Die lenige liefde

Die lenige liefde. Herman de Coninck. (Gedigte uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Pretoria: Protea Boekhuis. 132 pp. ISBN: 978-1-86919-302-7.

 

Die lenige liefde. Herman de Coninck.Vert. Daniel Hugo

Die lenige liefde. Herman de Coninck.Vert. Daniel Hugo

Aandag vir poësievertaling in Afrikaans is in die afgelope jare deur ‘n paar gebeurtenisse geprikkel. Eerstens het ‘n aantal bundels en bloemlesings met sulke vertalings verskyn. Daar was Afrikaanse omsettings van werk uit die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale (Antjie Krog: Met woorde soos met kerse, Kwela, 2002; en die sterre sê ‘tsau’, Kwela, 2004; Mokitimi, Lenake en Swanepoel: Swerfsange. Liedere van Basotho-mynwerkers, Van Schaik, 2004). H.P. van Coller het ‘n keur uit die Vlaamse gedigte van Luuk Gruwez vertaal (Bandelose gedigte, Praag, 2007), en M.M. Walters keure uit die Sjinese en Japannese poësie  (onderskeidelik Shih-Ching. Liedereboek, Protea Boekhuis, 2003, en Aki no kure / Herfsskemering – ‘n bloemlesing Japannese gedigte, Protea Boekhuis, 2006). Daniel Hugo se omdigtings van die Vlaming Herman de Coninck (Liefde, miskien, Queillerie, 1996) en die Nederlander Gerrit Komrij se digkuns (Die elektries gelaaide hand, Protea Boekhuis, 2005) neem in hierdie ry gerespekteerde plekke in.

            In die tweede plek het André P. Brink op gemotiveerde wyse vertaalwerk deur Uys Krige in Groot verseboek 2000 opgeneem, maar dit met die 2008-uitgawe van dié toonaangewende bloemlesing uitgebrei om ook vertalings deur H.J. Pieterse, M.M. Walters, Cas Vos, Antjie Krog en H.P. van Coller in te sluit – dié keer sónder kennelike motivering en konsekwentheid.

Laasgenoemde het tot polemiek aanleiding gegee op die webblad LitNet, terwyl dit ook aandag getrek het op die webblad Versindaba.

            Ek begin al hoe meer dink dat poësievertaling een van die heel riskantste literêre ondernemings is. Nie net word met ‘n nóg skerper oog na die verkoopbaarheid daarvan gekyk nie; ook literêr-krities word dit waarskynlik noukeuriger onder die loep geneem as selfs oorspronklike digwerk in Afrikaans. Veral as die brontaalgedigte daarmee saam gepubliseer word, soos in die geval van Hugo se vertaalwerk.

            Anders as met ‘n bundel oorspronklike gedigte, sit die leser dan met “ideale tekste” waarteen hy die vertaalde weergawes kan opweeg.

            En tog: Lees ‘n mens werk soos die waaroor hierdie resensie handel,  weet jy weer met sekerheid dat dit van onmisbare belang vir ‘n kultuurtaal is – dat dit ‘n kosbare geskenk aan Afrikaans behels deur sowel die vertaler as die uitgewer. Van oorspronklike Engelse werk kan ‘n mens nog argumenteer dat dit in elk geval toeganklik is vir Afrikaanse mense, maar skaars nog van Nederlandse literatuur. Om nie eers te praat van tekste in die ander inheemse of vreemde tale nie.

Hoewel die uitgee van poësievertalings dalk nie veel onmiddellike sakesin maak nie (soos in die meeste gevalle eintlik ook nie die publiseer van oorspronklike digwerk nie), maak dit kulturele en taalsin – en is dit dus tog ook gesonde uitgewersbesigheid met die oog op die toekoms.

Gunther Pakendorf skryf byvoorbeeld in Rapport-Perspektief van 24 Februarie 2008, na aanleiding van H.J. Pieterse se Afrikaanse vertaling van die Duitstalige digter Rainer Maria Rilke se Duino-elegieë (Protea Boekhuis, 2007), dat die “kwasi-mistieke ervaring” van “universele heelheid” wat deur Rilke in dié elegieë uitgedruk word, “net deur middel van die kuns én deur die begenadigde digter moontlik” is.

Sonder sulke fyn kuns, wat op onvervangbare wyse uitdrukking gee aan die mees verhewe of mees diepgevoelde menslike ervaringe, kan ‘n taal kwalik op die lange duur voortbestaan. Want dan sal van sy toonaangewendste mensemateriaal (dié wat dikwels ook ywerige boekkopers is) hom verlaat, omdat hulle geen volle geesteslewe in hom kan voer nie.

Vernuwing is ‘n ander voorwaarde vir ‘n letterkunde om sy lesers taalgetrou te hou. En vernuwing van ‘n literêre sisteem kan deur middel van vertaling “ingevoer” word. Dit het Krige se werk bewys. Daarvoor het Brink hom tereg erkenning gegee.

Met Die lenige liefde bou Hugo en Protea Boekhuis voort op die genoemde Liefde miskien deur nie net ‘n keur uit De Coninck se eerste drie bundels in te sluit nie, maar uit sy hele poësie-oeuvre. (Terloops: Hoewel ‘n mens kan verstaan dat die uitgewer nie wou hê dat die nuwe bundel te dik word nie, is dit tog jammer dat ‘n hele aantal van die onvergeetlike gedigte wat in Liefde, miskien gestaan het, dié keer weggelaat moes word.)

‘n Verhelderende voorwoord help om De Coninck se digkuns te ontsluit. Eerstens word sy voorkeur vir die vergelyking as beeldspraakvorm uitgelig. (“Ach, de troost van een vergelijking, / het helpt bijna. Zodra ik nog maar ‘zoals’ / hoor, wordt alles minder alleen”, lui dit in die gedig “Bas-Oha 5”.) Voorts word die sentrale temas van sy werk aangestip (die liefde, die natuur, die dood en die poësie), asook sy kenmerkende benutting van elliptiese sintaksis, en van woordspel en idioomverletterliking om meerduidighede te bereik.

Terselfdertyd gee Hugo ook ‘n idee van die uitdagings waarvoor hy as vertaler te staan gekom het.

Soos gesê, moedig die telkense plasing van die Afrikaanse vertalings op die bladsye teenoor die oorspronklike Nederlands onvermydelik vergelyking tussen bron- en doeltekste aan.

Waardering moet uitgespreek word vir die grootliks oortuigende digterlike omsettings. Op ‘n aantal plekke is selfs poëtiese winste in die oorsetting na die Afrikaanse idioom behaal. Let byvoorbeeld op die voordelige (sensueel suggestiewe) dubbelsinnigheid wat met die woord “aangevang” in die volgende vertaling bereik word;

 

Zij draagt een jeans nauwsluitend

als slangehuid rondom de slangen

van haar benen, en daarover draagt zij

uitsluitend Franse dingen, onder het motto

vorm en inhoud zijn één. O, soms

denk ik inderdaad dat verstand

slechts dient om achteraf te beseffen

wat je gedaan hebt.

 

Sy dra ‘n paar jeans nousluitend

soos slangvel rondom die slange

van haar bene, en boontoe dra sy

uitsluitend Franse goedjies, onder die motto

vorm en inhoud is een. O soms

dink ek inderdaad dat verstand

slegs dien om agterna te besef

wat jy aangevang het.

 

In ‘n artikel oor Die lenige liefde wat in Rapport Boeke van 5 Julie 2009 verskyn het, wys Hugo self op die “onverdiende geskenk” van die Afrikaanse ekwivalent “Bpk.” – juis ná die noodgedwonge prysgawe van die Belgiese konteks aanduidende “comme il faut” – in die volgende gedeelte uit die gedig “St. Ives, kerkhoffie”:

 

Heden en verleden ontmoeten

elkaar hier op elke hoek, en dan groeten

ze, deftig comme il faut,

Heden en Verleden, van de firma Tijd en Co.

 

Hede en verlede ontmoet

mekaar hier op elke hoek, en dan groet

hulle, deftig soos twee here,

Hede en Verlede, van die firma Tyd Bpk.

 

Ek noem ook graag die vindingryke ver-eienaming “Kortverblyf” in “Oostduinkerke 2” (na analogie van “ter Branding” hoër op in die gedig):

 

                        Wij komen hier maar één keer per jaar.

                        Zo kort is blijven.

 

                        Ons kom hier net een keer per jaar.

Eintlik dus: “Kortverblyf”.

 

Byna onvermydelik is daar egter ook plekke waar vraagtekens by die leser ontstaan oor sekere vertaalwyses. Hugo noem dat die hantering van die ritmies lompe perfektum-verledetydsvorm in Afrikaans vir die gedigvertaler problematies is, terwyl die imperfektumvorm in byvoorbeeld Nederlands digterlik beter werk. Vandaar dat meestal vir die teenwoordigetydsvorm in Afrikaans gekies word, met ‘n hulpwerkwoord van tyd soos “toe” om die gedig tydsgewys te plaas. In ‘n gedig soos “Genesis”, waarin sowel die onvoltooide as die voltooide verlede tye voorkom, verg dit dan besonder fyn voetwerk om al die regte tydtrappies raak te trap.

 

Hier en daar het ek gevoel dat vertaalde gedeeltes semanties nie heeltemal klop met die bronteksfrases nie. Vergelyk die slotreël van die gedig op bladsy 116 met sy Afrikaanse omsetting:

                       

                        Ik probeer haar even te hebben laten gaan.

 

                        Ek probeer ‘n bietjie om haar nie te mis nie.

 

En verklap “as dit met jou gebeur” vir “als je klaarkomt” (bladsye 40 en 41) ‘n vleugie preutsheid aan die vertaler se kant?

            “Bosse vol knapperige gehakketak van hout” (bladsy 67) kom weer vir my alte letterlik vertaald voor.

            Elke keer as die vertaler frases of woorde uit die bronteks weglaat, trek dit aandag. Byvoorbeeld “kapotte nerven” in die eerste reël van die gedig op bladsy 66 (wat eers met “verkalkte nerf” in die slotreël reggestel word, maar dan met prysgawe van “knoken” dáár); of die (funksionele) herhaling-met-woordspel van “zandkorrels, zandkorzels” in die gedig “Pointillisme” (wat Hugo reduseer tot “sandspikkels”). Ewe opvallend, en nie altyd verklaarbaar nie (behalwe indien dit om ‘n gebrek aan bladspieëlruimte gaan), is wanneer Hugo woorde aan die einde van reëls in die bronteks na ‘n volgende reël verskuif in die doelteks.

            Op ‘n paar plekke (byvoorbeeld bladsye 81 en 123) kom weer klein byvoegings voor tot wat in die brontekste staan, sonder om die betekenisse wesenlik te raak. Oral in die gedigte word egter ‘n neiging duidelik om lidwoorde (bepaald én onbepaald) toe te voeg waar De Coninck dit weggelaat het. Waar Hugo in die “Inleiding” juis op die sintaktiese ellipsering wys as kenmerk van die Vlaamse digter se werk, kom so iets vir my as ‘n ongerymdheid voor.

            Alles in ag genome dus ‘n geslaagde omsetting in Afrikaans, hoewel nie sonder vlekke nie.

            Wat egter buite kyf staan, is dat Die lenige liefde iets waardevols bydra tot die Afrikaanse poësieskat.

 

Bernard Odendaal

Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein

 

Bookmark and Share

Comments are closed.