Onvergelyklike digter van die vergelyking

Onvergelyklike digter van die vergelyking

Daniel Hugo

Die Amerikaanse digter Wallace Stevens het die poësie beskryf as “the intricate evasions of as”. Herman de Coninck (1944-1997), die gewilde Vlaamse digter en literêre joernalis, was egter versot op die blatante en verbluffende gebruik van vergelykings. In sy versamelde gedigte, De gedichten, (Uitgeverij De Arbeiderspers, Amsterdam en Antwerpen, 1998) staan daar nie minder nie as 18 verse wat met die woord “zoals” begin. Vergelykings is die spil waarom byna elke gedig in sy oeuvre van sewe bundels draai. Hy verklaar sy voorliefde vir dié stylfiguur soos volg:

 

Ach, de troost van een vergelijking,

het helpt bijna. Zodra ik nog maar “zoals

hoor, wordt alles minder alleen.

 

Die dinge van die skepping, die mens inkluis, is dus wesenlik alleen en daarom eensaam. Wanneer twee dinge deur ’n vergelyking aan mekaar gekoppel word, sê De Coninck, word alles minder alleen. En op dié manier funksioneer die digkuns as ’n soort eksistensiële troos. Die leser word, net soos die digter, gesus deur die poëtiese formulering en die treffende vergelyking.

 

’n Vergelyking is selfverklarend en daarom begrypliker as byvoorbeeld ’n metafoor of ander assosiatiewe sprong. Dit is deels die rede vir die enorme aanhang wat Herman de Coninck in die Lae Lande geniet het en nog steeds geniet. Dat hy aanvanlik, veral met sy debuutbundel De lenige liefde van 1969, naam gemaak het as jeugdige liefdestroebadoer het uiteraard bygedra tot sy gewildheid. Sy latere bundels stel egter groter uitdagings aan die leser wat stelwyse én gedagtegang betref.

 

St. Ives, kerkhofje

 

Op dit kerkhof lijkt de dood zelfs op haar beurt gestorven,

de zerken op hun beurt begraven, onder gras

dat leeft en vrolijk overleeft

op grond van wat er destijds was.

 

Heden en verleden ontmoeten

elkaar hier op elke hoek, en dan groeten

ze, deftig comme il faut,

Heden en Verleden, van de firma Tijd en Co.

 

Dit land is conservatief

zoals een wijnkelder dat is:

het heeft de tijd.

 

Niet voor de ewigheid,

maar om verganklikheid, om dagen, uren

iets langer dan gewoonlijk te doen duren.

 

 

St. Ives, kerkhoffie

 

In dié kerkhof lyk selfs die dood gestorwe,

en die grafstene op hulle beurt begrawe onder gras

wat ontwaak en vrolik verder leef

op grond van dit wat daar destyds was.

 

Hede en verlede ontmoet

mekaar hier op elke hoek, en dan groet

hulle, deftig soos twee here,

Hede en Verlede, van die firma Tyd Bpk.

 

Hierdie land is konserwatief

soos wat ’n wynkelder dit is:

dit het baie tyd.

 

Nie vir die ewigheid nie,

maar om verganklikheid, om dae, ure

iets langer as gewoonlik te laat duur.

 

 

“St. Ives, kerkhofje” kom uit Herman de Coninck se derde digbundel, Met een klank van hobo, wat in 1980 verskyn het. My vertaling van hierdie gedig is die eerste keer opgeneem in Liefde, miskien, ’n keuse uit sy eerste drie bundels wat in 1996 gepubliseer is. Dit is weer opgeneem in Die lenige liefde (Protea Boekhuis, 2009), ’n keuse van 50 gedigte uit al De Coninck se bundels.

 

St. Ives is ’n skilderagtige kusdorpie in Cornwallis, Engeland. Dit is ’n gewilde toeriste-oord, maar ek twyfel of die verwaarloosde begraafplasie op die toeristeroete is. ’n Digter wat oor die lewe en dood loop en tob, vind egter op onverwagte plekke beelde wat hom kan help om gestalte te gee aan sy gedagtes. Abstraksies soos verganklikheid, tydsverloop en ewigheid word denkbaar en verstaanbaar gemaak deur vergelykings met konkrete dinge uit die alledaagse werklikheid.

 

Aanvanklik lyk dit asof die digter ’n plek van onsterflikheid bereik het, waar “selfs die dood gestorwe” is en die lewe ewigdurend voortgaan soos die gras wat op die grafte groei. Die verlede leef ook onverstoord voort in die hede. Hede en verlede word voorgestel as twee deftige here wat mekaar daagliks raakloop in hierdie “tydlose” dorpie. Hulle werk albei vir die firma “Tijd en Co.” en groet mekaar “comme il faut” (soos dit hoort).

 

Met hierdie Franse uitdrukking verraai die digter sy Belgiese herkoms en sy posisie as buitelandse toeris, en dus ook as buitestaander. Hy beskryf geen ontmoeting met inwoners van die dorp of ander toeriste nie. Die twee deftige here wat op straat verskyn, is natuurlik gepersonifieerde abstraksies. Die digter bevind hom alleen op die wêreld. Die kerkhofgras is die enigste lewende dinge wat genoem word.

 

Dat niks op aarde werklik ewig duur nie, blyk uit die Afrikaanse vertaling van “Tijd en Co.” as “Tyd Bpk.” (Dit is die soort onverdiende geskenk waarvoor ’n vertaler ewig dankbaar bly.) Die Afrikaanse firmanaam loop die konklusie van die gedig vooruit, naamlik dat dit tog nie die ewigheid is wat hier heers nie. Die proses van vergaan duur net ’n bietjie langer in St. Ives. En om dit te illustreer gebruik die digter die vergelyking met ’n wynkelder – ook ’n beeld ingegee deur die omgewing, want daar word inderdaad wyn gemaak in Cornwallis.

 

In die derde strofe staan daar: “Hierdie land is konserwatief  / soos wat ’n wynkerlder dit is.”  ’n Wynkelder is “konserwatief” omdat dit nie net die wyn laat verouder nie, maar dit ook bewaar of konserveer. Dié konserveer-idee is ingegee deur die Britse politiek van destyds – in die laat sewentigerjare toe hierdie gedig ontstaan het, was Margaret Thatcher se Konserwatiewe Party aan bewind. So beweeg die digter moeiteloos van die aktualiteit na die universele; van die konkrete na die abstrakte; van die banale na die poëtiese.

 

In “St. Ives, kerkhofje” maak die digter – en die leser saam met hom – vrede met die eensaamheid van die bestaan en met die dood. Hierdie berusting vind neerslag in ’n ontspanne sonnet wat hom nie te veel steur aan metrum en rym nie. Die slotryme “tijd” / “eeuwigheid” en “uren” / “duren” vat wel die kerngedagte van die gedig bondig saam.

 

Maar selfs die onvergelyklike digter van die vergelyking besef soms dat die poësie slegs tydelik troos, dat daardie “zoals” nie werklik die essensiële alleenheid van die dinge ophef nie. In Herman de Coninck se bundel Enkelvoud (1991) staan daar die volgende kort gediggie wat met sy naakte feitelikheid die leser tot in sy eksistensiële fondament skud.

 

Soos hierdie eiland aan die meeue behoort

en die meeue aan hul gekrys

en hul gekrys aan die wind

en die wind aan niemand,

 

so behoort hierdie eiland aan die meeue

en die meeue aan hul gekrys

en hul gekrys aan die wind

en die wind aan niemand.

 

Elke mens is dus tog ’n eensame eiland in die oseaan van die tyd. En elke ding is slegs gelyk aan homself. Ten slotte is daar geen vergelyking wat kan red of troos nie.

 

Daniel Hugo

Rapport Boeke, 5 Julie 2009

Bookmark and Share

Comments are closed.