Die onmisbare waarde van burgerlike ongehoorsaamheid

Die afgelope weke was ’n besondere neerdrukkende tyd vir Suid-Afrika. ’n Invloedryke joernalis, Tim du Plessis, redakteur van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse koerant, Beeld, het gewaarsku dat Suid-Afrika die afgrond tegemoet gaan.

   ‘n Anti-apartheidsteoloog vir wie ek geweldig baie respek het, prof. Nico Smith, het ontevrede Afrikaners gemaan om nie ’n Algerynse slagting op die hals te haal nie, en om op te hou kla en eerder saam te werk met die ANC-regering. Dit is, as mens dit omskryf: trap in julle spoor of julle kele gaan afgesny word. Overgesetsynde: Wees gehoorsaam.

    In een van die helderste, intelligentste uiteensettings wat nog in die onlangse tye in die pers verskyn het, het Flip Buys, die vakbondleier van Solidariteit, vir Smith geantwoord waarom klakkelose gehoorsaamheid van burgers aan die staat, en spesifiek gehoorsaamheid van Afrikaners, op hierdie tydstip nie die antwoord kan wees vir ’n suksesresep vir Suid-Afrika nie. Gaan lees dit in Beeld. Dis een van die belangrikste kommentare op en oor Suid-Afrika in die onlangse tyd. Bôkker die poësie, wil ek amper sê, vir Flip Buys sal ek skroewe aandra.

   Twee Sondae gelede het ek ’n beroep op Afrikaanse intellektuele en skrywers gedoen om “diplomatieke” druk uit te oefen in die buiteland en ook te lande om Afrikaans as onderrigtaal in Suid-Afrika te red. Mens wil byvoeg: om die geesteswetenskappe te red. ’n Akademikus en voormalige teoloog aan Stellenbosch Universiteit, Anton van Niekerk, het my Sondag geantwoord en my op tipiese moedswillige wyse gevra om “op te hou lawaai maak”. Dit is, as dit vertaal word: Bly stil en wees gehoorsaam.

   Ek het hom geantwoord in ’n brief wat hopelik eersdaags in Rapport sal verskyn.

   Dit bring my by gehoorsaamheid. A, wat ’n deug, wat ’n doring, wat ’n sonderlinge Trojaanse perd met glooiings van Libanese sederhout; so ’n duursame leuen, jy kan dit in stront plant en dit sal sing soos Maria Callas.  

  Gehoorsaamheid. Engelekore is daarvan aanmekaargestik. Meeste Afrikaners het daarmee grootgeword. Dis niks minder nie ’n huisgod wat parfuum sweet.

   Gehoorsaamheid. Dit het my laat dink aan ’n vraag wat iemand eenkeer gevra het: “Witmense” was tog nie sulke boosaardige mense nie, hoe kon hulle apartheid laat gebeur het? Hoe KON hulle? Apartheid, een van die onsigbaarste van menseslagtings wat nog ooit plaasgevind het, en nie die minste daarom een van die wreedste.

   Die antwoord: Omdat hulle so gehoorsaam was!

   Indien iets, iets enkels, ooit die skuld sou moes kry vir apartheid, sou ek sê dit moet wees: Gehoorsaamheid.        

   En hier kom ’n geeërde anti-apartheidsdominee, en hy vra weer vir, wat? Hy vra vir gehoorsaamheid! Daardie wonderlike suurdeeg wat ’n Adolf Hitler onder jou handpalm kan laat verrys in ’n wasem van amandel soos ’n Paasbolletjie.

   Suid-Afrika is in ’n gemors. In ’n groot gemors. En dis nie net in ‘n bestuursgemors nie, ons is in ’n morele gemors. Hiervan is Smith se baie goedbedoelde beroep ’n bewys. Die ergste gemors sedert die hoogbloei van apartheid. Du Plessis is reg. Ons nader ’n afgrond. En dis gewoon nie waar nie dat die oplossings deur die regering aangebied tot dusver die enigste oplossings is wat moontlik is nie. Dit is gewoon nie waar nie. Behalwe as jy van mooi luister aan die slaap geraak het. Behalwe as jy geen verbeelding het nie! Suid-Afrika is hoegenaamd nie onoplosbaar as probleem nie.

    ‘n Goeie voorbeeld van hoe ons openbare leiers nie die mas opkom nie wanneer dit kom om kategorieë aan te gryp waarin gedink kan word en wat Suid-Afrika kan red, is die volgende: Nie solank gelede nie het die Suid-Afrikaanse filosoof Pieter Duvenage op Litnet ‘n stuk geskryf “Die versweë magspremisse van Nico Kooopman”. Dit was binne die verband van die debat rondom die posisie van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch. Soos met Buys se artikel, is hierdie een van die belangrikstes wat verskyn het in die afgelope tyd. Maar dink u enige iemand sal op daardie kategorieë antwoord? Dink u iemand het daarop gesê ja of nee? Nee, want hulle verstaan klaarblyklik nie die vlak van argumentasie daarin nie! En die vlak van argumentasie daarin is die vlak van argumentasie waarin regerings in Europa elke dag dink, niks meer gesog as dit nie.

   Hierop kan ek net sê: Totdat die regering filosowe van die formaat van Duvenage in hul dinkspanne opneem, regstreeks opneem, soos ’n bloedoortapping opneem, is Suid-Afrika gedoem.      

   Laat ons as burgers ONGEHOORSAAM wees. Maar laat ons dit ook kombineer met uiterste menslike respek – vir alle antagoniste, sonder uitsondering, sover moontlik, ook vir die staat, mits hulle hulself binne die arena van burgerlike respek hou.

   Respek vir die staat beteken nié gehoorsaamheid nie. Sedert wanneer is gehoorsaamheid en respek sinoniem, prof. Smith? Blote gehoorsaamheid is onburgerlik, dit kom dikwels neer op morele luiheid en dis selfs ondermynend – dis ondermynend omdat dit die burger weerhou daarvan om aanvullend op te tree. En om nié aanvullend op te tree nie is om jou burgerlike plig te versaak, en om jou medeburgers in die steek te laat.

   Blote gehoorsaamheid is infantiel. Dis moreel waglik. Dis die vertigo van die afgrond.

   Aanvullende optrede is die enigste respek wat ’n gesaghebbende staat nodig het. En dit bring ons by die groot probleem: Ons staat is nie meer gesaghebbend nie. Ons staat het magsuitoefening met gesag begin verwar. Verlies van gesag is die begin die afgrond. Gesag is wanneer jy as leier suksesvol aan jou onderdane kommunikeer waarom jy iets van hulle verlang. Ons staat doen dit nie. Gee hom enige oogmerk, en hy sal dit opsetlik verkeerd kommunikeer. Want hy stel nie in kommunikasie belang nie. Kommunikasie is nie deel van die magstaat se prioriteite nie.

    Die magstaat. Apartheid. Overgesetsyne. Vinkel soos koljander. Dis ’n omruiling van die maskers.

    As hierdie staat maar net DIT kon regkry: Om die lot van die arm mense te verlig, sou ek gesê het: Wel dis die moeite werd dat my taal op die brandstapel geplaas word.

    Maar ek gaan nié dit opoffer vir Blade Nzimande se nuwe mercedesse nie. Nie vir die verryking van ’n uiters arrogante nuwe elite wat Suid-Afrika sonder ’n snars gesag regeer nie.

    Bôkker die omruiling van die maskers.  Dit mag tog nie?

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Die onmisbare waarde van burgerlike ongehoorsaamheid”

  1. Desmond Painter :

    Ek stem saam. Ek dink die idee dat ‘n mens aan ‘n staat ‘gehoorsaam’ moet wees, is per definisie ondemokraties, of ten minste strydig met die ideaal van die demokrasie. Veral met die ideaal van ‘n radikale demokrasie. Hoe kan die ‘demos’ immers regeer, die setel van sowereiniteit wees, as hule ‘gehoorsaam’ is? Wat beteken ‘gehoorsaamheid’ in elk geval in die konteks van demokratiese politiek? Myns insiens niks; die woord pas nie eens in die taalspel van die demokrasie nie. Behalwe dalk in die sin dat DIE STAAT gehoor moet gee, en in daardie sin gehoorsaam moet wees aan die stemme van die demos. En ek dink ‘n radikaal-demokratiese benadering behoort ook aan te dring op die meervoud, stemme, in plaas van die enkelvoudige stem. Die probleem met die nasionalisme is immers juis dat die veelheid van stemme (en ook tale) een stem (en een taal) moet word. Die demokrasie gaan dan ook nie oor die skep van konsensus nie, maar juis oor ‘disagreement’ — die Franse filosoof Jacques Rancierre skryf baie goed hieroor in ‘n gelyknamige boek. Ten slotte, ek dink beslis nie burgerlike verset (opsaal en op kommando gaan, soos afwysend gekryf is…) is juis tipies van Afrikaners nie. Inteendeel.

  2. Alta Bester :

    Wat op aarde het hierdie met die poësie te doen? Is die hele punt van Versindaba nie juis die vers nie? Dit is veronderstel om ‘n hawe te wees vir digters en digkunsliefhebbers. Laat ons eerder wag vir Rapport of ander publikasies vir pêrels soos hierdie, Charl-Pierre.

  3. Pan Cogito :

    Ek stem hoegenaamd nie saam met Alta Bester se kommentaar hierbo nie; om die waarheid te sê, ek vind dit juis verrykend dat hierdie webblad ook onderwerpe wat meer indirek met die digkuns te make het, betrek. Digters het tog (soms) ook wyer belangstellings as net die poësie, is dit nie? Ons almal se lewens - so ook digters - word geraak deur dit waaroor Charl-Pierre hier skryf. In watter mate verskil dit van heelwat ander blog-bydraes, soos dié van Johann Lodewyk Marais en Andries Bezuidenhout se inspirerende gesprek rondom hul reiservarings in Oos-Afrika, byvoorbeeld? Myns insiens drink die poësie aan die mond van vele riviere. Dankie vir ‘n interessante inskrywing Charl-Pierre; nie dat ek noodwendig daarmee saamstem nie. Maar dis ‘n ander gesprek.

  4. Charl-Pierre :

    Dankie aan Desmond Painter en Pan Cogito se oorwoë menings op my inskrywing. Veral Desmond s’n is belangrik. Lees dit hierbo. In die lig van daardie opmerkings, kom die leser uit by die volgende onderskeiding: die verskil tussen demokrasie en nasionalisme.

    Wanneer die ANC die woord demokrasie gebruik, bedoel hy nie dit nie, hy praat van nasionalisme. As hy bevrees voel oor die sogenaamde “demokrasie”, is dit iets anders waaroor hy bevrees voel: sy program van nasionalisme.

    Die samesmelting van hierdie twee begrippe, asof dit dieselfde is, is ‘n leuen. Dis meer as ‘n leuen: dis ‘n opsetlike en propagandistiese misleiding van miljoene mense.

    Een van die grootste belhamels van hierdie leuen is - en was - Pallo Jordan, een van die ANC se argitekte van hierdie soetkoek-arseen.

    Indien enige iets, is demokrasie en nasionalisme TEENOOR mekaar opgestel. En nêrens sien mens DIT meer duidelik nie, as in Suid-Afrika vandag. Die samesmelting van hierdie twee begrippe is ‘n resep vir ontsporing.

  5. ‘n Goeie analise van nasionalisme en demokrasie in post-apartheid SA, wat onlangs by Wits University Press verskyn het, is Ivor Chipkin se “Do South African’s exist?” Hy maak ‘n punt wat voorheen al deur Etienne Balibar gemaak is, naamlik dat enige nasionalisme, insluitend sg. ‘burgerlike’ nasionalismes, die politieke gemeenskap op die ou end in etniese of kwasi-etniese terme verbeel.

    Dit was nog altyd problematies, maar is vandag nog meer so: oor die heterogeniteit wat globalisering meebring; en oor die feit dat diegene wat deur nasionalistiese programme bevoordeel word in ‘n neo-liberalistiese era net kleiner en kleiner word. Waar dit dalk in die verlede nog tot ‘n mate ‘n program van massa-mobilisering was, bevoordeel dit hedendaags grootliks die elites.

    Suid-Afrika is sekerlik ‘n goeie voorbeeld hiervan, maar ek dink dit is wereldwyd ‘n probleem. Wat aan die een kant teneurdrukkend is, maar aan die ander kant ook beteken die alternatiewe word redds globaal bedink!

  6. Charl-Pierre :

    Hallo Alta Bester (hierbo),

    Dankie vir jou opmerking. Ek dink die vraag is eerder: Wat het die poësie met my punt te make. En die antwoord is alles. Gedigte sny ons politieke asemruimte ten seerste aan. Poësie en politiek is nie te skei nie. Jare gelede het Ampie Coetzee ‘n boekie geskryf met die titel Poësie en die politiek. Dis in die Gericke-biblioteek op Stellenbosch, weet ek. Gaan lees dit, dis ‘n goeie wegspringplek al is dit in die sewentigerjare geskryf.

    Die genres vermeng en praat met mekaar. ‘n Goeie denker, wat dans met sy denke, ‘n geskiedkundige wat ‘n relaas kan skep oor wat hy dink gebeur het, dis mos nie minder of so anders as die poësie nie? Hierdie saak is al in die sestigerjare besleg, met die debat oor “Is betrokke poësie nog digkuns?” So jy is bietjie agter, jong. Tel daai roksome op, en hardloop! Ons wag vir jou.

  7. Charl-Pierre :

    Desmond, jy verskerp so bietjie die fokus van die begrip “nasionalisme”: Dis inderdaad nie slegs breër verbande soos ‘n nasiestaat nie, maar mens kry ook kleiner etniese nasionalismes.

    Maar, ek glo wel ook dat die neo-liberalisme, met sy oordrewe klem op die indiwidu,neerkom op ‘n miskenning van die integriteit van kulturele kontekste.

    Waar eindig die begrip nasionalisme? As ‘n sosiale verband/konteks nie werk met mag nie, terwyl dit “open-ended” bly, maar ook onomwonde aandring op die oorlewing van sy eie “ekologie”, sy bestaanveld as’t ware, kan mens nog praat van nasionalisme?

  8. Desmond :

    Charl-Pierre, ek hou van die begrip ‘bestaansveld’ wat jy gebruik.

    Ek stem saam met wat jy skryf oor die neo-liberalisme en die oorbeklemtoning van die individu; en soos die kapitalisme maar is misken dit die nie bloot ‘die integriteit van kulturele kontekste’ nie, maar koopteer dit ook sinies: ‘Ethnicity, Inc.’, sien ek, is die titel van John en Jean Comaroff se nuutste boek (UKZN Press).

    Ek stem ook saam met iets anders wat ek dink jy impliseer: ‘n ‘open-ended’, nie etnies- of nasionalisties gespesifiseerde politieke gemeenskap is nie noodwendig slegs ‘n sosiale kontrak tussen regdraende individue nie. Die ’subjekte’ van so ‘n politieke gemeenskap is individue sowel as allerlei groepe en kollektiewe; en dalk veral groepe en kollektiewe: mense wat hulleself in terme van bepaalse belange of inderdaad ook bepaalde eienskappe posisioneer.

    Ek dink beslis dit is gans te maklik om taal- of kultuurpolitiek sommerso as ‘nasionalisties’ af te maak, soos dikwels gebeur. Dit is maar ‘n retoriese manier om mense se aansprake te deligitimeer; daarom juis dat ek in my vorige pos na Balibar verwys het, wat duidelik maak dat die staatsnasionalisme self immers ook gewoonlik ‘n bepaalde etniese of kwasi-etniese identiteit op die politieke geemenskap afdwing. Die rede waarom daat taalpolitiek en kultuurpolitiek binne nasie-state voorkom, is omdat die staatsnasionalisme self ‘n taal- en kultuurpolitiek ‘writ large’ is.

    Daar is baie voorbeelde van taal- en kultuurpolitiek vandag wat, in die manier waarop hulle reageer op die ‘vereenselwigende’, sentralistiese taal- en kultuurpolitiek van nasie-state, ‘n post-nasionalistiese idioom begin ontwikkel; ‘n post-nasionalistiese idioom wat nie noodwendig verval in die verindividualiserende diskoers wat sommige benaderings tot kosmopolitanisme nog kenmerk nie.

    Daar is sekerlik baie slaggate wanneer ‘n mens die politiek op hierdie manier wil herverbeel, maar dit is dikwels juis die strategie van staatsnasionalismes om diegene wat nie by die ‘grand design’ wil inpas nie, ‘nasionaliste’ te noem. Staatsnasionalisme selfs is dan kwansuis nie nasionalisme nie. Dit is iets ‘patriotisme’ en dies meer, en maak beroepe op mens se ‘gehoorsaamheid’ en dies meer…

  9. Ek verskil ook (skerp) met Nico Smith en Anton van Niekerk se bydraes tot hierdie debat, maar ek weet nie of dit regverdig is om hul standpunt as ‘n oproep tot gehoorsaamheid te tipeer nie. Ek is selfs nie seker of Charl-Pierre se ‘ongehoorsaamheid’ ongehoorsaamheid is nie. (Natuurlik is daar gevalle waarin die goeie burger letterlik ongehoorsaam moet wees in die sin dat hy of sy die wet moet oortree, maar ek kry nie die indruk dat dit is waarop Charl-Pierre hier fokus nie.)

    Soos ek die Smith-Van Niekerk-tese verstaan, kom dit daarop neer dat wittes in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, nie hul demokratiese reg tot protes en weerstand te hewig moet uitoefen nie. Ons mag dit doen, sou hulle redeneer, maar dis dalk nie ‘n goeie idee om hierdie reg uit te oefen nie, want dit gaan wrywing, konflik en eventueel dalk selfs geweld tot gevolg he. Dis nie ‘n argument teen ongehoorsaamheid nie, want geen wet word oortree wanneer mense protes of weerstand pleeg nie. Dis eerder ‘n bepaalde opvatting van wat die wyse ding is om in die huidige situasie te doen.

    Ek verskil met hulle. Met Smith verskil ek omdat ek deur hom geinspireer is: Hy het met sy lewe en loopbaan gewys hoe sinvol en opbouend dit kan wees om stroomop te wees wanneer almal jou tot versigtigheid maan. (So jammer, Nico, jou invloed op my was te groot!) Met Van Niekerk verskil ek omdat sy pleidooi vir my ‘n elitistiese klank het: Moenie “lawaai maak” nie; die ouens daarbo sal die saak uitsorteer - mense wat geraas maak, maak dit net moeiliker vir die ouens daarbo om hierdie “sensitiewe saak” te kan hanteer. Maar dis die hele punt met die demokrasie: om dit vir die ouens daarbo moeilik te maak!

    Uiteindelik berus die Smith-Van Niekerk-tese op ‘n gebrek aan geloof in die demokrasie. ‘n Goeie demokraat voed die demokrasie deur dit te beoefen; en dit beteken protes, weerstand, kritiek, mobilisering. Iemand wat nie vir sy regte wil opkom, of sy belange wil bevorder, nie omdat hy bang is dit sal aanstoot gee of nie die vrede help bewaar nie, ondermyn die demokrasie.

    Ja, ons moenie net ons eie regte en belange bevorder nie, maar ook die van ander. Maar ek beklemtoon hier die opkom vir mens se eie regte en belange omdat dit die unieke kenmerk van die demokratiese idee is: niemand anders as die demos self kan daarmee vertrou word om die demos se regte te beskerm, en hul belange te bevorder, nie. Dis nie net ‘n mens se reg as burger om vir jouself op te kom nie; dis jou morele plig.

    Ek sou ‘n (goeie) stategiese saak kan uitmaak hoekom geen belangegroep sagkens-sagkens aan die politiek behoort deel te neem nie - dis juis mense wat gaan le wat vertrap word, sou dit kan lui - maar ek beklemtoon hier die etiese aspek: Wanneer regte - of dit nou taalregte of wat ook al is - misken word, is dit moreel verwerplik vir die mense wat daardeur geaffekteer word om nie aktief en militant weerstand te bied nie. (En vir die taalgestremdes: “militant” het niks met geweld te doen nie.)

  10. Charl-Pierre :

    Dankie Desmond en Gerrit vir jul verhelderende opmerkings.

    Ja, mens kan my gebruik van die woord “ongehoorsaamheid” wel verder nuanseer. Ek gebruik dit effens moedswillig ter wille van die historiese konnotasies wat die woord by mense met ‘n Afrikaanse agtergrond kan wakker maak.

    ‘n Woord wat sou kon instaan vir “gehoorsaam” is “onderdanig”, maar die gebruik daarvan lewer nou weer sy eie probleme op.

    Daar is ‘n interessante teenstrydigheid in byvoorbeeld die term “burgerlike ongehoorsaamheid” - want daardie soort daad impliseer juis dat jy vooraf (as jy burgerlik is) gehoor gegee het het tot in die uiterste: mens moet tog seker maak jy verstaan die staat voordat jy hom opponeer. Om die staat, wat ieder een se beskermer is (behoort te wees), te opponeer beteken jy moes vooraf eers BAIE goed gehoor gegee het aan wat die staat te sê het voordat jy besluit jy het geen ander opsie as om nie-onderdanig te wees nie.

    Ek het ‘n brief geskryf aan Rapport in antwoord op Anton van Niekerk se kwispelasie (soos ‘n bekende Afrikaanse skrywer dit in ‘n brief aan my genoem het) en hoop dit word nog geplaas: want daarin kleur ek die probleem in wat ek het met ‘n indiwidualistiese bendadering tot taalinstanhouding, en wel doen ek dit deur middel van die begrip “taalveld”.

  11. Charl-Pierre :

    Gerrit, die woord “onsamehorigheid” pleks van “ongehoorsaamheid” sou in heelparty opsigte die regte een gewees het vir my om te gebruik. Maar daar kan ‘n verskeidenheid van houdings wees wat agter verskillende vorme van samehorigheid sit, bv. vrees, of die houding van vreedsame naasbestaan. ‘n Houding soos laasgenpoemde is waarskynlik die houding wat prof. Nico Smith in gedagte had toe hy sy pleidooi geskryf het. Jy impliseer tereg dat Smnith nie noodwendig, en dalk waarskynlik nie, die houding van gehoorsaamheid in gedagte gehad het nie.

    MAAR: die houding van gehoorsaamheid is die houding wat mees waarskynlik sal sit agter ‘n samehorigheid wat jy gaan aantref in Suid-Afrika - of dit nou ‘n samehorigheid is onder Afrikaners (weens hul onmiddellike oligargiese verlede), of onder die breër Afrikaanses(weens die onderdanigheid wat deur apartheid en sy slawernye by hulle ingeprent is, en wat ek sien as verdrukkende houdings binne die Moslemgemeenskap) en of dit die Zoeloes is (weens hul onmiddelike feodale verlede), ensovoorts.

    Dus staan ek by my gebruik van die woord “gehoorsaamheid”. In ‘n breër samelewing met ‘n baie sketsmatige politieke verlede, waarin selfs die eervolle stryd teen apartheid in ‘n hieriargiese en militêre gesindheid geskied het, loop ‘n pleidooi soos Smith s’n amper 100% gevaar om ‘n houding van onkritiese GEHOORSAAMHEID te ontketen.

Los kommentaar