Eg(g)olalie. Breyten Breytenbach

                                                                 EG(G)OLALIE

 

 1.            Daar is weinige meer bevredigende ervarings as om op ʼn skoon blou Europese somermiddag wanneer slegs ʼn effense windjie aan die plataanbome se blare pluk deur die stad se strate te dwaal en te kuier van boekwinkel tot boekwinkel. Kom ons sê nou maar dit is Parys. Instinktief bly mens weg van die buurte waar toeriste, arme bokkers, soos troppe skape maal. Die gehalte lig, die skaduvlekke oor die keie, die weerkaatsing van die rivier in hoë vensters van huise op die oewer – alles spreek van denke en drome en dade wat oor eeue hier afgespeel en uitgespeel is, herhaaldelik. ʼn Ruimte het nie begin of einde in die tydelike sin nie en tog is dit die omgewing waarbinne gedagtes beweeg om te groei en te bloei en dalk geblus te raak.             

     

       Indien die flanneur dan gelukkig is kom hy af op die onverwagse vonds van ʼn boek wat hy nie geken het nie. Die boek – eintlik ʼn boekie want dis ʼn skrale 67 bladsye dik en klein van formaat – se titel is “Nietzsche à Nice”, geskryf deur Patrick Mauriès. Dit bied ʼn vlugtige oorsig van die kere wat Nietzsche (ek wil sê “oom Frikkie”) teen die einde van sy lewe in Nice aan die Franse Côte d’Azur oorwinter het. Sy laaste verblyf was in 1887. Van sy laaste tekste is daar geskryf in verskillende bôrdienghuise oor kort periodes van uiterste inspanning. Daar word berig dat die heimatlose filosoof soms met vreemde bokkesprongetjies deur die strate getrippel het. Omtrent dieselfde tyd woon daar ʼn jong Franse denker in die stad met die hoop dat die klimaat goed sal wees vir sy swak longe. Sy naam is Jean-Marie Guyau, hy is nogal bekend en het ʼn aantal boeke gepubliseer, waaronder “Skets van ʼn moraliteit sonder verpligting of sanksie” en “Die nie-geloof van die toekoms.” Die Fransman sterf jonk en verval gou in die vergetelheid, volgens ʼn latere biograaf met die naam van Daniel Halévy. Daar word bespiegel dat die twee filosowe mekaar dalk in ʼn boekwinkel raakgeloop het. Wat vasstaan is dat Nietzsche van Guyau se geskrifte gelees het. Dis jammer dat hulle nie werklik kennis gemaak het nie; arme oom Frikkie wou so graag ʼn groep of ʼn gemeenskap van vrye geeste om hom vergader, ʼn broederskap van die “ligte wete” (le gai savoir), ʼn nuwe ridderorde en ʼn kunsinstituut waar werke tot hul reg kon kom. Maar Nietzsche en Guyau sal kortstondiglik parallelle lewens lei: hulle was albei musikante, albei verkies dikwels om hulself deur poësie uit te druk, hulle hou altwee daarvan om te reis – wat ooreenstem met die nomadisme van die filosoof-kunstenaars. En veral, beide streef na ʼn beter staat, ʼn plek waar mens vryer kan asemhaal en waar die lewenskrag en die geesteskrag tot op die hoogste vlak uiting kan vind. Guyau, verneem ons, was aandagtig vir die skoonheid van die natuur en landskappe. Volgens hom was die analogie die allerbelangrikste veerkrag vir ons manier van dink, en die fondasie van alle verskynsels. ʼn Aanhaling: “Die lig van denke kan slegs nuwe rigtings en somber hoeke belig indien dit daarheen gereflekteer word deur reeds bestaande verligte oppervlaktes. Mens word slegs getref deur dit wat jou aan iets herinner al is daar ook verskille. Begrip is ten minste gedeeltelik om te onthou.” En hy sien die metafoor as die grondleggende wyse waarop ons die wêreld kan gryp en begryp. “Voordat jy kan wéét moet jy begin deur jouself te verbeeld.” Net soos Nietzsche glo hy die metafoor van die metafoor is die vesel van taal, die essensiële werktuig van kennis. En verder: “Die Goeie en die Skone wat lank beskou is as metafisiese werklikhede, trek nou by wyse van spreke by ons in; hulle is nou… die effekte van ons eie intellektuele samestelling.” Wanneer die flanneur, daar waar hy op die oewer van die Seine sit (en onthou dat Paul Celan in hierdie bruin waters verdrink het), so deur die boekie blaai kom hy af op verwysings wat aandui tot hoe ʼn mate ons twee rondloper wysgere in ooreenstemming was al het hulle mekaar nie ontmoet nie. Nietzsche het ʼn aantal passasies in Guyau se opstelle onderstreep en daarnaas met uitroeptekens geskryf: “Dis ek” of “Dit mag ek nie vergeet nie!” Guyau: “Kuns is die middegrond tussen die subjektiewe en die reële; met wetenskaplike metodes skep dit ʼn illusie, dit maak gebruik van die waarheid om die oë mee te vang; wie sê vir mens moraliteit is nie ʼn kuns (Nietzsche onderstreep) wat tegelyk mooi en bruikbaar is nie? Miskien verlei dit ons terwyl ons verneuk word. Verpligtinge is dalk slegs ʼn bietjie binnelyfse kleur. Maar hulle verskil ook. Guyau beweer dat daar ʼn sekere vrygewigheid is wat onskeidbaar is van bestaan; wanneer Nietzsche die stelling maak dat die heelal sigself net kan regverdig as estetiese verskynsel, moet mens daarmee saamlees dat hy oortuig is van die natuur se totale onverskilligheid. Wanneer Guyau skryf dat die natuur se hoogste poësie miskien toe te dig is aan haar totale steriliteit, dat dit nie lewe géé nie maar slegs bevat en met ʼn soortgelyke afsydigheid kan gee en neem – beteken dit vir oom Frikkie dat die natuur ʼn agtergrond is waarteen die mens sy handelinge afspeel sonder dat daar enige werklike regverdiging of rede is behalwe die behoefte of die drang om verder te gaan.

 

Om aan te hou beweeg en geraas te maak.

            

Kan dit dan wees dat die wêreld gedoem is tot ʼn voortdurende verteenwoordiging, ʼn soort eggolalie, soos hierdie twee armsaliges wat herhaaldelik dieselfde frases verwoord of die wedersydse eggo’s is van woorde wat in hulle teenwoordigheid gebruik word?

 

2             Ondergronds in ʼn reuse-supermark in New York kom ek af op ʼn vreeslike dik mediese boek wat oopgeslaan lê op ʼn kateder in die afdeling waar mens vitamines koop. Die hoofstuk is “Ongewone aandoenings.” Daar word vertel van ʼn kondisie wat Frenchmen jumping up and down in Maine genoem word, en dis die naam wat gegee is aan die skrikkerigheid wat maak dat jy vervaard opspring by ʼn onverwagse geluid of gesig. Dis glo verwant aan die Sindroom van Tourette. Wanneer ek ʼn vriend hiervan vertel sê hy hy hoop die Franse het broeke aangehad.

 

3           “Uiterste helderheid is ʼn misterie” –  dit kom uit ʼn geskrif van Magmoed Darwiesj.

Ek wil sommer dadelik ʼn hele paar merkers neerlê hier, almal frases uit Darwiesj se gedigte soos versamel en ingelei deur Fady Joudah (Fadie Joeda) in ʼn nuwe versameling van Darwiesj se liriese werk met die mooi titel: “If I were another.”

 

Luister:

“Die heelal is kleiner as ʼn skoelappervlerk in die binneplaas van die groot hart.”

“Is ons die vel van die aarde?”

“Daar is geen nasie kleiner as sy gedig nie.”

“Die aarde is ʼn fees van verloorders.”

“Elke goeie gedig is ʼn daad van weerstand.”

“Daar is geen liefde wat nie ʼn eggo is nie.”

“My taal, sal ek word, of is jy/

wat van my word? Leer my die huweliksoptog/

wat die alfabet één sal maak met my liggaamsdele./

Leer my om ʼn meester te wees, nie ʼn eggo nie”

“Want wie, as ek nie poësie sou praat nie,/

sal my verstaan? Wie sal met my praat oor ʼn verborge/

verlange na die verlore tyd as ek nie poësie sou besig nie?

En wie sal die vreemdeling se land ken?”

 

En dan verwys Joudah na ʼn Soefie verhaal uit die 12de eeu geskryf deur Faried Adien Al-Attar, met die titel, Die Voëls se Konferensie. In die storie moet ʼn hoepoe al die ander voëls na die Een lei. Dis toe al die voëls wat die reis voltooi en behaling bereik het. Daar is sewe wadis op pad na behaling; die laaste een is die Wadi van Verdwyning en die essensie daarvan is Vergeetagtigheid.

 

4.         Oorblyfsel is ʼn rouverslag. Elke gedig is ʼn gesprek met die digkuns oor eeue en oor lande heen. By die Brooklyn Book Fair ontmoet ek vir Fady Joudah en Sinan Antoon, albei gevierde vertalers van Magmoed Darwiesj se verse. Fady, ʼn mede-Palestiniër, is ʼn mediese dokter. Hy was aanwesig toe Darwiesj geopereer is in Houston. Hy sê alles het eenvoudig ontplof en ingegee. Verstopping en oorvloeiing. En dat Magmoed hom laat belowe het hulle sal hom nie probeer bybring indien hy breinbeskadig anderkant sou uitkom nie.

 

Tydens die paneelbespreking betoog ek dat Magmoed Darwiesj meegehelp het aan die skepping van ʼn Palestynse ruimte – wat ʼn kulturele spasie is, maar ook polities en eksistensieel. Waar mens kan sien hoe Palestyne worstel met begrippe van historiese en nasionale en selfs godsdienstige identiteit of identiteite – ook in die groter Arabierse verband. Hoe hulle te werk gaan met konsepte van ruimte en landskappe – en hier het ek Edward Saïd in gedagte. Hoe hulle probeer om tot helderheid te kom met etiese oorwegings, want hoe moet jy weerstand bied en wanneer moet jy toegewings maak, en wat van korrupsie en aanspreekbaarheid? En ek beweer Darwiesj se bydrae was die gehalte van sy digkuns, wat universeel uitreik omrede die liriese skoonheid daarvan, maar wat ook getuig van plaaslike oorlewingsoorwegings – trouens, dit is so persoonlik dat dit universeel geword het; dit was die diepte van sy visie – en nie-Arabierse lesers kan slegs raai oor die omvang van sy interaksie met tradisies en met ander skrywers; dit was sy persoonlike weerstand – hy het selfs weggebreek van sy ou kameraad, Arafat; en dit was sy menslikheid, want hy was ʼn lewende mens met baie kontradiksies, skete, vrese, drome en begeertes.  

 

Fady lig my in oor Magmoed se verhouding met die Soefisme. Magmoed kan beskryf word as ʼn leke-mistikus. Tydens die 10de en die 11de eeue was die Soefisme in die eerste instansie ʼn oopmaak en ʼn verdieping van taal. Nie sodanig om daarmee te speel deur nuwe woorde te maak nie maar deur die effekte waarna gestreef is, en dat dit bevry is van die keurslyf van slegs letterlike betekenis. (Mens neem aan dat die belangrikheid na ritme en vorm verskuif het.) Die gevolg is dat die mens, die digter, nou as gelyke met die onkenbare probeer praat. Die mag van die konformisme, die ortodoksie, verwater. Voortspruitend uit hierdie verskuiwing en aansluitend daarby kom daar nou ʼn gesprek tussen ‘self’ en ‘ander’. En die self as ander. Dis hierdie aanslag wat, na voorbeeld van Magmoed Darwiesj, nou weer aan bod is in moderne Arabierse literatuur.

 

So bot die gelag van die verkleurmannetjie.

 

Fady sê hy gaan vir my ʼn boek stuur wat die ooreenkomste tussen Surrealisme en Soefisme bestryk. Sinan Antoon sê hy beoog om my Oorblyfsel van ʼn fragmentariese gesprek met Magmoed Darwiesj in Arabiers te vertaal. Hier kom ʼn ding!

 

5.      Terug na die weerklanke van Afrika. Enkele maande gelede het ons by die Gorée Instituut in Senegal ʼn skryfwinkel aangebied. Deelnemers was vanuit Oeganda en Ghana en Nigerië en Senegal en Italië en Amerika. Die eerste taak van elke skrywer was om sy of haar klip te gaan soek en terug te bring na die werkkamer en dan te verduidelik hoekom sy of hy juis daardie klip as metgesel vir die volgende paar dae gekies het. Buite in die binneplaas het ons ook ʼn groot doek uitgelê waar almal na hartelus met verf ʼn versreël of twee of ʼn slagspreuk kon gaan skilder. Teen die einde van ons verrigtinge het ons in ʼn optog met klikkende klippe deur die stegies geloop agter ons poësievlag, met ʼn trompetblaser vooraan, om die vlag bo die Instituut te gaan hys.

 

Ek het my klip blou geskilder en hom Neruda genoem; ek was juis besig om weer die ou klipgesig Chileen se liefdesgedigte te lees. My bydrae tot die slypskool was ʼn gedig, Frère Khère. Oftewel, Broer Klip – ‘khère’ (uitspraak Gêr) is klip in Wolof.

 

Sedert enige minute is dit die 16de September in Manhattan. Vanaand – gisteraand! – in die klaskamer voor my studente, het ek die Afrikaanse vertaling wat ek vroeër in die dag van die gedig gemaak het voorgelees. Dis nogal ʼn vreemde ervaring om in die nag, terwyl die glastorings oral om ons skitter en flonker, ʼn Afrikaanse gedig voor te lees vir mense wat geen snars verstaan nie. Maar ons sal aanhou beweeg en geraas maak.

 

                                                                        Frère Khère

                                                            balling 

                                                            onthousels        verskriklik weggesyfer

                                                                                                          (Sappho)

 

 

sal jy met my bly sover ek gaan

            broer klip                       nog klop met die stilwees

                           van ʼn verspeelde maan wat vrot en die see

                                    van sterre laat vergaan

                                era la negra

negra solitud de las islas       

                                                            daar was

            eilande se swart alleenwees              die harde

                        koue uur verlate soos kaaie met dagbreek

                               wanneer koue sterre en walvisse swart

                                                            braak

en voëls vertrek soos vrye godinne wat die hawe verlaat

y solo la sombra trémula se retuerce en mis manos

(en slegs bewerige skaduwees nog vleg deur my vingers)

 

wat was jy voor ek jou gevind het

Neruda                                                                        wat

                        wie was ek voordat jy jou

                                    bekend gestel het        en hoe sal ek jou herken

broer klip                                                         versteende oog van die tyd

            vreesloos en sonder ooglid                      of die tong

en indien wel        watter woord is gestol

            as klinker van ewige wording

qué dolor no exprimiste                                  qué olas no te ahogaron

vertel

            watter hartseer het jy nie gesê

            watter branders het jou nie versuip nie

vertel

ek is vertel

                        dat as ek jou op my kop sou bind

ek sal ophou groei na duisternis en vlerke

                        want jy sou my maanverstand as gesig kon verbeel

                                    om die skadudiepe aarde vas te verken

ek is vertel

                        dat met jou as woord in die mond

ek nooit weer moeg sou word van vlieg

                                                              op een plek nie

                            want moegheid self sal uitgespreek wees

                                    as dood se stil klippie onder die tong

 

en indien

                        en dan

                                    en nou

es la hora de partir                  oh abandonado

wanneer dit die vertrekuur is

sal jy my hand terughou

                                                broer

                                                            klip

om die merker en maker van my afwesigheid te wees?       

                                     

   

 

© Breyten Breytenbach. September 2009

 

Bookmark and Share

Comments are closed.