Bernard Odendaal. “Christ of the burnt men”

Die gedigontledings wat ek oor die volgende 3 weke hier in my blog gaan plaas, is in Oktober 2004 gedoen met die oog op ’n ATKV-slypskool in Bloemfontein, aangebied vir Afrikaansonderwysers wat in die VOO-skoolfase klasgee. Ek is gevra om die gedigontledings so aan te pak dat dit bruikbaar sou wees as onderrigmateriaal. Vandaar die vraag-antwoord-aanpak, gerig daarop om leerderdeelname aan die analiseproses aan te wakker.

Die ikonisiteitsbegrip kom ter sprake in die ontledings, hoewel nie altyd in die verdere besonderhede van soorte ikoniese teks soos ek in ’n vorige blog-inskrywing onderskei het nie

Ek spring weg met ’n ou bekende onder die voorgeskrewe poësietekste.

*****

“Christ of the burnt men”

(Thomas Merton)

 

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende

skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare

op jou afstand gadegeslaan het: jy het

jou hande nie tóé uitgesteek toe ek

jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie

maar fel jou kruis geteken oor my, in hand

en romp en hoof, en deur die beswyming

onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke

kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag

van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë

blink van ‘n verskriklike akkoord.

En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur

van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –

– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand

as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand

onder my eenvoetig-springende begrip agter jou

ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik

omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel

met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:

drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees

wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry

opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy

dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,

amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

 

  • Sheila Cussons

 

Dié gedig vorm saam met die gedig “Verheerliking” (waarin Christus uitgebeeld word as ’n getransformeerde wat aan die spreker verskyn) die slot van Cussons se tweede bundel, Die swart kombuis (1978). Beide is gedigte oor die teofanie, die “Godsverskyning in gesig en visioen soos in die Ou Testament” (HAT).

In die mistiek, waarin gestreef word na (geestelike) eenwording met God, vorm die teofanie die laaste fase van die misterieproses (De Villiers, 1985:138; Encyclopaedia Brittanica, vol. 12:786). Om hierdie eenwording moontlik te maak, moet die mens ’n transfigurasie (gedaanteverwisseling) ondergaan. Die swart kombuis is dan ook ’n bundel waarin die eenwording met God deur verandering, gedaanteverwisseling of heiliging (dikwels met vuur) sentraal staan. (Hou in gedagte dat die kombuis ’n plek van omstoking is, waar rou, afsonderlike bestanddele tot ’n geurige en heilsame eenheid verwerk word. Dit word dus in die bundel die simbool van sowel psigiese, religieuse as digterlike transfigurasie – Gilfillan, 1985:37-38; Bosman, 1989:112-113.)

Luidens die aanhalingstekens waarbinne dit staan en die ondertitel in hakies, is die gedigtitel ’n sitaat uit die werk van Thomas Merton. In die aantekening by die gedig in Versreise (Vermaak et al, 2001) word die vollediger frase aangehaal waaruit die sitaat geneem is: “That you may become the brother of God and learn to know the Christ of the burnt men” (uit The seven storey mountain, Merton se outobiografie). Soos Cussons, was dié Amerikaner ’n skrywer en ’n lid van die Rooms-Katolieke kerk, maar hy het ook intens belanggestel in die Oosterse godsdienste en in spesifieke tegnieke van meditasie soos in dié godsdienste beoefen (Fouché, 1992:41; Gilfillan, 1985:72).

In die Rider encyclopaedia of Eastern philosophy and religion (1989) word verduidelik dat “meditasie” ’n algemene term is vir ’n groot verskeidenheid, metodologies dikwels uiteenlopende, religieuse praktyke waarin by almal naastenby dieselfde doel nagestreef word: om die bewussyn van die meditasiebeoefenaar tot ’n toestand te bring waartydens ’n belewing van ‘ontwaking’, ‘bevryding’ of ‘verligting’ moontlik word. Nougesette beoefening van meditasie lei volgens hierdie sienings tot ’n nie-dualistiese gemoedstoestand: Die onderskeiding tussen subjek (mediteerder) en objek (gemediteerde) verdwyn; die meditasiebeoefenaar word een met ‘god’ of ‘die absolute’; konvensies (alledaagse verskynsels) soos tyd en ruimte word oorstyg om ’n belewing van ’n ‘ewige hier-en-nou’ te bereik, terwyl die eenheid van lewe en dood, van die verskyningsvorme en die wesenlike van dinge, ervaar word.

In Desember 1968 sterf Merton toe hy deur ’n waaier doodgeskok is – Cussons het ook later in haar lewe in ’n ongeluk met ’n gasstoof aan haar lyf en gesig brandwonde en gevolglike skendmerke opgedoen. Dit is duidelik dat Cussons om verskeie redes met dié Amerikaner en sy werk kon identifiseer.

Nienaber (1982:12-13) skryf meer uitvoerig oor die verwantskappe tussen Merton en Cussons:

·         Albei is op betreklik gevorderde leeftyd bekeer tot die Rooms-Katolisisme.

·         Albei het in hul jonger jare rondgeswerf en hulle op ander vastelande gevestig as dié waarop hulle gebore is.

·         Hulle is aangevuur deur brandende begeertes.

·         Albei het opgeskeep gesit met ’n dualisme tussen hul skrywersdrang, enersyds, en hul behoefte aan religieuse oorgawe, andersyds, maar wat hulle gelukkig geweet het om te versoen in die woordkuns.

·         Hierdie innerlike spanninge in hul gemoedere het aanleiding gegee tot ’n hoogs dramatiese inslag in hul skryfwerk.

·         Albei het gesmag na absolute loutering en na mistieke eenwording met God.

·         Hul skryfwerk is derhalwe hoogs visionêr van inslag.

 

 

Vrae (met moontlike antwoorde)

 

a)   Verduidelik hoe die titel skrynend slaan op insidente in die lewens van sowel Thomas Merton as Sheila Cussons.

Dit impliseer die brandongelukke wat beide van hulle belewe het, soos in die inleidende bespreking tot die gedig vermeld. Skrynend is die suggestie dat mense in die algemeen (“men” in die titel) eers ‘verbrand’ (verwond, dit wil sê gelouter) moet word voordat Christus as hul verlosser kan optree.

b)   Watter ooreenkoms is daar tussen die “burnt men” en Christus?

Christus het, soos die “burnt men”, lyding deurstaan (Jesus deur sy kruisdood). Op grond van sy lyding is Christus nou die mens se hoop op verlossing of ontstyging van die aardse beperkinge.

c)   Christus word in hierdie gedig deurgaans met “jy” en “jou” aangespreek. Neem in ag wat die mistieke strewe is, en verklaar dan wat die moontlike rede hiervoor is.

Die hoflikheidsvorm (“U”) waarmee God tradisioneel aangespreek word, veronderstel ’n respekvolle, selfs vreesvolle afstandelikheid. Waar in hierdie gedig die mistieke strewe na eenwording met Christus uitgebeeld word, is die persoonlik-intiemer “jou”-vorm ’n middel om die vertroulike verhouding tussen subjek (mens) en objek (Christus) aan te dui. Chrustus word as ‘t ware as vriend en gespreksgenoot benader.

d)   “Jy sal my ook al hoe meer wen” (r. 1). Wat impliseer die onderstreepte woorde aangaande die spreker se verhouding met God?

Dat die “ek” reeds vir God gewen is, maar ’n behoefte het om al nader aan God te kom, ten nouste met Hom saam te leef.

e)   Hoe word Christus geteken in rr. 1 & 2? Rym dié siening op eerste sig met wat in rr. 3-11 uitgebeeld word?

As “glimlaggend”, “skerts-” en “blink-ogig”, dit wil sê as liefde- en humorvol. Nee, dit lyk op eerste sig nie te rym met die afstandelikheid waarmee die getekende menslike lyding deur Hom “gadegeslaan” word nie. (Vergelyk “sengende wonde” wat die “ek” opdoen “in hand / en voet en romp en hoof”.)

f)    Verduidelik die moontlike dubbelsinnigheid in die uitdrukking “blink-oog” (r. 2).

Dit kan, soos gesê, op liefde- en humorvolheid slaan, maar moontlik ook op betraandheid.

g)   Hoe sal u dus die houding van Christus teenoor die mens in rr. 1 & 2 beskryf?

Dit is eerder verdraagsaamheid, begrip of simpatie in die gesindheid van Christus wat gesuggereer word.

h)   Waarna verwys “my vervaarde jare” waarskynlik?

“Vervaard” beteken bang, verskrik of bevrees. Waarskynlik word dus bedoel dat die subjek (die “ek”) se lewe voor die louterende lyding ’n beangste bestaan verwyderd van Christus was. Die woord “voortvarend” kan deur assosiasie ook met “vervaard” verbind word, sodat die verwarring en onstuimigheid van ’n onvoldrae lewe ook opgeroep word.

i)     Een godsbeskouing, wat ook in sekere stromings in die Rooms-Katolieke kerk voorkom (Fouché, 1992:43), is dat God Drieënig die mens dophou, maar nie in die bestaan van die mens inmeng nie. Dié siening word soms (eintlik verkeerdelik – vergelyk Encyclopaedia Brittanica, vol. 5:562) as ’n deïstiese beskouing beskryf, naamlik dat die afstand tussen God en mens van twee kante af gehou word. Watter frase uit die gedig weerspieël so ’n beskouing?

“op jou afstand gadeslaan”

j)    Die afstand tussen God en mens word volgens die Katolieke leer opgehef wanneer die mens gesuiwer word deur lyding (byvoorbeeld in die vaevuur – vergelyk De Villiers, 1982:103; Gilfillan, 1985:72-73). Verduidelik hoe dié siening in hierdie gedig weerspieël word.

Daar word geïmpliseer dat die subjek deur pyn (“sengende wonde”) gesuiwer of gelouter moet word vóórdat Christus oplaas die “ek” se “hande” sal “gryp”, dit wil sê verlos.

k)   Toon aan hoe die spreker se lyding met dié van Christus vereenselwig word.

In reëls 6-7 word gestel dat die “sengende wonde” soos Christus se “kruis geteken” word oor die subjek se lyf.

l)     Hoe word die wonde benadruk in rr. 6-7? Stem dit ooreen met die kruiswonde van Christus?

Die polisindetiese konstruksie “in hand en voet en romp en hoof”, gepaardgaande met die gedrae jambiese metrum hier (daling + heffing + daling + heffing ensovoorts), het ‘n baie nadruklike effek. Ja, die subjek doen wonde op op al die plekke waar ook Chrustus tydens sy marteling en kruisiging wonde aan sy liggaam opgedoen het: die hoof (via die doringkroon), die hande en voete (waardeur die spykers geslaan is) en die romp (die géselmerke op die rug en die gat waar die spies in Christus se sy gesteek is om seker te maak dat hy dood is).

m) Lei uit rr. 7-8 af waar die “ek” haar/hom bevind (het).

In die hospitaal (“beswyming” weens die pynverdowing, “druppende bloedplasma”, “soutwatersakke”).

n)   Waar kom “die trekking van ’n glimlag van uiterste pyn om die mondhoeke” van Christus vandaan (rr. 9-10)? Watter stylfiguur word hier funksioneel ingespan om die uiteenlopendheid van die emosies wat Christus aan die kruis moes beleef het, te vergestalt?

Daar word gesuggereer dat Christus, met herkennende simpatie, as ’t ware weer sy eie uiterste lyding aan die kruis beleef deur die foltering van die subjek gade te slaan. Die glimlag kan ook suggereer dat Christus reeds die verlossing wat uit dié louterende ervaring sal voortspruit, vooruitskou. Die paradoks “glimlag van uiterste pyn” vergestalt die uiteenlopende emosies van Christus aan die kruis op funksionele wyse. (Dit is metafories-ikonies, dit wil sê tekenend op metaforiese wyse, van die uiteenlopendheid van daardie emosies.)

o)   Wat is die “verskriklike akkoord” waarna in r. 11 verwys word? (Dink in terme van die betekenis van Christus se kruisdood.) Verduidelik nou ook weer die dubbele implikasie van die woord “blink” in hierdie reël.

Die “verskriklike akkoord” is dat God deur Jesus se kruisdood hom geïdentifiseer het met die menslike lyding op aarde, sodat die mens hom/haar op sy/haar beurt met God kan identifiseer. “Blink” kan sowel medelydende trane as die glinstering van hoopvolheid by Christus aandui.

p)   C.J.M. Nienaber (1982:14 & 16) skryf dat “Christ of the burnt men” eintlik ’n tweeluik is, basies bestaande uit twee neweskikkende hoofsinne (rr.1-11 en 12-24). Reëls 12 en 13 tree eintlik op as die “skarnier” tussen die twee dele (wat dan elk 11 reëls beslaan), dit wil sê as die verbindingskakel waarin die spreker se begrip vir die implikasies van haar brandervaring deurbreek. Dit beteken, sê Nienaber, “’n wegkom uit die verlede en ’n toespitsing van die aandag op die wordende toekoms, die vervullingsmoment wanneer die volkome eenwording bereik sal word, òf, in Middeleeuse mistieke terme gestel, wanneer die Bruidegom sy Bruid in ontvangs sal neem”.

Dui nou self hierdie fokusverskuiwing van die verlede na die hede en toekoms in die gedig aan.

Die gedig begin met ’n toekomsvisie (“Jy sal my ook al hoe meer wen”), maar reëls 2-11 is dan in die verlede tyd geskryf: Daar word teruggekyk op die spreker se “vervaarde jare” en op haar verwonding deur verbranding. Reëls 12-15 (waarin die spreker haar begrip van die gebeure bely) is dan in die teenwoordige tyd geskryf, terwyl daar vanaf reël 15 (met die woord “gaan”) vooruitgekyk word na die teofaniese verskyning van Christus en die eenwording met Hom (“opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het”).

q)   “Geteken” (r. 12) het eweneens ’n dubbele betekenis. Toon dit aan.

Dit kan slaan op ’n kontraksluiting (’n soort ondertekening van die “verskriklike akkoord”), maar ook op die tekens van verminking en skending wat die spreker opgedoen het.

r)    Hoe verstaan u die uitdrukking “die avontuur van jou” (rr. 12-13)?

Die term “avontuur” roep belewenisse soos ontdekking, gevaar én opwinding op. ’n Mens sou dus kon sê dat met hierdie uitdrukking die gevaarlike of pynlike, maar ook opwindende ontdekking van Christus bedoel word.

s)   Waarom is die spreker deur Christus uitverkies vir haar “avontuur”? Met watter woorde vroeër in die gedig hou “waaghalsig” (r. 13) verband?

Die “ek” het “vuur bemin” en was “altyd waaghalsig”. “Waaghalsig” herinner aan die woorde “vervaarde jare” in r. 2.

t)    Hoe ervaar die spreker (wat altyd “vuur bemin” het) nou vir Christus op intense wyse?

As ’n innerlike brand (“in brein en hart”) wat dieper gaan as die uiterlike “vlam aan die lyf”.

u)   Hoe word die intensiteit van die innerlike “vuur” beklemtoon (r. 14)? Wat is hierdie innerlike vuur?

Met die vergrotende herhaling “brandender brand”. Die innerlike vuur kan die vurige verlange na God, na vereniging met Hom verteenwoordig. Gilfillan (1985:73) identifiseer dit “as die heerliker wete dat die geliefde sal omdraai, dat Hy hom ook as kosmiese vuur aan haar sal openbaar en as bruidegom in besit sal neem”.

v)   Waarna verwys “die vlam aan die lyf” (r. 15)?

Na die brandongeluk waardeur sy geskend is.

w)  Wat suggereer die uitdrukking “my eenvoetig-springende begrip” (r. 16) in verband met die menslike begripsvermoë? En hoe ervaar die spreker dit as dit “gloei in sand en klip” (r. 15)?

Dat dit lomp en onvolkome is. Die uitdrukking “gloei in sand en klip” suggereer waarskynlik dat die spreker haar begripstekortkominge met ongeduld ervaar.

x)   Deur die akuutteken in “ságsinnigheid” (r. 17) word ’n besonderse betekenisnuanse van dié woord geaktiveer. Gee ’n woord wat naastenby sinonimies is aan dié betekenisnuanse.

Liefde, of geneentheid, of iets dergliks.

y)   Voltooi die volgende om sodoende aan te dui waarmee die “iets heerliker” (r. 17) vergelyk word: “Nee, iets heerlikers as ….”

… die feit dat God “my geteken het vir die avontuur van jou”, dit wil sê as die feit dat God haar uitverkies het.

z)   Verklaar aan die hand van wat in rr. 17-22 staan, wat dan heerliker is as die feit dat Christus die spreker in Sy liefde uitverkies het.

Die mistieke eenwording met God is selfs heerliker as die feit dat sy uitverkies is.

aa)        Hoe moet “met oë wit en stip en ver” (r. 18) waarskynlik verstaan word? Watter stylfiguur word hier aangewend ter beklemtoning?

Waarskynlik as helder of reinigend (“wit”), deurdringend (“stip”) en visioenêr (“ver”). Die polisindetiese gebruik van die aaneenskakelende voegwoord “en” werk hier nadruklik.

bb)        Watter beeldspraakvorm word aangetref in “skouers gemantel met ’n verwoede en stormende son”? Wat suggereer hierdie beeld, soos ook die uitdrukking “my kosmiese Christus”, aangaande die Here?

Dit is ’n metafoor (die “verwoede en stormende son” word gelykgestel aan ’n mantel wat om Christus se skouers hang), terwyl die werkwoordelike gebruik van die selfstandige naamwoord “mantel” ’n woordsoortelike funksiewisseling verteenwoordig. Die heerlikheid en almag van Christus word hierdeur gesuggereer. Die “son”- en “storm”-verwysings skakel met die vuur- en lig-simboliek in die mistiek, wat die “metafisiese teenwoordigheid” van Christus sinjaleer (Bosman, 1989:108-109).

cc) Waarna word in reël 20 verwys? Wat is dit wat deur “die klein en donker vlees” van Christus se menslike liggaamlikheid “verdoesel” is?

Na die aardse lewe van Christus, wat na berekening 33 jaar geduur het. Dit is sy goddelike aard wat deur sy menslike gedaanteverskyning (tydelik) verberg is.

dd)       Na watter daad van Christus verwys r. 21? Waarom word die “jóú” in hierdie versreël geaksentueer?

Na sy opstanding uit die dood. Die aksentuering toon aan dat dit hier om die (goddelike) essensie of wese van Christus gaan; dus: die ware Christus.

ee)        Hoe word die toenemende vereenselwiging van die “ek” met Christus in r. 22 op semantiese sowel as stilistiese vlak veraanskoulik?

Die opeenvolgende frases “”raak sien”, “raak weet” en “raak het” druk die steeds intiemer (steeds meer naderby) bemoeiing met Christus in die mistieke vereenselwigingsproses uit. Die asindetiese weglating van die (veronderstelde) voegwoord in “raak sien, raak weet, raak het” verteenwoordig ’n enger as die normale verbinding van die sintaktiese dele hier, sodat dit ook iets van die intieme vereenselwigingsproses veraanskoulik (metaforiese ikoon). Die werkwoorde sien, weet en het wat Cussons hier gebruik, verteenwoordig breedweg die fases van suiwering (deur sintuiglike afsluiting en meditasie), verligting (insigbereiking) en vereniging (selflose opgaan in God) wat die via mystica kenmerk (Olivier, 1985:68-74).

ff)  Teenoor watter woorde vroeër in die gedig staan “gryp my hande dan” (r. 23)?

“jy het/ jou hande nie tóé uitgesteek” (rr. 4-5).

gg)       Wat moes dus eers met die spreker (verteenwoordigend van bekeerlinge in die algemeen) gebeur voordat Christus sy hande na haar uitgesteek het?

Sy moes gesuiwer word deur pyn; sy moes alle aardse oorbodighede aflê. Soos Bronzwaer (1969:178) aangaande die onthegtingproses in die mistieke strewe verklaar: “Juist door het besef dat de bevrediging die de aardse werkelijkheid biedt, ons niet tot God voert, worden pijn, wanhoop en verdriet, kortom het tekortschieden van de werkelijkheid, tot schreden op de weg naar God.”

hh)       Toon aan hoedat die uitdrukking “amper sonder vingers vir jou” (r. 24) ’n beeld is juis van hierdie onthegtingsproses waardeur die mens moet gaan.

Die uitdrukking “amper sonder vingers” dui die liggaamlike verminking aan wat Cussons as gevolg van die brandongeluk ondergaan het, maar word ook ’n beeld van die aardse onthegting (daar kan letterlik nie met stomp vingers gevat word nie!) wat die mistieke eenwording met Christus (“vir jou”) as voorvereiste voorafgaan.

ii)   Is die mens die eintlike bewerker van bogenoemde proses? Watter woorde in die gedigslot is ’n bewys hiervan?

Nee. God is die “kundige timmerman” wat die mens as ’t ware regskaaf daarvoor.

jj)   Na watter feite in verband met die (aardse) lewens van die spreker en Jesus verwys “sonder vingers” en “kundige timmerman” onderskeidelik?

Na Cussons se verminking in die brandongeluk (waardeur sy ook vingers aan haar hand verloor het), en na Jesus se lewe as skrynwerkerseun in Nasaret.

kk)        Stem u saam met Ezilda Fouché (1992:45) se samevatting van wat sy die “diepere betekenis” van die gedig noem?

“Die spreker streef na eenwording met die Bruidegom en ervaar die transformerende vuur aan sy eie lyf. Die mens en God word deur pyn, vereenselwiging en identifikasie tot mistieke eenwording gebring. Die mens kry nie net insig in God se verlossingsplan nie, maar ook in die doel en plan van sy eie lewe soos God dit bepaal. Die uitreiking na Hom maak genesing moontlik.”

Dit lyk na ’n geldige samevatting, maar laat die leerders toe om wysigings aan te bring waar van toepassing.

ll)   Wat die vorm van die gedig betref, is reeds gewys op die funksionele sintaktiese tweedeling daarvan in wat Nienaber as ’n tweeluikformaat (’n skildery verdeel in twee panele) beskryf: die eerste terugblikkend op gebeure in die verlede, en die tweede vooruitskouend op begeerde religieuse vervulling. ’n Mens sou die diagrammaties-ikoniese tweedeling, met reëls 12 en 13 as die verbindingskakel tussen die twee ‘panele’, in terme van die mistieke belewingsproses ook kon sien as vergestaltend van die twee basiese prosesse van die mistieke strewe: onthegting en suiwering van die aardse, en nadering en vereniging met die goddelike.

’n Volgende vormlike aspek waarop Nienaber (1982:16-17) wys, is die neerslag van die vervoering of ekstase van die spreker in sekere woordkeuses en saamgebalde metafore, in die sinsbou en leestekengebruik, en in die onrustige ritmiek. Verduidelik met voorbeelde uit die gedig wat Nienaber bedoel.

Woordkeuses soos “vervaarde”, “sengende”, “fel”, “uiterste pyn”, “verskriklike”, “avontuur”, “waaghalsig”, “brand”, “brandender brand”, “vlam”, “gloei”, “heerlikers”, “verwoede” en “stormende” is emosioneel gelade, en ondersteun dus die indruk van vervoerdheid aangaande die spreker. Verwant hieraan is die opstapelings van byvoeglike naamwoorde en bywoorde, byvoorbeeld “glimlaggende skerts-oog blink-oog Christus”, “met oë wit en stip en ver”, “’n verwoede en stormende son” en “klein en donker vlees”. So ook metafore soos “jou oë blink van ’n verskriklike akkoord”, “die brand in brein en hart”, “my eenvoet-springende begrip agter jou ságsinnigheid aan”, “skouers gemantel met ’n verwoede en stormende son”, ensovoorts. Laastens ook die gebruik van retoriese uitroepe (“o”, “nee”), die retoriese vraag (rr. 14-17) en aksenttekens (“tóé”, “jóú”, “grýp”). 

Die vervoering van die spreker vind ook neerslag in die twee lang, herhaaldelik saamgestelde sinne, voortstromend oor die talle enjambemente aan die versreëleindes heen, waaruit die gedig opgebou is. Die dikwelse benutting van die dubbelpunt, asook van die retoriese vraag in reëls 14 tot 17, dra, met die antisiperende effek wat hulle het, in ’n sekere sin by tot dié voortstuwing in die gedig. Die voortstromingseffek word egter, veral vanaf versreël 12, dikwels versteur deur die sesure (aangedui met leestekens soos die komma, die aandagstreep en die dubbelpunt) en die parentetiese sinsinvoegings (byvoorbeeld die vraag in rr. 14-17, “o my kosmiese Christus” in r. 19, die verwysings na Jesus se aardse lewe in r. 20, ensovoorts).

’n Mens vind dus naas voortstuwingseffekte opvallende ritmiese vertragingseffekte (aksentopeenstotings en veelvuldige en verskuiwende verssnitte) in die gedig – “almal versboumiddele wat aangewend word om die toenemende opgetoëndheid des te nadrukliker aan die lig te bring” (Nienaber, 1982:17).

 Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat

Bronnelys

Bosman, M.E. 1989. Op Hom die groot hosannas. Enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in Afrikaans. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Grahamstad: Universiteit Rhodes.

Bronzwaer, W.J.M. 1969. Vormen van intimiteit. Amsterdam: Athenaeum – Polak & Van Gennep.

De Villiers, J.H. 1985. Engele en aarde. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Grahamstad: Universiteit Rhodes.

Encyclopaedia Brittanica, vol. 5. 1982 15th edition.  

Encyclopaedia Brittanica, vol. 12. 1982. 15th edition.  

Fouché, Ezilda. 1992. (Bespreking van, en vrae met antwoorde oor) “Christ of the burnt men” – Sheila Cussons. Klasgids 27(4), Oktober:40-45.

Gilfillan, F.R. 1985. Die geel grammofoon. Perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). Odendal, F.F. et al. 1994. Derde, hersiene, uitgebreide uitgawe. Midrand: Perskor Uitgewery.

Nienaber, C.J.M. 1982. In Deum transiit? Net nog nie. Standpunte 160. Augustus:7-19.

Olivier, S.P. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

The Rider encyclopaedia of Eastern philosophy and religion. 1989. Londen: Rider Books.

Vermaak, Adinda et al. 2001. Versreise. Kaapstad: Tafelberg.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Bernard Odendaal. “Christ of the burnt men””

  1. Heleen du Preez :

    Oor die afgelope drie jaar het ek ‘n reeks werke geskilder (abstrak) wat geinspireer is deur die Franse komponis Olivier Messiaen se klavierwerk – Vingt Regards sur le Enfant-Jesus.
    Met die onlangse lees van Cussons “Christ of the burnt men” , het ek op baie ooreenkomste afgekom.
    Messiaen ook katoliek, hanteer mistiek op ‘n vernuwende musikale manier.
    Benjamin Fourie – pianis het die werk onlangs uitgevoer en ek het tydens sy uitvoering my werke op ‘n skerm geprojekteer.