Charl-Pierre Naudé. Hoe die provinsie voortreflik vertaal kan word
Nie so lank gelede nie het die Belarusiese digteres, Valzhyna Mort, geskryf oor die spanning tussen “groot letterkundes” en “klein letterkundes”.
In die terme wat ek vir gesprek aangebied het, is dit die spanning tussen die “provinsie” (dit wat klein letterkundes dikwels is in relatiewe verband tot die groteres) en “kosmopool” (dit wat ’n groter letterkunde dikwels is in relatiewe verband tot die kleiner letterkundes).
In Suid-Afrika staan Afrikaans, myns insiens, in verhouding tot die wêreldwye Engelse letterkunde in só ’n relasie: provinsie en kosmopool.
Weens die historiese gesag van die kosmopool, met al sy verwerkte en geabsorbeerde invloede en groot werke (veral vertaalde groot werke), het dit ’n relatiewe aanwesigheid wat soms oordonderend voorkom ten opsigte van die aanwesigheid van die provinsie, en soms voel die bestaan van daardie provinsie meer “afgeleë”, selfs wanneer jy as skrywer jouself pens en pootjies binne daardie provinsie bevind!
Een van die maniere waarop kosmopolitiese letterkundes (soos Engels of Frans) hulself verryk is om by die provinsies te gaan afkyk en bruikbare invloede voetstoots te inkorporeer. Daarom is uitgewerye in die groot kosmopolitiese stede soos Londen en New York altyd op die uitkyk vir die een of ander werk uit ‘n “eksotiese klimaatstreek” om te vertaal.
Die kosmopool steel ook soms by die provinsie. Een van die beroemdste voorbeelde behels juis een van Afrikaans se belangrikste skrywers, Eugène Marais. Die Belgiese Franstalige Nobelpryswenner, Maurice Maeterlinck, het Marais se wetenskaplike publikasies as sy eie oorgeskryf in een van die berugste plagiaatgevalle van alle tye.
En nou ja, die provinsie steel ook soms by die kosmopool. Ek het self al ’n paar interessante ooreenkomste aangetref tussen sommige Afrikaanse tekste en tekste uit die wêreldletterkunde wat darem te dik is vir ’n daalder.
Maar, soos Mort ook skryf, as mens op behoorlike wyse die invloede inkorporeer, is daar niks om oor skaam te wees. Nie die kosmopool óf die provinsie hoef skaam te wees oor enige iets nie.
Helaas, weens hul groter hulpbronne vertaal die kosmopole veel meer uit die provinsies as andersom. (Maar ons probeer ook darem byhou, en ons kom ook soms met rytuig en hoef op interessante, ver plekke uit.)
’n Onlangse voorbeeld van skitterende vertaalwerk - uit die Afrikaanse poësie in Engels - het tot my aandag gekom. Die vertalings is nog ongepubliseer maar sal eersdaags op die Poetry International-webtuiste (SA-domein) te lees wees. Dis ‘n voorbeeld van hoe Engels homself kan verryk uit Afrikaans.
(Die teenoorgestelde proses van verryking, verryking van Afrikaans uit ’n ander taal, is aanwesig in die verwerkte invloede van die Palestynse meesterdigter, Magmoed Darwiesj, soos aangebied en verweef deur Breyten Breytenbach in sy nuwe digbundel oorblyfsel/voice over.) Daaroor is elders op hierdie webtuiste te lees.
Hier volg nou ’n voorbeeld van ’n gedig van Lucas Malan soos vertaal deur Charl J. F. Cilliers, self ’n plaaslike Engelstalige digter. Malan werk met ’n baie nou kosmos, soos soms tipies is van Afrikaanse digters. Dis egter die fokus daarin wat bekoor. Die vertaler se fokus hoef geen aks daarvoor terug te staan nie.
Verskillende modelle van vertaling bestaan. Hierdie is ’n voorbeeld van nougesette vertaling. Dis nie ’n omdigting of ’n verwerking van die oorspronklike nie.
Oordenking
Die duiwe het weer nes kom maak. Slordig,
soos hul manier maar is. Vredeliewend hier
op die stoep, in vlegwerk van ‘n druiwerank
tussen blare hul tuis kom maak. Kortstondig.
Hulle slaap nou in pare, soos dit hoort. Rustig.
Luister hoe die ganse buurt oor hul lot nadink,
ons beskeie naastes wat vannag veilig kan slaap;
dalk nog die hele seisoen, net-net beskut en lig
opgevang in ‘n halwe kalbas van stokkies en gras.
(Wie onthou nog die vier wat laas jaar hier was?)
Hier slaap hulle nou, die sagte blou geveerdes
wat naglank van die heilsame Melkweg kan drink
en roerloos droom van ‘n nageslag ongedeerdes,
terwyl die Suiderkruis onverbiddelik sink.
Meditation
Pigeons have come to nest again. Untidily,
as they usually do. Peacefully here
on the stoep, in the latticework of a vine,
amongst leaves making themselves at home. Briefly.
They sleep now in pairs, as they should. Serenely.
Listen to the whole neighbourhood considering their fate,
our modest neighbours who can sleep safely tonight;
perhaps for the whole season, only just protected,
lightly held in half a calabash of sticks and grass.
(Who still remembers the four who were here last year?)
Here they sleep now, the soft blue-feathered ones,
able to drink all night from the wholesome Milky Way
in motionless dreams of their progeny unscathed,
whilst the Southern Cross unwaverlingly plummets.
Translated by Charl J.F. Cilliers





Ek stem heelhartig met Stubbs saam. En dit bring ‘n interessante inset in hierdie debat oor hoe “literere demografie” as ek dit so mag stel, gehalte van letterkundes mag bepaal. Want in ‘n baie bepaalde opsig verskil ek van Valzhyna se definisie van die kosmopolitiese pool in genoemde literere demografie.
In haar definisie is die kosmopolitiese pool die sterke, ryke naasliggende “wereldletterkunde”, die een wat altyd assimileer. In my definisie is die kosmopool die naasliggende (in die sielundige sin naasliggend, nie slegs geografies nie) oorheersende letterkunde wat homself met ‘n hoofletter spel en die omringende letterkundes met kleinletters spel, met komplimente van homself. In die historie van SA letterkunde is daardie kosmopool Brittanje. In onlangse jare, met die groter oopgaan vir Suid-Afrika op die wereld, het dit uitgebrei tot: Die Engelstalige wereldletterkunde. Laasgenoemde stem wel met Mort se siening ooreen, want danksy Amerika en sy vertalerslus, en ook Indië, is ‘n veel sterker kosmopool (wat gehalte betref) hier ter sprake.
Valzhyna se kosmopool is Moedertjie Rusland. G’n wonder sy voel effens meer vleiend oor die rykheid daarvan as wat ek self sou voel oor die rykheid van Britse letterkunde. Laasgenoemde is geweldig oorskat wat die poësie betref. En die arrogansie van daardie selfoorskatting vind jy soms terug in Afrikaans.
En dit bring my by die punt waar ek deels met jou verskil, Louis. Die impak van die nougesette idees van wat digkuns kan wees, wat in Engeland aangetref word, is slegs baie gedeeltelik deur Afrikaans omseil. Die kritiek, veral in sommige oorde, is niks anders nie as behoudende Britse kritiek met ‘n Afrikaanse kappie op.
Miskien moet ek die woordjie “baie” in “baie gedeeltelik” uithaal. In ons gedeeltelike oopheid en ruimheid van gees is daar eintlik nie ‘n ander “provinsiale letterkunde” in Suid-Afrika wat met Afrikaans kan meeding nie.
Jammer dat ek nou eers hierby uitkom, Charl-Pierre, maar jou kommentaar verdien om verder bepraat te word. Myns insiens is die huidige geslag digters waarskynlik die eerste wat buite die vaargleuf van ‘n kragtige, dominante digter (of groep digters) kan opereer; histories beskou was daar die Louw-broers, DJ Opperman, Breyten Breytenbach (veral) en natuurlik Antjie Krog. Hulle teenwoordigheid was só sterk na vele digters hulle probeer “naskryf” het. Vandag is daar ‘n veel ruimer aanslag onder die digters tov tema en aanbod, ten spyte daarvan dat ons “groot geeste” steeds daadkragtig werksaam is. In welke mate dit egter “vernuwend” is, is ‘n ander kwessie. Die Sestigers het waarskynlik makliker deurgebreek na die “kosmopool” omrede hulle ‘n meer homogene groep was en hul kragte as sulks kon mobiliseer. Tans gebeur dit maar op die basis van enkelinge wat “begenadig” word; meestal vir die regte (en goeie) redes. Die feit is dat ek geen konflik hierin sien nie: die provinsie het die kosmopool net so nodig as andersom. Afrikaanse tekste wat byvoorbeeld in ander tale (hetsy Engels of Nederlands) vertaal word, verhoog nie net die status van die taal nie, maar dit bevorder terselfdertyd die prominensie van die totale digkuns internasionaal. Eenselwigheid sal ons doodsteek wees, glo ek vas. Ons moet myns insiens probeer om ál die kamers van die poësie se huis te beset en ‘n moerse lawaai te maak. Al sit ons een-een in ‘n kamer. Dit ís immers ons enigste beskikbare huis en hy staan op ‘n blêrrie groot werf. Of wat praat ek alles?