Onderhoud: Johannes Prins

Om hartens te roep

Johannes Prins in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands. Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar. In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji. In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante. Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Johannes, jy is tans ‘n nuusredakteur by die Johannesburgse dagblad Beeld. Maar vertel ons ietsie omtrent jou agtergrond? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, geswot, ensovoorts.

 

My pa was destyds nóú betrokke by die Universiteit van Pretoria se tandheelkunde fakulteit. Hy was ook huisvader van die manskoshuis Taaibos. Dis in Taaibos waar ek “gemaak” is, maar kort daarna het my pa Dekaan by die Universiteit Stellenbosch se tandheelkunde fakulteit by Tygerberg geword. Ons het vir ‘n paar jaar in Boston, Bellville gebly. In ‘n ou groot rietdakhuis in Joostestraat – naby die Laerskool Vredelust. Dié huis – het my kleinneef my onlangs laat weet – het intussen ‘n bordeel geword. My ma draai in haar graf om!

As kind het ek vir jare gedink my pa is eintlik “Dingaan”. As iemand my gevra het wat my pa doen, was dít my antwoord. Een van my mees vivid herinneringe aan Tygerberg is ek en Pieter de Waal (die kleinneef waarvan ek hierbo praat) wat in ‘n vertrek in die mediese fakulteit ronddwaal (waar ons ingesneak het) tussen rakke vol vreemde goeters in groot bottels formalien: babas met twee koppe; ‘n voet wat afgesny is; ‘n man se maag wat oopbars & derms wat uitpeul; ens. Elke keer wanneer ek & Pieter saam met my pa werk toe gegaan het, het ons skelm dié vertrek besoek. Ons was vrek bang, maar dit was telkens aangrypend en ons kon nie daar uit bly nie! Dit het ‘n vreemde effek op ons gehad – om die minste te sê.

Mid-laerskool het my ouers Stellenbosch toe verhuis. Eintlik nie Stellenbosch-propper nie – eerder Lynedoch (daar in die omgewing van die ou Drie Gewels-hotel). My pa het sy erfdeel van ‘n plaas gaan opeis. Dit was ‘n interessante opset. My pa – terloops so ook my ma – was een van ‘n tweeling. Ná ‘n verwikkeling het my oom die plaasgrond geërf en my pa die ou plaashuis – dis in dié plaashuis waar ek behoorlik plaaskind geword het. En dié klein plasie het in baie opsigte my lewe gered. Druiweplaas natuurlik. Skool toe & terug plaas toe was soggens & smiddae met die bus of die trein. Ons plaaskinders het ons nie veel aan die dorpskinders se issues gesteur nie. Daar was te veel om ons mee besig te hou.

Ná skool aan die Paul Roos Gimnasium volg ‘n grootliks onstuimige twee jaar diensplig. Daarna rondswerf vir ‘n paar jaar en toe uiteindelik swot by Stellenbosch. Het vir vyf, ses jaar in Wilgenhof gebly wat vir my ‘n huis geword het (omdat beide my ouers intussen oorlede is). Swot was goed vir my. Nooit ‘n great student nie, maar het meestal als deurgekom. Mis dit verskriklik om te swot & dreig al die afgelope paar jaar om ‘n D (in Afrikaans & Nederlands) aan te pak.

 

Jy het reeds in 2001 in Nuwe Stemme 2 gedebuteer. Vanwaar hierdie vroeë passie vir die digkuns?

 

Waarskynlik grootliks aan my ma te danke. Sy het self geskryf en my as kind blootgestel aan poësie. Ek het laat in my lewe ‘n “leser” geword, want my vrye tyd is meestal deur gimnastiek opgeneem.

Ná twee jaar in Londen het ek glad nie meer Afrikaans gelees nie – maar ek het Afrikaanse gedigte geskryf. Dié verse het my geanker aan my Moedertaal en ek het ook besef: daar is net een taal van jou hart.

 

“Jasus klim uit die water” is ‘n gedig wat sowel in Nuwe Stemme 2 as een hart opgeneem is, maar nou met ‘n spieëlvers, “Utopia”. Het dié vers dieselfde tyd as deel (i) ontstaan of is dit ‘n geruime tyd daarna geskryf? Vertel sommer wat jy met dié twee spieëlverse probeer sê?

 

Jip, (ii) is dieselfde tyd as (i) geskryf. As ek reg onthou is dit aangebied vir Nuwe Stemme 2, maar die samestellers het net vir die eerste een gegaan.

Ek wil nie te veel uitbrei oor wat ek met dié verse probeer sê nie, want ek glo die vers/e soos hy daar staan moet vir homself praat, maar ek gee graag agtergrond oor hoe die verse ontstaan het.

In die jaar toe my pa dood is (1990) was hy nie meer op die plaas nie. Hy’t ‘n huis in Mostertsdrift op die dorp gehuur. Dit was in Rowanstraat (as ek reg onthou) om die draai van Thibaultstraat 3 – waar die Oppermans gebly het. Wanneer ek soms oor naweke daar gekuier het, het ek dikwels gaan draf. En wanneer ek in Thibaultstraat opgedraf het bergpad se kant toe, het ek altyd gedink: dis die huis van die Koeblai Khan… Ek het tannie Marie ‘n paar keer ontmoet en Komas (uit ‘n Bamboesstok) weer en weer gelees. Van al die verse het “Gaukus Klim uit die Water” ‘n besondere inslag gevind.

Bg. is die eerste “merker” vir verse wat ‘n hele paar jaar later sou volg.

‘n Tweede is:

Om kreef te duik was jaarliks ‘n baie belangrike ritueel in die Prins-huishouding. Met die eerste volmaan in die nuwe kreefseisoen sou my pa seker maak ek en my twee broers is ‘n uur voor laagwater in die water – in die ysige water van Donkergat aan die weskus. En al die eerstes was belangrik. Die eerste kreef uit die water is na my pa toe gegooi daar waar hy op die rotse met sy leerhandskoen gesit het. Hy’t elke seun se eerste kreef in ‘n pot gedruk waarin ‘n lekseltjie seewater aan’t kook was op ‘n Cadac-gasstofie. Die krewe moes gaar stoom – nie kook nie. Kom jy uit die water uit is jou lyf tot die been toe koud van daai water, dan peul my pa jou uit jou duikpak. En dan kry jy ‘n yskoue skoot wyn en ‘n vuurwarm kreef.

Dan het ons elkeen stil-stil ‘n kreef of twee geëet. Oor die see getuur. En amper woordeloos die pad huis toe aangepak.

My pa, die wetenskaplike, het ons baie van die wêreld van krewe geleer. Wat presies is ‘n sagtedop-kreef? Wat beteken dit – wat se veranderings ondervind die kreef? Hoe migreer krewe? Is hulle sosiaal? Hoe verskil wyfies presies van mannetjies?

En só het Jasus Lalandii en Gaukus mekaar gaandeweg ontmoet…

 

Uit jou antwoord hierbo kan ‘n mens aflei dat jy in ‘n baie hegte gesins-eenheid grootgeword het. Daarom dat dit dan ook geen verrassing is dat twee van die mees aangrypende verse in jou bundel “bloedwerk” en “eerste sonar” is nie. Vertel ons ietsie oor hoe jy die geboorte van jul eersteling ervaar het.

 

Dit was ‘n ongelooflike high. Alles daarvan. En die feit dat daar ‘n klein storietjie op Beeld se voorblad was die volgende dag het hiertoe bygedra. En dink daar was in Die Burger ook ‘n klein ietsie.

Ek het die een oomblik nog by my vrou se kop gestaan – gereed met my kameras (ek skiet altyd digitaal én met film). Was nog rustig besig om als af te neem en het nét gesien hoe klein Manon se koppie uit mamma se buik kom, toe gaan die krag af! Die teater was gitswart-donker en ál lig wat in daardie oomblikke beskikbaar was, was my kamera se flits. Die ginekoloog se koel en kalm woorde aan my was bloot: hou aan met foto’s neem.

Ek het honderde foto’s (‘n hele 1 Gig-geheue-kaart vol) van hoe die naelstring geknip word; van hoe sy deur verskillende hande stewig na die pediater oorgedra word; ens. Ek het selfs foto’s van die vloer want ek moes flits daar gooi dat ek kon sien waar om te loop. Met die Apgar-telling neem het ek in die een hand ‘n klein flitsie vir die dokter vasgehou & in die ander hand die kamera. Én die ginekoloog moes onder flitslig my vrou daarna toewerk! Van noodkrag was daar nie in die teater sprake nie (al het die hospitaal-woordvoerder hóé probeer om die ding te spin…).

Toe die adrenalien gaan lê het, het ‘n emosionele golf my daarna geslaan. Ná ek omtrent vir 20 jaar nie ‘n ouerhuis gehad het nie & met meeste van my familie in die buiteland, het ek skielik my eie gesin en my eie mitologie om te skep (gaan ek die kreef-ritueel laat voortbestaan?).

Jou wêreld verander oornag.

Soos ‘n kollega ge-sms het: ouerskap verander en verouder ‘n mens op die beste manier.

 

Heelwat van jou verse kan eintlik op verskillende maniere gelees word. Een só ‘n vers is “brugrubriek” waaruit die titel van jou bundel geneem is. Die slotreëls “later die dag / het ek die uitslag per telefoon gekry: / hy het een hart te veel geroep en dit het bly staan” verwys enersyds letterlik na ‘n hartstilstand, maar andersyds ook na ‘n (aan)bod wat bly staan. Lees ek dié vers reg? Wat beteken dit vir jou?

 

Ja, jy lees dit reg.

Die vers het (uiteraard) ‘n baie persoonlike betekenis – weereens (soos die kreef-ritueel) ‘n baie intieme gesins-ritueel.

Een van die kodes waarin ons gesin met mekaar gepraat het, was in brug-taal. Die spel brug (kontrakbrug in elk geval) het ‘n hele taal wat jy moet leer as jy dit uiteindelik behoorlik wil speel – as jy al die nuanses reg wil interpreteer en die regte boodskap aan jou “partner” wil oordra.

Die idee is dat jy binne dié kodes van die taal met jou maat kommunikeer dat julle op ‘n kontrak kan ooreenkom om ‘n sekere aantal pakkies te speel en te maak. Die idee is om nie die potensiaal van jou hand te onder- of te oorskat nie. Dat jy presies maak (die pakkies) wat jy geroep het.

Dikwels ‘n tall order…

Die brug-taal het toevallig goed gewerk. Wanneer ‘n roep “staan” is daar op ‘n kontrak ooreengekom. En die “een hart” en die “staan”…ek hoop nie dit is té net vir ingewydes nie.

Dit bly maar moeilik om “uit te praat” – om uit ‘n bestaande kode / taal te praat.

 

Johannes, die een ding van jou verse wat my opgeval het, is die reikwydte daarvan: sowel stilisties as tematies. Verse met ‘n bykans ongenaakbare kyk na sosiale euwels word vernuftig afgewissel met meer persoonlike temas; soms met deernis en empatie en soms weer met ‘n gestroopte aanbod. Is hierdie gevarieerde aanslag iets wat jy bewustelik nastreef?

 

Die gevarieerde aanslag is opsigself gevarieerd. Dikwels is dit in my kop wanneer ek kom sit om te skryf en dikwels nie.

Ek vind die verse neem ‘n eie lewe aan – dis interessant om te sien waarheen hulle my neem.

 

Iets wat ‘n mens opval wanneer jy na die inhoudsopgawe van jou bundel kyk, is dat daar geen onderafdelings is nie. Tog maak die bundel ‘n goed georganiseerde indruk en vloei die lees gemaklik van een vers na die volgende. Hoe het jy jou bundel saamgestel en watter temas het rondom die groepering van die verse vir jou voorop gestaan?

 

Dit was vir my belangrik om die bundel te begin en te eindig met ‘n besinnende gedig oor die skryf van poësie & dan binne dié sogenaamde sikliese sluiting op ‘n min of meer chronologiese uitbou van die bundeltitel voort te gaan.

Die motto-vers / aanhaling is ‘n belangrike sleutel én die Yin-Yang wat op sy/haar eie bladsy staan is iets wat buite taal staan en op ‘n veelheid maniere geïnterpreteer kan word – dis ook goed so want dis ‘n verdere sinjaal vir die verse wat volg.

Temas wat voorop gestaan het?

Benewens die variasies van die hart, sou ek sê: die Boeddha; die self; die Ander; die joernalistiek; die natuur; Karoo-mense; verlies; liefde; jou eie sterflikheid; geloof; op reis…

Daar is nog, maar ek dink die temas moet self inslag in lesers vind.

 

Hoe gaan jy te werk wanneer jy skryf, Johannes? Werk jy volgens ‘n vaste roetine, byvoorbeeld? Of kom die verse maar soos hulle kom; werk jy lank aan ‘n vers of handel jy hom relatief vinnig af?

 

Ek werk net volgens ‘n vaste roetine wanneer ek tyd het. My lewe as joernalis maak dat ek in die nuus van die dag “ingeprop” moet wees – tyd (vir my eie denke en die uitbou daarvan) is dus ‘n luukse.

In Johannesburg is poësie vir my altyd ‘n “tussenin” – iets wat ek moet doen om van een ding na ‘n volgende te beweeg. Dis waarskynlik ook hoekom ek van dié mynersdorp hou – dinge is edgy en vinnig.

Maar wanneer ek tyd het werk ek graag stadig en lank aan iets. Ek neem byvoorbeeld ‘n week of wat en gaan bly alleen in ‘n goeie vriendin se huis in Ladismith in die Klein Karoo. Kry baie berglug in die longe (in die berge is ek op my gelukkigste); eet veels te veel knoffel & gemmer; maak vreemde disse; drink heelwat rooiwyn; en skryf. Dit neem my omtrent gewoonlik ‘n week om van die stad af te skakel, en dan is die kop soos ‘n leë doek.

‘n Vers is vir my nooit werklik klaar nie. Hulle is soos voëls wat vir ‘n sekere tyd van die jaar na beter en warmer plekke vlieg, en met hul terugkeer is hulle soms (en dikwels) vreemde skepsels.

Ek plak gewoonlik ‘n vers teen ‘n muur (by die huis of die werk naby my rekenaar) vas dat my oë dit so elke nou en dan vang – dat ek dit weer en weer kan lees. Soms is die vers in ‘n oogwink klaar – ander kere verander ek elke keer daaraan en gooi dit later weg.

So elke nou en dan skryf ek iets wat ek dink “klaar” is…

 

Baie dankie vir dié geleentheid tot gesprek. Ons wens jou alle voorspoed toe met jou loopbaan as digter. Sal jy dalk so vriendelik wees om as toegif vir ons lesers een van jou persoonlike gunstelingverse hieronder oor te tik?

 

Baie dankie ook vir die onderhoud, Louis.

En ja, natuurlik tik ek graag my gunstelingvers vir julle oor: die een van ons klein Prinsie.

 

eerste sonar

 

‘n besoeker

van ‘n ander planeet

kyk na my

met haar hart

wat sien jy vra my vrou

‘n luislang wat ‘n olifant

ingesluk het?

nee sê ek, ‘n klein skapie –

en dié jakkals

eet al klaar

uit haar hand

Bookmark and Share

Comments are closed.