Ina Rousseau in Engels
Ina Rousseau in Engels
Ina Rousseau het op Saterdag 17 April 2004 omstreeks 09h00 begin om haar gedigte in Engels te vertaal. Uit haar nougesette datering (met tyd en al!) van die talle variante kan die chronologie van die teksontwikkeling gelukkig bo alle twyfel bepaal word. Die feit dat die vertalings getik is – met hier en daar wysigings in ’n byna onleesbare handskrif – het die lees daarvan baie vergemaklik. Op Vrydag 10 Desember 2004 het sy om 09h30 vir die laaste keer aan ’n vertaling gewerk, te wete aan “Die kersieboom” uit ’n Onbekende jaartal.
Sy het gereeld aan meer as een vertaling op dieselfde bladsy gewerk. Van sommige verse is daar wel net een variant – wat beslis nie beteken dat sy dit as afgehandel sou beskou het nie! Daarvoor was sy te veel van ’n onvermoeibare perfeksionis. Soos ons weet uit die talle veranderings wat sy deur die loop van jare aan haar Afrikaanse gedigte aangebring het, was sy eintlik nooit heeltemal tevrede met enigiets wat sy geskryf het nie. In die beste gevalle het sy wel daarin geslaag om die besondere klankrykheid van die Afrikaanse verse in die Engelse weergawes te verwesenlik soos in “Krupuk” (“Die laspos” uit Heuningsteen, 1980).
Dit was klaarblyklik Ina Rousseau se voorneme om haar hele poëtiese oeuvre – met die uitsondering van haar debuutbundel Die verlate tuin (1954) – in Engels oor te sit. Sy het merkwaardig veel verrig in die agt maande tussen 17 April en 10 Desember 2004. Sy het waarskynlik opgehou omdat haar kragte minder geraak het weens die siekte (kanker van die pankreas) waaraan sy op 13 Augustus 2005 beswyk het. Haar tyd is ook in beslag geneem deur verhuisingsplanne wat die koop en verkoop van eiendomme behels het. (Sy wou uit haar duplekswoonstel Die Park 4, Hofstraat, Tuine in Kaapstad trek na die aftree-oord Berghof, Tuine.) Op twee dae (30/3/04 en 11/11/04) het sy inderdaad haar vertaalwerk agterop pamflette van “Kapstadt International Properties” gedoen!
Die manuskripte van hierdie vertalings word bewaar in die Dokumentasiesentrum van die Universiteit van Stellenbosch.
Daniel Hugo
Die laspos
Uit die niet
kom staan voor my ’n kropduif
wat probeer om my blik van my boek
te lok. En sodra ek wonder
wat in liefdesnaam hy by my soek,
begin hy iets by my te bedel
wat ek sweerlik self ontbeer:
Hy vra vir my kroepoek.
En as ek vir hom sê skoert,
herhaal hy maar weer kroepoek.
So: kroepoek kroepoek kroepoek.
Pleitend eers, maar spoedig
bot, asof hy op my vloek.
Krupuk
I went to De Waal Park to read.
A pigeon appeared from nowhere,
making silly noises at my feet,
apparantly to make me look
at him, in stead of at my book.
And just as I was wondering
what the dickens he was up to,
he started to beg something from me
which – cross my heart – I did not have:
He asked me for krupuk.
And when I ordered him to scoot,
he simply continued asking krupuk.
Like this: krupuk krupuk krupuk.
Plaintive at first, he soon became
distinctly curt, as though the word
was being uttered as a curse.
Or worse.
(1/11/04)




