Vertelling as tegniek in die liriese vers

Slegs aanskyn

Vertelling as tegniek in die liriese vers

 

Charl-Pierre Naudé

 

     Dit moet by voorbaat gestel word dat ek hierdie opmerkings as oorsigtelik beskou. Ek gaan dus ’n reeks breë gevolgtrekkings maak en dit dan toets aan ’n liriese gedig of twee wat myns insiens ’n baie sterk narratiewe karakter het, onder meer een van my eie gedigte uit In die geheim van die dag. 

    Die leser word gemaan om in gedagte te hou dat meeste terme in ’n literêr teoretiese gesprek relatief van aard is, ook in hierdie opstel.

    Om te begin: Dit lyk of daar histories ’n teenoormekaarstelling is van die narratiewe en die liriese. Hierdie teenoormekaarstelling, meen ek, is relatief onlangs want as mens na klassieke liriese digters soos Catullus, Horatius en veral Pindarus gaan kyk, is die narratiewe struktuur intrigaal deel van hul liriese verse. Hierdie digters vertel stories.  Iewers gedurende die afgelope 150 jaar is die liriese stem in die digkuns gelykgestel met die biegstem en met ’n onbemiddelde klem op die liriese ek. Meer onlangs, in die afgelope dekades, is hierdie aanname weer geproblematiseer op allerlei wyses in eietydse vorme van die liriese poësie en dit behoort opnuut ondersoek te word.

     Mens sien die historiese teenoormekaarstelling waarna ek vewys in katagorieë soos: die liriese ballade teenoor die narratiewe ballade; en die epiese (of verhalende) vers teenoor die liriese vers. Maar in alle soorte poësie het narratiewe en liriese elemente nog altyd naas mekaar voorgekom. Dit is maar net die een-tot-een verhouding (ratio) en balans wat verskil en wat uitgeloop het op die verskillende (tydsgebonde) katagoriserings. Soos wat die onderlinge verhouding tussen hierdie twee aartsbegrippe verskuif, sal nuwe katagorieë hulself aanmeld.

    In beginsel, glo ek, moet mens aanvaar dat daar geen streng of ewigdurende onderskeid is in hoe hierdie elemente voorgekom of gaan voorkom in die poësie nie.  Daar is sterk narratiewe elemente in die liriese biegpoësie van Totius; daar is ’n sterk liriese dimensie in die narratiewe ballades van Lorca; selfs uit-en-uit epiese poësie soos die Iliad van Homeros kan gelees word as ’n relaas oor die psige van ’n self, selfs as ’n bieging van daardie self, as ’n simboliese relaas oor indiwiduasie.

     Helaas, ek dink die ondersoek wat hier ter sake is, is nie na die verhouding tussen die liriese en narratiewe elemente nie, maar die verhouding tussen die liriese en meer volledige narratiewe relase. 

    Een groot verskil wat deur die onderskeid narratiewe vers/liriese vers geïmpliseer word, is myns insiens die volgende: die liriese word met subjektiewe uiting verbind, en die narratiewe (veral die epiese) vermoedelik met ’n objektiewe wêreld van gegewens en ervarings.

     Daar is myns insiens dus ’n geïmpliseerde verskil in die gehoor waarop die narratiewe en liriese vers homself rig. Dis asof die narratiewe vers wil hê vele lesers moet gelyktydig die gegewens kan eien. Die liriese vers, daarenteen, wil hê een enkele leser moet hom/haarself in die vers eien. Die narratiewe vers spreek ’n gehoor aan, die liriese vers spreek ’n enkeling aan.

     Die narratiewe vers verwys na ’n gedeelde ervaring, die liriese vers na ’n  eenmalige, (vermeende) onherhaalbare ervaring. 

   Dis veral laasgenoemde geïmpliseerde verskil wat in die stof byt wanneer die liriese vers hom tot narratief wend as middel vir liriese uiting. Die liriese vers is inderdaad in wese en strewe ’n subjektiewe uiting. En nou kom hierdie subjektiewe uiting en dit maak gebruik van een van die vernaamste middele waarin gedeelde ervaring homself uitdruk, naamlik die verhaal.

   Hierdie oorvleueling – van die narratiewe met die subjektiewe – is  op sy eie al genoeg om aanleiding te gee tot ’n uitkringende verdunning van verskeie ander verbandhoudende begrippe wat histories klinkklaar en helder teenoor mekaar opgestel gestaan het, soms selfs as binêre opposisies. Hier dink ek veral aan die aard van die sprekende “ek” in die liriese vers, en ook die aard van personasies in gegewens van die verhaal: Die personasies gaan verskil van die personasies in ’n prosaverhaal.   

     Die sprekende “ek” in ’n liriese vers wat gebruik maak van verhaal as struktuurmiddel, gaan verskil van die liriese “ek” wat hoofsaaklik gebruik maak van gevoelsuitdrukking en sensoriese prikkels. Dit gaan ’n ander soort “ek” wees, ’n verdunde (of versnyde) liriese ek. Hieroor meer verder aan.

     In die verhalende liriese vers gaan die personasies wat daarin mag voorkom insgelyks nou ’n ander soort betekenis hê as in ’n epiese vers. Die personasies in die verhalende liriese vers is in die eerste plek elemente van ’n sprekende self, nié karakters in ’n verhaal nie. Hierin gaan dit ook verskil van die personasies in ’n naratiewe ballade. Personasies (of figure) in laasgenoemde lyk vir my meestal veel meer na ’n sosiale teenwoordigheid, indien nie argetipies van aard nie, en dus algemeen verteenwoordigend van die mensdom.

     Die belangrikste element van narratiewe gedigte, naamlik die verhaal, se betekenis verander ook wesenlik as dit in ’n liriese vers gebruik word. Dit gaan per definisie ’n subjektiewe wêreld skets want dit kom dan voor in ’n liriese gedig. Hierin gaan dit verskil van die verhaalgegewe in ’n epiese gedig of in ’n narratiewe ballade, waar in albei gevalle die verhaal ’n kollektiewe waarneming veronderstel, dus meer “objektief” van aard is en meer algemeen verifieerbaar. Die verhaal by die epiese gedig en die narratiewe ballade (om nie eens te praat van in die prosagedig as filosofie soos in Nietzsche se Aldus spreek Zarathustra) fokus op ’n gemene deler deur middel van die verhaal. Die verhaal by die liriese vers veronderstel juis die afwesigheid van so ’n gemene deler.

      Die verhaal in die liriese vers bied dus ’n onderskeidende ervaring aan, nié ’n kollektiewe een nie. (Dit beteken natuurlik nie dat die liriese vers nie ook streef na universele toepasbaarheid nie. Maar dit wil by universaliteit uitkom deur middel van die onderskeidende, diep persoonlike ervaring, nie soseer deur middel van die gedeelde ervaring nie.)

     ’n Verdere element wat soms aan die bod kom in verhalende liriese verse is ’n mymerende element. Daarna is al verwys as ’n “filosofiese” element (myns insiens ’n gebruik van die woord wat misleidend kan wees). Waarskynlik word na hierdie mymerende element verwys as “filosofies” omdat dit verskil van, sê maar, die mymerende element by ’n liriese digter soos Elisabeth Eybers, wat meer sensories gebonde is. En die verskil is juis weens die sterker verhaal-aard van die verhalende liriese vers, wat die ruimte skep vir ’n ander soort mymering, een waarin rasioneel ontplooide gedagtes ook ’n rol kan speel.

     Maar die oogmerk van sulke gedagtes in ’n liriese vers speel ’n gans ander soort rol as dieselfde soort gedagtes in die filosofie! In die filosofie, en selfs by filosofie wat die epiese gedig as formaat gebruik soos Zarathustra, of die gedig as diskursiewe traktaat soos die De rerum natura van Lucretius, is die uiteindelike oogmerk die soeke na die voorwaardes vir gedeelde ervaring, meer spesifiek die voorwaardes vir kennis. By die liriese vers is die soeke na die “allerindiwiduele ervaring” (om Willem Kloos by te haal), dus na die nie-gedeelde ervaring.[1] By implikasie soek die filosofie na objektiewe maatstawwe vir ervaring, en die liriese poësie soek per definisie na subjektiewe maatstawwe daarvoor.

   Wanneer die liriese gedig verwys na ’n objektiewe kennisveld (omdat die soeke na objektiewe kennis ’n belangrike deel van ons subjektiewe lewens beslaan), is dit dikwels in effek ondermynend van die filosofie, nie ondersteunend daarvan nie. Dit kom voor binne die konteks van ’n teenoorgestelde strewe. Selfs wanneer ’n liriese gedig objektiewe kennis verifieer, gebeur daardie verifiëring in die terme van die hoogs moontlike subjektiewe ervaring, en dus eintlik per ongeluk. (Van die beste voorbeelde van “filosofiese” gedigte is te vinde in die moderne Poolse digkuns: Czeslaw Milosz, Wislawa Szymborska en Zbigniew Herbert, onder meer. En veral by die Sweedse digter Tomas Tranströmer.)

     Die “filosofiese” liriese gedig is dus wesenlik paradoksaal van aard. En die rede hiervoor is geleë in die paradoksale rol van die verhaalgegewe in die verhalende liriese gedig.)

    Ons sien dus dat die verhaalgegewe binne die liriese gedig nie dieselfde funksie vervul as in prosa of in narratiewe subgenres binne die digkuns self nie.

     Seker een van die belangrikste aspekte van die verhaalgegewe in sommige  eietydse liriese gedigte, soos ek dit bedryf en ook Danie Marais, is ’n sekere illusie van die afwesigheid van poëtiese vernuf of styl (uiteraard is dit slegs ’n illusie, want die styl is opsetlik versteek). Hierdie meganisme plaas die verhaalgegewe onomwonde op die voorgrond, juis deur middel van die oënskynlike afwesigheid van retoriese middelle. Dit  maak ook ’n alledaagse praat-toon moontlik wat die verhaalgegewe aanbied soos wat dit vermoedelik in die “regte lewe” voorkom.

   Die rede vir hierdie meganisme is omdat die gedig so min as moontlik skerms wil plaas tussen die leser en sy/haar identifisering met die situasies waarna verwys.

     Lewensgetrouheid is van die grootste belang vir sulke verhalende liriese gedigte, vandaar ook die praattoon wat dikwels deurslaan. (Was dit nie nog altyd so in die liriese digkuns dat lewensgetrouheid belangrik is nie? Maar die grense vir lewensgetrouheid het nog altyd versit, en dit het in onlangser tye weer versit.) Die gedig wil nie ’n geleier van ervaring wees nie, maar die ervaring self.

     Daarom ook dat die klem in die eerste plek op die onderwerpsmateriaal in die gedig val, en nie op die tegniek nie. Laasgenoemde sal versperrend werk. Die tegniek is dus voortspruitend uit die onderwerp en bly op die agtergrond.

     Waarom is volstrekte, realistiese identifisering met die situasies in die gedigte meer belangrik as ’n direkte belewenis van die tegniek? ’n Rede is onder meer te vinde in die volgende stelling van die Amerikaanse digter Raymond Carver in verwysing na wat hy probeer doen: “To imbue everyday objects with symbolic value.”

     Umberto Eco toon aan dat simboliek in die Postmoderniteit nie meer na vermeende vaste betekenisse buite die teks verwys nie (soos in die Middeleeue); of vermeende vaste inhoude in die psige van die mens (soos in die Moderniteit nie). Nee, dit tot kom tot stand binne die teks en is volledig afhanklik van die spanningsveld wat deur daardie teks tot stand gebring word. Die teks, en niks behalwe die integriteit van die teks self, verskaf die konteks vir die aktivering van simbool en metafoor. Die verifiering dat ’n bepaalde inhoud ’n simbool is, word nie gevind in verwysing na ’n meesterrelaas of ’n vermeende permanente waarheid nie, maar binne die tentatiwiteit van ’n bepaalde teks.

     ’n  Gedig wat lewensgetrou en oortuigend is, gaan makliker daardie simboliek aktiveer waar dit verskuil in die alledaagse voorkom. Die alledaagse het die plek geword vir die herbewapening van simboliek, wat sedertdien weggeval het uit die Hemel en ook uit die ryk van die Argetipes. En die gedig wil die leser direk binne daardie alledaagse aktiveringsveld plaas.

     Vir my persoonlik is die vernaamste funksie van die verhaalelement in my eie gedigte om soos ’n beeld te funksioneer sodat ’n bepaalde metaforiese of simboliese betekenis daardeur tot stand kan kom. Die verhaal word eintlik opgeneem/verteer deur die metaforiese of simboliese betekenisse waarna dit verwys en word die simbool, in ’n sametrekking- of verdigtingsproses wat die verhaal self nivelleer. Wat is hierdie funksie anders as die apostrofiese funksie van die digkuns?

     Hier wil ek lesers verwys na my gedig “Die besoeker” (In die geheim van die dag) as emblematies. Die gedig verskyn aan die einde van hiedie skrywe. Die verhaalelement hier werk gans anders as in prosa.

     Ek noem hierdie gedig omdat dit kwalik na ’n liriese vers lyk maar tog een is. Dit lyk eerder soos ’n stukkie epiek oor die geskiedenis van ’n bepaalde gebied in Namibië.  Dis die relaas oor ’n voornemende romanskrywer wat deur die streek reis op soek na die reservaat wat ’n uitgestorwe volk, die Bondelswarts. Hy tel dan ’n duimgooier op ’n verlate plek op, ’n vrou wat ’n toeris is uit Duitsland en ook deur die streek reis, en saam reis hulle verder, en vertel mekaar stories uit hul onderskeie lewens. Hier is dus verhale binne die verhaal ook boonop.  

     As jy nie die klankpatrone en die metrum raaklees nie, wat in wese dieselfde klankpatrone is wat jy in ’n konvensionele sonnet sal aantref net losser gespin, sal dit tegnies gesproke na ’n kortverhaal lyk. (Hierdie gebruik van tradisionele vormelemente maar op ’n losser manier ten einde ruimte in te rig vir ’n narratief, stem ooreen met die Amerikaanse stroming van “expansive poetry”.)

   Verder kom daar in die gedig ’n leimotiv voor wat nie normaalweg met die liriese digkuns verbind word nie, naamlik narratiewe uitsteltaktiek. Die Iliad – as voorbeeld van die epiek – is van hierdie tegniek aanmekaargesit, en prosa maak reëlmatig daarvan gebruik. Maar wat kan die liriese poësie wat sogenaamd van sterk gekonsentreerde, persoonlike uitings gebruik behoort te maak, daarby baat? Die antwoord is: enige iets wat enige ander genre daarby kan baat. Omdat die verhaal hier in diens van die liriek staan is die uiteindelike betekenis van al die verhaalelemente, ook die uitsteltegniek, in die eerste plek liries van aard en nie narratief nie.

    Die vers is ’n liriese vers hoofsaaklik omdat al die gebeure op die vertellende “ek” saamgetrek word op ’n manier wat wil suggereer dat dit hier gaan oor daardie ek en sy reaksie op gebeure, nie soseer oor  die gebeure self nie.

    En een rede vir die kombinasie van narratief en liriek is juis weens die spanning tussen die narratief en die liriek, nie in weerwil daarvan nie. Narratief verloop kousaal en tydsgebonde en liriek het die neiging om buite om kousaliteit te stol as’t ware in ’n tydlose moment, oftewel ’n enkele momentele gegewe.

     En dit gebeur dan ook in gedigte soos hierdie. Die kousaliteit word oplaas gekonsumeer deur die liriese uiting en uiteindelik daardeur opgehef.  

     Die uitsteltegniek in “Die besoeker” probeer iets sê oor die persoonlike psige se vermoë om wye draaie te gooi om ’n potensieel traumatiese besef en daardie besef se gewoonte om die ek herhaaldelik in ’n ander gedaante of situasie te besoek totdat die  besef uiteindelik tuiskom.       

     Hierdie gedig is al op geleentheid ’n spookstorie genoem. Maar die “spookstorie” tree helaas op as metafoor, of miskien eerder as allegorie, vir ’n bepaalde dilemma van die psige, en as die simboliese snoer van die elemente – die canyon, die waaiende gras, die vurk in die pad, et al – gevolg word is dit ’n gans ander soort relaas wat uit die verf tree as ’n spookstorie.

     Ek het hierbo verwys na die “verdunning” van die liriese ek in ’n narratiewe verhalende vers. Deur die narratiewe met die liriese te vermeng, word alle elemente wat tradisioneel van mekaar geskei was effens gewysig in hul rol en betekenis. Ek neem die “ek” in “Die besoeker” as voorbeeld.

    Deur die liriese ek (wat konvensioneel ’n onherhaalbare, onderskeidende ervaring aanbied) te versny met die narratiewe (wat ’n kollektiewe, verteenwoordigende ervaring aanbied), verloor die liriese ek sy “allerindiwiduele”, persoonlike aard en word dit meer van ’n  kollektiewe, verteenwoordigende liriese ek.

     Die kollektiewe aard van die “ek” in “Die besoeker” hang nou saam met die eintlike tema, met dit waarna die verhalende elemente heenwys en wat in die laaste reëls uit die verf tree: die rassistiese bewussyn se vermoë tot ontkenning maar sy gelyktydige versugting na oorskryding van die self. (Overgesetsynde: Ek het myself nog nooit as persoonlik rassisties gesien nie, maar as deel van ’n kollektiewe bewussyn met ’n bepaalde geskiedenis is ek dalk wel.)    

     Ek glo ’n soortgelyke versnyding sal waarskynlik ook van toepassing wees op enige ander liriese element wat ter sprake kom in die verhalende liriese vers.

    Die waarheid oor die liriese vers is dat dit in navolging van die mens ’n omnivoor is. Dit verorber alles en enige iets en seën dit aan eie liggaam.

      Twee invloedryke skrywers wat die liriese ek binne ’n ontplooiende narratief geplaas het en so die liriese poësie in ’n ander rigting gedruk het, veral tegnies gesproke, is C.P. Kavafis (Cavafy) en Kafka. In sy eie taal, Grieks, een van die bastions van die tradisionele liriese poësie, was Kavafis se gestroopte narratiewe styl vir lank verkeerd verstaan.

     En Kafka, ’n digter? Gaan kyk bietjie na sommige van sy kort prosastukke. Prosa is dit weldeeglik. Maar dis ook poësie. Hier het ons ’n perfekte oorvleueling van twee genres, oftewel werk wat in terme van twee verskillende genres ewe goed beskryf kan word. (’n Bemiddelende term wat homself miskien hier iewers aanmeld, is “vonkfiksie”, maar by laasgenoemde is daar myns insiens nie die sterk simboliese kontraksie – nie dieselfde, geïmpliseerde, verdigtende transformering – bespeurbaar as in Kafka se kort prosa nie, en dis juis laasgenoemde masjinasie wat daarvan ook ’n gedig maak, myns insiens.)   

   Ek haal een van hierdie “gedigte” van Kafka (vertaal in Engels) aan, nie die beste voorbeeld nie, maar die kortste een.

 

“The Trees”

For we are like tree trunks in the snow. In appearance they lie sleekly and a little push should be enough to set them rolling. No, it can’t be done, for they are firmly wedded to the ground.  But see, even that is only appearance.   

 

     Kafka, die prosaïs? Even that is only appearance, slegs aanskyn. Wat ons hier het is ’n gedig. G’n wonder nie die Kanadese digter Ann Carson impliseer dat Kafka een van haar vernaamste invloede is.

     En nou kan mens vra: Kan só ’n gedig, gestroop van die vormgewende middele wat met ’n gedig geassosieer word, enige iets wen deur digterlike vormgewing? Dit sal myns insiens die verkeerde vraag wees.

     Die regte vraag om te vra, is eerder: Wat sal die gedig soos hy nou daar staan verloor deur konvensionele digterlike vormgewing?  En die antwoord is: Baie. Te veel. Digterlike vormgewing sal die essensie van hierdie gedig skend in so ’n mate dat dit nie ’n gedig sal wees nie.

   Dus arriveer ons by die interessante punt dat digterlike vormgewing soms digterlik afdoen, selfs vernietig, totaal ondigterlik kan wees.

      En by hierdie gedigte van Kafka, soos ook by ander soortgelyke gedigte,  is dit die noodsaaklike klem op die verhaalelement wat die katalisator was vir die weggooi van eksplisiete vormgewing.

 

Die besoeker

 

Dis op vergeetbare dae dat die wêreld gemaak word,

deur ophaal en opteken, omdat niks anders gebeur nie.

Wagtend op iemand, in die dreuning van ’n voorportaal,

tel ek op ’n dag ’n reistydskrif op, Getaway:

asuurstrand, Landrover, sonbruin bikini-meisie.

Tydskrifpapier deesdae, dit ruik selfs na haar …

Ek was op reis deur die suide van Namibië destyds

tussen twee seisoene, om vir ’n roman na te vors

wat ek nog nooit geskryf het nie. Jare later

ontglip iets my nog, ’n reukvlaag, ’n skaduwee oorhoofs.

Ek sou beskrywings maak: ’n uitsig, vetplante, kontreistories,

vlaktes met some sintelberge so ver die oog loop;

klipkoppies, die dowwe wit kwarts wat glim soos hompe varkvet.

’n Versaakte nedersetting aan ’n oewer; die skraal, warm wind –

waar kaal rietrame fluit en tingel; bedekking hier en daar wat flap.

’n Stroomversnelling se eggo in ’n krans, op ’n video.

Waar die asfalt in gruis oorslaan, het ek haar opgelaai,

nie ver van Ais-Ais, 15h35 S/SW op die opgestelde videocam.  

’n Toeris, ’n besoeker uit Duitsland, vertel sy my.

Die aand slaan ons naas mekaar tent op in die kampeerterrein –

die soort vrou wat terugkeer van die ablusieblok

met ’n trop blaffende mans. Agter haar geur aan.

Later, waar ons saam staan op ’n canyonrots se oorhang,

ons gewig verdubbel, het ek besef ons word vriende.

Ek onthou, hoe sy dans op die karmusiek se maat, langs die pad –

een van haar tapes, van Dead Can Dance, al dieper

die lappies woestynveld in, onder ’n winterige son, en die blonde

polle boesmangras wat wild wapper soos haar eie bossie hare. 

Wat is die verskil, het ek gewonder, tussen lewend en nielewend,

wat op die oog af so eenders lyk? Ons het saam verder gereis.

Ek was op soek na die reservaat van ’n Griekwastam,

in 1922 met bomwerpers van die Eerste Wereldoorlog

uitgewis in die laaste koloniale stryd teen ’n inheemse volk,

op bevel van Jan Smuts, ’n stigter van die Volkebond.

Dit het nie meer bestaan nie. Nog minder die stam.

Ons het stories uitgeruil. Sy’t ver getoer deur Afrika.

Die man wat sy ontmoet het, wat geglo het hy’s Livingstone.

Die vrou van wie ek vertel is, ’n ryloper se spook
wat mans verlei, en heel bedrieglik ook. ’n Griekwa.
“Jy herinner bietjie aan hom, die Livingstone-kêrel.”

Ek, skouerophalend: “Skrywers is maar mislukte avonturiers.”

Ek’t haar dopgehou waar sy hare kam ná ’n spetterende stort

voor die spieël op ’n vervalle gasteplaas, deurskynend

met die lig van agter, gespyker teen die glans.

Die ver geluid van bokklokke, wat indryf op die wind …

“’n Ander storie in die ryloop gehoor.

Laer af. Hulle sê daar die locals hang ’n bok

se bekkenbeen in die deurpos op ’n paartjie se huweliksnag.”

Sy was nuuskierig oor sulke stories, ’n ontgoëlde stadsmeisie:

“As witmense só kon saamleef met hul bygelowe

sou ons die mislukkings van ons rede beter verstaan.”

Ek het haar tepels voel aandruk waar sy langs my lê

en praat onder die dakwaaier se gewiebel en -kraak,

’n tam wawiel wat spore klief  in ’n ander dimensie,

gemerk hoe haar oogglinstering in wasigheid omslaan,

toe sy oorleun om te reik na iets onbenulligs

en liggies haar aanraking oor my maag laat sloer.

In die omdraai het my klere verstrengel in ’n wip.

’n Lieflike vrou. Maar ek had verbintenisse.

Niks meer het gebeur nie. Maar my fantasie ontken ek nie.

“Wanneer jy laatnag ’n huis binnegaan, loop rug eerste in,

anders kom die nagspoke in wat heelnag lank

met jou sal plesier hê, en jou gestroop in die oggend agterlaat.”

“Wie wil só ’n lot misloop?” vra ek. En ons lag.

Haar oë rek: “Hulle sê ook, slaap jy met ’n gees

kan jy nooit weer ’n mens ten volle geniet nie.”

Oplaas mik ons vir ’n skiereiland, ondanks die stormwind.

Mis het oor die pad gesliert, lakens sand, ’n taai bruin reën;

skaduwees, van die stroke waaisand, die bewegende mis.

Dit was die dag voor ons paaie moes skei. 

Ek sou haar aflaai by die splitsing, in die hoofpad, by die vurk.

Met moeite slaan ons die tente op, sakdoeke op ’n kaap.

Wat is dit in die mens se aard wat blootstel skoonvee maak?
Die wind het die lanterns opgehits, die koolstofblaartjies

met ’n pluk gestroop. Die dae was somber, die nagte beenwit.

Ons het in een tent geslaap teen die loeiende storm.

Mekaar vasgehou. Niks meer, soos ek sê. Tog onthou ek

’n helder, intense droom, hoe ek sweef bo die tent in die nag

en afkyk op die lap wat freneties aan sy roedes bibber,

amper plat teen die grond gewaai om telkens weer

regop te spring, ’n duisend gietvorms van die figure binne.

Die plastiek het hul vorms laat bult en peul
in allerlei verdraaiings, sodat dit lyk of hulle stoei.

Hulle het posisies omgeruil, beurtelings bo,

’n tweeling wat driftig in hul baarmoeder groei –

die glimlagte wat teen die seil smak, ’n vryfprent van skedels …

Die volgende dag op die agt uur lange rit terug na die nasionale pad

deur woestynland het nie een veel gehad om te sê nie.

By die bestemde kruispad het ’n vragmotor al gewag

en onverwags skielik was die skeiding daar.

Ek het nooit die briewe ontvang nie wat sy belowe het
om te skryf wanneer sy terugkom in haar eie land.

Dis jammer hoe mense net kontak verloor.

En die videogedeeltes met haar op het skade gekry;

so ook my liefdesverhouding, tuis.

Vir lank nie aan haar gedink nie, mense kom en gaan –

tot nou die dag,

                           daai storie van die Griekwa wat spook

 

 

 

 

 

 

Bronne:

Franz Kafka, The Complete Short Stories: ed. Nahum N. Glatzer, Vintage, 2005.

 

Umberto Eco:  On Literature. Secker & Warburg, 2002.

 

Dick Allen: “Overcoming the tic of techniques: the emrgence of expansive poetry”. Op internet.

 

C-P Naudé, In die geheim van die dag, Protea, 2004

 

 


[1] Die term “nie-gedeelde ervaring” moet uiteraard relatief verstaan word in relasie tot “gedeelde ervaring”. Alle ervaring wat weergegee kan word in taal is wesenlik gedeelde ervarings, en liriese gedigte sou nie verstaanbaar gewees het as hulle nie op een of ander vlak ook met gedeelde ervaring gewerk het nie.  

en die bedrieglike gedaantes waarin sy verskyn.

Bookmark and Share

Comments are closed.