Ontmoet digter-speurder Chen Cao

 

[Hierdie inskrywing het oorspronklik in Augustus se Rapport Boeke – onder die redaksie van Rachelle Greeff en Danie Marais – verskyn. Dit is vir diegene wat benewens die poësie ook van ‘n goeie speurverhaal hou, en handel oor Qiu Xiaolong se Hoofinspekteur Chen-romans, ‘n karakter wat, soos P.D. James se Adam Dalgliesh, ‘n digtende polisieman is…]

*

Geen Let’s Go- of Lonely Planet-reisgids, hoe nuttig ook al, kan jou sintuie en verbeelding vir ’n reis opskerp soos ’n goeie roman nie. Parys, Istanboel, New York, elke wêreldstad, kan spog met ’n skrywer of selfs ’n hele letterkunde, wat hom besing, beswadder of betreur.

Qiu Xiaolong

Qiu Xiaolong

Die misdaadskrywer Qiu Xiaolong het my op ’n onlangse reis na Shanghai vergesel – en wat ’n blye kennismaking. Hy wakker mens aan vir die geure, smake en alledaagse ritmes, maar verál vir die onderstrominge en teenstrydighede van hierdie hawestad, wat so halsoorkop die toekoms in vaar. En met elke verdere roman wat ek van hom lees, bring hy my reiservaring telkens sinvol tuis.

 

Op eerste taksering is hy dalk nie die mees vanselfsprekende reisgenoot na Shanghai nie. Hierdie stad is immers literêr verewig in meer bekende romans: J.G. Ballard se Empire of the Sun en Kazuo Ishiguro se When We Were Orphans, onder andere. Maar in hulle, soos in vele ander, is dit die vergange Shanghai van die 1930’s, die gesofistikeerde koloniale stad van jazz en art deco-geboue, wat die verbeelding aangryp.

Ek was egter op soek na ’n skrywer wat die sosiale, politieke en kulturele dimensies van die hedendaagse Shanghai deurpriem. En so ’n skrywer is Qiu Xiaolong beslis. Met behulp van die konvensies van die speurverhaal verwoord hy die maatskaplike en politieke werklikhede van die hedendaagse China. Die nagevolge van Mao se Kulturele Revolusie, ’n korrupte politieke stelsel en die ongebreidelde selfverryking van ’n nuwe klas kapitaliste, is maar enkele van sy terugkerende motiewe. Meer as een resensent het al opgemerk China self is telkens die raaisel wat in Xialong se speurverhale ontrafel moet word.

Qiu is in China gebore. Hy studeer Engelse en Chinese letterkunde aan ’n universiteit in Beijing. Op ’n betreklike jong ouderdom reeds verwerf hy bekendheid in China as digter, maar veral as vertaler van T.S. Eliot se versamelde gedigte en romans van William Faulkner. In die laat 1980’s verlaat hy China om sy nagraadse studie oor T.S. Eliot in die VSA voort te sit. Ná Tiananmen in 1989, en veral nadat sy openbare kritiek daarop in China negatiewe aandag trek, besluit hy om hom blywend in die VSA te vestig.

Vandag woon hy en sy gesin in St Louis, T.S. Eliot se geboortestad, en benewens misdaadskrywer is hy ook digter, vertaler en akademikus. Sy vertalings van klassieke Chinese poësie is gepubliseer as Treasury of Chinese Love Poems (Hippocrene Books, 2003) en Evoking T’ang: Poems from the T’ang Dynasty (Penultimate Press, 2007). Sy eie poësie is in Engels versamel as Lines around China (CreateSpace, 2003).

Maar met reg is hy eerstens bekend vir sy ses misdaadromans, wat hy in Engels skryf en wat almal deur Sceptre (die literêre-drukkersnaam van die Britse uitgewer Hodder & Stoughton) uitgegee word. Benewens die vermaakwaarde van romans soos Death of a Red Heroine (2000), When Red Is Black (2004), A Case of Two Cities (2006) en sy mees onlangse, The Mao Case (2009), wil hulle soos alle goeie speurverhale sin maak van misdaad en motief, goed en kwaad – nie net as universele aspekte van die menslike kondisie nie, maar as dimensies van ’n bepaalde plek en tyd.

By Qiu val die blik op China en meer spesifiek Shanghai in die 1990’s en die jare 2000. Interessant genoeg het hy nie aanvanklik beoog om speurverhale te skryf nie. Sy eerste roman, Death of a Red Heroine, wat kort ná Tiananmen-plein in 1990 afspeel, moes die daaglikse uitdagings van ’n lewe in Shanghai uitbeeld – ’n stad van behuisingstekorte, ’n mengelmoes van ou en nuwe kulturele praktyke, en vinnig veranderende waardesisteme. In ’n onderhoud stel hy dit so: “I meant to write a book about modern or contemporary China, in which people are having a hard time adjusting themselves to the change.”

Die misdaadgenre het dit egter vir hom moontlik gemaak om sy bemoeienis met ’n veranderende China kreatief in verband te bring met die groter strukturele kragte wat die daaglikse bestaan in dié land beïnvloed. Hy skep in sy romans voortdurend spanning tussen die stryd van gewone mense om te oorleef in ’n samelewing van armoede en tekort aan die een kant, en die korrupsie en selfverryking van politici, kapitaliste en bendeleiers aan die ander kant. En hy ontgin dié spanning deur sy protagonis, hoofinspekteur Chen, in albei hierdie wêrelde te laat beweeg. Chen is benewens speurder ook ’n digter en ’n vertaler van misdaadromans. Hy het ook ’n passie vir Chinese kos. Met sy tydige en ontydige aanhalings uit Confucius en klassieke Chinese poësie, herinner hy ’n mens soms aan Fred Vargas se dromerige kommissaris Adamsberg, soms aan P.D. James se digtende Adam Dalgliesh.

As speurder is Chen se integriteit onberispelik. Hy stel korrupsie meedoënloos aan die kaak, selfs al kom sy loopbaan in die gedrang. Maar hy is ook ’n lojale lid van die Kommunistiese Party, en dit is juis sy soms knusse verhoudings met magsfigure wat vir sy opgang as speurder verantwoordelik is. Om nie te praat van die etiese dilemmas waartoe sy vriendskappe met mense in die sakewêreld soms lei nie. Die spanning wat hy beleef tussen sy identiteite as digter en speurder, en tussen sy party-lojaliteit en sy misnoeë oor sekere veranderinge in sy land, maak van Chen ’n fassinerende karakter. Hy is ’n soort barometer vir die kompleksiteite en teenstrydighede van die wêreld waarin hy leef.

Maar Qiu se romans is darem nie net ’n reeks sosiologielesse nie. Hulle is eerstens goeie, vermaaklike polisieromans. Hulle munt uit met hul intieme, sensitiewe beskrywings van ’n dinamiese, moeilik verstaanbare stad. Met sy hoofinspekteur Chen Cao het Qiu Xiaolong beslis ’n waardige toevoeging tot die misdaadliteratuur gemaak.

Bookmark and Share

Los kommentaar