Mundobabelas, Delagoabaai en regstellende aksie
… (oftewel Vrae aan Gerrit Brand en Neville Alexander)
Een van die belangwekkendste onlangse referate oor taal is pas gelewer by die Roots-fees aan die Universiteit van Wes-Kaapland deur dr. Neville Alexander, ’n akademikus van bewese gehalte en ’n voormalige anti-apartheidstryder met ’n amper vanselfsprekende rekord.
En, of moet ek eerder sê, maar, soos in die geval van emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu, is hy een van daardie mense wat meestal die woud vir die bome kan eien, en andersom – om die Engelse spreekwoord so ’n bietjie te parafraseer, en wat gou is om te sien waar en wanneer die spoor byster geraak word.
Dis ’n uitstekende referaat oor Afrikaans, oor taal, en oor die etiese en analitiese mistastings rondom die debatte oor taal in Suid-Afrika. Gaan lees dit. Dit is inderdaad puik. Die titel is “Afrikaans as a language of reconciliation, restitution and nation-building”.
Wat die fyner besonderhede van sy argumentasie betref is dit nie sonder aanvegbaarhede nie (hy erken dit self in die referaat wat in Litnet se Seminaarkamer te lees is), maar hier word minstens spore gelê in die regte rigting, en met duursame stawe wat weerbestand kan wees. Hier word oor Delagoabaai gedroom – maar ten minste word daar oos gekyk, nie wes nie.
Persoonlik dink ek Alexander was ’n bietjie “knockdown” gewees oor Standaard-Afrikaans. Gaan lees ook prof. Jef van der Elst se referaat, ook in Seminaarkamer, oor die waarde van hierdie variant van Afrikaans as byvoorbeeld wetenskaptaal. ’n Baie bruikbare, kreatiewe spanning ontstaan tussen die twee referate. Hulle weerspreek mekaar nie, trouens dit vul mekaar aan, maar op ’n potensieël prikkelbare wyse (niks daarmee verkeerd nie).
Aan dr. Alexander sou ek wou sê: Daar is tog min, indien enige, standaard-variante van tale, of dit nou Frans of Russies of wat ook al is, wat geheel en al sonder moreel en politiek bedenklike wyses hulself gevestig het? Trouens daar is seker min standaardtale wat hulself gevestig het sonder hoofsaaklik sulke maniere …? Dis jammer, dit kon anders gewees het, maar Afrikaans se standaardvariant is nie so buitensporig meer skuldig hieraan nie as ander standaard-tale. Omdat Afrikaans my taal is, ervaar ek die feit van die rasse-geskiedenis wat hierdie taal se sprekers van mekaar afgesny het, as geweldig pynlik en absurd. Helaas, ek kan my kop op ’n blok sit, as Afrikaans ’n Suid-Amerikaanse taal was sou die rasseskeiding amper nul gewees het – maar die klasseskeiding sou nie veel verskil het nie …
Dis maklik om ’n geskiedenisgewrig, enige een, van buite sy eie tydruimte te kritiseer. Makliker as, sê maar, om die regte besluite daarbinne te geneem het .. Helaas, begrip vir die dooies se foute verminder dit nie, óf die historiese skuld nie. Of die plig om ’n beter wêreld te konstrueer nie.
Die regstelling van die verlede vir Afrikaans binne sy sprekersbasis gaan tog lê in die herapropieëring van die standaardtaal deur sy volledige sprekersbasis, nie enige miskenning daarvan nie? (Ek dink nie Alexander misken dit werklik nie, maar sy bewoording in een paragraaf kan wel daardie indruk skep by sommige lesers).
Uiteraard behoort die standaardtaal van Afrikaans veel, veel oper en osmoties te word ten opsigte van sy variante as wat tans die geval is, maar goeie werk word tog reeds geruime tyd gedoen. (Terloops, ek kan nie sien hoe die vereiste mate van openheid kan geskied in die huidige geforseerde en gemanupuleerde omgewing nie.) En histories bestaan die presendente om mee te woeker. Van ons beste digkuns is in spreektaalvariante geskryf. Boerneef, Adam Small … gedeeltes van Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie. Dis maar enkele voorbeelde.
Kyk maar na Anton F. Prinsloo se woordeboek van streekstaal-Afrikaans, Annerlike Afrikaans. Goeie werk. Jammer oor die othering – al is dit met gewyde respek – waarvan die titel spreek, en net daarin lê dit wat nog verkeerd is. Presies daarin, hoe goed bedoel ook al. Dit sal moet verander.
En wat van Breyten se lieflik grillige private taal in sy “brabbelgedigte”? Wat daardie gedigte probeer doen is om te wys hoe tentatief, hoe histories kontingent, die gebeurtenis van ’n standaard by enige taal is! Nee, hoe histories kontingent enige taal is, van Queen’s English tot Spaans, Galisiaans en Baskies en Katalaans - sowel as Mundobabelas moenie dit vergeet nie, daardie lieflike kustaaltjie wat in Mauritanië bestaan, met sy purper tinte van afvallige, apokriewe vorme van Kastiliaans en die Afrika-invloede uit die sestiende eeu wat so kostelik daarmee vermeng. (Oukei, dis ’n variant wat ek so pas opgedink het. Die nog ongebore variante van tale is óók belangrik.) (Terloops, ’n Portugese vorm van Mundobabelas kom wel voor in Mosambiek.)
Maar ek is eintlik elders op pad heen. In die vaarwater van Alexander se toespraak, het Gerrit Brand op Dinknet, sy blog, ’n gesprek gevoer met ene Etienne, oor regstellende aksie. Laasgenoemde het die vraag gevra: As regstellende aksie gewerk het vir die Afrikaners, waarom kan dit nie werk vir die swart en bruin mense nie? Brand se antwoord was iets in dier voege: Regstellende aksie het nooit gewerk nie, nie toe nie en ook nie nou nie, omrede dit rasgebaseer was en omdat daardie kategorie soveel skade doen.
Hier word babas met die badwater uitgegooi deur Mnr. Brand. Aan Etienne, die voorstander van regstellende aksie soos dit tans plaasvind in Suid-Afrika, aan die ander kant, kan mens net sê gaan lees byvoorbeeld Moeletsie Mbeki se boek Architects of Poverty. Daar is inligting daarin wat jy kortkom om deel te kan neem aan hierdie debat.
Regstellende aksie vir Afrikaners onder die vorige bedeling het nie in breë nasionale verband moreel gewerk nie, maar wel binne nou gemeenskapsverband en wel materieël (ongelukkig slegs gedeeltelik, anders was daar nie nog steeds soveel arm blankes nie).
Regstellende aksie soos dit tans in Suid-Afrika toegepas word, werk nóg moreel, nóg in breë of nou verband, nóg prakties. Dit werk wel materieël, en wel vir ‘n klein persentasie, wat reeds ryk is! Dit werk nie vir die armes nie.
Die netto politieke mislukking van albei vorme van RA verskil nie veel nie, MAAR om hulle onder een mat te vee omdat albei rasgebasseer is, is oorvereenvoudigend.
Daar is belangrike verskille tussen hierdie twee vorme van regstellende aksie wat ondersoek moet word. Voor dit nie gedoen word nie, gaan ons nie in besonderhede weet wat hier aangaan nie, en gaan ons onsself ’n rat voor die oë draai.
Verskille: net daar kon Thabo Mbeki se vorm van RA meer suksesvol gewees het, as hy meer geredelik by die Suid-Afrikaanse geskiedenis gaan afkyk het. Maar nee, hy het die SA geskiedenis “afgedank” met ’n goue handdruk en sy RA eerder uit die mausoleum van Stalin gegaps.
Dis veral in die morele sfeer, waar die RA van die “wit” Afrikaner en die van die nuwe SA verskil as tipes mislukking.
Ek gaan kortlik ’n paar verskille tussen die twee vorme van RA noem, soos ek dit sien:
1. Die RA van die wit Afrikaners se klem was op opleiding, nie onmiddellike verryking nie, soos die geval is met die huidige RA.
2. Voortspruitend hieruit, het dit veel meer organies geskied, nie kosmeties soos die huidige vorm nie, veel meer van onder, en nie van bo nie.
3. Dit het dus ook veel meer sistematies – sowel as sistemies – geskied.
4. Dit was gedryf deur sterk, onderling gemeenskaplike waardes. Let wel: ek sê sterk waardes, nie politiek suksesvolle, of selfs volledig morele waardes nie. Die huidige vorm van RA se enigste “waarde” is na blyke “comfort” (gemak). En dis nie ’n morele waarde nie, wel ’n materiële een.
5. Die huidige vorm van RA gaan dus gepaard met ’n massiewe in duie storting van waardes – as mens dink aan die trotse plek waar Suid-Afrika se swart en bruin mense uit kom. Dit kon nie gesê word van die Afrikaners van Afrikaner-nasionalisme nie, let’s be honest. Massief: Ek gebruik nie die woord ligtelik nie. Totdat die ontleders in die nuwe orde hieraan regmatige aandag skenk (Moeletsi Mbeki het daarmee begin in sy boek), sal hulle vir hulself lieg – en vir ander. Hier moet ’n kulturele ontleding plaasvind wat bereid is tot meer selfondersoek as wat ons gesien het tot op hede. Persoonlik dink ek die verskil het te doen met die feit dat Afrikaners die voordeel gehad het van meer historiese kontak met die waardestelsel van ruiling onderliggend aan die kapitalisme, wat ’n Europese sisteem is, as die huidige swart kapitalistiese klas (wat histories gesproke grotendeels ’n feodale agtergrond het).
6. Dit bring ons by ’n verskil tussen die soort korrupsie soos aangetref by Afrikaner-RA, en soos aangetref by die huidige RA. Die eerste vorm se morele korrupsie was veel minder sistemies, as sisteem het dit moreel geklop. Die onderliggende waardes was deels onbesonne (en juis omdat dit ras- en oligargies gebaseer was), maar nie op sigself ingekalwe nie. Die huidige RA se sistemiese waardes is deur die bank swak, sowel as tentatief, en het gou ingekeer op sigself. Meer spesifiek: die Afrikaners van die ou bedeling het nie gesteel by hul eie stelsel nie. Wel van “die ander”.
Hierdie is maar ’n paar, voorlopige verskille wat mens kan aandui. Ek besef my opgafie kan doen met verdere nuansering en problematisering.
En net voor iemand dink ek wil ’n saak daarvoor uitmaak dat apartheid se RA minder bedenklik was in sy uitsluitingsmiddele as die huidige RA: Die rassebewussyn van SA se swart en bruin mense het, sover ek weet, nooit deur die afgryslike fase gegaan waar dit ’n ander “ras” as “minderwaardig” getipeer het nie. Dáárdie mislukking is die “wit” mense s’n. As morele vergryp, kan jy nie laer sink as dit nie.
Maar, dit was ‘n morele vergryp. Nie ’n morele hiatus nie. En dit lyk vir my na (nog) ’n groot verskil tussen die ou ras-oligargie en die nuwe rasgebaseerde Suid-Afrika.
NASKRIF: Oor my sin hierbo: “Jy kan nie laer sink as dit nie.” Daardie vergryp het baie bepaalde kulturele wortels, kulturele beweegredes. Dit sal nogal verblydend wees om meer van ’n self-ondersoek te sien na die morele verval van die swart elite, waarna ek verwys. Nie net verblydend nie – maar reddend.






Dis Jac van der Elst, nie Jef nie.
Ek het nie gedink Gerrit Brand voer aan ‘regstellende aksie’ het nie materieel ‘gewerk’ vir Afrikaners nie, net dat dit slegs vir ‘n klein, ras-gedefinieerde minderheid gewerk het, eerder as om Suid-Afrikaners deur die bank op te hef. Jy toon tereg aan dat dit vandag selfs meer beperkend werk: nie alle swart mense nie, net ‘n elite. Eerder as ‘n bree, klassemobilisasie, nou ‘n eng, eksklusiewe eliteprojek. So het ek die Alexander/Brand-posisie ook gelees, so ek is nie seker julle verskil te ernstig op hierdie punt nie. Maar ek sal wag en kyk!
Dankie Literator, vir jou korreksie. Die hoof uitvoerende beampte van die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se naam is Jacques van der Elst. Dit was ‘n vinger-glipsie. Ek had ‘n vriend in België (onlangs oorlede) met die naam Jef van der Elst, vandaar die fout. Vergewe. Ek sal opstote doen.
Ek sou ook Jacques van der Elst wil bedank vir sy onderhoudende en uitstekende artikel, wat as referaat gelewer is by die Roots-fees. Ek moet ‘n ieeder en almal - veral Nederlandse mense wat hier lees - aanraai om dit te gaan lees. Lees dit saam met Neville Alexander se artikel. Saam dek die twee artikels ‘n baie groot stuk “waarheid”.
Albei verskyn as artikels op Litnet in die Seminaarkamer.
Die titel van Van der Elst se referaat is “Die uitbou van wetenskapstaal en tersiêre ruimtes en wat Nederlands en Afrikaans vir ander tale bied”.
Ek hoor wat jy sê, Desmond. Miskien skryf ek hier iets toe aan Gerrit wat nie sy fout is nie. Ons kyk maar wat hy sê. In ieder geval, dis ‘n fout watmenige persoon daarbuite maak, so meen ek, en dus wou ek om daardie rede die punt maak.