Oor vertaling van Duitse gedigte

Die min maar suiwer note van die digter

Daniel Hugo

 

Ein gleiches

 

Über allen Gipfeln

Ist Ruh,

In allen Wipfeln

Spürest du

Kaum einen Hauch;

Die Vögelein schweigen im Walde.

Warte nur, balde

Ruhest du auch.

 

Hierdie volmaak-liriese gedig van Johann Wolfgang Goethe (1749-1832) is al ‘n wiegelied genoem. Die refreinmatige van ‘n lied ontbreek egter. Ek sou dit eerder as ‘n gefluister wil beskryf waarin die stilte van geluid én beweging wat daar in die natuur heers, die wandelaar daarop attent maak dat hy ook binnekort sal kan rus. Daardie rus dui uiteraard nie net op die slaap nie, maar ook op die ewige rus van die dood. Met die slotrymwoord “auch” word die laaste asem letterlik uitgeblaas.

 

Dit is ‘n cliché dat poësie eintlik onvertaalbaar is. Dit geld nog meer ‘n gedig soos dié met sy patroonmatige manlike en vroulike ryme maar wisselende versreëllengtes. Dit skep ‘n unieke ritmiese en klankstruktuur. ‘n Werklik bevredigende oorsetting daarvan in ‘n ander taal het ek nog nie teëgekom nie – en juis daarom sal dit altyd ‘n uitdaging bly vir vertalers.

 

Gunther Pakendorf is een van daardie vertalers wat die uitdaging aanvaar het. In sy bloemlesing Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue (1990) staan Goethe se “Wandrers Nachtlied” en sy tweede luik “Ein gleiches” onder die titels “Aandlied van die swerwer” en “Op dieselfde noot”. Inderwaarheid was sy vertaling naas ‘n uitdaging ook ‘n opdrag aan homself, want volgens die “Inleiding” moes sy versameling “òf alombekende ‘klassieke’ òf andersins gekanoniseerde gedigte” insluit. En dan noem hy self Goethe se “Aandlied(ere) van die swerwer” en Heine se “Loreley” as voorbeelde van sulke verse (Pakendorf, 1990:32). Die tweede van dié aandliedere, “Ein gleiches”, is sekerlik Goethe se beroemdste gedig. Meer mense ken dit uit die hoof as enige ander Wes-Europese gedig (Verstegen, 1996:280).

 

Voordat ek noukeuriger na Pakendorf se vertaling kyk, wil ek eers twee ander aan die bod stel. As besonder nou verwante Germaanse tale sou ‘n mens verwag dat die Duitse gedig sonder veel moeite in Nederlands en Afrikaans “oorgeklank” sou kon word. In Nederlands is daar onder meer ‘n vertaling van Peter Verstegen, en in Afrikaans, benewens Pakendorf s’n, ook een van Marlene van Niekerk.

 

Verstegen se poging staan in ‘n bloemlesing van honderd gedigte wat hy uit die Wes-Europese poësie vertaal het. Dit het vir die eerste keer in 1989 verskyn – ‘n jaar vóór Woorde soos pluimsaad.

 

                        Rust ligt over

                        ‘t Gebergte, in ‘t

                        Hoge lover

                        Geen zuchtje wind;

                        De vogels zijn stil in het woud.

                        Wacht maar, nog even,

                        Dan wordt ook jou

                        Rust gegeven.

 

(Verstegen, 1996:11)

 

In die Duitse gedig breek die sintaksis deur die rympatrone (abab cddc) heen. Die eerste sin sluk as ‘t ware die rymwoorde abab én c in. Dit bewerkstellig ‘n verrassende ritmiese variasie. Verstegen hanteer egter die eerste kruisrymeenheid ook as ‘n sintaktiese eenheid. Die gevolg is dat wat Goethe in 5 reëls sê, hy in vier kwytraak. Die volgende twee sinne strek hy dan oor 4 reëls uit in plaas van die oorspronklike 3. Daarby maak hy die tweede, omarmende rympatroon gelyk aan die eerste deur dit oorkruis te laat rym. Hy behou die afwisselende vroulike en manlike rymwoorde van die Duitse voorbeeld, maar in die proses moet hy hom verlaat op onbevredigende oplossings: in ‘t / wind; woud / jou. My grootste beswaar teen hierdie vertaling is die hortende ritme van die eerste kwatryn wat veroorsaak word deur die sesuur in die tweede versreël.

 

Peter Verstegen is self besonder bewus van die onvolkomenheid van sy vertaling. In sy “Commentaar” agterin die bloemlesing noem hy “Ein gleiches” ‘n volmaakte liriese gedig en hy gaan voort: “… dat ik er mijn vertaling naast durf af te drukken, is een daad van vermetelheid die alleen te verontschuldigen is doordat ermee kan worden geïllustreerd hoezeer onweegbare, ondefinieerbare factoren de grootheid van een gedicht kunnen uitmaken.” Hy meen dat hy die betekenis van die oorspronklike redelik getrou weergegee het, maar dat sy gedig vormgewys ver tekort skiet: “Die vorm is voor Goethes doen heel onregelmatig, en juist in die onregelmatigheid en het vrije ritme moet de sleutel liggen tot de fascinatie die van het gedicht uitgaat” (Verstegen, 1996:281-282).  

 

Marlene van Niekerk se Afrikaanse vertaling staan in haar en Adriaan van Zyl se boek Memorandum: ‘n verhaal met skilderye en wyk nie net vormlik nie, maar ook wat die lokalisering betref in ‘n groot mate van die Duitse gedig af.

 

                        Op alle hoogtes

                        heers rus,

                        in die keurtjies

                        speur jy geen wind,

                        die suikervoëls swyg in die fynbos.

                        Stil maar,

                        straks rus jy ook, my kind.

 

                                                (Van Niekerk en Van Zyl, 2006:47)

 

In plaas van ‘n wandelaar wat in die aand – al neuriënd – met homself praat, maak Van Niekerk van die woorde ‘n wiegelied. Daar word inderdaad met ‘n kind gepraat, al gaan die dieper betekenis van die naderende dood (“rus” teenoor “slaap”) nie verlore nie. Die vertaler self noem dit ‘n “geestelike wiegelied” (ibid.).

 

Vormgewys bestaan die Afrikaanse gedig uit slegs 7 reëls en bevat dit net twee rymwoorde: wind / kind. Die verlies aan volryme word enigsins vergoed deur alliterasies (hoogtes, heers; stil, straks) en assonansies (keurtjies, speur; swyg, fynbos).

 

Die opvallendste verskil is natuurlik die spesifisering van algemene aanduidings in die Goethe-gedig: “Wipfeln” (= boomtoppe) word “keurtjies”; “Vögelein” word “suikervoëls; “im Walde” word “in die fynbos”. Daarmee word die natuurgegewe van Duitsland na die Wes-Kaap in Suid-Afrika verplaas. Dit werk gelyktydig verrassend én sjarmerend. En dit getuig sekerlik nie van disrespek teenoor die oorspronklike nie.

 

Die keurtjie of keurtjiebos maak ook sy verskyning in Marlene van Niekerk se eie poësie. In haar debuutbundel, Sprokkelster, kom die keurtjiebos meermale voor. In die gedig “lentelied” word ‘n bergpiek (Goethe se “Gipfel”!) as die habitat van dié blomstruik aangedui:  

 

                        die keurtjiebos groei pers vanjaar

                        op grootwinterhoek se piek    

 

                                                            (Van Niekerk, 1977:44).

 

In ‘n ander gedig sit ‘n voël, die kokkewiet, in die struik:

 

                        iewers in ‘n keurtjiebos hik

                        en hik ‘n kokkewiet

 

                                                            (Van Niekerk, 1977:8).

 

Van Niekerk inkorporeer dus sonder omhaal Goethe se gedig in haar poëtiese universum van Wes-Kaapse fauna en flora.

 

Dit het nou tyd geword om Gunther Pakendorf se poging van naderby te bekyk.

 

                       

Op dieselfde noot

 

Oor alle berge

Is daar rus,

Oor alle bome

Is jy skaars bewus

Van die ligste bries;

Die voëltjies raak stil in die woud.

Wag maar net, nou-nou

Sal jy ook rus.

 

                                                (Pakendorf, 1990:41)

 

Anders as in die vertalings van Verstegen en Van Niekerk slaag Pakendorf daarin om die ritmiese gang van die eerste 5 versreëls netjies na te boots. En hy gebruik byna dieselfde aantal lettergrepe: 23 teenoor die 20 van die oorspronklike. In die res van die gedig handhaaf hy die lettergreeptelling reël vir reël korrek. Die verlies aan volrym in reëls 1 en 3 word vergoed deur die alliterasie: berge, bome, bries.

 

Net soos Verstegen moet hy hom in reëls 6 en 7 verlaat op ‘n halfrym: woud / nou-nou. Verder rym die slotwoord “rus” net gedeeltelik op “bries”, maar wel vol op “bewus”. Die woord “bries” is sekerlik ‘n beter vertaling van “Hauch” as Van Niekerk se doodgewone “wind”. (Verstegen gebruik die omskrywing “zuchtje wind”.)

 

Pakendorf se keuse van ‘n titel – “Op dieselfde noot” vir “Ein gleiches” – is nogal opvallend. Peter Verstegen (1996:280-281) vertel dat hierdie gedig Goethe te binne geskiet het op 6 September 1780 terwyl hy aan die wandel was in die bergagtige omgewing van Ilmenau. Omdat hy nie papier by hom gehad het nie, het hy dit met ‘n potlood op die houtmuur van ‘n jagtershut geskryf. Die gedig op die muur het baie gou daarna ‘n trekpleister vir Goethe-bewonderaars geword. In 1869 is daar ‘n foto van die gedig gemaak – net betyds want ‘n jaar later het die hut afgebrand.

 

Die eerste “Wandrers Nachtlied” is op 12 Februarie 1776 geskryf. Dié gedig beweeg sintakties en ritmies veel lomper as die latere naglied:

 

                        Der du von dem Himmel bist,

                        Alles Leid und Schmerzen stillest,

                        Den, der doppelt elend ist,

                        Doppelt mit Erquickung füllest,

                        – Ach, ich bin des Treibens müde,

                        Was soll all der Schmerz und Lust? –

                        Süsser Friede,

                        Komm, ach komm in meine Brust!

 

Gunther Pakendorf se Afrikaanse weergawe daarvan (as “Aandlied van die swerwer”) klink so:

 

                        Jy wat van bowe is,

                        Al ons leed en smarte stil,

                        Die wat dubbeld ellendig is,

                        Dubbeld met verkwikking vul,

                        Ag, ek is van ronddwaal moeg, en ontevrede!

                        Wat beteken al die vreug en smart?

                        Soete vrede,

                        Kom, ag vul nou ook my hart!

 

                                                (Pakendorf, 1990:40)

                         

Eers veertig jaar later het Goethe die twee gedigte, “Wandrers Nachtlied” en “Ein gleiches”, saam gepubliseer. Volgens Verstegen (ibid.) is “Ein gleiches” (= Nog so een) ” … een zo laconieke aanduiding dat er mijns inziens uit mag worden afgeleid dat Goethe zelf niet al te veel waarde hechtte aan het gedicht.” Of Goethe werklik so oor die gedig gevoel het, is natuurlik nie meer te bepaal nie. Omdat die eerste “Wandrers Nachtlied” soveel swakker as sy opvolger is, het “Ein gleiches” ‘n selfstandige lewe in bloemlesings begin lei. Dit het die titel problematies gemaak en in baie gevalle is die gedig bloot aangedui deur sy eerste reël: “Über allen Gipfeln”.

 

Met Pakendorf se innoverende vertaling van die titel laat hy die digter die wysie van die swygende voëltjies oorneem. Net soos hulle sing hy vir ‘n kort tydjie (38 lettergrepe/note lank, om presies te wees) en bly dan stil.

 

In die inleiding tot Woorde soos pluimsaad sê Pakendorf (1990:33) die belangrikste oorweging vir hom was ” … dat die eindproduk volwaardige gedigte in Afrikaans moes wees. Terwyl ek dus steeds gepoog het om die oorspronklike so getrou moontlik weer te gee, was die suiwerheid van die vertaalde vorm belangriker as korrektheid van oorsetting. ‘n Vertolking wat vir ‘n Afrikaanse oor beter sou klink, het telkens voorkeur geniet bo ‘n letterlike weergawe in skewe Afrikaans. Hier en daar moes ek derhalwe my toevlug tot poëtiese vryheid neem, ofskoon ek feitlik sonder uitsondering probeer het om ‘n indruk van die oorspronklike klank en ritme, rym en metrum, oor te dra.”

 

In sy vertaling van Goethe se “Ein gleiches” het Gunther Pakendorf nie net daarin geslaag om ‘n volwaardige, Afrikaanse gedig met ‘n suiwer vorm te skep nie, maar ook om die vorm van die oorspronklike so na as moontlik in klank, ritme en rym te benader. En dit is nie ‘n geringe prestasie nie.

 

Bibliografie

 

Echtermeyer. 1982. Deutsche Gedichte – Von den Anfängen bis zur Gegenwart. Neugestaltet von Benno von Wiese. Düsseldorf: Bagel.

Pakendorf, Gunther. 1990. Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue, in die reeks Poësie uit verre lande onder redaksie van M.M. Walters. Johannesburg: Perskor.

Van Niekerk, Marlene. 1977. Sprokkelster. Pretoria: Human & Rousseau.

Van Niekerk, Marlene & Van Zyl, Adriaan. 2006. Memorandum: ‘n verhaal met skilderye. Pretoria: Human & Rousseau.

Verstegen, Peter. 1996 (tweede, herziene druk). Natuur zal kunst nooit blijvend evenaren – De Westeuropese poëzie in honderd gedichten. Amsterdam: Uitgeverij Ooievaar.

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.