Charles Ducal wen Melopee-prys

Charles Ducal

Charles Ducal

Op De Contrabas se webblad vind ek ‘n skakel na die bekendmaking van Charles Ducal as die eerste wenner van die nuut-ingestelde Melopee-prys vir poësie. Ducal het naamlik die prysgeld van € 2,500 ingepalm met sy gedig “Onvoorbereid”. Dié prys is deur die dorp Laarne ingestel en word toegeken aan die beste gedig in die Nederlandse digkuns vir ‘n betrokke jaar. Die organiseerders het die prys se instelling soos volg gemotiveer: “Poëzie is niet het meest populaire thema in het gemeentelijke politiek bedrijf. En toch is poëzie, net als andere kunstvormen, één van die stille facetten die de culturele eigenheid van een volk vormen. Daarom investeert een kleinere gemeente als Laarne in een poëzieprijs die in Vlaanderen zijn gelijke niet kent.” Amen.

Charles Ducal (skrywersnaam vir Frans Dumortier) is natuurlik jare reeds een van die mees opwindende digters in Vlaandere. Hy het reeds in 1987 gedebuteer met die onvergeetlike bundel Het huwelijk en dit twee jaar later opgevolg met , De hertog en ik. Laasgenoemde bundel is bekroon met die Prijs van de Vlaamse Gids en die Lucy B. en C.W. van der Hoogtprijs. Daarna het die volgende bundels gevolg: De meesterknecht (1992), Over de voorrang van rechts (1993), Moedertaal (1994), Naar de aarde (1998), In inkt gewassen (2006) en Toegedekt met een liedje (2009). Charles Ducal is tans dosent in Nederlands aan die Sint-Albertuscollege in Haasrode.

Vir jou leesplesier volg die wengedig heelonder.

Dan is dit ook pas bekend gemaak dat die Vlaamse fonds vir letterkunde Charles Ducal aangewys het om die “Gedichtendagessay” vir 2010 te skryf. Dié essays is ‘n reeks wat elke jaar op 31 Januarie verskyn en ‘n pleidooi vir die poësie bevat. Ducal is reeds die derde digter wie dié eer te beurt val. Die volledige berig kan hier glees word.

***

Weens persoonlike omstandighede sal ek nie vanmiddag by ‘n rekenaar wees wanneer die wenner van die Nobelprys vir Letterkunde om 13:00 GMT in Stockholm aangekondig word nie. Desmond Painter was egter vriendelik genoeg om in te stem om ‘n Spesiale Nuuswekker hieromtrent te doen. Jy kan dus rondom 16:00 op die webblad kom kyk wie die wenner is vanjaar. Nuwe toevoegings sedert gisteroggend is Yves T’Sjoen se inskrywing oor die literêre tydskrif Raster, wat as motto “LIteratuur als avontuur” gehad het. Verder is daar in die Brieweboks nuus oor ‘n opwindende projek van Helena Conradie, en dan het ons webmeester ‘n fotoblad met foto’s van al die deelnemers aan vanjaar se Versindaba saamgestel en dit hier geplaas. 

Lekker lees en hou dinge tog bymekaar vandag, hoor.

Mooi bly.

LE

 

Onvoorbereid

 

Als alles instort om dit onooglijk huis

is de kans groot dat wij, de aandacht afgeleid

door vegen, spatten, ogen op de ruit,

ons zullen moeten melden bij de tijd.

 

Het boek zegt: de stad wordt aan de gel gelijk,

de honden zullen van hun meesters eten,

het wordt zo heet dat alle vocht verdwijnt.

Het boek is oud, men zou dit kunnen weten,

 

maar men sterft makkelijker onvoorbereid.

 

Wij ook hebben gezwegen, druk bezig

met het peillood in de inkt

om van diep in ons de peilloosheid te meten

en niet te merken dat het stinkt.

 

© Charles Ducal

 

Bookmark and Share

Comments are closed.