Johann Lodewyk Marais. Leon Strydom wys na sy horlosie

Dit was ’n koue aand op 24 Junie 1983 toe ons in een van die min restaurante in Bloemfontein se middestad gaan eet het. By die ete was daar letterkundiges wat die pas afgelope SAVAL-minikongres oor resepsie-estetika by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat bygewoon het.

 

Aan my regterkant was Leon Strydom, professor in Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit. Strydom het met die digbundel Geleentheidsverse (1973) gedebuteer en daarvoor is hy met sowel die Eugène Marais- as Ingrid Jonker-prys bekroon. Hy was ook destyds al bekend vir sy belangstelling in die beeldende kunste en had volgens gerugte ’n buitengewone versameling kunswerke. (Deesdae is hy die eienaar van die Strydom-galery op George.)

 

Ek wou graag weet wanneer Strydom weer ’n bundel gaan publiseer, want sy vernuftig gestruktureerde, woordgevoelige en dikwels eienaardig kriptiese verse met hul veelduidige betekenis het my geboei. Strydom het bloot na sy horlosie gewys. Dit wil sê, het hy beduie, daar is nie genoeg tyd daarvoor nie. In 1988 het sy tweede bundel, LS, wel verskyn, en dit het my nie teleurgestel nie.

 

Strydom is ook die skrywer van Oor die eenheid van die digbundel: ’n Tipologie van gedigtegroepe (1976), wat (aspirant)digters gerus kan lees, en Die Sonnevanger (1983) oor Frans Claerhout se beroemde groep van 29 skilderye met dieselfde titel. As student aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland en op reis saam met sy vrou in Europa het Strydom boonop fassinerende briewe aan sy Stellenbosse mentor D.J. Opperman geskryf, wat in die Dokumentesentrum in die J.S. Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch bewaar word.

 

Nou, 21 jaar ná Leon Strydom se laaste digbundel, wonder ek oor daardie wys na die horlosie, want hy is ’n hoogs vernuftige digter wie se bydrae gemis word. Dat ’n gebrek aan tyd ’n skrander mens darem so in die wiele kan ry!

Bookmark and Share

Comments are closed.