Die Speelman: Digters werk saam om CD te skep

Redaksie: Versindaba

 

Helena Conradie
Helena Conradie
Helena Conradie, deelnemer aan Versindaba-feeste en woordkunstenaar van die Kaap, bring weer ‘n nuwe gedigte en musiek CD uit. Die keer saam met die klassieke kitaarspeler Lizelle Duvenhage en sangeres Minette du Toit Pearce. Sy beperk haar nie tot een digter nie. Ou en nuwe digters word betrek. NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Elizabeth Eybers, Uys Krige, Marlise Joubert, Ina Rousseau, Joan Hambidge, Trienke Laurie, Zandra Bezuidenhout, Ronnie Belcher, Ernst van Heerden, Breyten-Breytenbach, TT Cloete, Boerneef en Ronel  Loots, Olga Kirsch en Antjie Krog dig rondom die tema van die Speelman, die kunstenaar. Elke digter het sy eie perspektief en dit word ‘n ontdekkingsreis van elke mens wat skeppend leef. 

‘n Hele paar van die bogenoemde digters lees self hul eie werk voor op Die Speelman.  “Ons bewaar sommer die digter se stem  saam met sy gedig,” sê Conradie. Joan Hambidge, wat haar gedig Judy Garland self lees op die CD wys daarop dat Judy die beste “entertainer” ooit was, maar nie vervulling gesmaak het nie. Zandra Bezuidenhout lees ook haar gedig Sleutel, waar sy beweer dat Gees die sleutel moet wees van die gedig, die liefdesspel en die liriek. Marlise Joubert wat ook voorlees op die CD se nuwe gedig Balspel, ‘n akwarel, dui daarop dat die spelelement dalk die sleutel is tot die skeppende lewe.

 

DJ.Opperman se grootse gedig oor kunstenaars, Paddas, word ‘n hoogtepunt op die CD. Dit word deur die digters wat op die CD lees, voorgelees. 

 

Gedigte smelt saam met kitaarspel wat die woorde ondersteun en verder neem. Werke van WA Mozart, John Anderson, Julio Sagreras, Villa Lobos, F.Tarrega en ander word gehoor. Nuut geskepte toonsettings maak die luisterervaring nog meer vreugdevol. Minette du Toit Pearce, bekende metzo sopraan se deelname is ‘n bonus.

 

“Dit was vir my ‘n verkenningstog om die wêreld waarin ons leef, en veral die van die kunstenaar, beter te verstaan”, sê Conradie.

 

Die CD kan bestel word by Cecelia@cadutoit-wp.co.ca of skakel 021-9192280. Dit sal ook  by Protea Boekwinkel op Stellenbosch beskikbaar wees [021-8829100].

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.