Toespraak: Louise Viljoen. By die bekendstelling van Breytenbach se Oorblyfsel/Voice Over.

By die bekendstelling van Breytenbach se Oorblyfsel / Voice Over.

16 September 2009

Louise Viljoen

 

Louise Viljoen

Louise Viljoen

 

By ‘n geleentheid soos hierdie – die sewentigste verjaardag van die digter “gebore 16 september, 1939, Bonnievale” én die bekendstelling van sy jongste publikasie – voel ek nogal verleë om deel van die praatwerk te doen:  die heuningmond-digter se plek kan immers kwalik gevul word deur ‘n droëbek-literator.  Omdat NB-uitgewers my egter gevra het, sê ek dus ‘n paar woorde oor my ervaring van die bundel wat vanaand hier bekend gestel word.  In die eerste plek moet ek sê dat daar vir my iets ironies is aan die boekbekendstelling wat saamval met die verjaardag;  in plaas daarvan dat die man wat verjaar geskenke kry, is dit ons wat ‘n boek present kry, die nuutste toevoeging tot Breytenbach se eindeloos ontvouende geskenk aan sy lesers.  In die tweede plek moet ek sê dat my opmerkings gesien moet word teen die agtergrond van my pas-ontluikende kennis oor die werk van Magmoed Darwiesj wat Breytenbach se gespreksgenoot is in Oorblyfsel/Voice over.  Vergeef my dus my beperkinge:  anders as “die maer man met die groen trui”, is ek régtig skadeloos.

 

Die Afrikaanse deel van die bundel se titel het ‘n bepaalde geskiedenis in Breytenbach se oeuvre.  In 1970 is ‘n klein bundel met die titel Oorblyfsels uit die pelgrim se verse na ‘n tydelike uitgegee deur Daantjie Saayman se uitgewery Buren.  Dit het nege verse bevat wat om politieke redes weggelaat is uit die bundel Kouevuur en in later herdrukke van die bundel daarin teruggesit is.  In 1997 het nog ‘n klein bundel bestaande uit nege verse en met die titel Oorblyfsels: ‘n roudig verskyn, hierdie keer met verse ter herinnering aan Daantjie Saayman wat op 9 Februarie 1997 dood is.  Die nuutste bundel in hierdie klein triptiek, heet Oorblyfsel / Voice over en bevat 12 verse wat in ‘n sekere sin die politiese en die elegiese elemente van die vorige twee Oorblyfsels-bundels saamvat.  Die Afrikaanse titel sinspeel dus op hierdie geskiedenis, maar ook op dit wat oorbly na die dood en diegene wat daarmee moet handel. 

 

Die bundel is tegelyk Breytenbach se gesprek met die Palestynse digter Magmoed Darwiesj, ‘n vertaling van sy poësie en ‘n roudig vir ‘n gestorwe vriend.  Die Engelse deel van die titel Voice over hou deels verband met die wyse waarop Breytenbach ‘buikspreek’ vir Darwiesj en die wyse waarop sy eie stem deur dié van Darwiesj oorgeneem word.  Die presiese aard en omvang van die interaksie met Darwiesj se metafore, styl en die literêre tradisies waarin hy gewerk het, sal ‘n nougesette studie verg.  Breytenbach self het gesê:  léés The butterfly’s burden, ‘n versamelbundel met verse van Darwiesj waarin die oorspronklike Arabies verskyn naas Fady Joudah se vertalings daarvan in Engels.

 

Die bundel is gebou rondom verskillende ontmoetingspunte en raakpunte tussen Breytenbach en Darwiesj, beide persone wat die intieme en private onderneming van poësie-skryf gekombineer het met die openbare aansprake van ‘n sterk politieke bewussyn.  Breytenbach se vereenselwiging met die Palestyn Darwiesj in hierdie bundel het dus persoonlike, estetiese en veral ook politieke implikasies. 

 

Die narratief of ‘storie’ van die bundel begin wanneer die spreker in die eerste gedig vertel dat dit die “klein winterseisoen” was toe hy op Gorée-eiland van sy vriend se dood gehoor het en hoedat die uitsak van die reën soos “lang verslyne oor die golwe” kraaie, bokke en arm kinders die kans sal gee om in die modder te plas asof dit “die viering van bevoëling” is.  Hier word dus gepraat van ‘n moment waarop die landskap “bevoël” word in die sin van begeester, bevlieg, voël gemaak en vlug gegee deur die poësie van die reën, net soos wat elke bundel van Breytenbach ‘n voorbeeld is van die wyse waarop die werklikheid deur die digter “bevoël” word.  Die metafoor van die voël is verder ‘n belangrike skakel met Darwiesj se werk wat net soos dié van Breytenbach perke kon oorskry en letterlik wegvlieg uit die strukture wat dit wou vasvang.  Die buiteblad spreek, soos gewoonlik, ook boekdele in hierdie verband.  Dit toon twee gemaskerde woordvoëls teenoor mekaar, die een pienk-bruin en die ander blou-swart met vere in die plek van vingers, vere op die kop en in die stert en ‘n blom waar die (ander) voël moet wees. 

 

Vanaf die tweede gedig kom die digter as politieke wese met nasionale verbintenisse ter sprake.  Die gedig verwys na Darwiesj se versoek dat hy na sy dood vinnig toegegooi moet word, dat daar hoogstens ‘n kwatryn oor hom geskryf word en dat daar geen vlag oor sy kis gedrapeer moet word nie.  Die verwysing na die vlag roep Darwiesj se status as nasionale held vir die Palestyne op:  hy is vereer met ‘n staatsbegrafnis sowel as die afkondiging van drie dae van nasionale rou.  Wanneer Darwiesj egter by monde van Breytenbach sê “‘n vlag is om ‘n hemp van te knip / vir die hawelose”, word dit duidelik dat sy nasionalisme van die praktiese eerder as die seremoniële soort was.  Die verwysing na Darwiesj as nasionale held roep byna onwillekeurig Breytenbach se ingewikkelde verhouding met sowel die Afrikanervolk as die politieke maghebbers in Suid-Afrika op, al is die verskille byna net so prominent soos die ooreenkomste.  Dat Breytenbach speel met die gedagte van ‘n ooreenkoms blyk uit die slotreëls van die tiende gedig waarin Palestyn gestel word naas Afrikaner in die volgende woorde:  “skryf op:  Arabier / skryf op:  Palestyn / skryf op:  Afrikaner / skryf op:  ook mens”. 

 

Die narratief van die bundel volg hierna Breytenbach se reis na Katalonië en Friesland terwyl hy voortdurend in gesprek bly met sy gestorwe vriend en die poësie wat hy geskryf het.  Dit is nie vreemd dat die gesprek met Darwiesj al reisende plaasvind nie.  Die reis is een van die belangrikste letterlike elemente in Breytenbach en Darwiesj se lewens en een van die belangrikste motiewe in hulle poësie.  Verder het beide van hulle die reis omarm as digterlike en filosofiese beginsel en het dit ‘n wesenlike impak op hoe hulle identiteit ervaar.  Dit word gedemonstreer deur reëls soos “om te wees is om te beweeg” en “daar is geen identiteit / alleen ‘n ruisende ruimte van bewing / alles is beweging totdat dit ophou beweeg”.  Die bundel opper egter ook die idee dat identiteit gevorm word deur gesprek en dat ‘n mens jouself eintlik net kan “droom” of “verbeel” wanneer jy in diskussie tree met ander soos wat daar gesê word in die sewende gedig in die bundel:

 

Identiteit is ‘n gesprek, Magmoed
wanneer jy soos in ‘n droom hoor
wat die ander vertel
en jou verbeel jy het verstaan/bestaan

 

Dit is dan ook binne die ruimte van die gesprek wat die identiteit van die een digter vervloei met dié van die ander.  In die derde gedig in die bundel vertel die spreker hoedat sy gestorwe vriend langs hom in die vliegtuig op pad na Katalonië kom sit en met hom gesels oor wat gedoen moet word na sy dood.  Hier word die ruimte van die gedig ‘n “inktussen”, ‘n tussenin-ruimte geskep deur die skryfdaad, waarin oorlewende en gestorwene deur middel van ‘n vindingryke spel met die voornaamwoorde “ek” en “jy” een kan word.  Soveel so dat die spreker aan die einde van die vierde gedig vra:  “wie het dan gesterwe … wie?” 

 

Daar word egter ook in die bundel gesê wat nié die geskikte of gepaste manier sou wees om identiteit te vind nie.  In die vyfde gedig word Israeliese soldate deur Breytenbach/Darwiesj aangespreek en gesê dat die pyn van ander nie die middel is waardeur ‘n mens jou eie identiteit terug moet vind nie. 

 

Dit word opgevolg in die sesde gedig se uitgebreide reeks uitsprake oor die voorwaardes vir volk-wees wat begin met die woorde:  “ons sal ‘n volk wees, as ons wil, wanneer ons weet / dat ons geen swart of wit engele is en dat die kwaad / nie die uitsluitlike bereik van die ander is nie”.  Ook die posisie van die skrywer met betrekking tot so ‘n volk word beskryf:  “ons sal ‘n volk wees wanneer die skrywer na die sterre kyk / sonder om te kraai dat ons moedergeweste meer verhewe / en skoner is as die haan wat pik na ‘n maan in die water”. 

 

Die gesprek met Darwiesj lei onvermydelik tot ‘n self-ondersoek wat die digter die geleentheid gee om homself te artikuleer en te bevraagteken, soos wat blyk uit die tiende gedig waarin die digter probeer antwoord op die vraag “wie is ek om so met jou te praat?”.  In hierdie gedig besin hy veral oor die wyse waarop sy lewe oorheers word deur toeval (“ek is slegs die dobbelklippie se worp”) en hoe hy gelei en verlei word deur lugspieëlings wat ‘n verdubbeling van sy toevalligheid tot gevolg het (“as dit nie vir Lugspieëling was nie / was ek lankal ‘n hersenskim”).  Die bundel speel ook in op beide digters se gebruik van die droom en die spieël as middele wat toegang kan gee tot selfkennis en ‘n begrip van dit wat identiteit vorm.  Daarom beloof Breytenbach sy mede-digter in die elfde gedig:  “ek sal ons drome soos spieëls bewaar”. 

 

Die oproep van die gestorwe Darwiesj in hierdie verse gee Breytenbach ook die geleentheid om opnuut en met nuwe variasies te besin oor die uiteindelik ontmoeting met die dood, ‘n gegewe waaroor hy al uitgebreid gefantaseer het in sy poësie.  Dit vind egter deurgaans plaas met die oog op besinnings oor hoe die lewe vóór die dood gelei moet word.  Ten spyte van die feit dat die bundel ‘n somber beeld van ‘n wêreld vol bouvalle, skerpskutters en geweld teken, is daar tog die kans “dat hoop / wanhoop se tweeling is in die bloed van die poësie”.  Daarom eindig die storie wat die bundel vertel in die laaste gedig met die geloof dat “‘n ander dag sal aanbreek, ‘n vroulike dag” (die Engelse vertaling praat van “another day” wat “froglike and female” sal wees), wat nie gelees moet word as ‘n vooruitsig op ‘n nadoodse utopie nie maar eerder as ‘n hartstogtelike verlange na ‘n vreedsame naasbestaan vir alle mense.  Terselfdertyd kan die beeld van ‘n “vroulike metafoor” ‘n interessante gesprek open oor die metaforisering van mans en van vroue in beide Darwiesj en Breytenbach se oeuvres. 

 

Tydens hulle gesprek in die vliegtuig op pad na Katalonië in die derde gedig sê Breytenbach aan sy gestorwe vriend dat hy voel hy moet iets doen, maar dat hy “geen handeling [kon] bedink / wat ‘n dooie man / waardig sou wees nie”.  Hierdie klein bundel, tegelyk gesprek, treursang, vertaling en begeesterde verbeeldingsvlug, ís daardie handeling:  dit is beide die gestorwe Darwiesj en die steeds lewende Breytenbach waardig. 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.