Die ideale onderhoud

Blackface is in gesprek met  Woordfoël. Byderhand is ‘n bottel wyn en twee glase.

 Woordfoël & Blackface

 

 

 

 

 

 

B : Goeiemôre.

W : Ja, Goeiemôre. Ek neem aan jy is hier om ‘n onderhoud met my te voer.

B : Wel, iemand behoort agter die kap van die byl probeer kom. Jy praat so alkant toe om mense te konfoes dat g’n mens meer weet waar jy aan of af is nie. Hoekom is joernaliste oor die algemeen skrikkerig om jou vas te vat in onderhoude ?

W : Omdat ek so vol draadwerk is. Ek is immers ‘n prima donna.

B : Dink jy hulle waag dit nie om uit te wys hoe ligsinnig en wispelturig jy is en hoe baie jy jouself weerspreek nie ?

W : Ja. Maar hulle beskik oor ander middele om te laat deurskemer hoe hulle oor my voel.

B : « Deurskemer… » Jy praat ‘n keurige Afrikaans. Doen jy dit altyd ?

W : Gewoonlik. Ek dink dis belangrik. Ek verpes dit wanneer mense hulle tale mix.

B : Wat doen jy om joernaliste af te skrik ?

W : Ek blaf of ek byt. Of ek maak grappies of vertel ellelange verhale sonder kop of stert. As dit ‘n meisie is probeer ek aanlê.

B : Hoekom is jy so kwaad vir die wêreld ?

W : Nee, ek is kwaad vir myself omdat ek ‘n gek van my maak. En ek is kwaad oor ons so onnosel is. En ek is kwaad vir oudword.

B : Is dit dan so erg om oud te word ?

W : Eintlik nié. Dis net dat die brein, wat deurgaan vir verstand, gaandeweg katarakte ontwikkel. Soos ‘n vliesie of ‘n skilletjie wat stol tot stilte oor ‘n bakkie melk. En dat daar te veel mense is wat soos nuuskierige vlieë in die melk wil donder.

B : En die lyf ?

W : Hy hou nog, dankie. Af en toe is daar ‘n knak of ‘n kraak of ‘n stywerigheid op die verkeerde plek en ‘n ongeleë tyd, maar oor die algemeen kom ons tot nou goed oor die weg. Die ding wat die lyf gaan doodmaak is sekerlik klaar daar; voorlopig het hy hom net nie aangemeld nie. Hy wik en weeg seker nog oor die sneller.

B : Ja, maar die doodskoot kan ook selfmoord of ‘n ongeluk of ‘n aanval van Suid-Afrikaanse statistiek wees. Is jy bang vir die dood ?

W : Nee… En ek wonder : sal mens hom nog duidelik genoeg kan sien en herken om bang te word wanneer hy opdaag met ‘n bossie blomme ? Buitendien, dis ‘n saambestaan wat van vér kom sodat ons voetjie vir voetjie gewoond geraak het aan mekaar. Mens vry mos al lankal en jy is mos bewus daarvan dat jy reeds die doolhof betree het. Party pêlle het onderweg verdwaal geraak, die verkeerde draai gevat, en nou hoor jy agter die mure ‘n benoude geroep. Of slaapliedjies. Of die geklink van glase – die bliksems ! En jy wéét die Donker Een, die stiermens, wag vir jou in die labirint se hart, sodat jy kan uitroep wanneer julle oplaas van aangesig tot aangesig kom : « Hei, babariebab se ding is vim ! Nou weet ook-ek ék is hier ! »

B : Mona Lisa, kyk wie’s hiesa !

W : So-iets. Maar daar’s nie haas nie. Mens probeer opsystaan dat die lorrie kan verbygaan. Kom verby, Doris Day.

B : Glo jy in ‘n hiernamaals ? 

W : Ag nee wat. Behalwe in die sin dat mens op ‘n ander manier weer deel word van die proteïenepoel. Ek dink nogal daar is iets soos ‘n hiervoormaals.

B : Nou probeer jy slim wees. Is jy slim ?

W : Jong, nee. As jy praat van kennisvaardigheid en my toepassing daarvan is my slimheid maar karig. Slimmighede het ek wel.

B : Waar dink jy kom ons kennis vandaan ?

W : Wat my opval is dat die mens sedert die begin al ewe slim is. Miskien selfs slimmer aan die begin. Die grotmense het al gekyk en gewonder en geweet en dalk verlang wanneer hulle die hemel betrag, dat dit soos ‘n tuin van oorsprong is wat hulle moet kan ontsyfer of namaak om te oorlewe. Dis hoekom die grotte met die beswerende diere teen die wande tekeninge van hemelreise is, en tempels vir die son en die maan.

B: Wil jy beweer die ondergrond is ‘n herskepping van die see van ruimte ?

W : Ja, en ‘n herinnering van hoe dit was om heel te wees. Dis waarom ek praat van die hiervoormaals. En wat my opval van baie arm mense is dat hulle net die hemel het as leeftuin. Hulle is so arm dat hulle enigste besitting die sterre en die wind is in plekke waar wolke gebore word.

B : Ek sien wat jy bedoel met jou slim stories. Lieg jy maklik ?

W : Aanmekaar, my broer – aanmekaar ! Ek is ‘n skrywer, net soos jy.

B : Glo jy in ‘n God ? Ek moet hierdie vraag vra siende die onderhoud vir ‘n Afrikaanstalige publiek bestem is.

W : Nee.

B : Wat dan van wat « intelligente ontwerp » genoem word ?

W : Ook nie. Hoekom sou alles nie sommer ‘n toevalligheid nie wees nie ? Dis ons, die mense, wat patrone en prente vertaal as betekenis of bedoeling. Die mens se verstand is uit vrees en onkunde gekondisioneer om tot sin te wil stol. Soos melk in ‘n kommetjie.

B : Dink jy die mens het ‘n siel ?

W : Bedoel jy nou Noag se seil ?

B : Iets in dié voege – as jy sou aanvaar die Noag verhaal dui daarop dat die mens se onsterflikheid afhanklik is van vaste aarde en die feit dat hy deel is van ‘n diversiteit van lewensvorme. Dis tog hoekom hy al die ander diere en plante ook saamgevat het. Ek vra weer : dink jy die asem wat jou aan die gang hou is jou siel ?

W : Man, ek het nog altyd met rieme oor die water gekom. Maar ons sekreer seker ‘n spook of ‘n siel tot die mate dat ons bewus is van ‘n gemis, ‘n onvoltooidheid, asof ons deel was of dalk nog is van ‘n vlam wat ons nie kan ken nie. Dis seker natuurlik dat die beweging van gewaarwording mens wil laat glo daar is iets wat die bewussyn bymekaarmaak. Maar ook dit is ‘n illusie. Siel is ‘n holte.

B : Nou goed, kom ons probeer pen jou vas, want jy’s ‘n ware jakkals. Sien jy jouself duidelik of is dit sommer aansitterigheid ?

W : Ek weet nie. Wié kyk ? Waarna ? Ek dink tog skryf en skilder is onvermydellik ook ‘n ritme van kyk na jou self. Die produk het natuurlik ‘n eie lewe.

B : Dink jy ooit doelbewus ?

W : Ek weet nie. Ek is slegs bewus van dink of van denke wanneer die lyn uit die hand loop. Of sekerlik wanneer mens reageer teenoor ‘n ander se denke. Dink is maak. Of beswaar maak.

B : Wie of wat is jou gemeenskap ?

W : Dis verspreide groepe mense, ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar, en oor die jare kom en gaan die samestelling. Ek sou eerder sê my gemeenskap is reisgenote. Die mense wat op kartonstroke in deuringange lê en hoes.

B : Het jy vriende ?

W : ‘n Paar goeies digby die boesem, maar ek gaan nie vir jou sê wie hulle is nie want ek wil hulle nie verloor nie.

B : Dink jy hulle ken jou ?

W : Vanuit sekere invalshoeke. Net soos ek hulle ook slegs ten dele ken.

B : Wat van die vroue in jou lewe.

W : Belangrike mense ! Meesteresse ! Maar ek is so bang vir die vrou soos ‘n duiwel vir die slypsteen.

B : Waarom ?

W : Omdat ek die duiwel en hulle die slypsteen is. Hulle herinner my aan hoe onontwikkeld en primêr ek is, en dan spat die vonke nog bowendien.

B : Het jy werklike aanvoeling vir wat in Suid-Afrika gebeur ? Hoe die samelewing ontwikkel ? Is jy nie so skril omdat jy voeling verloor het nie ?

W : Maar het ek ooit aanvoeling gehad ? Ek weet ek is geneig om die land en haar mense te lees in vergelyking met plekke en omstandighede wat ek beter ken. En dat ek daarna kyk deur die bril van my eie samestelling en ervarings en deur die spektrum van my dom drome wat nou suur geword het.

B : Ja, né – die voël sing soos hy gebek is. Onthou jy nog jou kinderjare, kindervriende, kinderplekke ?

W : Jy weet tog self die begrip ‘onthou’ is klaar ‘n skrywerswerktuig. Ons het almal ‘n behoefte aan onthou. Seker om die lyf te kan plaas en die substansie van ‘n teenwoordigheid te kan verwerf. Die verlede is ‘n wisselvallige plek. Ek sien dit as ‘n soomlose kleed oor afwesigheid. Die motiewe en patrone in die kleed kan mooi wees.

B : Is jy ‘n Boeddhis ?

W : Ek sien jy het die verwysing opgetel. Mens kan nie juis ‘n Boeddhis wees nie. Die lering is dat elkeen ‘n Boeddha is en dat jy by jou eie lig die pad moet loop.

B : Sal jy kan doodmaak ?

W : Nee, nie meer nie. Vroeër – ek is nie so seker nie…

B : En as jou dogter voor jou oë verkrag sou word ?

W : Ek dink dit sou my totaal vernietig. Om nou nie eens van haar te praat nie. Maar ek het al lank vertroue in die mens se geaardheid verloor.

B : Jy beantwoord nie my vraag nie.

W : Miskien omdat ek nie die antwoord kan voorsien nie.

B : Voel jy jou deel van die wêreld of wêrelde waarin jy beweeg ? Ek bedoel, dink jy jy behoort daar te wees ?

W : Nie regtig nie. Ek kan altyd weghardloop na ‘n ander plek toe.

B : Jy het jou beskou as ‘n revolusionêr, seker meer uit romantiese as praktiese oorwegings. Het jy regtig gedink ‘n revolusie is moontlik in Suid-Afrika ? Sou jy dit wou belewe ?

W : Ja. Alhoewel ek persoonlik ‘n banggat is. En alhoewel ek nou weet dat dit byna altyd hand-uit ruk. Maar ek soek nog steeds daardie omvorming, konstante bevraagtekening, stryd om sosiale en ekonomiese regverdigheid, die strewe na etiese en skeppende lewenswyses, die groot andersmaak wat ek ‘n permanente revolusie noem.

B : Wat niemand wil hê nie.

W : Wat niemand wil hê nie.

B : Is jy ‘n Afrikaan ?

W : Ja. Van die baster soort.

B : Dink jy nie jy het bygedra tot die brutalisering of vergrowwing van openbare diskoerse in Suid-Afrika nie ?

W : Ja, sekerlik deur my gevloekery en die bespotting van mense en morele afpersing en deur die bysleep van volksvreemde idees. En hier doen ek dit nou weer !

B : Hoe sal jy die waarde of belang van jou eie werk takseer ?

W : Meer wind as binnegoed. Buitendien, daar is nie meer ‘n wêreld waarbinne dit sou kon saampraat om ‘n verskil te maak nie.

B : Met ander woorde, jy dink nie skrywers het meer ‘n openbare invloed soos vroeër nie ?

W : Ek sal nie wil veralgemeen nie, maar ek sien of hoor nie dat skrywers ‘n belangrike bydrae lewer tot openbare kwessies nie. Miskien omdat daar onder hulle nie enige konsensus is oor belangrike beginsels, of dalk sommer net omdat die owerhede voel daar’s geen rede vir hulle om in gesprek te tree met vrydenkers of mense van die burgerlike samelewing nie. Dis seker ‘n saak van magsverhoudinge.

B : Jy’s pessimisties oor die taal en selfs oor die haalbaarheid van enige toekoms vir wittes hier, né ?

W : Witteriges ! Maar jy het gelyk, ek sien min hoop vorentoe vir die erkenning en implementering van die skeppende potensiaal van diversiteit en minderhede. Die gety vir konformisme en rassisme loop te sterk. Belangrike afsprake met die geskiedenis is gemis.

B : Nou praat jy weer met twee tonge. Of beter gestel : jy praat die pessimiste en die regses na die mond.

W : Se moer ! Die uitbou van diversiteit is ‘n linkse saak.

B : Dink jy mense sal treurig wees wanneer jy verdwyn ?

W : Nie juis nie. Mense verdwyn elke dag en dié wat oorbly het genoeg ergernisse. Ons oues begin mekaar vergeet, wat ‘n normale verskynsel is, en die jonger geslagte het beter dinge om te doen om liggaam en siel aanmekaar te hou en weet eintlik niks van ons nie.

B : Nou begin jy sentimenteel raak. En ons het die mense genoeg verveel. Buitendien, dis glo daardie ander boerseun, Breyten, se verjaardag wat maak dat ons hier sit en klets. Kom ons maak ‘n dop op hom.

W : Ja, wat stront.

(Blackface skink vir hulle en lig sy glas.)

B : Gesondheid !

W : In die rondheid.

B : Meisies in die blomtyd.

(Die twee saam) : En dronkies in die kromtyd !

 

*****

 

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

kom ons sit op ons hurke

     hier teen die hoogte

en kyk af op die rokende stad

en maak bestekopname

ons bly met die pad verbind

aan die plek van oorsprong

al het ons die mense se name vergeet

 

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

ons is vry

ek weet dit is swaar

en eens elke jaar is dit goed

om om te draai

om terug te kyk

na die reise en die ryk van dooies

 

eens elke jaar

word die seisoen donker

en die tyd is daar

klaar en ryp om die pampoen

soos ‘n hemelse vrug van ewige lewe

mark toe te bring

kom laat ons sing

 

hoe sal ons die vlees bewaar ?

in die kelders kopknik mummies

swerfswaar van ontbinding

mot en roes het die jasse met gate verblind

 

hoe sal ons die afstand besweer ?

ons stop die reise en getye op

met woestynheuning en sprinkaanvleis

en Ouland se vergete onthousels

dat ‘n goeie geur uit die heuwels kom

en hou boek in die stof

 

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

kom ons versin onsself as verkenners

maak hout bymekaar

en steek aan die vuur

ons sein vir die burgers

van die dooie stad

dat ons die maan

     uit haar donker holtes wil lok

om met die pampoen te versoen

 

verder sê Woordfoël vir die vrou en die kind

vergewe my asseblief

mens maak gedig ook van stokkies en saad

om die sagte woorde op te vang

mens soek maar altyd rym en maat

en dan brand verwerkliking

julle moet dit vir niemand vertel nie

 

(c) Breyten Breytenbach (uit : die windvanger, Human & Rousseau, 2007)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.