Onderhoud: Daniel Hugo

’n Minimum woorde met maksimum betekenis

 

 

Daniel Hugo gesels oor sy digbundel

Die panorama in my truspieël met Louis Esterhuizen.

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

   

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ’n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël, uitgegee deur Protea Boekhuis. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou ’n vryskut-taalpraktisyn. Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, uitgewer en bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke.

 

 

 

 

 

Daniel, jou dertiende digbundel se titel is besonder ryk aan resonansie – vertel ons wat dié titel alles vir jou inhou en hoe jy dit in die bundel ontgin het.

 

Hoe ouer ’n mens word, hoe groter word die verlede en hoe kleiner die toekoms. Die poësie is dan ’n manier van terugkyk op daardie wyer wordende panorama; dit is ’n truspieël waarin jy die verlede kan beskou sonder om die (gevaarlike) toekoms uit die oog te verloor. In “Bestemming” stel ek dit só:

 

                              ek kantel verse soos ’n spieël

                              om oor my skouer te kan tuur:

                              vlaktes, kronkels van ’n rivier

 

                              ek sien hoedat iets my inhaal

                              – ’n gevaarte met baie asse –

                              en voor wag smal draaie, wag passe

 

En tog bevat hierdie bundel minder verse oor my jongdae as my twee vorige bundels, Skeurkalender (1998) en Die twaalfde letter (2002), met hulle “Almanak”-gedigte. Miskien moes ek die titel Die panorama in my truspieël gehou het vir my versamelde gedigte!

 

Die spieël van die poësie kan natuurlik ook die hede vir jou wys – nie net wys nie, maar ook genotvol verdubbel, soos in die hedonistiese gediggie “Naak”:

 

                              my allerliefste staan kaalgat

                              sy rek haar uit voor die spieël:

 

                              in ’n blink vywer bibber daar

                              vinkneste aan ’n wilgerlat

 

Die tipografiese voorstelling van ’n gedig (of enige ander teks) word inderdaad die “bladspieël” genoem.

 

Vir my was hierdie bundel van jou ’n besonder aangename leeservaring. Ek het veral gehou van die aandag aan klein lewende wesens soos voëls, krieke, trapsuutjies en andere en hoe jy dit kontrasteer met die wyer panorama van die lewe. Kan jy dalk hierop uitbrei?

 

Ek ervaar die wêreld wel as ’n deel van die groot heelal, maar ek beperk my graag tot die klein dingetjies. En dié klein dingetjies beskryf ek dan by voorkeur in kort gediggies. Dit is veral muskiete wat my so irriteer dat ek oor hulle móét skryf. In Panorama verskyn daar ’n muskiet in “Lees by lamplig”. Dit is nie toevallig dat ek die muskiet as ’n woord met vlerke beskryf nie. Die prikkel (die skril muskiet) en die produk (die gedig) word een, met dié verskil: “Digterwoorde … is onskadelik: / selfs die skerpste hou jou selde uit die slaap”.

Daar word dikwels na jou gedigte verwys as vernufpoësie. Is jy gemaklik met hierdie etiket en wat – na jou mening – word hiermee bedoel?

Om die waarheid te sê is ek die een wat dié benaming gangbare literêre munt gemaak het in my proefskrif van 1988 (Die digter en sy middele: ’n Ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans). Tot op daardie stadium is wat in Engels bekendstaan as “poetry of wit” in Afrikaans “geestige poësie” genoem. Te veel mense het egter die betekenis “humoristies” aan die term geheg, in plaas van “verstandelik”. Vernufpoësie kan natuurlik humoristies of speels wees, maar dit is heel dikwels doodernstig van aard. Die belangrikste kenmerk van vernufverse is die intellektuele spel met die taal en/of die versvorm. In my proefskrif het ek oor die verwikkelde poësie van Merwe Scholtz en J.C. Steyn geskryf.

Ek is in my noppies as die kritici my ’n vernufsdigter noem, omdat die poësie vir my in die eerste instansie taal- en versontginning is en nie die uitstal van emosies nie, selfs al gaan dit oor diepgevoelde ervarings.  

Jy het nog altyd ’n voorkeur vir ’n korter, meer kriptiese vers gehad. Waarom?

 

’n Gedig is vir my iets wat “dig” moet wees. Die digter wat die grootste invloed op my gehad het, was D.J. Opperman met sy “laaggedigte”. Die ideaal is om ’n minimum woorde met maksimum betekenis te laai. Dit kan lei tot geforseerdheid en duisterheid, maar met die nodige balans kan ’n mens kragtige effekte bereik, soos Opperman in sy kort gedig “Nagstorm oor die see”. Hierin word ’n donderstorm en ’n erotiese samekoms gelyktydig beskryf:

 

                                 Het die onrustige see hom verwag,

                                 die groot grys voël van die berge

                                 sku uit die nag?

 

                                 Sy silwerige vlerke het trillend verbree,

                                 krysend sy nartjie-rooi snawel

                                 gesteek in die see.

 

                                 Toe styg hy op druppende vlerke en vlug

                                 met hese gesang

                                 na die berge terug.

 

                                 (Uit: Versamelde poësie, Tafelberg en Human & Rousseau)

 

Kort, gebonde versvorme soos die haikoe, Persiese kwatryn, limeriek, villanelle en sonnet bied ’n onweerstaanbare uitdaging aan die digterlike vernuf. Om ’n geslaagde vrye vers te skryf is sekerlik ewe moeilik, maar dit was nog nooit vir my ’n groot verleiding nie.   

 

Die reaksie op jou optrede tydens verlede jaar se Versindaba was oorweldigend positief; talle lede van die gehoor het byvoorbeeld na jou voorlesing kommentaar gelewer op jou gebruik van humor. Is humor iets wat toenemend belangrik geword het vir jou in jou poësie?

 

Ek dink so, ja. Maar lagtrane is soms moeilik te onderskei van huiltrane.

 

Jou hantering van die liefde as tema in jou verse is ook besonder treffend. Enkele jare gelede moes jy op Stellenbosch aan ’n kollokium deelneem wat as tema gehad het: “Gaan weg, sodat ek oor jou kan skryf.” Is dit vir jou makliker of moeiliker om oor die geliefde skryf wanneer sy so heerlik en volledig teenwoordig is in jou lewe?

 

Mag ek antwoord met ’n gedig uit die bundel? Die titel is “Kortsluiting”:

 

                                 in kerslig ontklee jy jou vir my –

                                 die dans van lig en skaduwee

                                 laat versreëls in my vingers flikker

 

                                 maar as jy skielik die kers uitblaas

                                 blus die hele stad se ligte:

                                 hoor, gesinchroniseer, ons sugte

 

                                 (gedigte moet noodgedwonge wag

                                 vir die reëlmaat van die nugter dag)

 

Die geliefde hoef dus nie weg te gaan voor ek oor haar kan skryf nie, maar die passie kan eers verwoord word as die digter nugter en alleen in sy studeerkamer sit. Met die gedig word die swoel emosie afgekoel en rasioneel verwoord. Pogings om die taal self te laat hyg, om dit te “erotiseer”, ly dikwels tot banaliteit of sentimentaliteit.

 

Die panorama in my truspieël bevat ’n aantal natuurgedigte, selfs al sê jy “Natuurgedigte laat my maklik gaap” in “Lees by lamplig”. Watter uitdagings stel natuurpoësie aan ’n digter?

Wanneer jy ’n natuurgedig skryf, betree jy eintlik die terreine van die musiek en die beeldende kuns. Die natuur is nooit stil nie: water klater oor rivierklippe, wind ruis in die blare van ’n populier, duiwe koer in die eikebome, donderwolke rammel, branders dreun langs die kus, ensovoorts. Hierdie geluide kan in die taal weergegee word deur klanknabootsende woorde soos klater, ruis, koer, rammel en dreun, maar dit is ge-ykte woorde. Die uitdaging vir die digter is om die natuur se musiek op ’n nuwe, treffende manier te beskryf.

 

Die natuur is ook ’n visuele skouspel wat bestaan uit lyne, vlakke, volumes en kleurskakerings. Eintlik is dit nog moeiliker vir die digter om met die beeldende kunstenaar te kompeteer. Die woord “ruis” gee ’n goeie idee van hoe wind in blare klink (dit is ’n woord wat die oor oortuig), maar die woord “blou” gee geen idee van hoe die kleur lyk nie (die oog bly ontevrede). Die digter kan hom eintlik maar net verlaat op beeldryke omskrywings, soos in die volgende reëls van N.P. van Wyk Louw:

 

die aardryk is vandag puur blou

dis bosduifblou en erdeblou

en rand-om kleinkat-oog se blou.

 

(“Klipwerk” uit: Versamelde gedigte, Tafelberg en Human & Rousseau)

 

In “Natuurdigter” het ek die wesenlike onmag van die natuurdigter probeer verwoord:

 

                                    kyk, die varkoorlelies langs die watervoor

                                    is bewus van hom, hul luister tuitoor

                                    na wat uit die digter se mond gaan kom

                                    maar al wat hul hoor, is die watervoor

 

                                    die digter beny die blinkoogwater

                                    wat so vloeiend bly babbel in die voor

                                    wat so poëties, so klankryk klater

                                    om daardie tuitoorlelies te bekoor

 

Ek vermoed dat elke digter ’n intuïtiewe aanvoeling het van die ideale vers wat hy graag sou wou skryf; waarskynlik is dit die rede waarom ons aanhou met gedigte maak, aangesien hierdie ideaal nooit verwesenlik (kan) word nie … Watter vers sou jy egter uitsonder as die een wat die naaste kom aan hierdie “ideale vers”? Sal jy dan sommer so vriendelik wees om kortliks te motiveer hoekom jy juis dié vers kies en dit dan hieronder oortik vir ons lesers?

 

Ek hou nogal van “Voyeur”, die openingsgedig van die bundel. Dit is tegelyk “diepsinnig” en speels. En die veelbesproke vernuf vind ’n mens in die woordspel van die slotwoord. (O, en daar is ’n literêre verwysing: T.T. Cloete het ook gesê dat God ’n digter is, maar ek vermoed dat Cloete dit ernstig bedoel het.)

 

God het sy rug op ons gedraai, maar

                              bly tog nuuskierig oor sy skaduwee, sy skepsels

                              wat met moeite gebore word en maklik sterf

 

                              hy gebruik sy kosmetiese spieël,

                              die maan, wat hy millennia al manipuleer

                              om oor ’n koue skouer na ons te kyk

 

                              wat hy daarin sien, sal hom nog ’n eeu

                              of so plesier kan gee en dan finaal laat gru –

                              mens sou dink God is ’n digter: hy leef per-vers

 

Bookmark and Share

Comments are closed.