Andries Bezuidenhout. Stillewe – nuwe gedig

STILLEWE
(ter nagedagtenis, 27 Maart 1985)

Sluk elke buurt só swaar aan roem
wat wrang verteer wanneer fotograwe
hul lense elders wend,
wanneer joernaliste vingers lek
om notaboeke om te blaai,
as naasbestaandes rame oopmaak
vir plek om nuwe gesigte te hang?

Vanoggend se spitsverkeer suig weg
soos blare in ʼn stormwaterdrein.
Son sproei halfhartig deur bevlekte vensters.
Ruit op die deken dryf stadig hoek toe.
Op die plankvloer antwoord stof die lig
met ʼn silweragtige gemurmel.
Aan die staalplafon damp roes deur dekades
se lae en lae verf.
Laaikas dobber rug teen die muur.
Pootjiesbad skilfer bedompig af.
Kombuiskas protesteer onwelriekend
teen jare en jare se muwwe borde.
Wekker drup gedwee aan sekondes.
Waaier trap water tot volgende seisoen.
Verwarmervinne roei hittegolwe aan.
Koperdrade wurm onder die grond,
mond uit in lyne wat die Hoëveld oorspan
om yskaste en stowe met Witbank te verbind.

Mei se koue bekruip die buurt –
kil hierdie jaar reeds in April,
die dam se water ysig stil.
Motorwrakke, huise bak bleek in die oggend
sonder die klank van skoolkinders of honde.

Net soms nog dra name ʼn eggo
wat jy selde van naby kan hoor:
Westdene dam, Westdene bus.
Westdene bus, Westdene dam.

Bookmark and Share

Comments are closed.