Poetry Crawl

As ek reg onthou, was dit Saterdag 1 Desember 2000. Die aand van ons eerste Poetry Crawl. Somer en wyn en rondslenter van huis na huis, waar ons telkens gedigte lees. Die stand van die hemelliggame op daardie eerste aand kan ek nie onthou nie, maar sedertdien het dit tradisie geword om dit so na as moontlik aan volmaan te hou. Omdat mens dan in die maanlig kan stap. ’n Groep filosoferende woordliefhebbers halfdronk aan poësie en OBS sal sekerlik nie ’n maklike teiken wees vir enige aspirerende krimineel nie.

   Laas week was dit weer volmaan en, as gevolg van ’n handvol troues en uitstallings en die sonnewending, reeds vyf maande sedert ons vorige Crawl. Kom Saterdag was dit dus weer hoogtyd. Om een van ons getroue “lede” tegemoet te kom, ’n Ingelsvrou uit die Orkney-eilande wat altyd geduldig saamluister na die Afrikaanse gedigte sonder om veel te verstaan, was die tema dié keer Engelse gedigte.

   Gooi nou só ’n spul saam voor die kaggelvuur: Shakespeare, Blake, Ted Hughes, Sylvia Plath, T.S. Elliot, Seamus Heaney, Robert Frost, Wilfred Owen en andere, en jy kry nie net wonderlike poësie nie, maar driftige geselskap. Elke gedig het kommentaar ontlok óf oor die woorde self óf oor die digter daaragter. Wat my weer eens laat besef het hoe een enkele gedig die kruispad na ’n duisend wêrelde kan wees.

   Of jy dus loop of draf of slenter of kruip, doe so voort die wêrelde in. Daar voor wag woorde.

 

   NS: Met baie van ons plaaslike Poetry Crawl-lede wat mettertyd weggedryf het, wend ons ons nou tot ander belangstellendes wat ons van tyd tot tyd saamnooi. As jy naby genoeg bly om ’n aand in Cullinan te vertoef en ons hou genoeg van jou, kan jy dalk ons uitnodigingslys haal.

Bookmark and Share

Los kommentaar