Die bruikleen-fenomeen

Die bruikleen-fenomeen

– op- en aanmerkings oor Johann de Lange

se bundel Die algebra van nood,Human & Rousseau, 2008.

 

deur Lucas Malan

 

Reeds met sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982, het Johann de Lange ‘n vars profiel in die Afrikaanse poësie met uitdagende temas en fyn versorgde verse verwerf. Vir sy debuut en ‘n latere bundel het hy dan ook gepaste pryse ontvang. Die sestal bundels wat op sy debuut gevolg het, is ook almal (met die uitsondering van een negatiewe resensie deur die gedugte Marlene van Niekerk) oorwegend gunstig ontvang.

 

In Deel 3 van H.P van Coller (red.) se Perspektief en Profiel  (2006) skryf Marthinus Beukes (volgens die inhoudsopgawe met die medewerking van Andries Visagie) ook met begrip en waardering oor De Lange se verse waarin ‘n obsessie met die erotiese ervaring en die dood, die liggaam en die sterflikheid telkens as transformasie in hierdie digterskap gelees moet word. Beukes vermeld ook spesifiek De Lange se vakmanskap, hoe goed sy bundels as eenheid gekomponeer word, en – kritiekloos – hoe dikwels De Lange sy verse met intertekstuele knope vervleg en voed.

 

Kortom, Johann de Lange word as ‘n beduidende digter van die periode 1982 tot 1995 beskou. Maar ná sy laaste bundel van 1995 publiseer hy net kortverhale en in 2007 ook ‘n bundel vaardige Engelse vertalings van Wilma Stockenström se gedigte.

 

Eers vroeg in 2009 verskyn daar weer ‘n opvallend ruim digbundel van hom met die titel Die algebra van nood. Net voor die verskyning daarvan kry De Lange in Die Burger (27 Februarie 2009) ‘n volblad onderhoud met Murray La Vita waarin De Lange oor enkele persoonlike sake bely en die aroma van sy naskeermiddel ook aandag kry.

 

Toe kom die eerste resensie van die bundel deur Ampie Coetzee in Die Burger (20 April 2009). Coetzee vind weinig meriete in dié “onnoemenswaardige” bundel en plaas dit op ‘n skaal van vyf sterre op twee, wat sê “lees maar as dit moet”.

 

Eers tien dae later plaas Die Burger ‘n brief van prof. Henning Snyman, volgens De Lange se vermelde onderhoud sy studieleier en voorstander vir die publikasie van dié bundel. Snyman het besware oor Coetzee se oordele en skimp op sy onvermoë om die bundel in te skat vir wat Snyman self o.m. “opreg menslik en ontroerend in die genadelose blootlê van menslike passie, deernis en weerloosheid” noem. Snyman vermaan ook verbasend naïef dat De Lange se bundel “as ‘n eenheid gelees (moet) word.”

 

Voorts wys hy op swak formulering en ‘n feitefout in Coetzee se resensie wat hy afwysend as moontlike “verskrywings” beskou. (Wat feitefoute betref, wil ek Snyman tog daarop wys dat De Lange se gedig “Bloem in die Karoo” (p. 54) óók ‘n “verskrywing” is, want hy verwar die Nederlandse digters J.C. Bloem en A. Roland Holst se besoeke aan Suid-Afrika. Vgl. J.C Kannemeyer se kort herinneringstuk waar De Lange sy stof gaan leen en toe verwar het : “A. Roland Holst se Besoek aan Suid-Afrika” in Uit puur verstrooiing, Inset-Uitgewers, 2007, p.296.)

 

Prof. Snyman sê ook vroeg in sy brief dat hy hom daaraan troos dat ‘n resensie “altyd maar die eerste indrukke van ‘n bepaalde leser (is).” Om dié cliché te beklink, wil ek sy lesing van die voorblad as selfgesprek” en “ontroerend” weerlê met mý persepsie daarvan as nóg ‘n “bepaalde leser”: Ek vind dit ‘n lig obsene eksemplaar van ekshibisionisme; in die trant van: Kyk, hier is ons eie Baudelaire, “die vervloekte digter”; ons eietydse Eugène Marais.

 

Verder probeer Snyman die uitputtende gebruik van die ampersand (&) as sinvolle “teken” in hierdie bundel verdedig, maar of dit nou met die algebra of die semantiek verband hou, vind ek dit oortollige “grimering” en ‘n irriterende affektasie wat die leser al gou vervreem. En dit het ons te danke aan De Lange se deurlopende en toenemend vervlakkende gebruik om ter wille van die allure by al die groot name stof te gaan leen en dit vernuftig te herwin. (Die ampersand-teken (&) kom bv. veral in William Blake (1757 – 1827) se tekste voor.)

 

Sedert prof. Ampie Coetzee se negatiewe resensie het daar van Marthinus Beukes (Beeld, 11 Mei 2009) ‘n teoreties gerigte resensie tot lof van De Lange se bundel verskyn. Ook ‘n lojale student aan die UK, Jaco Barnard-Naudé het saam met ‘n spook genaamd Crito op Litnet vir Coetzee en dr.Gerrit Brand, redakteur van Die Burger se boekeblad, geraps oor hul vermeende swak oordeel. Daar sal wel ook ander kommentare in die skemergange van kuberruimtes wees, maar genoeg. Ek wil nou die aandag vestig op ‘n enkele sin in Coetzee se resensie waar hy skryf oor dit wat ek in my opskrif die bruikleen-fenomeen noem. Hy  skryf: “Dan ook nog motto’s, parodieë, opdragte en herinnerings aan ander digters, en verse op die wysie van ander digters se verse (ek kursiveer) – ook by die twintig”.

 

Oor die strategie / tegniek / term of stylgreep intertekstualiteit kan ek niemand iets leer nie en andersom. Laat ek lesers net daaraan herinner dat ons al in 1968 met P.G. du Plessis se uitstekende proefskrif Die verwysing in die literatuur en kort daarna met Pirow Bekker se proefskrif Die titel in die poësie (1970) deeglik ingelig is oor wat die aard, die funksie en effekte van dié gebruik in die literatuur behels. En vir dié wat vergeet het of nie weet nie, wys ek ook op ‘n uitspraak van Ernst van Heerden hieroor in sy bundel opstelle Digterlike diagnose (1977). Hy skryf :

 

            Dit is begryplik (en vergeeflik, hoop ek) om in die werk van iemand wat hom sy

            hele lewe met die literatuur besig gehou het, voorbeelde van verwysings na ander

            literature te vind. Die gebruik van versluierde of indirekte aanhalings in die poësie

            is soms ‘n soort intellektuele ekshibisionisme of erudiete vertoon, maar kan andersyds

            ook met ‘n onthullende, aanvullende en verdiepende funksie waardevol wees . (p.10).

 

(Tydens ‘n openbare gesprek oor dié bundel, herinner ek my, het Van Heerden in ‘n guitige oomblik bygevoeg: “En de helft is u nog niet verteld”.) Ons aanvaar dus dat alle digters van formaat hulle soms laat voed deur die werk van voorgangers – veral die grotes. Maar wanneer dit in ‘n hele oeuvre die oorheersende element word en elke bundel iets van ‘n  Groot Verseboek in die kleine word, moet daar iewers tog halt geroep word.

 

Hier volg ‘n ekskursie deur De Lange se oeuvre soos ek dit ken. Soms kan ek nie direkte bewysplase vermeld nie, want ek maak staat op my geheue en ou mededelings. Indien De Lange en sy ondersteuningspersoneel egter my bewerings kan weerlê, staan dit hulle vry.

 

 

Die bundeltitels

 

Met die (moontlike) uitsondering van Waterwoestyn (1984) en Vleiswond (1993), het De Lange al sy bundeltitels aan ander digters of publikasies te danke. Vergelyk: Akwarelle van die dors (1982) – Lucebert; Snel grys fantoom (1986) – uit ‘n artikel in die tydskrif Time oor James Dean se dood; Wordende naak (1990) – N.P. van Wyk Louw; Nagsweet (1991) – Thom Gunn (The man with night sweats); Wat sag is vergaan (1995) – Jeanne Goosen, ‘n verhaaltitel in haar bundel ‘n Kat in die sak (1986), deur my opgeneem in Hongergrond (1994), daarná deur De Lange as bundeltitel gebruik en sowaar nou weer as afdelingstitel in sy Die algebra van nood (2008), waarvan die titel volgens De Lange nogmaals geleen is by ene William Burroughs.

 

Voeg nou hierby die groot aantal motto’s en opdragte dwarsdeur die oeuvre waarop Ampie Coetzee in sy onlangse resensie ook moedeloos reageer, en ‘n mens begin wonder waarom De Lange sy onmiskenbare talent só gemaklik wil stoffeer of met ander kuipvogte wil versny.

 

Die jongste bundel

 

Dit kan ‘n moeisame onderneming word om elke eggo of geval van bruikleen in De Lange se jongste bundel met jota en tittel aan te toon, daarom het ek as ervare leser van die Afrikaanse poësie chronologies net die opvallendste grepe met die betrokke digters of gedigte wat dit oproep – ook waar dit openlik as direkte aanhaling fungeer – aangestip.

Dit lyk so:

 

Die eerste afdelingstitel, Hiermaals – Lina Spies; “Groen” (p.13) – Ina Rousseau; “Bolandse tafereel: laatmiddag” (p.17) – die frase “die eland met sy riffelkwakkie” – Wilma Stockenström; “Duimsketse” (deel 2, p.21) die woord “soef” – Wilma Stockenström (Uitdraai,?); “Sketsboek” (p.26) – Daniel Hugo, “Tafelbaai 1”, Skeurkalender (1998, p. 9); “Ostranenie” (p.32) die woord “smeuig” – Ina Rousseau; die woord “veelal” – Stephan Bouwer; “LSD, Seepunt” (p.33) – “tot in die fynste ontsteltenis” – Jeanne Goosen; “Betwixt” (p.36) – “verbeelde werklikhede” – Eleanor Baker; “Teen die berghang” (p.43) – Van Wyk Louw, wél ‘n bewuste en vernuftige verwerking; “Bloem in die Karoo”(p.54) – dit moet Roland Holst wees; “Miskien is dit nou die tyd” (p.60) – Van Wyk Louw; “Rembrandt” (p.67) – Hennie Aucamp se kwatryn “Uiteindelik”; “Daar is ‘n tyd wat sterre hou” (p.85) – Antjie Krog; “Dooiepunt” (p.91) en “Klein elegie” (p. 92) – Van Wyk Louw, Tristia; “Bloubaard” (p. 94), die woord “sweserik” – Ina Rousseau; “al my paadjies” (p.98) – Ingrid Jonker; “Ek min jou” (p.101) – J.C. Steyn; Afdeling VII; “Wat sag is…” – wéér Jeanne Goosen; “Ants Kirsipuu (1927 –2003)” (p. 117) – die woord “Nimmermeer” – Wilma Stockenström, wel geslaagd as konteksuele inbedding van haar gedig “Lêer van ‘n leeftyd”.  

 

Dit dan die aantekeninge oor wat ek steurend vind. Tussendeur is daar hoogs geslaagde gedigte in hierdie bundel. ‘n Frase in die boek Physique: Classic Photographs of Naked Athletes (Red. Peter KÜhnst, Thames & Hudson, 2004) het onder my aandag gekom. Dit is die laaste afdeling se titel: “Postmodernism and Postmodern Mannerism”. Is dit nie waarmee ons hier te doen het nie – ‘n laaste kramp van die Postmodernisme wat nou as flou Maniërisme manifesteer?  

                                                                                                   

  

Bookmark and Share

Comments are closed.