Wat is eietydse digkuns?

 

Wat is eietydse digkuns?

Charl-Pierre Naudé

  

Hierdie artikel het verlede jaar in Die Burger se rubriek, Flapteks, verskyn. Dit is geskryf na aanleiding van ‘n voorafgaande artikel deur Ferdi Greyling, waarin hy die afwesigheid van  groot digkuns in die hedendaagse wêreld betreur. In die lig van Bernard Odendaal se geldige misnoeë met die mymeringe van die een of ander dinosauruskloutjie genaamd Jaybee Roux, lê ek die artikel voor vir herpublikasie op die Versindaba webblad.(CPN)

 

Ferdi Greyling betreur ‘n wêreld wat “nie meer groot digters het nie” en sê, “dis jammer, want die belewenis van groot digters is een van die beter dinge in die lewe”.

   Sy artikel wys hoeveel mens kan ontbeer as jy nie jou verwagtingshorison verstel om nuwe werk op te vang nie. Daar is seker baie mense wat so voel. Te verstane. Want hóé om daardie horison te verstel is moeiliker as ooit in ‘n wêreld wat meer diepgaande verander het as ooit tevore.

   Om te begryp hoe die aard van poësie verander het, moet mens die verandering in betekenisstelsels per se beskou, die verskuiwings in ons ganse onderbou.

   Dit gaan  dieper as ‘n verskil tussen romanties en deadpan. Die gelykstel van poësie aan die romantiese leef trouens nog baie sterk in SA, en is tekenend van beperkende opvattings oor digkuns. Mens sien dit in die gedigte wat getoonset word. Kyk maar, die impuls is romanties. Die romantiese kan opgesom word as wesenlik die oproeping van ‘n verlore (of vervloë) wêreld. Die epitoom daarvan is Jean-Jacques Rousseau se Sosiale Kontrak.

   Die romantiese in die poësie spruit uit ‘n wonderlike aanname wat met die oorgang na die postmoderniteit ‘n groot slag gekry het: dat die “waarheid” (nie net eties nie, maar in die sin van ervaring) in argetipes weerspieël word wat onveranderlik is maar verlore geraak het en wat herontdek kan word, as die digter hulle maar net gaan uitgrawe en afstof. Die romantiese impuls is dus wesenlik bevestigend van aard.

   Maar in onlangser tye is gewys dat argetipes ook aan die tydelike onderhewig is. Die romantiese impuls het dus in fetisjisme verval: ‘n blote refleks van iets waarvan die bestaansreg eintlik geruime tyd weg is.

   En die postmoderniteit het die poësie aan twee groot kragte onderwerp: die tot niet making van die groot temas (wat ons nie meer by “waarheid” kan uitbring nie want hulle is nie meer groot nie); en die wêreld van die wetenskap, wat daagliks uitvindsels en ontdekkings maak.

    Volgens Octavio Paz moes die poësie sy posisie van leiding wat hy in die moderniteit gehad het gevolglik aan die wetenskap afstaan. En moes hy sedertdien meeding met die wetenskap se beloftes van nuwe terrein.

   En nou kon die digter maar net aanhou met sing, wat oukei is as jy in die Hemel is, maar ons is op die aarde. En baie digters hou maar net aan met sing, wat steeds so mooi is soos altyd, maar sonder wel, enige executive power.

  Die matriks van die kunste en van die poësie het gevolglik begin wegskuif van die bevestigende na die ondersoekende. En dáárom het dit lesers soos Greyling verloor. Die dans rondom musiek en ou geheue het plek begin maak vir iets anders: die noodsaak vir nuwe ontwerp. Poësie is nou veel minder argeologies óf nostalgies, en veel meer verbeeldingryk.

   ‘n Aanvanklike reaksie op die postmoderniteit was die sg. postmodernisme as literêre stroming. Dit was ikonoklasties van aard, ‘n morbiede, kleinsielige geseëvier oor die heengaan van die modernisme en die sogenaamde ban van konteks.   

   Die tweede reaksie was meer belowend. As objektiewe waarhede dood is, is “waarhede” per definisie subjektief. En net daar het die poësie homself weer langs die wetenskap ingewurm, as ontwerper van eindelose nuwe (subjektiewe) “waarhede”. Met dien verstande: die skep van konteks is nou meer belangrik, nie minder – hoe anders as die oorkoepelende konteks nie meer bestaan nie?

   En ‘n kardinale manier waarop die eietydse poësie kontekste skep is met ‘n herbewapening van simboliek. Soos Umberto Eco aantoon verwys simboliek nie meer na vaste betekenisse buite die teks nie (soos in die Middeleeue) of vaste inhoude in die psige (in die moderniteit), maar kom dit tot stand suiwer binne die integriteit van die eietydse teks (met min hulp van God nou óf sy agterplaasbrakkies soos Jung).

  Met die klem op subjektiewe realiteite val ‘n enkel stel maatstawwe van wat poësie is, ook weg. Dit beteken nié enigiets is nou poësie nie. Dis juis moeiliker om nuwe, subjektiewe realiteite  te skep as voorheen, toe digters in ‘n groot mate ‘n  “score” gehad het om mee te werk.

   Hoe maklik om goed te wees as jy maar net “nie eenkeer oor die lyne smeer nie”, perfek die aanvaarde kleur by die “regte” objek pas! Om jou eie haas-vorm uit die hoed van chaos te trek én die leser te oortuig van sy haas-skap, is veel moeiliker. Dit terwyl jou kollega dieselfde doen met ‘n ander “haas” wat joune soos  bewer laat lyk én hy noem jou hoed ‘n tregter.

  Greyling betreur te min emosie in die hedendaagse poësie. Wat is die lewensbloed van subjektiwiteit? Emosie. Wat is meer subjektief? Dis dié lokaas wat die veelvoud oopmaak, én nooit eenders lyk. Dis meer verfynd as ooit.

   Nee wat, die digter woon in opwindende tye. Al wat hy kortkom is ‘n opwindende  leser.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wat is eietydse digkuns?”

  1. Ja, die feit dat sommige genres, soos die digkuns en die musiek hulle doelbewus oopstel vir wyer lesersinterpretasie beteken natuurlik nie dat ‘n mens kan interpreteer soos jy wil nie … dié soort teks stel uiteraard baie hoë eise aan die leser. Dit vra inderdaad vir ‘n opwindende soort leser, iemand met genoeg moed om diep te delf en behoorlik navorsing te doen, ‘n soort Theseus wat bereid is om die labirint aan te durf …