Die panorama in my truspieël

Die panorama in my truspieël. Daniel Hugo. Protea Boekhuis. Prys R130,00.

 

Die panorama in my truspieël

Die panorama in my truspieël

Sewe jaar het verloop sedert die verskyning van Hugo se vorige digbundel, Die twaalfde letter.

Soos ‘n mens nou al verwag aangaande hierdie vernuftige digter, is die titel van hierdie dertiende bundel van hom meerduidig. Dit laat, soos die fasette van ‘n geslypte kristal, verskillende kante van die bundelinhoud voorafskaduwend flonker.

Die titel is ingegee deur die slotgedig, Die lang pad, waarvan die tweede laaste strofe lui: “die spieëltjie laat wat die wye voorruit bied / verdwyn in die niet van sy agterstevoor verskiet”. Verganklikheid en dood, waarby die omgewingsbedreiging deur die menslike doen en late inbegrepe is, word sodoende as een van die temakomplekse aangekondig.

Maar ook ‘n tru-gerigtheid by die middeljarige spreker op die hiermaalse (met genietlikhede en vertroostinge soos die natuurdinge en die huweliksliefde), eerder as op die hiernamaalse wat voorlê, is ter sprake. Soos dit in die bundelmotto gestel word: “Ik heb het tijdelijke met het eeuwige vaak genoeg verwisseld in mijn poëzie om te weten dat ik het tijdelijke wil.” (‘n Uitlating deur die gestorwe Vlaamse digter Herman de Coninck, van wie Hugo talle verse in Afrikaans vertaal het.)

In ‘n paar gedigte is Hugo dan ook satiriserend knorrig oor en teenoor God. Die openingsgedig bevat reeds ‘n voorbeeld hiervan.  God word as ‘t ware beskuldig dat Hy “sy rug op ons gedraai” het, maar tog “nuuskierig” genoeg is om deur middel van “sy kosmetiese spieël, / die maan … oor ‘n koue skouer na ons te kyk”. En dan volg die satiriserende – ook selfsatiriserende! – steek: “mens sou dink God is ‘n digter: hy leef per-vers”.

Die satire word enersyds sterker gemaak deurdat dié reël die gedig God die digter van die oortuigde religieuse digter T.T. Cloete eggo. Andersyds verklap die benutting van die koppelteken om die dubbelsinnigheid van “per-vers” te aktiveer, die nogalse gesogtheid van die (self-)satire hier.

‘n Tweede tema wat deur die bundeltitel aangekondig word, is die haglike strewe na voorstelling, weerspieëling of bevatting van die grote in die kleine, byvoorbeeld van die werklikheid in die kunswerk (gedig). Die oorweldigende werklikheid en die kosmiese kragte (soos die verganklikheid) wat daarin werksaam is, kan helaas nié deur die mens se tegniese venuf kleingekry word nie. Vergelyk gedigte soos Die hakkelaar, Natuurdigter, Lees by lamplig, Bestemming en Die lang pad.

Boonop – en hiermee word ‘n derde tema aangedui – is ons, via byvoorbeeld die taal of die poësie (as soorte “spieëls”), net in staat tot ‘n bemíddelde blik op die dinge.

Hugo s’n is ‘n besonder bewuste digterskap. Verwysings na “die digter”, digterskap en die digkuns (ook via literêre toespelings) kom dwarsdeur die bundel voor. Die onverhulde taal- en verstegniese vernuf in Hugo se werk is verder sprekend hiervan.

Woordspel en uitbuiting van betekenismeerduidighede; ‘n voorliefde vir ironisering en paradoksikalisering (treffende oksimorons kom byvoorbeeld op bladsye 15, 39 en 61 voor); sterk klank- en ritmiese gevoeligheid; en vindingryke maar ook tot sluiting deurgewerkte beelding (waarvan onder meer ‘n Etmaal ‘n treffende voorbeeld is) – dit is alles opvallende “digterlike” kenmerke van sy werk. Sodanig dat daar kritiek kan wees dat dié selfbewuste kunstigheid (soos byvoorbeeld ook in Hennie Aucamp se werk) na die kunsmátige neig – dat die vernuf vertonerig word.

Humorvolheid (al is die humor by hom dikwels sardonies getint) en die selfironiserings bewaar egter werk soos Hugo s’n van estetiese selfingenomenheid. Humor en vernuf het in hierdie geval gesamentlik eerder ‘n onderhoudende, vermaaklike werking.  

Dit beteken nie dat sy (Afrikaanse) digterskap vir hom geen hartstogtelike, lewensbepalende saak is nie: “ek is … / lewenslank geklink aan my minerale taal: / helder simbaal uit hierdie land se erts gepuur”. Hy is net weerbaarder as hy sy liefde vir die taal en die letterkunde al draak stekend kan verklaar, soos in die gedig Loflied op die letterkunde.

Indiwiduele gedigte verkry groter resonansie vanweë hulle ingebedheid in ‘n redelik hegte bundeleenheid. Spieëls en weerkaatsings, skaduwees en die spel van lig en donker is motiewe wat soos ‘n draad deur Die panorama in my truspieël vleg.

Daar is geen formele gediggroepering in afsonderlike afdelings nie – wat op sigself al ‘n teken van intergedigtelike samehang is. Gedigréékse is wel te onderskei. Soms is hulle op tematiese grondslag saamgegroepeer; ander kere, soos in die geval van die haikoes en kwatryne, vormlik. Tematiese eggo’s sorg egter dat die reekse ook onderling geskakel bly.

Die eerste drie en die laaste vier of vyf gedigte in die bundel sluit tematies sterk by mekaar aan, met name rondom die verganklikheidsgedagte. Daardeur vertoon die bundel ‘n bykans sikliese opbou. Nie verniet nie lui die slotreël van die slotgedig: “”begin is bestemming en bestemming is begin”.

Die bundelsamehang, saamgetrek in die meerduidige bundeltitel, bring mee dat selfs ‘n oënskynlik lawwe gediggie soos die volgende se betekenislading toeneem: “die gekolde gans / is te groot en luidrugtig / vir hierdie haikoe” (geen haikoe).

In vergelyking met sekere tydgenote van hom, weerspieël die bladruimte wat aan Hugo se werk in die jongste samestelling van Groot verseboek afgestaan is, myns insiens nie sy relatiewe belang as digter nie. Hopelik kry ‘n hele paar verse uit Die panorama in my truspieël hul verdiende plek in ‘n volgende uitgawe van die boemlesing.  

 

Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

Gedig uit Die panorama in my truspieël :

 

Loflied op die letterkunde

 

Ek het die Afrikaanse letterkunde lief:

elke letter het ek lief, die kleinste setfout,

die slap anglisismes, die anachronismes,

elke taalfout en die blatantste plagiaat.

 

Ek het die dom skrywers lief, die lui redakteurs,

die gesette uitgewers, die skraal kritici

en die analfabetiese boekhandelaars:

die totale, banale bedryf het ek lief.

 

Maar bowenal het ek die verpulpers lief:

van boeke maak hulle bruikbare bokse

waarin jy die hele letterkunde kan pak

vir snelversending na die naaste pulpfabriek.

Bookmark and Share

Comments are closed.