Bloot mens
Bloot mens. Jelleke Wierenga. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-311-9. Prys: R130.
Met Bloot mens is Jelleke Wierenga, as ek reg getel het, al die sesde van die sestien digdebutante in nuwe stemme 2 (2001) wat met ’n eie solobundel vorendag kom.
Dis ’n gekwelde mens, geneig tot die uiterstes van lewensdrif en depressiwiteit, wat uit die prentjie tree by die lees van dié bundel. Pers en pienk is waarskynlik nie verniet die twee kleure wat die meeste opduik in die bundel nie; ook die swierige kledy van die vrou op die bandfoto (geneem deur Jurgen Doom) word deur hierdie kleure gestempel.
Vroulike sensualiteit, tot die swoele toe, en sentimentele gevoeligheid, maar ook pyn en kwesbaarheid, word so vooropgestel.
Die “sy” in die gedig “Argetipies” word byvoorbeeld, in ’n passasie wat plek-plek aan Cloete se uitbeelding van iemand soos Marilyn Monroe herinner, soos volg geteken:
Kaalvel koningin sy
in die tuin en beleef
hoe purper in pienk
pas en palm ooplyf:
die minnares-hedonis
Onverweer leef sy
teen die lang arm wat al vinniger
deur die sirkel swaai;
die bolip soet gekrul,
die wange weerloos:
sy[.]
’n Onvrede met die persoonlike verlede spreek uit die bundel. Dis ’n verlede gekenmerk deur onvervullende verhoudings, ook vanweë eie aandadigheid deur die subjek, soos veral uitgedruk in sekere van die gedigte in die afdeling “Galery van gewese geliefdes”. Daarby kom die besef dat die eie potensiaal nog grootliks onverwerklik is. Teen die einde van die bundel, in die gedig “Rekenskap”, bely die “ek” dat sy “’n lieg gelewe” het, “suutjies en saggies en bietjies”. As sy “eerlik” moet sê (in funksioneel verkapte taal), was sy tot dusver eintlik
[...] net pot
pot
potensiaal
gemorste mat
mat
materiaal.
Soos die titel van die gedig direk voorafgaande aan “Rekenskap” lui, is sy, wat al ouer as vyftig is, eintlik steeds net “op pad” – bowendien, luidens die gedig “Trip” in dieselfde bundelafdeling, onderweg “na wie weet watter onbewoonde / plan”. (Die ruimtevaartbeeld wat “Trip” oorheers, maak dit duidelik dat “plan” ook as “planeet” gelees moet word.)
Die leser kan dus skaars anders as om geraak te voel as Wierenga in “op pad” skryf:
[...]
en die lintwurm strek
so lank en so swart
daar’s rooi oë in die nag
en ek stop vir koffie by die Shell
een suiker asseblief
en ek is weer op pad
en ek draai die venster af
en al die sterre waai
en die maan dreunsing
op pad[.]
Die onvrede by die “ek” betref egter ook die burgerlike en/of verkommersialiseerde bestaanswyse van vandag (veral uitgedruk in afdeling 5, “Gespook”), asmede die sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika (afdeling 4, “Aan- en uitklag”).
Dié onvredes verskaf die nodige reliëf aan die hoë lewenseise wat die “ek” aan haarself stel. “Vraatsug” is ’n woord wat in die gedig “Geboortedag: 1 Mei 2007” val om dié lewensdrif te kwalifiseer. 1 Mei 2007 was klaarblyklik die dag waarop sy bevry is van ’n versmorende verhouding oor “dekades” heen wat haar “dood en gewoon” laat voel het. Nou wens sy vir haarself:
Waag.
Waar.
Wonders.
Daarby poësie, waarsonder sy “glad nie lewe [lus] nie”.
Teen hierdie tyd is die verskillende betekenisnuanses van die bundeltitel al duidelik. Dit gaan om ’n blootgestelde, verwondbare mens (nou ook deur middel van die selfopenbarende digbundel!), maar wat ook inténs mens wil wees. Trouens: bloot méns. Vergelyk die stilisties verkapte, derhalwe gestroopte (maar terselfdertyd sensuele) gedig “Kantwerk” uit die selftekenende afdeling “Profiel”:
Tuinwerk.
In blou kantbroekie.
Son op die land.
En lyf.
Buurman.
Op soldertrap.
Sien.
Wat jy sien.
Hier.
Is ek.
Kant.
En kaal.
’n Ander treffend gestroopte vers in Bloot mens is “10 September 2007” (oor die dood van ’n suster); miskien ook die slotgedig, “Waarneming”.
Sulke gedigte is egter in die minderheid. In die meeste gevalle word ’n seggingsvernuf eerder uitgestal: enersyds as ’n maskerade teen die eie weerloosheidsgevoel, andersyds as neerslag van die belyde lewens- en uitingsdrang. Daarby kom ’n opvallendmaking van aanhalings, intertekstuele verwysings en toespelings as “bewuste” literêrheid.
Soms, in gedigte soos “vir BB”, “Epos sonder helde of heldinne” en “Dit kan nie wees”, word dit hoofsaaklik boeiend of funksioneel gedoen (byvoorbeeld met betrekking tot bewussynsontwrigtheid). Meestal lei dit egter tot oordaad, tot onbeheersdheid wat selfs banaliserend kan aandoen.
In laasgenoemde verband staan die alliterasiedrif in soveel gedigte uit. “Profiel”, “Argetipies”, “Hoe gaan dit nog met jou adiposity?”, “Klaaglied van die kleintjies” en “Dislojale verset” het die twyfelagtige eer dat hulle as “uitstekende” voorbeelde hiervan genoem kan word.
Daar is waarskynlik iets uitdagends, iets aandringend poëties in die wyse waarop Wierenga vreemd- en opvallendmakende middele benut soos die volgende: woordfunksiewisselings (byvoorbeeld die reeds aangehaalde “[k]aalvel koningin sy”) en omgekeerde woordordenings, neologismes en gesogte samestellings (“bottel-bekkend”, “dwarreldaal”, “goorgrond”, ensovoorts, ensovoorts), ellipse, ontkoppelings (“sonder lei of draad”), woord- en klankspel (“poësie … ha-ha, gee ons eerder poesie”!), Loslitafrikaans en woordkontaminasies (“wondernis”), uitbuiting van spreekwoorde en geykte segswyses, herhalingseffekte soos parallelismes, anafore en repetisies, asook retoriese vrae en enumerasies (dikwels in polisindetiese opstapeling van konstruksies met “en”).
Met betrekking tot die satiriserende, sosiaal- en religieus-kritiese verse in afdelings 3, 4 en 5 sou ’n mens nog ’n saak kon uitmaak dat dit ’n speels-ondermynende werking het.
Maar dié stylopvallendhede verteenwoordig ook ’n soort digterlike naaklopery, waardeur die poësie ernstig aan subtiliteit inboet. Dit word helaas alte geforseerd, te “maklik”. Ter illlustrasie enkele passasies uit “Huis ontuis”:
[...]
Dis bedoel om my & jou
– hallusineer / droom ek –
te wakker na bewus:
no pain, my dear,
no gain:
en dis die kotsbare waarheid.
[...]
jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche
[...]
ek sel my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life
[...]
Meermale is die eindproduk banalisering, soos gesê. (Die herhaalde verwysings na en toespelings op Breyten Breytenbach in die bundel verlei my om van Breyten-vir-die-volkse-smaak te praat.)
Let maar op hoe die oppervlakkige vernufspel die morele onthutsing en aanklag in ’n geval soos die volgende ontkrag:
Die situasie
Sito-sito die situasie
op die snelweg
’n transito-oorloggie
og toggie
konsternasie op die stasie
want die fluitjie willie blasie
en die gewere is in die menasie
of geleen deur die nasie
maar alle panic op ’n knoppie
die amagents ken die wet
van etiket
en vra polite:
“Your money or your life!”
umshini wam bam bam
“Thank you, man!
And greetings to your wife!’
Clichés opgestapel saam met oorwerkte truuks.
’n Mens kry die indruk dat Wierenga ten alle koste poësie wíl maak (en publiseer). ’n Bietjie soos die blitsbesoek-minnaar in “Epos sonder helde of heldinne” wat aandring: “ek WIL jou NOU ek wil jou GOU”.
Dis jammer, want die klompie knapper gedigte in Bloot mens kom derhalwe te staan in die skadu van oorwoekerende woorduitwasse.





Kan jy nou meer!! Dat ‘n persoon wat lyk my die name van baie woorde ken, so lippe kap dat die gewone persoon soos ek wat ‘n gedig en storie lees vir ontspanning en die lekkerte daarvan, geen snars verstaan van wat die resensent eintlik wil sê nie. My ondervinding in die lewe is dat wanneer iemand ‘n ander persoon of die ander persoon se werke of optrede in ‘n swak lig wil stel, eintlik ‘n swakkeling en hengs jaloers is. Jaloers omdat daardie persoon soos in hierdie geval, Bernard Odendaal, nie kan doen wat Jelleke gedoen het nie. Oja, hy kan sê ek kan ook, maar soos mens vir ‘n gorrelbek kan sê, Sy het en jy het nog nie.
Om die resensie op te som, ‘n gegorrel van ‘n persoon wat wil toon hy kan deftige woorde gebruik wat net hy verstaan. ‘n Gewone afrikaanssprekende het nie ‘n idee wat Bernard wou sê nie. Wonder of hy self net ‘n vae idee het. Vir die eerste keer in baie jare het ek ‘n gedig gelees wat nog te sê ‘n digbundel gekoop. Jelleke se digbundel het ek gaan koop en gelees en die gedigte van goed tot puik en uitstaande gevind.
Baie geluk Jelleke met jou digbundel. En ek hoop daar vloei nog baie mooi woorde en gedagtes wat in digvorm is, uit jou pen.
Dankie vir jou bydrae, Jakkie. Soos jyself erken, het jy met Jelleke se bundel vir die eerste keer ‘n gedig gelees en selfs ‘n bundel gekoop. Hiervoor kan ek net handeklap, want elke koper van ‘n digbundel is broodnodig in Afrikaans. Maar het die gedagte dalk op ‘n stadium by jou opgekom dat dit waarskynlik juis as gevolg daarvan is (dat jy so selde gedigte lees) dat jy so heftig - en selfs aanmatigend? - op Bernard se resensie reageer? ‘n Resensent is immers iemand wat in soverre dit moontlik is, ELKE bundel wat verskyn, nie net vir ontspanning lees nie, maar KRITIES lees. (Dit is immers sy of haar werk as resensent.) Ongelukkig is dit so dat GEEN boek perfek is nie; daarom is dit die resensent se taak om eintlik aan die skrywer te wys op goeie punte sowel as gebreke ten einde hom/haar te help op hul loopbaan as skrywers vorentoe. Dit is ‘n ondankbare taak; maar helaas, iets wat bitternodig is anders sal daar bloedweinig ontwikkeling in enige letterkunde plaasvind. Die belangrikste eienskappe wat van ‘n resensent verlang word, is toewyding, objektiwiteit en eerlikheid en Bernard Odendaal is by uitstek bekend hiervoor. (Jy verwag tog seker nie dat hy moet vals wees en voorgee dat die bundel beter is as wat hy dink dit is nie?) Terloops, ken jy die begrip “opbouende kritiek”? Dit is waaroor dit hier gaan. Bernard se volgende resensie gaan (vermoed ek) oor Breyten Breytenbach se “Oorblyfsel/Voice over” handel; sien jy kans om solank te begin lees ten einde jou volgende kommentaar in gereedheid te kry? Hopelik sal dit meer beleefd en konstruktief wees …
Jakkie ek is ook ‘n gewone leser en praat gewoon afrikaans en ek verstaan Bernard se resensie. Jou kommentaar is verdag, emosioneel en aanvallend. Moet maar liewer nie resensies lees nie. Jaloers? Mnr Odendaal? Dit laat my skaterlag.
Beste Jakkie,
dit spyt my as my resensie moeilik verstaanbaar was.
Dis myns insiens regtig belangrik dat ‘n resensent toeganklik moet skryf, maar veral duidelik in wat hy bedoel. Daarvoor is helaas sekere tegniese terme nodig - soos in die geval van “Bloot mens” oor die ‘andersmakingstegnieke’ (as ek hulle so mag noem) wat ingespan word. Dit sal myns insiens nie regverdig wees as ek stylkritiek lewer en dan spel ek nie met die regte terminologie uit wat ek wil aandui nie.
Ek spook al 17 jare sedert ek my eerste resensie geskryf het om telkens helderheid en presiesheid met mekaar versoen te kry.
Voorts hoop ek nie dat dit lyk of ek Jelleke Wierenga wou te na kom nie; allermins.
Miskien was sy die keer net te haastig met die gedigte in die bundel. Ek het byvoorbeeld heelwat gehou van haar gedigte wat destyds in “nuwe stemme 2″ verskyn het, maar daardie gedigte ontbreek (grootliks) uit “Bloot mens”. Waarskynlik sou hulle, tematies gesien, nie in “Bloot mens” ‘n gepaste plek kon inneem nie. Hulle sou na my mening egter die gehalte-indruk van die bundel kon verstewig.
Rita,
Ek aanvaar dat jy gewone afrikaans praat en lees. En as iemand wat suiwer gewone verstaanbare taal verkies is ek bly om te hoor ek het ‘n maatjie.
Natuurlik was my kommentaar aanvallend en dalk emosioneel ook. Het jy verwag mens moet bly staan en niks doen as iemand aangeval word? So slap is ek nie.
Resensente is meerendeels hoogdrawend in hul taalgebruik en soek vlooie en beskryf dit wat hulle dink. En wat hulle dink is ver van wat die gewone leser dink.
Gee my kans om jou kleredrag en gedrag te beskryf en kyk dan of dit dieselfde persoon is wat jy is.
Kyk net hoe mis lees Louis my kommentaar. Hy sê ek erken dis die eerste keer dat ek ‘n gedig lees.
Louis
ek’s bly jy’s nie ‘n regter of onderwyser nie.Want waninterpretasie maak dat mense kan dood gaan.
Bernard.
Moenie sê jy’s spyt dat jou resensie moeilik verstaanbaar was nie. Skryf in, vir die gewone leser verstaanbare taal, hetsy afrikaans of ‘n ander taal. Dis ‘n kuns om taal kundig en keurig te gebruik en ‘n nog groter kuns om dit so te gebruik dat selfs skoolkinders dit verstaan. En hou ingedagte dat die gewone leser soos ek nie taal as vak tot op magistergraadvlak gehad het nie. Dalk net standerd agt met ‘n liefde vir die taal.
Dus; Ek aanvaar resensie is kritiese evaluasie, maar sonder om afbrekend te wees. En na my mening is Bernard syne ‘n hiperboliese manifestasie van oratoriesepedantiek geprojekteer op ‘n sintese van intelektuele fenomenologie met fragmentariese pragmatiese data.
Louis,
Ek gaan nie kommentaar lewer op die resensie wat kom oor Breyten se gedigte nie.
Groete en ek sal voortaan liewer Rita se raad volg. Hoekom? Dis goeie raad, want resensies maak my maag draai.
Jakkie, jy laat my nou dink aan iemand wat by die kerk in stap en haar vererg omdat die orrelis nie Abba se “Mamma Mia” op die kerkorrel vir jou wil speel terwyl die gemeente al sit nie. Hy kan tog nie, kan hy?! Dis immers nie sy funksie om die gemeente te vermaak met special requests nie, of hoe?! Die resensent se taak is om ‘n spieëlbeeld van die teks op te hou vir die skrywer, keurder, uitgewer, akademikus én leser met die uitwys van sowel sterk punte as tekortkominge. Daarsonder is daar nie groei in ons letterkunde moontlik nie. Die deeglikheid van Bernard se resensie, asook die objektiwiteit daarvan, is júís ‘n (welverdiende) kompliment vir die betrokke bundel. Of dink jy dat ‘n “hiep-hiep-hoera-rugklop” van 10 reëls enige bydrae tot die ontwikkeling van ons digkuns sou kon lewer? Nee, Jakkie, daar is immers reeds soveel kafees op alle straathoeke van die land waar jy na “Mamma Mia” op die jukebox kan luister, is daar nie? ‘n Resensie is nié ‘n getuigskrif of fan mail nie, dit is ‘n kritiese beoordeling van ‘n teks en al wat die skrywer van die resensent dúrf vra, is dat daar moeite met die betrokke teks gedoen word en dat die aanbod objektief, dog deeglik, moet wees. En daarin slaag Bernard uitmuntend.
Terloops, ek deel jou entoesiasme tov Jelleke se bundel volledig; ook ék het dit enorm geniet. (Gaan lees gerus weer die onderhoud wat ek met haar gevoer het.) Maar - nie ek (of jy?) is kritiese lesers nie. Ons lees vir die plesier daarvan en dit is rég so; boonop doen dit géén afbreek aan die leesplesier nie, of hoe?
Ten slotte, nog een regstelling: Bernard val hoegenaamd nié vir Jelleke aan soos jy suggereer nie; hy bespreek die TEKS wat sy geproduseer het myns insiens met ‘n positiewe en waarderende ingesteldheid. Ek dink regtig dat jy onredelik is in jou aanval op hom.
Louis
Dit was nie die bedoeling om onredelik te wees nie. Die resensies wat ek al gelees en gehoor het, het almal dieselfde strekking nl. hoogdrawende woordgebruik en kritiek. Soos dit vir my lyk soek hulle vlooie en blaas dit op.
Dis te verstane dat skrywers en digters soms dinge skryf wat onder die aandag van lesers gebring kan word omdat dit onlogies/verregaande is. Maar hoekom dan groot klem daarop lê, en dit met die omhaal van baie woorde?
My beswaar is dat resensente meermale soos dit vir my voorkom, so skryf en sê dat mens dink dit is nie die moeite werd om die boek te koop/fliek te gaan kyk, nie. Ook die resensie onder bespreking bevestig hierdie siening van my. En ek wonder wat is die invloed daarvan op die skrywer/digter?
Louis ek wil nie met jou in ‘n woordgeveg betrokke raak nie, dis nie die doel van ons gesprek nie. My gevoel is dat resensente ‘n ontleding van die “geskrif” doen met die uitgangspunt om eerder te soek na wat nie goed is nie in plaas daarvan om ‘n opbouende kritiese waardering te lewer. ‘n Mens kan op ‘n negatiewe en positiewe manier motiveer. En ek is seker ek hoef nie voorbeelde te noem nie. (Terloops die Tien gebooie in die Bybel is ‘n sterk negatiewe.) My ondervinding is dat resensente net op ‘n negatiewe manier evalueer/motiveer.
Ek is nie ‘n kenner van literatuur nie, maar is seker dat mense soos Bernard ‘n resensie sal kan skryf wat die skryer/digter aan moedig om gou weer hand op papier te sit. Sy resensie van Bloot Mens dink ek nie sal Jelleke motiveer om gou weer te dig/skryf nie. Ek hoop ek’s verkeerd, want ek dink daar word baie talent in hierdie digbundel ten toon gestel.
En waarom hou mense nie van resensente nie? Hul mening is maar net een persoon sin, maar het die invloed van baie menings. En mense praat hulle na. En dis verkeerd.
Ek het die onderhoud wat met Jelleke gevoer is hier op Versindaba gelees en ook geluister na die een wat Daniel Hugo met haar gehad het.
Die rede waarom ek haar digbundel gekoop en die onderhoude gelees en na geluister het, was omdat ek vir myself iets wou bewys. En ek het, want nou besef ek weer ‘n gedig sê so baie.
Groete en geniet jou werk.
Jakkie
Dankie vir die toon van hierdie antwoord, Jakkie. Ek hou veral van hierdie opmerking van jou: “Hul mening is maar net een persoon s’n, maar het die invloed van baie menings.” Want dit is heeltemal korrek. Die resensent is gewoon net nóg ‘n bepaalde leser van ‘n teks. Soos ook die skepper daarvan. Die oomblik wat ‘n teks gepubliseer word, word dit openbare besit en daar is nié ‘n reg of verkeerd te sprake nie. Die enigste vraag wat die resensent as kundige, en ingeligte leser, wens te beantwoord, is: Slaag hierdie teks in die wyse waarop dit aangebied word as literêre kunswerk, al dan nie. Vir my en jou - as “gewone”, nie-kritiese lesers, geld ‘n ánder maatstaf: Vind ek aanklank by die bepaalde teks en het ek plesier daaraan, al dan nie? Dié twee vrae (van die resensent en die nie-kritiese leser) is uiteenlopend en het niks met mekaar te doen nie. Daar bestaan dus twéé soorte resensiens: die een wat gewoon die boek aankondig en sê waaroor dit handel sonder om ‘n kritiese (=literêre) oordeel daaroor te vel en die ander wat ‘n meer akademiese, literêre analise daarvan in terme van norme wat vir ‘n bepaalde letterkunde gestel (en gehandhaaf) word. Eersgenoemde is dus op die “bekendmaak” en hopelike verkope van die boek gerig, terwyl laasgenoemde weer met die statuur van die letterkunde as sulks te make het. (Terloops, voorbeelde van eersgenoemde is wat onder “Publikasies” op hierdie webblad gevind kan word.)
Bernard se taak as vaste resensent vir hierdie webblad is om eerstens ‘n bepaalde objektiewe en deurlopende standaard ten opsigte van alle nuwe bundels wat verskyn, te vestig, en tweedens, om objektiewe, dog kundige kommentaar te lewer ten opsigte van die positiewe aspekte in ‘n bepaalde bundel (waarvan daar vele voorbeelde is in sy resensie), asook die tekortkominge. Digkuns is ‘n ambag soos enige ander en sonder laasgenoemde sal daar geen groei of ontwikelling moontlik wees in die letterkunde nie; nie vir Jelleke nie en veral ook nie vir al die digters (waaronder ek by uitstek) wat hulle aan soortgelyke “mistastings” skuldig maak nie … Hoe pynlik dit ook al mag wees. Het jy al daaraan gedink hoe moeilik dit vir ‘n resensent moet wees om negatiewe kommentaar op ‘n bundel te lewer? Verál wanneer ‘n eerstelingdigter ter sprake is?! Na my mening is dit eintlik opvallend dat Bernard baie plesier gehad het aan die bundel (net soos ek en jy en vele ander), maar moet hy as resensent nou met ‘n blinde oog kyk na die gebreke? Sy reputasie as objektiewe en betroubare resensent is immers óók op die spel … Jelleke kan óf besluit om Bernard se kritiek te ignoreer (wat jammer sal wees), óf sy kan besluit om dit ter harte te neem en daarteen te waak in haar volgende skryfwerk. Die resultaat sal ‘n absoluut skitterende volgende bundel wees; iets waarop Bernard sélf sinspeel.
Ten slotte, mense staan dikwels verstom (nie net hier nie, maar ook in die buiteland) oor die buitengewone gehalte van ons digkuns; veral gesien die klein taalgebied waaruit dit voortgebring word. En ja, sekerlik het dit met Afrikaans as uitdrukkingskrag te make (soos Gerrit Komrij beweer), maar miskien ook júís omrede ons oor resensente soos Bernard Odendaal beskik wat hul taak met ‘n buitengewone hoë standaard van oordeel en integriteit volvoer? Of wat praat ek alles?
Hoe dit ook al sy, Jakkie - koop nóg ‘n bundel vanjaar en geniet dit. Poësie is wat dit vir jóú beteken en die plesier wat JY daaraan het. Dis uit en uit ‘n persoonlike ding en daarom ‘n persoonlike vreugde.
Mooi bly.
Louis
Louis,
Kan nie anders as om ‘n laaste opmerking te maak nie en dan sal ek mondhou.
Dit wil voorkom asof ons oor bykans alles saamstem, maar dit waar oor ons verskil is ‘n baie diep sloot.
Het weer probeer om Bernard se resensie te lees. Het nie ver gekom nie toe’s ek opnuut geirriteerd omdat ek dink hy venynig en gemeen is met wat hy sê. Lees sy eerste drie paragrawe en die paragraaf wat begin met “‘n Onvrede met die persoonlike verlede ….” Hoe dink jy sal Jelleke voel of dan enige ander digter/skrywer as so iets van hom/haar gesê word. Ken Bernard vir Jelleke en haar persoonlikheid en as mens? Goeie genade jong, wie gee hom die reg om iemand so “oop te vlek?”
My gevoel is dat resensente en ook Bernard sulke venynige dinge kwytraak lyk my om hulself te verheerlik as hierdie besonderse kenners van dit waaroor hulle “kritiseer.” En dis gemeen en verdien geen respek in my oë nie. Eintlik verafsku ek sulke lafhartigheid.
Het Bernard al gedigte gepubliseer? Ek vermoed so. Waar kan ek dit te lese kry, bedoelende onder watter naam? En kan ek dan skryf wat ek daarvan dink en sal jy dit publiseer? Net vir interessantheid en as verrassing sal ek twee verskillende kommentare lewer. Nie resensies nie, want ek ken nie die name van al die hogere akademiese en vakkundige woorde nie, by wyse van spreuke.
Louis, ek het jou lekker besig gehou nè?
Is Rita Bernard se vrou?
Groete en ek weet jy geniet jou werk. Kan dit mos aflei.
Jakkie
Nee, Jakkie, ek is bevrees dat ons nie tot ‘n vergelyk gaan kom nie; graag soos ek wou. Wat jy nie snap nie, is dat Bernard die TEKS bespreek. Die “ek” waarna in aanhalingstekens verwys word, is die persona (anders gestel: die stem) in die gedig en NIE Jelleke as mens nie. (Die persona in ‘n gedig is tog nie gelyk te stel aan die digter nie?! Sy as digter het ‘n teks geskep en dit is die TEKS wat beoordeel word.) Verder motiveer hy sy sienings deur die heeltyd na spesifieke gedigte te verwys en ook aan te haal.
Oor jou laaste vraag: Bernard is inderdaad een van ons mees belowende digters; hy het verlede jaar met die bundel “Onbedoelde land” gedebuteer. Gaan kry dit gerus by jou naaste boekwinkel en lees dit … Dit is werklik goeie, afgeronde poësie. Op die webblad is daar ook heelwat van sy gedigte. Gaan na “Gedigte” heel bo op die banier en kies sy naam uit die alfabetiese lys van digters. Veral sy haikoe sms’e is van die mees opwindende gedigte wat ek in die onlangse verlede te lese kon kry. (Terloops, ingeval jy nie weet nie: ‘n haikoe is ‘n baie ou Japannese versvorm wat uit drie reëls bestaan; die 1ste en 3de reëls het 5 lettergrepe en die middelste reël 7.)Bernard verkry ongelooflike trefkrag deur hierdie óú digvorm met eietydse berigte oor geweld te kombineer. (Maak asseblief ook net seker dat jy reg kyk na watter gedigte hy sélf geskryf het en watter vertalings is, hoor …) Dan kan jy gerus ook na sy blogruime onder die hofie “Lees ook vorige blogs!” gaan; daar kan jy al sy blogs te lese kry.
Ten slotte - jy verwys na my werk? Ek geniet my werk selfs nog meer as wat jy ooit kan besef; om met boek en boekmense te kan werk is om met een voet in die hemel te staan.
Lekker lees en ons sluit dan maar die gesprek af, nè?
Mooi bly. En bly ook by die poësie; die regte gedig kan jou lewe red, glo my.
L.
Oggietoggie, ek vermoed ook Jakkie is n skuilnaam.Louis se skrywes was so sinvol en inspirerend en ek het gedink Jakkie leer iets. Digkuns is inderdaad ‘n ambag en kritiek van watter aard ook al, behoort die digter te help om iets beter daarvan te maak of ten minste ‘n groeikurwe te toon. Bernard skryf objektiewe resensies. Hy was eerlik in hoe hy dit evalueer, maar waarom so verwoestende relaas deur Jakkelot toe op Litnet? Ennieway, laat ek verder pak aan my tasse, en my nie verder hiermee bemoei nie, want moreaand vlieg ek Europa toe vir drie weke. En die bundels wat ek saamneem vir leesplesier en inspirasie is Cas Vos sinne en Joan Hambidge sinne en so Ingilse enetjie en… o daai Oorblyfsels darem ook, ens. En ‘n Deon Meyer vir my seun in Nederland. Vaarwel.
Johrne,
Nee ek is ‘n jy/hy/manlik en dis ‘n bynaam waaronder ek by meeste bekend is.
Die mense hiervoor het my lekker geklap, maar hulle kan maar. Ek bly by wat ek gesê het nl dat Bernard persoonlik vir Jelleke beledig het. En dat my ondervinding van resensente nie positief is nie omdat hulle meer afkraak as enigiets anders. Sou graag wil hoor wat het jy al ondervind of is jy van die gelukkiges omdat jy ‘n oulike persoonlikheid het?
Vanweë resensente het ek nog nooit sover gekom om die roman te skryf waarvan ek met die idee al vir jare mee loop nie. Aan digkuns sal ek dit nooit waag nie vir ingeval ‘n persoon soos Bernard self die ink se kleur sal bysleep om my met die grond gelyk te maak. Dis mos wat hy met die pers kleur van die buiteblad van “Bloot Mens” gedoen het.
Johrne ek is in Pretoria. Jy’s mos ook iewers in Gauteng. Dalk kan ons eendag iets saam gaan drink. Net nie koffie of bier nie. Ek’s te lig in die broek daarvoor.
Sterkte met jou loopbaan.
Jakkie
Alhoewel nie ‘n professor in Afrikaans nie, maar wel ‘n dosent in Engels aan ‘n universiteit in die buiteland, wil ek ook ‘n beskeie mening lewer.
M.i. is die resensie baie akkuraat in vele opsigte en getuig dit van diep kyk en fyn lees. Die waardering vir die beste gedigte wat daarin uitgespreek word, sekerlik baie welkome terugvoering vir die digter. Kritiek is te verwagte en opbouende kritiek tot voordeel va die skrywer/ digter wat dit wil benut.
Die bewoording van die kritiek, alhoewel baie slim, vind ek egter onnodig kwetsend en derhalwe nie konstruktief nie maar eerder destruktief.
Jakkie, net sommer ‘n klip in die bos gegooi en toe myself getref. Ek het ook al deurgeloop omrede mens se musiek jou blootstel vir kritiek. Is nooit lekker as iemand persoonlik raak nie. Ek stamp mos maar koppe met Jelleke, so wou sommer bietjie stir. Ek sal altyd val vir ‘n koffie of bier, andersins selfs net water. Perpektiewe verander geweldig as mens eers iemand ontmoet het. Glo selfs dat ek en die tannie digter ‘n paar sinne sal kan uitruil. Daai les te veel geleer.
Ek trek my comment terug.
Jakkie, Johrne, ek wou darem net se dis hier op my voorstoep dat julle ‘n kroegafspraak staan en maak het. Dink julle nie dis ongevoelig om nie ook die gasheer saam te nooi nie? Ek sal een van daai sterkeres vat waarvoor Jakkie nie kans sien nie…
O, nou drink die manne bier saam. En my ou stukkie kommentaar - nie ‘n tannie digter nie maar ‘n tannie leser (beledigende pstroniserende chauvinistiese benamings) - word ignoreer.
Nou ja, wat se Jelleke van die volk? Party hou en braaivleisvure is hulle voorkeure!
Ek is geen kenner van digkuns nie, maar ek staan dikwels verstom oor die krag wat in woorde en spesifiek gedigte opgesluit lê. Persoonlik het ek Jelleke se digbundel geweldig geniet. Die kritiek in mnr Odendaal se resensie kan ek nie bevraagteken of ondersteun nie omdat ek nie die nodige kennis en/of vaardigheid daarvoor het nie. Daar sal altyd kundige resensente en gewone lesers wees. Vir wie skryf ‘n digter - vir die resensent of die gewone leser wat die bundel koop met die verwagting om dit te geniet? Seer sekerlik vir albei? Daar bestaan seker ook nie iets soos ‘n goue middeweg in digkuns nie - dus - hoe gemaak om almal tevrede te probeer stel? Dis ‘n opregte vraag hierdie, en een wat Jelleke haarself seker ook afvra.
Jelleke, jy is nou deur ‘n vuurproef. Haal daaruit wat jy kan en kyk vorentoe. Oor jou talent bestaan daar tog geen twyfel nie. Hou asseblief aan dig. Met elke vers wat jy skryf, ontgin en slyp jy net meer aan jou potensiaal.
Douwleen
Ek kan nie glo wat hier gebeur nie. Dat ‘n gerekende kritikus onder soveel domastrante opmerkings deur die “algemene publiek” (lees: gepeupel) moet deurloop, gaan my verstand te bowe.
Douwleen, hoeveel “gewone lesers” koop ‘n digbundel? As net 500 bundels gedruk word (soos gewoonlik die geval is, en met ‘n debuut soos Wierenga s’n miskien selfs net 300), en minstens 300 daarvan word deur letterkundestudente, akademici en ander intellektuele aangeskaf, is daar miskien 100 mense sonder opleiding wat dit lees. Die ander 100 word gewoonlik verpulp of teen spotgoedkoop verkoop aan mense wat dit nie lees nie.