spot op die man af (resensie oor Album). Beeld, 14 Februarie:6.
Dekker, Gerrit. S.d. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Twaalfde druk, bygewerk tot 1966. Kaapstad, ensovoorts: Nasou Beperk.
Dekker, Leendert. 1996. Pretorius verdien nie so ‘n resensie. Die Burger, 4 April:14.
Die Transvaler. 1972. Lewensbesit vernietig. 14 Julie.
Die Vaderland. 1980. Digter na 8j. nog nie oor skok van brand. 22 Januarie:3.
Dijkstra, Katinka. 1988. Canonvorming in de literaire communicatie: indicatoren voor analyse van de literair-kritische canon. Spektator 18(3):159-168.
Du Buisson, M.S. 1959. Die mens-Godverhouding in die Afrikaanse poësie. Johannesburg: Voortrekkerpers Bpk.
Du Plessis, Phil. 1996. Estetiek van Pretorius moet gemeet word aan vervloë eeue (resensie oor Amper postuum). Die Burger, 27 Maart:13.
Eliot, T.S. 1972. Tradition and the individual talent (1919). In: Lodge, David (ed.). 1972. 2oth Century Literary Criticism. A Reader. London: Longman.
Eliot, T.S. Tradition and the individual talent. In: Lodge, David (ed.) 1972. 20th Century Literary Criticism. A Reader. London: Longman. 69-77.
Erasmus, Elfra. 1992 S.J. Pretorius word al digtend 75. Beeld, 16 Januarie:10.
Ester, H. 1992. S.J. Pretorius vecht tegen de vergankelijkheid (resensie oor Anamnese). Zuid-Afrika 69(6), Junie:114.
Even-Zohar, I. 1979. Polysystem theory. Poetics Today 1(1&2), Autumn:287-310.
Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, Elrud. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: C. Hurst & Co.
Fokkema, Douwe and Ibsch, Elrud. 1987. Modernist Conjectures. A Mainstream in European Literature. London: C. Hurst & Co.
Foster, Ronel en Viljoen, Louise. 1997. Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg.
Gioia, Dana. 2002. Can poetry matter. Essays on poetry and American culture. Tenth Anniversary Edition. Saint Paul, Minnesota: Graywolf Press.
Gouws, Tom. 1988. Die transskriptuele lees: hiaat, haplografie en transskripsie in die poësie van Breytenbach, Krog en Cloete; ‘n logosentriese lesing. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Grové, A.P. (samest.). 1974. D.J. Opperman – dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.
Grové, A.P. 1948. Oor Boeke: Pretorius se jongste bundel (resensie oor Inkeer). Die Huisgenoot, 3 Desember:15-17.
Grové, A.P. 1949. Die duister digter. Opstelle oor die moderne Afrikaanse liriek. Pietermaritzburg en Durban: Universiteitspers, Natal.
Grové, A.P. 1964. Verskil van liriese en objektiewe vervaag (resensie oor Die mummie en ander verse). Die Vaderland, 24 April.
Grové, A.P. 1965. D.J. Opperman. Kaapstad: Nasou.
Grové, A.P. 1976. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Kaapstad: Nasou.
Grové, A.P. 1992. Poësiekroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 32(3):231-238.
Grové, A.P. 1995a. Om die onaanvaarbare te aanvaar (grafskrif S.J. Pretorius). Insig, Mei:41.
Grové, A.P. 1995b. Bundel ‘n soort testament, ‘n afskeid (resensie oor Amper postuum). Beeld, 27 November:10.
Grové, A.P. 1996. Poësiekroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 36(3):221-231.
Guillory, John. 1993. Cultural Capital. The Problem of Literary Canon Formation. Chicago & London: The University of Chicago Press.
Hambidge, Joan. 1995. Pretorius se digkuns verdien nuwe aandag (rubriekbydrae: Op my literêre sofa). Beeld, 20 April:7.
Hugo, Daniel. 1992. Pretorius roep terug in die herinnering (resensie oor Anamnese). Rapport, 1 Maart:39.
Johl, Johann. 1977. Netjiese huldeblyk vir S.J. Pretorius (resensie oor Album). Die Volksblad, 14 April:1.
Kannemeyer, J.C. 1979. Kroniek van klip en ster. ‘n Studie van die oeuvre van D.J. Opperman. Kaapstad en Pretoria: Academica.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II. Kaapstad: Academica.
Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman. ‘n Biografie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1652-1987. Pretoria & Kaapstad: Academica.
Kannemeyer, J.C. 1996. Ontsyferde stene. Stellenbosch: Inset.
Kirsch, Olga. 1994. Nou spreek ek weer bekendes aan. ‘n Keur 1944-1983 (uitgesoek en ingelei deur Daniel Hugo). Kaapstad, Johannesburg en Pretoria: Human & Rousseau.
Komrij, Gerrit. 1999. Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.
Kuhn, Thomas. 1970 [1962]. The Structure of Scientific Revolutions. 2nd ed. Chicago: University of Chicago Press.
Lindenberg, Ernst. 1965. Die poësie ná 1900. In: Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Academica. 27-75.
Lotman, J. 1977. Teksttypologie en de typologie van de tekst-externe verbanden. In: Bronzwaer, W.J.M.; Fokkema, D.W.; en Kunne-Ibsch, E. (reds.) Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. (Vertaal deur H. de Zwaan.) Baarn: Basisboeken Ambo.
Luijten, Hans. 1998. Emblematische lering. In: Schenkeveld-Van der Dussen, M.A. (hoofdred.) 1998:189-195.
Malan, C.W. 1975. Skrikwêreld van digter (resensie oor Lemma). Die Volksblad, 25 Maart:40.
Malan, Lucas. 1977. Album-keuring indrukwekkend (resensie oor Album). Oggendblad, 28 April:8.
Malan, Lucas. 1991. Ernst van Heerden 75. Tydskrif vir geestewetenskappe 31(2), Junie:79-86.
Malan, Lucas. 1992. Paradoks & parabool. Pretoria: HAUM-literêr.
Malherbe, F.E.J.. 1948. Wending en inkeer. ‘n Beskouing oor die nuwere Afrikaanse letterkunde. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.
Mocke, S. Ignatius. 1953. Van kuns en vermaak. Die Brandwag, 18 September.
Mulder, H.A. 1944. Resensie oor Vonke. Ongeïdentifiseerde bron in NALN-argief.
NALN (Nasionale Afrikaanse Museum en Navorsingsentrum). S.d. S.J. Pretorius. (Dokument EJ/af 6554.)
Nel. A. 1993. Die allotropie van gevormde literatuur in die poësie van T.T. Cloete: ‘n ondersoek van die idiolektiese “omzetting” van Nederlandse tekste. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Nienaber, P.J. (red.) 1951. Perspektief en profiel. ‘n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Eerste uitgawe. Johannesburg: Perskor-Boekdrukkery.
Nienaber, P.J. (red.) 1982. Perspektief en profiel. ‘n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Vyfde, hersiene en hersette uitgawe. Johannesburg: Perskor-Boekdrukkery.
Nienaber, P.J.; Senekal, J.H.; en Bothma, T.C. S.d. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Tweede, hersiene uitgawe. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Odendaal. B.J. 1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
Oggendblad. 1982. Digter reeds jare misken. 30 September:9.
Ohlhoff, Heinrich. 1999. Perspektief op die Afrikaanse poësie: die poësie van voor 1900 tot 1960. In: Van Coller, H.P. (red.). 1999:21-243.
Opperman, D.J. 1968. Groot versboek. Tweede uitgawe, agtste druk. Kaapsrad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Opperman, D.J. 1975. Groot verseboek. Sesde uitgawe, eerste druk. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1983. Groot verseboek. Negende uitgawe, eerste druk. Kaapstad: Tafelberg.
Porteman, Karel. 1998. Embleemboeken in de Zuidelijke Nederlanden. In: Schenkeveld-Van der Dussen, M.A. (hoofdred.). 1998:158-164.
Pretorius, Réna. 1998. (Profiel van) T.T. Cloete. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis I. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Pretorius, S.J. 1953. (Jeugherinneringe.) In: Van den Heever, C.M. (samest.). My jeugland. Jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Pretorius, S.J. 1995. Amper postuum. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg: Human & Rousseau.
Pretorius, S.J. S.d. Sarel Jacob Pretorius. (Ongeïdentifiseerde outobiografiese knipsel in die NALN-argief).
Pretorius, Wessel. 1982. Die taal van ‘n deurleefde digter (resensie oor Smartlap). Die Transvaler, 8 Maart:7.
Rooi Rose. 1994. Digters en skrywers: S.J. Pretorius. 27 Mei:48
Rosengren, Karl Erik. 1985. Time and Literary Fame. Poetics 14: 157-172.
Rosengren, Karl Erik. 1987. Literary Criticism: Future Invented. Poetics 16: 295-325.
Rossouw, Christel. 1995. S.J. Pretorius (biografiese opsomming). Bloemfontein: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum.
Schenkeveld-Van der Dussen, M.A. (hoofdred.). 1998. Nederlandse literatuur, een geschiedenis. Tweede druk. Amsterdam en Antwerpen: Uitgeverij Contact.
Scholtz, Merwe (red.). 1974. Woord en wederwoord. Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaarsdag, 29 September 1974. Kaapstad en Pretroia: Human & Rousseau.
Scholtz, Merwe. S.d. Oor boeke: Gedig in ses taferele (resensie oor Grou mure). (Enige verdere brongegewens ontbreek op die knipselkopié in die leêr oor Grou mure in die NALN-argief.)
Schutte, H.J. 1970a. In gesprek met S.J. Pretorius. Tydskrif vir letterkunde VIII(2), Mei:1-8.
Schutte, H.J. 1970b. S.J. Pretorius: ‘n Meer-as-digterlike herstel. Tydskrif vir letterkunde VIII(2), Mei:11-21.
Schutte, H.J. 1982. Kwintessens van die digter S.J. Pretorius. Tydskrif vir letterkunde XX(1), Februarie:3-12.
Schutte, H.J. 1988a. Nederlandse Renaissance: Algemene inleiding. In: Van der elst, J. (hoofred.). 1988:135-143.
Schutte, H.J. 1988b. Vondel se lykdigte. In: Van der Elst, J. (hoofred.). 1988:186-194.
Snyman, H. 1984. Poësiekroniek. Standpunte 172, XXXVII(4), Augustus:41-48.
Snyman, H. 1990. (Bespreking van) Amulet teen die vuur: Ernst van Heerden. Tydskrif vir geesteswetenskappe 30(1):27-32.
Spangenberg, D.F. 1975. S.J. Pretorius: ‘n Ander soort van sing. Standpunte 118, XXVIII(4), April:51-54.
Van Coller, H.P. (red.) 1999. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Van der Elst, J. (hoofred.). 1988. Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Academica.
Van der Walt, P.D. 1974. Lemma is vol afwisseling (resensie van Lemma). Die Transvaler, 19 Oktober:10.
Van der Westhuizen, E.S. 1997. Die representasie van die visie in die verhalende prosa van Elsabe Steenberg. Ongepubliseerde Ph. D–proefskrif, Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Van Rees, C.J. 1983. How a Literary Work Becomes a Masterpiece: on the Threefold Selection Practised by Literary Criticism. Poetics 12: 397-417.
Van Rensburg, F.I.J. 1995. Literêr-aktueel: S.J. Pretorius (1917-1995). Tydskrif vir letterkunde XXXIII(3), Augustus:107-109.
Van Rensburg, F.I.J. 2000. Verantwoording. Veelspalt. ‘n Keur uit sy (S.J. Pretrius se – HvC & BO) poësie (saamgestel deur F.I.J. van Rensburg). Johannesburg: RAU-pers.
Vos, W.H. (samest.) 1967. Keurverse. ‘n Bloemlesing uit die gedigte van S.V. Peteresen en P.J. Philander. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Watermeyer, G.A. 1951 (Profiel van) S.J. Pretorius. In: Nienaber, P.J. (red.) 1951:711-730.
Weideman, George. 1996. Versalbum: Amper postuum (bespreking van Amper postuum, manuskrip). Afrikaans Stereo, 5 Mei.
Wiehahn, Rialette. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek. ‘n Histories-teoretiese beskouing. Kaapstad en Pretoria: H&R-Academica.

Bookmark and Share

Comments are closed.