Philip de Vos. My pelgrimsreis op die spoor van Thomas Linley

 
 
Obsessies kom en gaan: Eers was dit Franciskus van Assisi, en later kom Herman van Veen op my lysie, maar mettertyd het dié obessies vervaag en het ander hulle plek ingeneem. Net een obsessie het my bygebly en het my in 2008 Engeland toe laat reis, al was dit vir slegs drie weke op my eie pelgrimstog in die vreemde.

Vir jarelank het die naam Thomas Linley êrens tussen miljoene ander name weggekruip, maar nou spook dié naam en dié persoon alreeds 13 jaar by my.

Ek was nie eens van sy bestaan bewus nie totdat hy êrens in 1985 sy skielike verskyning in my lewe gemaak het. Dit was in Jean Mistler se oorgeklankte Franse televisie-reeks oor Mozart wat destyds gebeeldsend is.

In een van die episodes raak die 14-jarige Mozart terwyl hy in 1770 saam met sy pa deur Italië reis bevriend met ’n ander 14-jarige seun, ’n jong violis, Thomas Linley van Engeland. Vyf dae daarna sê die twee seuns tot siens. Albei huil by die afskeid en sien mekaar nooit weer nie.

Op daardie oomblik het ek skielik besef dit moet eendag ’n storie word. Maar waar begin jy as, al wat jy regtig weet, is hoe om nonsensrympies oor allerhande goggas te skryf?

Van Mozart is daar soveel bekend deur sy musiek en sy briewe, en dokumente wat gedurende sy leeftyd gepubliseer is, maar wie was Thomas Linley – hierdie nuwe persoon wat skielik by my kom aanklop het?

Dit was in die jare voor Internet Explorer en Google en stadig maar seker kon ek inligting inwin uit musiekwoordeboeke en ensiklopedieë. Die inskrywings oor Thomas Linley was gewoonlik karig en nie meer as twee paragrawe lank nie:

Thomas Linley gebore in Bath in Engeland in 1756, violis en komponis voordat hy in 1778 op ouderdom 22 by Grimsthorpe Castle in Engeland gesterf het.

Met hierdie skamele inligting moes ek ’n karakter skep. Gelukkig het een brief van Mozart se vader Leopold ’n klein bietjie meer van hierdie Engelse seun gesê.

In 1770 was Leopold Mozart en sy seun Wolfgang op pad Italië toe. Op 14-jarige ouderdom was Wolfgang nie meer werklik beskou as die wunderkind van destyds wat op vyf reeds musiek begin gekomponeer het en selfs geblinddoek musiekstukke kon speel nie. Op 12-jarige ouderdom het hy sy eerste opera geskryf en hierdie toer was om hom bloot te stel aan die operawêreld van Italië.

Wolfgang was nooit werklik kind nie, en in sy eerste 14 jaar was daar nie tyd vir vriendskappe nie, Van ouderdom ses het hulle reeds met hul toere begin en in 1770 op ouderdom 14 was Wolfgang met tussenposes altesaam vyf en ’n half jaar weg van sy tuisdorp Salzburg. In Florence ontmoet hy die jonge Thomas wat op daardie stadium viool in Italië studeer en vir die eerste keer in sy lewe ervaar hy vriendskap al was dit vir vyf enkele dae.

In ’n brief van 21 April 1770 skryf sy vader Leopold die volgende:

In Florence het ons ’n jong Engelsman teëgekom. Hy is ’n leerling van die beroemde violis Nardini. Thomas of Tommasino soos hy ook hier bekend staan, is ’n wonderlike violis en dieselfde ouderdom as jong Wolfgang … Ons het middagte genuttig by Senor Gavard en Wolfgang en sy vriend, klein Tommasino, het die hele middag musiek gemaak nie, nie soos seuns nie, maar soos mans. Daarna het Thomas ons huis toe vergesel en het bitter trane geween omdat ons die volgende middag moes vertrek …

Geleidelik het ek meer oor die Linleys begin oplees: Die enigste ding wat gedurig genoem is, was Elizabeth Linley se wegloophuwelik met die dramaturg Richard Sheridan. Maar met verdere navorsing het ek die enigste twee moeilik bekombare boeke wat geheel aan die Linley-gesin gewy is, in die hande gekry.

Deesdae byna vergete, was die Linleys vooraanstaande burgers van Bath in Engeland. Die vader Thomas Linley na wie sy oudste seun Tommasino vernoem was, was orkes- en sangmeester verantwoordelik vir musikale vermaak vir die besoekers aan Bath se beroemde Romeinse mineralebaddens. So bekend was die Linleys destyds dat Gainsborough verskeie van die gesinslede geskilder het. Die Linleys was ’n uiters musikale gesin en was selfs bekend as “a Nest of Nightingales”.

Met my voortgaande navorsing het al hoe meer ooreenkomste tussen die Mozarts en die Linleys my getref:

Die vader, Thomas Linley Snr. was ’n sanger, komponis en speler van die klawesimbel en het hy sy klein orkessie gelei in die weeklikse konserte in Bath se beroemde Pump Room. Leopold Mozart was ’n uitstekende violis en het selfs ’n verhandeling oor dié musiekinstrument in 1756 gepubliseer. Ook hy was ’n komponis en het in die aartsbiskop se orkes in Salzburg gespeel.

Thomas Linley Snr. se gesin was uiters musikaal: Sy dogters, Elizabeth en Mary was beide soprane en sy seun Samuel het die hobo bespeel en dan was daar natuurlik Thomas, die violis. Leopold Mozart se twee kinders was net so begaafd. Mozart was reeds sedert sy vyfde jaar as wunderkind bekend en sy suster Nannerl was nes haar broer ’n uitstekende speler van die destydse fortepiano.

Daar was vyf meisies en drie seuns in die Linley gesin en as hulle almal gelewe het sou daar vyf seuns en drie meisies in die Mozart-gesin gewees het, maar Leopold se kinders is óf doodgebore óf het vroeg reeds gesterf.

Leopold Mozart het besef dat hy met sy uiters begaafde kinders deur Europa kon reis om sodoende sy kinders se talente ten toon te stel en ook op dié manier sy eie geldsak te vul. Op dieselfde manier het Thomas Linley Snr. sý oudste kinders gebruik vir geldelike gewin. Sy oudste dogter Elizabeth het reeds op 13-jarige ouderdom as sopraan in Covent Garden teater opgetree. en haar broer Thomas het op negejarige ouderdom sy eerste menuet geskryf en daarna ’n paar vioolsonates gekomponeer en op elfjarige ouderom het hy opgetree as Puck in The Fairy Favour as violis, sanger en danser.

Na al my destydse navorsing het ek my novella Trazom begin skryf Van Mozart is daar baie geskryf, sodat daar vandag bykans ’n honderd boeke oor Mozart op my boekrak staan. Uit die Mozart- briewe kon ek ’n mens opbou. In Otto Deutsch se dokumentêre biografie kon ek selfs bepaal wat Mozart van dag tot dag gedoen het. Alhoewel die novelle Trazom eintlik is oor Mozart se verhouding met sy vader en uiteindelike vriendskap was ek veral geïnteresseer in die vyf dae wat die seuns mekaar geken het.

So kan ons selfs vandag presies aflei waar en wanneer Mozart van 3 April toe hy vir Thomas ontmoet het opgetree het, tot die oggend van 7 April 1770 toe hulle tot siens gesê het.

Op 3 April byvoorbeeld het die seuns by die digteres Corilla Olimpica ontmoet. Op 4 en 5 April het die twee saam by funksies as pianis en violis opgetree. Op 7 April het hulle tot siens gesê en het ’n bewoë Thomas vir Wolfgang ’n sonnet gegee wat hy namens hom deur die digteres Corilla Olimpica laat skryf het. Vir 6 April was daar g’n inskrywing nie en hier moes my verbeelding die res invul.

Toe het ek uiteindelik begin skrywe en alhoewel die Mozart-Linley vriendskap slegs ’n derde van die uiteindelike boek beslaan het, het veral die karakter Thomas Linley my skrywe begin oorheers. ’n Blokgemonteerde kopie van die Gainsborough portret van Thomas het bo my rekenaar gehang. Een oggend toe ek die rekenaar aanskakel, sien ek dat die portret afgeval het, maar pleks van langs die rekenaar lê, lê dit onderstebo en onbeskadig teen ’n oorkantste muur. Leon Rousseau het my later vertel hoe die Eugène Marais-karakter tydens sy skrywe van Die Groot Verlange by hom begin spook het, en dat hy selfs sy Marais-borsbeeld op die boekrak moes omdraai sodat hy nie die gesig kon sien nie.

Die novelle is uiteindelik in 1993 as Trazom gepubliseer en in 2007 met ’n nuwe titel Tot siens, Tommasino.

Miskien moes ek, as skrywer, self uiteindelik vir Tommasino tot siens sê, maar ek kon nie.

In Mei 2008 het ek ’n vriend Engeland toe vergesel. Maar vir my kon dit nie slegs ’n reis van plek tot plek wees nie. Ek het geweet ek móés Thomas Linley se spore volg en veral Grimsthorpe Castle in Lincolnshire besoek waar hy op 22-jarige ouderdom gesterf het, en die kerkie by die nabygelëe kerkie in Edenham waar hy in die grafkelder van die Hertog van Ancaster weggelê is.

Alhoewel dit ’n sigsag reis was van sy geboortehuis in Bath, die Dulwich-gallery waar Gainsborough se Linley-portret hang, en die kerk waar hy begrawe is, beskryf ek my pelgimstog soos dit eintlik moes wees van sy kinderjare tot sy vroeë dood.

In Bath aangekom, verneem ek onmiddellik waar Pierrepont Place is, want dis hier waar hy in 1756 gebore is, en tot 1771 gewoon het. Pierrepont Place was net om die draai en binne loopafstand van die Pump Room by die Romeinse baddens waar hy as violis saam met sy vader se orkes opgetree het,

By ’n boekwinkeltjie net oorkant die Bath-katedraal vra ek waar die Linley-huis is. Die eienaar het maar slegs sy skouers opgetrek met ’n nog nooit daarvan gehoor nie. Slegs twintig treë van die boekwinkel ontdek ons die stegie en eenkant in ’n witgeverfde gebou die woorde Linley House in swart geverf. En in plaas van ’n museum vir die Linleys is daar slegs ’n handgekrewe Private Residence teen die deur vasgeplak en ’n klein plakket eenkant wat sê Elizabeth Anne Linley afterwards Mrs R B Sheridan lived here 1767 –1771.

 

 

Al was Elizabeth volgens hierdie plakket blykbaar die enigste belangrike inwoner móés ek die binnekant van die huis sien.

Ons klop dus ten spyte van die Private Residence waarskuwing aan die deur en my vriend Peter, staan gereed met ’n £20-noot net ingeval die inwoners nes Thomas Linley Snr. uit vreemdelinge se nuuskierigheid wou geldmaak.

’n Jong half aan die slaap tiener-meisie met deurmekaar hare maak die deur oop en luister na ’n blykbaar eksentieke skrywer uit Suid-Afrika wat sê hy het ’n boek gekryf oor een van die Linley-gesinslede en hy wou graag, al was dit net een kamer van die binnekant sien.

Met die tiener half wantrouig vooraan wys sy my die steil trappies en twee van die kamers. Toe word ek vertel die huis is nou ’n soort meisieskoshuis wat agt besoekende studente kan huisves. Van die vroeëre inwoners was hulle nie eintlik bewus nie en daar staan ek eenkant half verstom en effens bewende, want ek besef hierdie is die huis waar Thomas as kind met die trappe op en af geklouter het en saam met sy gesin musiek gemaak het, Nou is dit vir die meisies slegs ’n huis met twee moderne kombuise en twee badkamers waar hulle tydelik saambly met TV en DVD-speler en kan luister na Madonna se musiek.

Later toe ek weer in Kaapstad tuiskom, lees ek op ’n internet webbladsy dat inwoners van hierdie huis dikwels voetstappe hoor wat opklink uit ’n leë kamer.

Nou wonder ek partykeer of dit nie dalk een van die Linleys is wat nie tot rus kan kom nie.

Later dieselfde dag kon ek die Pump Room besoek waar die Linleys 250 jaar gelede opgetree het en van die buitekant sien ek daarna die huis waar die gesin in ’n tyd van groter welvarendheid by nommer 11 van die Royal Circle gewoon het en buitekant was daar weereens ’n plakket oor Elizabeth Linley: Thomas Linley lived here and from this house his daughter Elizabeth eloped with Richard Brinsley Sheridan on the evening of 18th March 1772.

Dit het algaande duidelik geword dat die 18de eeu wegloopskandaal belangriker geword het as dít wat die Linleys destyds bereik het.

Na Bath was dit dus net Grimsthorpe Castle waar Thomas gesterf het , die kerkie in Edenham waar hy begrawe is en die portrette in Londen wat my op hierdie tog nog sou voorlê.

Die dag toe ons by Grimsthorpe Castle in Lincolnshire aangekom het, was dit grys, trietsig en koud.

In Augustus 1778 was Thomas en sy suster Mary op besoek aan Grimsthorpe Castle as gaste van die Duke of Ancaster om hier op te tree as violis en sopraan.

Op 13 Augustus verskyn die volgende beriggie in die Bath Chronicle:

Mr. Linley and Mr. Olivarez, an Italian master and another person, agreed to go on the lake in a sailing boat. But no sooner had they sailed into the middle of the lake, but a sudden squall of wind sprung up and overset the boat. They all hung to the mast and rigging for some time till Mr. Linley said it was in vain to wait for assistance and therefore though he had his boots and topcoat on, he was determined to swim to shore. But he had not swum 100 yards before he sunk. Her Grace the Duchess of Ancaster saw the whole from her dressing-room window and immediately despatched several servants off to take another boat to their assistance, but which came only in time to take Mr. Olivarez and his companion, not being able to find the body of Mr. Linley for more than 40 minutes.

 

 

 

Met my emosionele besoek aan die meer waar hy verdrink het, het ek die silwer hangertjie om my nek losgemaak en in die water gegooi waar Thomas 230 jaar tevore verdrink het, net om iets van myself na te laat by ‘n plek wat ek nooit weer sal sien nie.

Daarna eers kon ons die binnekant van die Kasteel sien waar Thomas sy laaste paar dae deurgebring het. Grimsthorpe Castle wat ook bekend staan as The Home of the Dark One.

Die gids het duidelik aangedui dat geen foto’s toegelaat word nie, maar by die regtervleuel van die Kasteel moes my vriend vertel van hierdie skaam skrywer en sy obsessie met Thomas Linley en hoe die Hertogin destyds die drama uit haar kleedkamer aanskou het.

Die gids het my toe wel half-onwillig toegelaat om een foto uit ’n binnekamer na die meer daar buite te neem, maar van Thomas Linley het sy nog nooit in haar lewe gehoor nie.

Kort daarna is ons na die kerkie in Edenham waar Thomas in die grafkelder van die die Ancasters begrawe is. Die kerkdeure was almal gesluit, maar uiteindelik het die Vicar se vrou tog opgedaag en ons die binnekant van die kerkie gewys. Van Linley se bestaan het sy wel geweet, en vertel dat die grafkelder in 1909 en daarna weer in in die negentigerjare oopgemaak is. Van Thomas Linley se oorskot was daar egter tot vandag geen teken nie. En weereens was daar die vreemde oreenkomste: Nes niemand vandag nog weet presies waar Mozart begrawe is nie, het die laaste rusplek van Thomas Linley, die wunderkind van Bath, ook in die vergetelheid verdwyn.

My novelle oor Mozart en Linley eindig by hulle tot siens sê in 1770 agt jaar voor Thomas se verdrinking. Waarom dan moes ek voortgaan op hierdie tog?

Nadat Linley en Mozart tot siens gesê het, het Linley in 1772 terugekeer na Bath. Later het die Linleys na Londen verhuis waar sy pa bestuurder was van die Drury Lane Teater en Thomas eerste violis was van die orkes. In dié tydperk tot 1777 het Thomas groot koorwerke en oratorios begin komponeer asook 20 vioolkonserte wat ongelukkig in ’n brand in die teater in vlamme opgegaan het. Vandag bestaan daar net een van hierdie vioolkonserte, Die laaste werk van Thomas wat uitgevoer was, was ’n oratorium The Song of Moses, ’n jaar voor sy dood. Hierin word dramaties beskrywe hoe die Egiptenare in die Rooi See verdrink.

Die Linley-portrette word vandag gehuisves by die Dulwich Gallery buitekant Londen. En om daar te kom, vereis ’n reis met die ondergrondse stelsel asook met gewone trein.

By Dulwich-stasie aangekom, moes ons verskeie straatblokke loop om by die Gallery uit te kom. Hier hang die wonderlike Gainsborough-portret van Elizabeth en Mary. Die portret van Samuel Linley, die hobospeler wat in dieselfde jaar as sy broer Thomas,op ouderdom 18 aan koors oorlede is. Daarnaas hang die portret van Mev. Linley, die moeder, wat met haar portretsitting, glo nie ’n enkele tand in haar mond oorgehad het nie, maar wat nogtans ietwat deur die skilder gevlei is.

En langsaan haar, die portret van Thomas Linley Snr., die vader, wat blykbaar nooit herstel het van Thomas se verdrinking nie en wat volgens oorlewering aan ’n gebroke hart gesterf het.

En dan natuurlik is daar die portret van Thomas, die persoon van wie ek soveel meer wou weet.

My pelgrimstog was voltooi en nou was daar nog net die terugstap na die stasie toe. Ek besluit toe ons moet op die oorkantste sypaadjie stap en ’n verskillende pad loop as dié waarop ons reeds gekom het,. Maar voordat ons kon oorstap, sien ek ’n handgemaakte plakkaat teen ’n winkelvenster:

 

 

MOZART & LINLEY Concert Saturday 26 April, 7.30 pm. St. Barnabas Church.

Toe ek nader stap om te lees, sien ek dat dit ’n advertensie was vir ’n uitvoering van die Mozart Requiem asook Thomas se oratorium. The Song of Moses.

The Song of Moses is in Linley se leeftyd net een keer uitgevoer en in die onlangse jare slegs ’n stuk of twee keer.

Dit was die middag van 25 April en op 26 April was ek en Peter in die kerk om hierdie twee komponiste se heel laaste musiekstukke te hoor.

In die program is ’n volledige libretto van die twee werke afgedruk, en in The Song of Moses sing die koor die volgende beskrywende woorde van die Egiptenare se verdrinking:

 

In vain for help they cried.

They sank like lead, and died …

There where they sank, they found a grave

Whence to return – ah nevermore!

 

Met daardie woorde wou ek skielik huil, want opeens het ek besef, my Linley-pelgrimstog, is uiteindelik voltooi.

En in my testament het ek bepaal – hoe eksentriek dit ookal vir ander mag klink – dat ‘n kopie van my boek oor Thomas Linley en Mozart saam met my veras word en my asse uitgestrooi word by die meer by Grimsthorpe, ver van die land waar ek tot dusver nog my hele lewe deurgebring het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Philip de Vos. My pelgrimsreis op die spoor van Thomas Linley”

  1. Ellen Botha :

    Philip
    Dit was aangrypend om hierdie skrywe van jou te lees. Dankie daarvoor. Dink jy dit was toeval dat jy beide die komponiste se laaste werke saam juis tóé kon bywoon?

  2. gjgibson :

    wonderlike stuk.

  3. Miranda Beckenstein :

    Baie interesant Philip, ek het min van Thomas Linley geken nie, en nou het ek sy hele storie. Baie dankie.

  4. Louis :

    Miranda, een van die wonderlikste stukke wat tot nog toe op hierdie webblad verskyn het, is ‘n vroeëre plasing deur Philip. Jy kan dit lees by: http://versindaba.co.za/2009/10/14/my-pelgrimsreis-op-die-spoor-van-thomas-linley/
    Geniet dit!
    Louis

  5. dit was ,n pratige reis om met jou mee te maak.Ek het self, met invoeling, ‘n traan weggevee met die laaste stofes van jou verhaal. Baie dankie

  6. Bernard Odendaal :

    Dis tog ‘n bietjie soos genade as ‘n mens so ‘n “obsessie” tot eie bevrediging enduit nagestreef kry.

  7. Philip de Vos :

    Die Thomas Linley-storie gee my nog steeds nie rus nie. Die oorspronklike uitgawe met die titel TRAZOM is in 1992 gepubliseer en is later effens deur myself verwerk en in 2007 gepubliseer as Tot siens, Tommasino. En steeds is dit nie die einde nie. In 2008 het ek dit weereens verwerk en verfyn en ‘n proloog en epiloog bygevoeg en het daarna die manuskrip in Engels vertaal. Nou lê dit half-vergete êrens in ‘n laai. Op my ouderdom reken ek ek het nou, wat skryf betref, seker reeds my sê gesê en die enigste droom wat nog oorbly, is dat die Engelse weergawe eendag oorsee gepubliseer sal word. Alhoewel dit seker my mins-bekende boek is, is dit tog die boek wat die naaste aan my hart lê.