Onderhoud: Lucie Möller

Waarmerking en waarmaking

Lucie Möller gesels oor haar debuut digbundel Watermerke met Marlise Joubert

Lucie Möller

Lucie Möller

Lucie Möller promoveer in 1987 aan die Universiteit van Natal met ‘n proefskrif oor die inheemse tale se invloed op die naamgewing in Namibië. Vir die afgelope dertig jaar publiseer sy plaaslik en internasionaal boeke, artikels en referate oor naamgewing. Enkele titels is byvoorbeeld  A World of Names, Changing Place Names in Southern Africa, en Plekname in die verhale van Herman Charles Bosman.Vanaf 1999 tot 2007 verskyn van haar gedigte op LitNet se PoësieNet en die Engelse PoetryNet. Van haar gedigte verskyn in versamelbundels en op die CD Klikspringer, saamgestel deur Ian Raper (2005). Haar debuutbundel, Watermerke, verskyn in 2009 by Protea Boekhuis. ‘n Groot deel van die gedigte het haar Bosveldplaas in die Waterberge as agtergrond, alhoewel die studies wat sy oor plekname in Suid-Afrika en Namibië onderneem het, die inspirasie tot ‘n aantal ander verse was.

Lucie, jy is nie ʼn jong debutant nie. Die afgeronde aard van hierdie verse laat egter die vermoede ontstaan dat jy ʼn ervare digter is. Waarom het jy dan eers op ʼn relatief gevorderde ouderdom hierdie besonderse digbundel die lig laat sien?

Dankie Marlise, vir die vriendelike woorde. Dit was vir my nog altyd moeilik om te skryf, maar ek het die geluk gehad om wonderlike mense te leer ken in my lewe. So het  ons ʼn knap onderwyser vir Afrikaans gehad op hoërskool, mnr. Frank Wright, wat ons aangemoedig het om wyd te lees, soos die destyds pas verskene bundels van Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en al die ander “nuwe” Sestigers, en om dan self gedigte te skryf. So is vier van my gedigte (in Afrikaans) in ons skool se jaarblad gepubliseer toe ek sewentien was. Hierdie pogings het uiteraard sterk onder die invloed van die sestigerstyl gestaan, soos die titels al wys: “want ek wil nie sien in die verborge nie”, “ons vlug om die son”, “dood, is ʼn deur wat agter my sluit”, ens.

Al het ek nooit my belangstelling in die letterkunde, en spesifiek my liefde vir die poësie verloor nie, het studies, werk en trou, en dan ouer wees van twee seuns, al hoe meer my volle aandag geverg. My latere loopbaan as naamkundige het my ook sedert 1996 in die VN laat deelneem aan werksgroepe waardeur ek die voorreg gehad het om wêreldwyd te kan reis. Tyd vir gedigte skryf was dus min en maar so tussenin, soms slegs tydens die lang wag op lughawens.

Eintlik het ek eers na my uittrede uit ʼn voltydse beroep weer begin gedigte skryf toe ek vanaf April 2003 by die digtersklas van die Huis vir Afrikaanse Poësie in Pretoria aangesluit het. Onder aansporing van ʼn paar vriende wat geduldige “klankborde” was, en waarvan party al gevestigde skrywers en digters was, het ʼn paar van my gedigte op LitNet en PoetryNet verskyn, asook in ʼn paar versamelbundels. Maar of dit van ʼn mens ʼn “ervare digter” maak, is te betwyfel. Om tot bundeling te kom was egter net ʼn droom tot my mentor, professor Ian Raper, en ʼn paar digtersvriende my aangemoedig het om aan ʼn uitgewer voor te lê.  Daar fladder egter nog baie halfgeskrewe gedigte en optekeninge vir gedigte tussen my beter breinhelfte, die “baie” los papiere en my rekenaar rond. Hulle moet maar oorstaan tot ʼn volgende geleentheid om te bundel, miskien.

Die versreëls uit die gedig Skeurkloof: Die kloof lê dieper/ as ʼn luiperdklou/ se krapmerk in bas/ en sy water tregter/ en sak in lope/ tot in die onderaardse af /,  asook elders die reël “watermerk van herinnering“, sluit onder andere vir my aan by die titel van die digbundel. So ook die teenpole van water waar jy die elemente van vuur, lug of grond beskryf. Maar wat beteken die meerduidige titel van Watermerke alles vir jou?

Kloofpoele in die Waterberge

Kloofpoele in die Waterberge

“Watermerke” (wat uit die gedig “Wildepeerblom” geneem is), was ʼn voorstel van my redakteur nadat ons my bundel weer goed bekyk het, en ja, ek was gelukkig daarmee as titel, want dit dui enersyds op die werklike wêreld waaroor ek skryf, die woestyngebiede waar water so ʼn belangrike oorlewingsmiddel is en natuurlik die Waterberge met sy waterryke klowe, vleilande en riviere. Maar dit wil miskien ook iets suggereer van waarmerking en waarmaking, van die bevestiging van egtheid van dinge, nie net van dokumente, sertifikate, landkaarte, kunswerke en so meer nie, maar ook van verhale, herinneringe en ervarings wat mens gehad het. En ten slotte is dit dalk ʼn soeke na iets wat mens self nie altyd begryp nie, die gedurige onvastighede, die verskuiwings en verspoelings, die afstand doen en afskeid neem, “tot alles vloei”.  Maar daarmee is ons al by jou volgende vraag.   

Daar is vyf afdelings in hierdie stewige debuut. Kan jy hulle vir ons opnoem en vertel watter temas en motiewe jy hierin ontgin?

Wel dis nou moeilik, hoe ver mag of wil mens self die dinge aanroer ? Laat ek probeer.

I. Met fynhout en sterrestof – Hiermee  wou ek waarskynlik ʼn inleidende kyk gee, maar ook ʼn boog span oor die hele bundel heen: uit die harde werklikhede vanaf die vuur, water, lug en grond elemente tot by die sterrebeelde. Dit strek vanaf die gedigte soos “Rigtingwysers” en “Prieelkaart” waarin ek nie net ʼn aankoms by hierdie vasteland wou aanstip nie, maar kyk na waar ons nou staan, en hoe dit met ons is – waarheen vloei alles?  In  “Vlam” en “Hings” (ook met sy vlam motief, en albei met ietwat van ʼn ars poëtiese inslag), wou ek dalk meer die vrywording van die digterlike “donker embrio’s” aanspreek wat nog moet kom – die “waarmaking” in ʼn ander sin.

II. Aan voetsole – Die motiewe is ietwat verweef in verbeelde reise na plekke wat werklik bestaan, reise wat dikwels die nood rondom ʼn gewaarborgde bestaan suggereer, en   waarin water die element van oorlewing is (al is dit net in sekere kunswerke soos die verwysings in “Kortstondige kalligrafie” wil suggereer). Soms wil dit dinge waarmaak wat mens nie maklik afgeskud kry nie – die bevange wees, die angste en vertwyfeling, maar ook die vreugdes, groot en klein. Hierdie gedigte is dalk draers van ʼn leitmotief of grondtema wat van die eerste tot die laaste afdeling van die bundel eintlik die “subject largely left unspoken” verteenwoordig.

III. Die Oerbos in – Uit sekere waarnemings het ek probeer om die natuur, van die kleinste korsmosse of ligene tot die groot mammoetbome, spesifiek in die noordelike deel van ons land met sy gras- en bosvelde, te beskryf, omdat dit intiem deel van my lewe geword het. In die gedig: “Ek word die plek”, wou ek iets hiervan verwoord.

IV. Diere sonder maskers – Hier is dit die diere en voëls na hulle aard hopelik eg vetolk. Hulle dra geen maskers soos mense soms doen nie. Sommige word in hulle omgewing van die Waterberge beskryf, sommige het miskien in ʼn gedig of twee ars poëtiese neigings getoon, soos die uitgestorwe “Pterodaktiel”. Alhoewel my gedigte met konkrete dinge werk, is daar dalk ondertone van motiewe wat niks met die werklikheid te doen het nie.

V. Tot alles vloei – Hier, soos in afdelings I, II en III, is die hoofmotief miskien weer die onvaste, die onsekerheid van ons bestaan, die: “ons sal ons uitkyk aanhou verskuif” gedagte, maar ook die “watermerk van herinnering” soos in die gedig “Wildepeerblom” van Afdeling III beskryf. Hoekom sit ons name en tekens op dinge, veral op grafstene? Om te bewys ons is en was hier? Dat ons iets kan uitken en identifiseer, soos met plekname ook? Doen ons dit dalk ook deur te skryf, gedigte en bundels met titels, met bo-en onderskrifte? En ten laaste, die soeke na vastigheid, die bewus wees dat ons hier bevestiging soek, is reeds in die gedig “Kaartkamer” (Afdeling I), in die vooruitsig gestel: “dat mens self sonder naam soek kan raak”. Want daarsonder, wie en wat was ons? Of praat ek nou in sirkels, is die groot verwarring, “die groot skrik van vergeet”, besig om my in te haal? (“Ongekaarte reis”, Afdeling II).

Jou beroep as naamkundige/taalkundige het onteenseglik neerslag in jou poësie gevind. Jou natuurbelewing is ʼn sterk aanwesige basis vir die meerderheid van hierdie verse. Jy is ʼn veldmens en het beslis ʼn deeglike kennis van die natuur.  Kan jy ons meer vertel oor die ontstaan of stimulus wat aanleiding gegee het vir hierdie passie?

ʼn “Kenner” is ek beslis nie, maar ek is lief vir die natuur in al sy vorme. Dis iets wat my ouers op ʼn mooi manier aan ons oorgedra het: om alles wat plante, diere en goggas is te respekteer en te probeer bewaar dat dit kan voortbestaan in sy natuurlike habitat, of dit daar buite in die wildernis of in jou eie tuin is. Daar is dan altyd die opwinding: hier het vannag ʼn luiperd of rooikat, hiëna en ystervark binne ʼn paar tree van die huis af verbygeloop. Ons kan sy spoor, sy waarmerk, uitken. Of hier is die bewyse dat die koedoe weer oor die werf geloop het, besig om ons aalwyne te vreet, of was dit die bobbejane? Hulle het verseker oral op die dak en stoep gesit en die vallei ingetuur. Ons is helaas, net die besoekers hier.

Ek het veral die afdeling oor die verhalende gedigte besonders en genotvol gevind. Daar is ʼn hele groepie vernuftige verse met Namibië as agtergrond en waarnemingswerklikheid. Plekname word veral op verrassende wyse aangewend en resoneer tot wyer betekenisvlakke by die leser. Waarom het jy juis hierdie landskap gekies? Het die gedig Liefdood onder andere ook ʼn werklikheidsbasis?

Namibië het altyd ʼn groot rol in my lewe gespeel. My skoonfamilie het op verskeie plekke daar gewoon en baie rondgetoer deur die land voordat hulle op Wellington, in die Kaap afgetree het. Hulle het vertel van reise en wedervaringe met die Landrover, later die Bedford deur die Noord Kaap en die ou Suidwes. Dis deur hulle goedhartigheid en voortgesette ondersteuning deur die jare, dat ek fotoalbums, reisberigte en boeke van ander Suidwesters kon bekom. Dan was ek natuurlik altyd in vervoering om die oorspronklike skilderye, akwarelle en sketse te kon sien van bekende Suidwes kunstenaars, onder andere Adolph Jentsch en die Aschenborns, wat in die familie se huise gehang het.

In later jare, toe ek die voorreg gehad het om saam met prof. Gawie Nienaber en dr. Peter Raper aan studies oor die Khoi-San plekname van die streek te werk, het hulle my aangemoedig om ʼn proefskrif oor die land en sy plekname te doen. Op die wyse het ek self ʼn paar keer die land besoek, en dit van voor af lief gekry.

“Liefdood” is ʼn gedig oor ʼn regte plek met sy vertaalde naam wat werklik so op landkaarte aangeteken is. Die oorspronklike naam Aos spruit uit een van die Khoi-Santale, maar dit kon tot nou toe nog nie heeltemal bevredigend verklaar word nie. Verskeie motiewe het hier saamgewerk om aanleiding te gee tot die gedig: ʼn foto uit die familiealbum, ʼn topografiese kaart van die suidelike gedeelte van die ou Suidwes met al die name daarop, en die versluierde, uiteenlopende verklarings rondom die naam self. Dat die plek bestaan, is waar (daar is selfs ʼn tweede Liefdood naby Kenhardt in die Noord Kaap), maar die karakters en hulle verhaal, is pure verbeelding.

Ek het gedink dat ek die enigste vrouedigter uit die Waterberge is… Dus was dit vir my aangenaam verrassend dat nuwe digters ook oor hierdie streek dig, soos Carina Stander en Ilse van Staden. So ook jy met ʼn paar verse. Noem jy die woord botterklapper of moepel of wildepeerblom, stroom  herinneringe aan my eie jeugjare terug. Het jy grootgeword in die Waterberge? Wat is die agtergrond?

Watermerke

Watermerke

Nee, ek het eers sedert 1970 met die wêreld van die Waterberge kon kennis maak. Vroeër het ons net daaroor gelees. My ouers het aan die hange tussen Tweestroom, Rankins Pass en Thabazimbi gewoon. So kon ons en die kinders elke moontlike vakansie en langnaweek daar gaan kuier. Albei my ouers was besonder lief vir die natuur, het feitlik elke boom, houtsoort en inheemse plant geken. Uit gesprekke met van die ouer garde in die omgewing het hulle die voorgeskiedenis van die vorige inwoners leer ken en van die verhale eerstehands gehoor. So ook dié van die belangrikste besoekers aan die kontrei, onder andere die digter en skrywer Eugene Nielen Marais wat ʼn paar maal op die buurplaas Rietvlei by die Van Heerdens tuisgegaan het. Hier het hy telkens ‘n paar maande vertoef om o.a. mediese hulp te verleen aan die familielede en om sy wetenskaplike studies op te teken oor die gebied, ook om mambas en bobbejane daar te bestudeer. (Hierdie verwysings is breedvoerig opgeteken in “Die Groot Verlange” van  Leon Rousseau soos jy weet, en natuurlik in die proefskrif van Dr. Johann Lodewyk Marais). Bloot die leef in daardie mooi wêreld was aansporing genoeg om digterlik te wil raak.

Ja, ek was self aangenaam verras om te sien hoeveel vrouedigters uit die Waterberge kom en daaroor dig. Maar soos hulle sê, as jy eers daardie berge en hulle stilte ervaar het, bly dit en die vars lug vir altyd in jou bloed. Het dus voorheen al met groot belangstelling van beide Ilse van Staden en Carina Stander, en van jou gedigte gelees. Die muse en die gedigte het sekerlik al van mekaar geweet, al het ons nie!

Veldbrande word skreiend uitgebeeld in gedigte soos Vuurdoop, Vuurproef en Rondom geboortevure. Was dit spesifieke ervarings en belewenis waaraan jy hier so atmosferies en realisties gestalte gee?

Plaas na die brand

Plaas na die brand

Dit was persoonlike ervarings, ja, en die gedigte wou moontlik ʼn beswering wees teen die angs waarmee die ervarings altyd gepaard gaan. Soos jy sal onthou, is die wintermaande in die Waterberge droogtetyd, en is die vuurgevaar altyd ʼn realiteit om mee te reken. In die berge is dit moeilik om vure te keer en elke paar jaar brand alles af.  Maar dis ook vertroostend om te sien hoe die natuur homself beskerm en weer vinnig kan herstel.

Die gedig “Rondom geboortevure” het ʼn heel ander agtergrond. Die gebeure is aan my vertel deur ʼn familielid wat as jong soldaat van so agtien sy militêre diensplig in die grensoorlog gedoen het as lid van die weermag se mediese korps. Op ʼn dag het hulle op ʼn Ovahimba vrou afgekom vir wie hulle nog kon help met haar bevalling te midde van die verwoestende oorlog rondom hulle. Die ervaringe van die seun, en die vrou daar, het my so aangegryp, dit wou geskryf word. Die gebeure is waar, maar die verhaal het ek gedramatiseer deur ʼn persoonlike aanspreekvorm in die verhouding binne die gedig in te bou.

Die gedig Begraafplaas op Volmoed, (opgedra aan Pauline en Theodore Prigge) het my laat dink aan die plaas Volmoed in die Klein Karoo waar die bekende skrywer Abraham H de Vries gebore en getoë is. Verwys die gedig inderdaad na hierdie plaas of is dit miskien ʼn ander Volmoed waarvan jy hier skryf?

Dis heeltemal ʼn ander plaas Volmoed waarna hierdie gedig verwys, naamlik my ouers se plaas, ʼn gedeelte van die groter Rietvlei in die distrik Waterberge, Noord Transvaal (soos nog in die ou benaming van die aktes). Dis waar my ouers later ook begrawe is volgens hulle wens om tussen die bome, klippe en klowe te bly wat hulle so lief gehad het.

Jou beeldgebruik is sterk visueel en werklikheidsgetrou. Ek dink nou byvoorbeeld aan hierdie strofe uit die gedig Vuurproef : Voor haastig uitgedolwe erdvarkgate/ hang spinnerakke doubedrup en broos/ soos vuil kantgordyntjies/.   Jou gedigte het ook ʼn sterk ritmiese aanslag met resonerende klanke. Dis iets wat ʼn mens aan die musiek laat dink. Is jy ʼn musiekliefhebber en waarna luister jy dan graag?

Ja, musiek was waarskynlik nog altyd my ander groot liefde naas die geskrewe woord, en my voorkeure van luister loop nogal wyd uiteen, nes my leesbelangstelling. Dit was miskien ook een van my eerste en grootste beproewinge in die lewe, want ek moes van so agt-, negejarige ouderdom af klavierlesse neem, en dit het beteken elke dag so twee ure oefen (met die ewige metronoom) terwyl die maats buite speel! In elk geval, mens se smaak wissel maar soos die jare aanstap, en alhoewel ons groot geword het met al die klassieke komponiste, was Beethoven as vernuwer, altyd my geliefkoosde komponis met sy Eroica en die negende simfonie, sy viool- en klavierkonserte soos die “Choral Fantasia”.  Maar dan luister ek net so graag na goeie moderne musiek soos die van Mike Batt, Dire Straits se meesterlike kitaarkunstenaar en sanger, Mark Knopfler, ook Queen en baie ander, en ja, ek luister ook graag na ons Afrikaanse liedjieskrywers wat goed is: Koos du Plessis, Gert Vlok Nel en Theuns Jordaan, wat myns insiens die mooiste vertolking van “Beautiful in Beaufort-Wes” gedoen het, met daardie stem van hom!

Maar ja, die ritmiese aanslag in gedigte, en wat jy noem “resonerende klanke”, is moontlik die gevolg van ʼn soms onbewuste, soms doelbewuste instelling van die oor vir dit wat gesê wil word.  Daar is mos deesdae studies oor die neurologiese prosesse van dig en skryf – dit wat so op sy eie ritme aangeslibben kom … miskien bly dit net ʼn deuntjie in jou kop, miskien word dit iets magies. Dalk wil sommige gedigte liefs gehoor word oor die musikale elemente daarin en die moontlikheid van variasie in ritmiese vertolkings daarvan, net soos elke opvoering ʼn ander vertolking word van dieselfde gekomponeerde musiekstuk. Dit kan elke gedig sy “volmaakte” vorm en gang laat vind, met versnellings en pouses, soos water oor klippe. Ek glo nie alle gedigte wil noodwendig net “stil” gelees word as slim en vernuftige woordspel op papier nie. Dit vra ʼn stem en ‘n oor, en ʼn stemtoon wat dit vertolk. Die gedig begin, myns insiens, eers lewe as die woordbetekenisse deur die ritme en klanke  “opgeroep” word. Want is dit dan nie die ritme wat die “asemhaling van die betekenis” is nie? (Is dit nie N.P. van Wyk Louw se woorde wat ons so bly inspireer nie?). Dit is tog wat steeds bepleit word, dat digters hulle eie gedigte hardop voorlees, om dit telkens weer op die oor te toets. (Ek verwys hier na talle voorlesings hieroor by die hAp-huis en die onderhoud met Antjie Krog onlangs op Versindaba se webblad, as ek reg onthou). Kyk net hoeveel digters het al CD’s en DVD’s ingesluit in hulle bundeluitgawes soos Breyten Breytenbach, en ‘n hele klomp van die jonger garde digters op hulle eie, en op die onlangse CD-bundel Klikspringer. Dat al hoe meer gedigte, ook van ons ouer digters weer getoonset en voorgedra word, is ‘n mooi ontwikkeling in ons tyd, danksy die tegnologie en toewyding van ons musikante, soos Chris Chameleon met sy Ingrid Jonker vertolkings. Gelukkig is daar ook heelwat digters in Afrikaans wie se gedigte genoeg musikale elemente bevat om wel getoonset te word. Wat ʼn fees vir Afrikaans!

Baie dankie Lucie. Sal jy vir lesers hieronder ʼn vers van jou keuse uit jou bundel intik?

Ja graag, hier is:

Die buitenste tent

Die gebreide vel

van jou hande

hou nog inskripsies:

diep en swaar lyne

van ‘n lang pad saam.

Hoekpenne van oorstaan,

skraal en dun riempies

aan ‘n paal

het losgeruk uit die sand

en teen tentflappe en toue

aanhoudend bly klapper

in windsuile, stof en storm

in ‘n eindelose woestyn

van verdwaal

en jou asem,

rukkerig soos wind,

het bedaar

in verlate duine.

Uiteindelik was jou gaan

minder as ‘n voetstap

asof jou oë

net buite die tentseil

iemand sien staan.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.