Ons skiet gedigters

Vanoggend staan ek in die ry om my munisipaliteitsrekening te betaal, nie die mees inspirerende tydsverdryf nie. Hier betaal jy vir dienste gelewer en nie gelewer nie. Die ry is nie lank nie. Gelukkig is daar ’n kennisgewingbord om mens besig te hou, want soos alle kennisgewingborde is daar ’n magdom spel-, taal- en dinkfoute wat die didaktiese gene in my laat kriewel. O, vir ’n lekker rooi merkpen!

    Een van die plakkate is ’n advertensie van ’n fotografiese studio en daarop staan onder andere: We shoot poetries and motivational speakers. Nou weet ek so bietjie van motiveringsprekers, maar daai een van die “poetries” maak my bang. Selfs met ’n kamera gaan jy dit moeilik vind om die digkuns te skiet, om nie van verskeie digkunste te praat nie. Digters is wel makliker prooi. Terloops, dit verbaas my dat my rekenaar se speltoetser nie protesteer teen die woord “gedigters” nie. Dalk weet hy meer as waarvoor ek hom krediet gee.

Maar genugtig,

dat hulle gedugte digters

darem so vernuftig

wil uitknikker,

dié fotografiese skerpskutters!

 

Bookmark and Share

Los kommentaar