Onderhoud: Carina Stander

“Ek skryf met my oë, oor die sigbare en Onsigbare.” 

 

Carina Stander in gesprek met Marlise Joubert

Carina Stander

Carina Stander

Carina Stander is in 1976 gebore en het op ‘n plaas in die Waterberge grootgeword. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy twee jaar lank vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan kunsuitstallings, skilder op bestelling en is tans vryskutjoernalis by vyf tydskrifte. Carina het verskeie pryse met prosakompetisies gewen en publiseer in Tydskrif vir letterkunde, in versamelbundels soos Drif, Losvoor en In ‘n neutedop. Sy ontvang ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006) was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys. Agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. Haar tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke het pas by Tafelberg verskyn. Saam met haar man en seuntjie woon sy in die Tsitsikamma.

 

Carina, ons is almal baie opgewonde oor jou tweede digbundel woud van nege en negentig vlerke wat pas verskyn het. Wat beteken die titel vir jou?

Dankie vir jou warm woorde, Marlise. 

Drie jaar gelede het ek een middag in die veld gestap toe die titel in my kop spring. Nege en negentig vlerke. ‘n Amper-daar. ‘n Byna-volledigheid. ‘n Afvlerkdier.

Die getal nege en negentig herinner ook aan ‘n menigte of skare, swerm of trop. Dit is ‘n allegorie wat inspeel op die gelykenis van die nege en negentig skape en die een weglooplam. In die titelafdeling van die bundel, “Vlam onder die water”, onderneem die Vlerkman/ Singvoël/ Skutsengel reise na verskeie woude om verdwaalde voëls/ vlermuise/ vlinders/ bye/ naaldekokers/ vuurvlieë terug te neem na hul neste. Sommige gevlerktes wil nie saamgaan nie, fladder weg, val die Vlerkman aan, is bang. Ander ervaar dit as ‘n terugkeer na ‘n ware habitat – ‘n soort hemel. Hieroor sou filosoof Paul Ricoeur sekerlik kon skryf: “Admiration says, the world is good, it is the possible home of freedom; I can consent. Hope says: the world is not the final home of freedom.” (Ricoeur se kursief.)

Heelwat van die verse is in paradyslike grond geplant: Hawaii en Mosambiek se koraalkoninkryke, die bergmere van die Skotse Hoogland, die oerwoude van die Amasone, Tsitsikamma en Amatola en die Waterberge van Limpopo. Dit alles is primordiale ruimtes vir die onbewuste en in byna al die verse is daar ‘n spanning tussen skoonheid en gevaar. Skoonheid, wat gevaar impliseer, soos ‘n vloeiende vulkaan of sneeustorting. Gevaar wat in skoonheid opgesluit is, soos die reënboogvel van ‘n slang.

Ek vind dat my verse telkens terugneig na die begin. Die oerbegin. Die hergeboorte. Asof ek die hemel maar net nie kan afsterf nie 

Wat is die nuwe temas wat jy aansny?

woud van nege en negentig vlerke is vol woude, moerasse en erotiek, vulkane en vloede, berge, swangerskap, vreemdsoortige diere en engele, gesprekke met mededigters, familie en vriende.

‘n Tematiese hegrank tussen die twee bundels, is die reismotief. Maar waar die vloedbos sal weer vlieg meestal in Afrika afspeel, gooi ek hierdie keer die vensters oop na ander kontinente, veral Suid-Amerika. Hier is meer uitheemse spesies as voorheen. Die vele moerasse, oseane en riviere in die gedigte is ‘n ruimte vir swangerskap: in die donker waterwêreld broei ‘n geheim uit, ‘n onsigbare seuntjie.

Waar ‘n hele reeks gedigte in my debuut gewy is aan slagoffers van seksuele geweld onder die titel “Karkaskaal”, is dié tema nou totaal afwesig. In die nuwe bundel is sosiale kommentaar meer globaal en ekologies van aard, veral in die afdeling “Vasteland, wankelland.”

‘n Groot ooreenkoms tussen die twee bundels is die sensuele en spirituele, die natuur en my liefde vir my mense. Dit sypel oral in, asof al die putte waaruit ek water skep, gevoed word deur dieselfde onderaardse aar.

Jy verwys hierbo na jou liefde vir mense. In jou verse is daar soveel verwysings en simbole oor ander kulture soos o.a. “Watervolk” en “Amatola in die week van verkiesing”. Ek vind dit fassinerend en uniek. Hoe het dit gebeur dat jy hierdie identifisering so gemaklik laat oorspoel in jou digkuns?

Dalk help dit dat ek werklikwaar luister hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. En wanneer ek nie verstaan nie, bid ek vir ‘n bird’s eye view. 

Is die natuur weer prominent as ontginningsmateriaal  soos in jou debuut drie jaar gelede?

Jip, die natuur skiet oral wortel. Ek het ‘n lewendige belangstelling in dierkunde, plantkunde, botanie, entomologie, landboukunde en geologie en sonder uitsondering gebruik ek vakkundige naslaanboeke wanneer ek die natuurlewe betrek.

Maar hoe lief ek die natuur ook al het, in my verse bly dit net ‘n metafoor. Deur metaforiese taal is ek gedurig opsoek na ‘n moontlike wêreld, ‘n eie mitologie, ‘n nuwe beelding. ‘n Metafoor bring kategorieë saam wat voorheen vreemd was vir mekaar – een voorwerp neem ‘n ander voorwerp se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. Soms transponeer ek botaniese feite direk na die karakters van ‘n gedig: ‘n apiesdoring se grysgeel groefstam word die kleur van ‘n boer se gesig; die dorings is gekrom en persbruin (soos ‘n vrou se japon); die peule is werklik oopspringend (soos haar oë) en die blomme is persrooi en gekelk (soos die rokke van plaasmeisies.)

Al besing ek die wonder van die natuur, dien dit net as agtergrond of inleiding vir die “werklike” gedig. Ek het nog nooit ‘n tradisionele natuurdig geskryf nie. Maar ek kan ook nie onthou dat ek al ooit ‘n gedig geskryf het waar die natuur nié deurskemer nie. In Letters to a young poet stel Rainer Maria Rilke dit pragtig: “If you trust in Nature, in what is simple in Nature, in the small Things that hardly anyone sees and that can so suddenly become huge, immeasurable; if you have this love for what is humble and try very simply, as someone who serves, to win the confidence of what seems poor: then everything will become easier for you… in your innermost awareness, awakeness, and knowledge.”

Dis vir my ook opvallend dat jy in hierdie bundel meer stilisties te werk gaan en verskeie versvorme soos die haikoe en villanelle (bv. die Amasone villanelle Middelwater) suksesvol ontgin. Is daar ander vorme wat jou aanspreek soos die vertelvers (waaroor daar so baie geskryf is op hierdie webblad!), die sonnet, kwatryne, ens. of verkies jy steeds die meer ‘surrealistiese’ vrye vers?  

Die vloedbos sal weer vlieg is goed deur kritici ontvang, maar ek is bietjie oor die vingers getik oor “oordaad” – ‘n geit wat maklik insluip met die vrye vers. Die vaste versvorme was vir my ‘n breinoefening, ‘n oefening in dissipline, ‘n persoonlike uitdaging. Ek was nuuskierig om te sien of ek tot meer as wildewragtaggedigte in staat is. Ek het die spel so geniet, dat daar nou ‘n villanelle, pantoen, rondeau, triolette en haikoes in die nuwe bundel is. Maar meeste van die sewentig gedigte is vrye verse.  

Ek besef net weer daar is ‘n tyd om saam met die jakkalse te draf en ‘n tyd om die mak hond by jou voete te streel. Vryheid en vastigheid – elkeen het sy plek. 

Jy het grootgeword in die Waterberge. Hierdie omgewing het gestalte gevind in jou verse op verskeie maniere, vlees geword, dikwels sensueel van aard, mities en godsdienstig. Ek onthou dat jy eenkeer daarna verwys het as die bo-natuur. Kan jy hierdie begrip uiteensit vir ons soos jy dit sien?

Ek skryf met my oë, oor die sigbare en Onsigbare. In ‘n poging om die abstrakte te verkonkretiseer, gebruik ek die natuur. Fasette van die ek-God-verhouding mond uit in ‘n ek-kosmos-verhouding. So is water vir my die draer van kreatiewe en geestelike lewe en vlerke is simbooldraer van ‘n duifagtige Gees. Hierom is daar in bykans alles wat ek skep ‘n spel tussen natuur en bo-natuur; natuur en God; die sienlike en onsienlike; die bewysbare en onverwagse; gemeenskap en afsondering; die universele en intieme. Soms is daar trekke van die illusionêre wanneer die Jy-karakter as volkome werklikheid ervaar word. Wanneer God ‘n Sigbare Raaisel is.

Word die Waterberge steeds in hierdie digbundel kontekstualiseer?

Byna al die gedigte in die vloedbos sal weer vlieg gryp terug na my lewe op die plaas Bergfontein waar ek grootgeword het. Hier het my liefde vir die wildernis ontstaan toe ek baie klein was. Vanuit die berge het die visarende gekom en die jakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Ons het hulle gehoor, soms gesien, die spore herken. Onder die maroelaboom langs die huis het ek as voorskoolse kind my eerste ontmoeting met ‘n slang gehad. In my kindergeheue het die kobra sy kop bak gemaak, sodat ons ooghoog na mekaar gekyk het. Hy het weggeseil sonder om my seer te maak en ek het besluit dat die veld vir my goed is. Die spanning tussen skoonheid en gevaar waarna ek vroeër verwys het, het hier begin. Hier, in die eerste landskap wat ek liefgekry het.

In woud van nege en negentig vlerke kom die Waterberge net in een van die ses afdelings, “Wildernis”, voor. Ek kyk nou met ander oë na my opgroeiplek, meer soos die dertigjarige wat ek is. Ek is nie meer ‘n buikspreker vir die kind wat ek was nie. Miskien het die Bosveld vir eers ‘n kuswoud geword en die rivier ‘n oseaan? As ek die werk van ouer digters lees, weet ek egter ‘n mens raak nooit uitgeskryf aan die plek waar jy vandaan kom nie. Die metafore van jou kinderjare agtervolg jou waar jy ook al is.

Het jou nuwe omgewing in die Tsitsikamma-strook aan die kuslyn al hoe meer ingeskuif in jou ervaringswêreld?

Ek het woud van nege en negentig vlerke vir die uitgewer in die hand gegee die oggend voordat ons uit Kaapstad weggetrek het. Die Tuinroete figureer dus nie so sterk in die bundel nie, want al die gedigte het tydens my vier jaar in Kaapstad ontstaan.  

Dat hierdie kuswoud sedertdien in my ervaringswêreld ingeskuif het, is ‘n onkeerbare feit. Dít het ek verlede jaar goed besef toe ek aan my eerste solo kunsuitstalling vir die Breytenbach Sentrum gewerk het. Vanaf die stoep waar ek skilder, kon ek die see hoor en die loeries wat bessies vreet, straataf ‘n bobbejaan en iemand wat gil – of was dit ‘n beneukte blouaap? Die kunswerke wat ek vir die uitstalling gemaak het, weerspieël sommige van dié indrukke: ‘n Suikerbekkie sit op ‘n man se skouer. Seevoëls migreer agter Tutu. ‘n Xhosa ouma loop onderwater, omsirkel deur oranje visse. Dit is ‘n nuwe simboletaal – die taal van my nuwe habitat.  

Soos jy hierbo aandui, is jy nie net ‘n digter nie. Jy is ook ‘n beeldende kunstenaar wat olieverwe doen en beelde maak. Is daar vir jou ‘n simbiotiese verband tussen hierdie twee uiteenlopende kunsvorme?

Vir my is beeld en woord uitvloeisels van dieselfde kreatiewe energie.

As kunsstudent het ek in 1998 ‘n houtbeeld gebeitel uit ‘n jakarandastomp wat ek in een van Pretoria se prostitusiestrate opgetel het. Dié beeld van ‘n gekruisigde meisie met ‘n oopgekloofde rug en ‘n rugstring van vlakvarktand, was getiteld “Karkaskaal.” Sy was die prikkel vir die “Karkaskaal”-gedigtereeks in die vloedbos sal weer vlieg. In ander verse praat ek half terloops van ‘n ploegstoel wat ek sweis, bronsbeelde wat ek giet, beelde van miershoopklei en vingersketse in die wasem teen ‘n ruit.

My skilderye en beeldhouwerke val meestal binne die Surrealistiese beweging en is narratief, terwyl kleurbeskrywings ens. my gedigte visuele “wakker” maak. Volgens Surrealisme ontstaan kuns in die dieptes van die mens, die wonderbaarlike. Daar is ‘n voortdurende soeke na ‘n droomsfeer, mystère of geheim. Ek het wel ‘n afkeur aan Surrealisme se ontginning van die grusame en ander nagmerriekwaliteite.

Dit is sekerlik verstaanbaar dat die vrye vers die Surrealiste se voorkeurvorm is, want daar ís vryheid in die verwerping van punktuasiereëls, die verstoorde sintaksis, die weglating van ‘n selfstandige naamwoord en die uitskakeling van “soos” by die vergelyking. Maar self het ek – soos reeds genoem – in woud van nege en negentig vlerke ook ‘n klompie vaste versvorme uitprobeer.

‘n Ander kunsbeweging waarmee my gedigte gesels, is die sogenaamde Naïewe kuns wat ook Neo Primitivisme of Moderne Primitivisme genoem word. Naïewe kunstenaars volg meestal ‘n landelike bestaan en werk met die folkloristiese, instinktiewe, emosionele, narratiewe, outobiografiese, naturalistiese en primitiewe. Naïewe kuns impliseer ‘n eksotiese beskouing van die wêreld. Hier dink ek aan Russiese skilders soos Niko Pirosmani en Ivan Generalic of die Fransman Henri Rousseau, wie se werk tematiese ooreenkomste met my gedigte toon: ondeurdringbare woude, oeswerkers, bowêreldse herders op berge, maanverligte nagtonele, musikante, dorpsfeeste. Naïewe kuns is egter selde naïef. Ons vind ook oorlogstonele en slagvelde in hul werk, verwaarloosde en waansinnige mense. Maar dit is veral die Naïewe kunstenaars se uitbeelding van ‘n ongerepte, mitologiese ruimte wat ek in vele van my verse raakle 

Ja, en daarmee is jy ook veral suksesvol. Ek dink nou aan die skildery met die Gogo en oranje visse rondom haar wat een van jou aangrypendste skilderye vir my is wat ek by ‘n uitstalling gesien het. Maar is jou skilderwerk, soos dikwels in jou verse, ook ‘n “aanklag” teen geweld, deur juis die vervulling van skoonheid in jou land en mense na vore te bring?

Beslis. Ek sal ‘n kunswerk uit geweld of lyding laat ontspring, maar dit nooit in sinnelose brutaliteit laat eindig nie. Vir my is dít protespoësie: om téén die wreedheid van die wêreld in te skryf. Om vryheid en vrede te skree, sónder om die omvang van die slagting te ontken.

As kunstenaar leef ek nie in isolasie nie. ‘n Kind met Vigs het al op my skoot gepiepie; ek het geslaap in ‘n hut waar ‘n vrou aan malaria sterf; moes ‘n hele bende Alheimerlyers se doeke ruil; het boere sien knak onder droogte; lydende diere versorg en nekomgedraai; het my man se bloed opgemop en geskrop ná ‘n inbraak; ek het geweld gesien en gevoel aan eie lyf. Pyn is draaglik wanneer mens dit kan verlig. Wat ondraaglik is, is wanneer ons niks kan doen nie – behalwe om te skep. “A work of art is good if it has arisen out of necessity”, skryf Rilke.

Tog is pyn nie die grootste impuls vir my kuns nie. In my skakeling met mense en God, in my uitlewing van kuns en eenwording met die natuur, is indrukke van volheid soms só oorweldigend, dat dit eenvoudig verbeeld móét word.

Die treffende omslag van jou digbundel met die boom en drywende vere het jy ook self gedoen. Kan jy ons vertel wat hierdie skildery weergee om aan te sluit by jou poësie?

woud van nege en negentig vlerke. Carina Stander

woud van nege en negentig vlerke. Carina Stander

Dit gaan hier oor skeppingskrag as manier om doodsheid te weerstaan, selfs te troef. Die boom op die voorblad is net ‘n geraamte, maar die drie vere wat daaraan hang is die ene lig en lewe. Drie is natuurlik die getal van goddelikheid. Ook op die agterblad groei daar nuwe blaartjies uit ‘n voël se dooie takvlerke. Die boom is simbool van onsterflikheid, omdat sade herleef en wortels en takke uitloof selfs ná droogtes of brande of boomslagtery. woud van nege en negentig vlerke lê besaai met woude en verwante soos bos, vrug, tak, stam, blaar, saad, peul. Die boom met sy ondergrondse wortels en takke in die lug, word ook verbind met die berg – wat ewe gereeld in my gedigte verskyn – wat in verhouding staan met die hemelse, aardse en onderaardse. Verder wys die boom na die kruisiging. Christus word dikwels in ikonografie as die Boom van die Lewe uitgebeeld. Die boom as organiese ritueel, as seisoendraer, is deel van my geestelike identiteit.

Ek skilder self, maar vind tog dat ek nie kan dig wanneer ek by skilder betrokke is nie. Dat ek eers heeltemal moet loskom uit die sone van die visuele voordat ek weer hoegenaamd  ‘n vers kan pleeg. (Dalk is dit die suigkrag van waterverf – anders as olieverf!) Kan jy albei tegelykertyd aktiveer? Sou jy byvoorbeeld jou kwas kan neersit en net daarna gedigte gaan skryf?

Dit is interessant dat jy dit noem, want ek het dit weer nodig om vinnig uit een kunsvorm in ‘n ander te ontvlug. As ek myself uithonger vir skryf deur meer aandag aan ‘n ander kreatiewe aktiwiteit te gee, kan ek skielik weer die sinne “proe”. Aan die einde van ‘n naweek kriewel my vingerpunte in my slaap. 

Skryf is stil woorde. En stilte raak soms eensaam. Om te skilder is veel geselliger. Wanneer ek na geselskap verlang maar baie werk het om te doen, gooi ek my deure wyd oop en klets en drink koffie of rooiwyn saam met vriende terwyl ek voort skilder of skaaf.  

Daar is natuurlik ‘n tyd om elke sin uit te sweet of elke woord uit te wroeg, maar soms as ek in ‘n doodloopstraat beland, sit ek eenvoudig die laptop af en gryp die ink of verf of beitel. Of ek reis en versamel nuwe idees. Klim ‘n berg in die nag. Snorkel in die see. Gesels, luister. Lees van ewigheid tot amen. Dan keer ek terug na my binnekamer. En skryf sommer met ‘n duisend nuwe sintuie.

En is daar nog iets in daardie oond van jou binnekamer waarmee jy ons dalk later gaan verras?

Hmm, gee my nog so ses maande, dan verklap ek die geheim!

Jy is iemand wat dikwels reis. Jy was selfs nog onlangs in Junie vir drie weke in Europa. Man, kindjie en ouers inkluis! ‘n Magdom van nuwe ervarings en indrukke moes jou seker geïnspireer het tot nuwe verse, of nie?

Ek skryf gereeld reisartikels vir tydskrifte – ‘n uitstekende manier om die wydheid van ‘n anderwêreldse ervaring te kondenseer. Maar om dié kondensasie verder te vat, om vers-mampoer daaruit te brou, neem my twee tot tien jaar.

Ná my hoeveelste besoek aan Europa, nadat ek altesaam seker so drie jaar daar deurgebring het, het ek nog net een enkele gedig oor dié vasteland geskryf. Een! Dit, terwyl ‘n maand in Malawi of Namibië of Brasilië amper ‘n hele digbundel oplewer. Hoe werk dit..? Ek weet nie, maar my notaboeke is vol geskryf oor woudheuning, orrelkonserte en malmooi begraafplase; middernagswem in Italia; blougrys gletsers en ysgrotte; kastele met labirinte; bloedrooi kersies op ‘n mark; stoombote en swane; my ma wat Duitse gedigte aanhaal en volksverhale vertel; my pa wat tussen Alpynse blomme wegsak met nat oë; my tweejarige wat skitter en skater in ‘n Höllental (Helvallei) waar die son selde skyn; murmelings in stegies en rasegte bier; ‘n nagwandeling saam met my man op ‘n Middeleeuse muur met negentien wagtorings (en ek in my warm vlinder-pajamas.)

As ek ooit weer ‘n digbundel skryf, sal dit in Europese grond geplant wees. Ek voel dit so aan my haarwortels.

Dankie Carina! En klou aan die haarwortels! Ek wens jou alle sukses toe met hierdie vernuwende digbundel. Jy het reeds ‘n groot groep entoesiastiese en lojale lesers gevestig en hulle gaan nie teleurgesteld wees nie. Kan jy miskien vir hulle een van jou verse hier onder opsit uit die lieflike afdeling DIE NEGE-MAANDE-MOERAS wat oor swangerskap gaan?

Duisend dankies vir jou mooi wense, Marlise!

 

nóg vis, nóg vlees

 

binne in die bangbos

steek twyfel deur die vel

 

ek wonder of jy werklik is

kan jy die waterpad voorspel

 

glip jy met die tapir

deur ‘n skemer poel

sloes soos die otter

wriemel en wóél

‘n tamaai kapibara

onder koel waterslaai

 

swaai jy regtig aan die stingels

van my binnelyf

nóg vis nóg vlees

met bene en gewrigte

gesig en bloed en gees

 

jy antwoord nie klein kind

jy bot stil jy bot sag

 

niemand waag ‘n woord

as asem in ‘n asem lag

Bookmark and Share

Comments are closed.