Lang reis na Ithaka

Lang reis na Ithaka.  Dolf van Niekerk. Pretoria: Protea Boekhuis. Prys R100.00

 

Lang ries na Ithaka
Lang ries na Ithaka

Dolf van Niekerk se prosa- en radiowerk het hom talle toekennings besorg. Sy bydrae op die terrein van die digkuns het in 2006, met die verskyning van Nag op ‘n kaal plein, ook weer onder die aandag gekom.

Met Lang reis na Ithaka, sy vierde digbundel, vier Van Niekerk sy tagtigste geboorteherdenking vanjaar.

Die oud-Griekse verhale oor Odusseus se gebeurtenisvolle reis na sy tuisstad Ithaka en na sy vrou Penelope, ná afloop van die slag om Troje, vorm die sentrale gegewe van die lang titelgedig aan die einde van die bundel. Dié mitiese vertellinge dien egter ook ‘n metaforiese funksie in die res van die bundel, naamlik om die “ek” se laat lewenspad, onderweg na die verlangde hereniging met die geliefde in die uiteindelike tuiste van die dood, aan te dui.

In wese gaan dit in die bundel oor die lewensfeit dat ons almal net “in onbepaalde tyd […] vertoef”. Kenmerkend verkeer die “ek” in hierdie gedigte meestal op die grense tussen, aan die een kant, droom, herinnering en verlange en, aan die ander kant, die werklikheid. Lewe en dood is geen duidelike teengesteldes meer nie. Wat oorbly, is eintlik net die begeerte “[o]m stil te wees, / die self in self te keer / en tuis te kom in tuistelose / ruimtes van die gees” (slotgedig). In ‘n sekere sin is die bundel opgebou om hierdie reis, algaande weg van die reële, aktuele wêreld af, te weerspieël.

Die openingsafdeling heet “Pellafolio”. Pella was die antieke hoofstad van koning Argelaus van Masedonië, maar ook die geboorteplek van Aleksander die Grote. Dit roep dus enersyds die antieke Griekse werklikheid op wat in ‘n aantal van hierdie gedigte (“folio” sinjaleer waarskynlik die skryfgegewe), maar ook later in die bundel figureer. Pella is egter ook ‘n pleknaam in die Noord-Kaap. En inderdaad val verwysings na plekke en geografiese verskynsels uit die dorre, meer verlate dele van ons land op in hierdie afdeling. ‘n Fisiese reis word gesuggereer, hoewel byna deurgaans gepaardgaande met herinnerings- en hunkeringsreise.

In “Historia”, die tweede afdeling, staan (die rekonstruering van) die verlede voorop. Die vroeëre evolusionêre bestaan in water word te berde gebring, ook die geboorte van die “ek”. Maar veral die bestaan saam met die geliefde staan in die kollig, naamlik soos dit (her-)beleef word in herinneringe en drome. Om te dig daaroor word gesien as ‘n poging om gestalte aan die ervaring te gee en sodoende iets daarvan “tasbaar en begryplik” te maak (“dié hunkering”).

Van fisiese reise is daar egter geen sprake meer nie. Trouens, die waarnemingswerklikheid is beperk tot ‘n wêreld agter glas (waarskynlik binnenshuis) en tot die daarbuite betragte tuin met sy seisoene (veral herfs en winter).

In die slotafdeling verdwyn die ek-as-digter en die aktuele werklikheid dan heeltemal. Odusseus word aan die woord gestel om oor sý wedervaringe van vanslewe te vertel.

Die neiging na stilistiese vervaging in die bundel hang met die uitbeelding van ‘n grensbestaan saam. ‘n Mens sien dit reeds in die feit dat, op die slotgedig na, geen van hierdie verse getitel is nie. Ook kom helder, tekenende beelding selde voor. Trouens, die beeldspraak is eerder meer geyk, meer simboliserend van aard. Meermale word abstrak benoemend of betogend te werk gegaan. Vergelyk die slotsin van die gedig “365 dae rek ek die ure”: “Die hart moet maar / ‘n ompad vind, die brein sy onmag / toedig aan die verste ster. / Maar ek het mos vergeet: / Die wonder van liefde is idee.”

Onbepaaldmakend, selfs vertroebelend, is voorts die feit dat dit soms moeilik word om te onderskei wie of wat deur voornaamwoorde soos “ek”, “hy”, “jy”, “sy” en “ons” aangewys word. Wie of wat is byvoorbeeld die “jy”  in die gedig op bladsy 46 (naas die implikasie dat dit die gestorwe geliefde kan wees)? ‘n Piet-my-vrou, soos afgelei sou kon word van die eggo uit Elisabeth Eybers se bekende gedig oor dié voël wat ‘n mens in die uitdrukking “drie note” hoor?

‘n Hele aantal verdere sintaktiese en beeldtroebelhede is aan te stip. In “Die najaar gly” word byvoorbeeld eers beskryf hoe die najaarsbome hulle blarekleed verloor. Dan vervolg die digter met die volgende beeldopstapeling oor die ontketende liefdesverlange, myns insiens sónder dat die verband tussen die seisoensverandering en die ontketende liefdesverlange, óf die metaforiese spronge vanaf winterkaalbome na liefdeswortels-in-die-lug na migrerende voëls na “die magneetveld van die hart” noodwendig (genoeg) gemaak word: “en liefde maak wortels / in die lug, / nêrens vas nie, sweef op die rug / van voëls en duiwe, / sonder horison / maar  gebind aan die / magneetveld van ‘n hart.”

Ook ontgaan die implikasie van die slotreëls van die gedig “Hierdie stilte oplaas” my: “Ek verbeeld die Groot Knal / sonder knal waar klank / gebind is in ‘n heelal, / maar toe ‘n konstellasie breek / ontsnap daar klank oor ‘n planeet.”

Van Niekerk ontkom nie aan die wesenlike gevaar van mistifikasie wat die bepaalde tematiek en die genoemde vervagende tegnieke inhou nie. Boonop ontgin hy die idee van die onbepaalde grensbestaan nie diepgaande genoeg om deurgaans boeiende verskuns daar te stel nie.

 

  • Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Bookmark and Share

Comments are closed.