Carina Stander. Graffiti op die Facebook-muur
‘n Paar weke gelede is daar op die Facebook-muur dinge oor die digkuns gegriffel wat nou nog my kop laat woer. Twee dae voordat ek Europa toe moes vlieg, sien ek foto’s van Switserland op Etienne van Heerden se Facebook. Schweiz, Suisse, Svizzra! juig ek. Oormore is ek daar! Waarop die vriendelike Etienne antwoord: “Carina, geniet! Kan mens gedigte uit Switserland maak? Dit hoor ek graag by jou terugkeer. Na duisende jare se onstuimigheid en onvrede bring die Italianers Romeinse Reg, opera en pragtige kunswerke voort. Na duisende jare se relatiewe rustigheid en vrede kom die Switsers met die koekoekklok vorendag. ‘n Stomp stelling, maar dit laat mens dink oor die aard van samelewings en wat hulle produseer, nie waar nie?”
‘n Vrou wat ek nie persoonlik ken nie (ek verswyg haar naam, net ingeval sy dit so verkies) skryf toe die ongewone waarneming van Switserland op die Facebook-muur: “Oppad na Zermat het ek op ‘n brug gestaan met ‘n gewaarwording: Metafories gesproke het ek my ‘designers skoene’ in die yskoue blou waters weggegooi. All I could sense was the colour of ice and my veins being blocked and the highly irate sound of Heidi calling Peter come running down the hills!!! Hoe verder jy op berg toe ry hoe meer verys die vlakke van landskappe. Alles is so georden en so skoon dat dit vergestald in NIKS. No stir! Its a ‘Sweet’ place.”
Genugtig, nee! dog ek. Maar ja: in Brasilië of Mosambiek is die lewe helderder, lawaaieriger, lewendiger. Dalk kan mens die sneeu soos woestynsand benader? Kyk fyn, en jy sal sien: waar water is, daar is lewe. Altyd.
Altyd?
Gister middernag terug in Suid-Afrika. Ek bieg: na my dosynste maal in Europa, is my swart notaboek nogmaals vol geskryf oor blougrys gletsers en ysgrotte; kastele met labirinte; bloedrooi kersies op die mark; broeiende swane en stoombote; ‘n Hollental (Helvallei) waar die son selde skyn; dorpies met name soos HeiligenBlut en Sterrewerf; die ondergrondse murmeling van graffiti teen die mure van stegies; klokswaaiende koeie wat aan veldblomme wei met Lindt sjokolade in die uiers.Inderdaad het Switserland nie ‘n sterk kunstradisie nie en komponiste is skaars, al het uitmuntende uitlandse kunstenaars soos Voltaire, Byron en Shelley hulle hier kom vestig. Die vraag bly knaag: het die Alpynse skoonheid my geroer soos wat chaotiese Italia se Venezia Biennale my geroer het? Is daar verse te maak uit ‘n vredige beskawing? Dalk is die uitdaging om oor ‘n vlieg te kan dig soos Cussons of oor ‘n klip soos Opperman. En ja, ook Switserland het vlieë en klippe! Daar is tog oral interne oorloggies en vredesverdrae tussen mense; oral individue met vreemde verhale. En die berge bly die berge bly die berge. Uiteindelik bly dit die tipe ding wat my laat vonk om te vers.




