Onderhoud: Thérèse Hulme

Die waarheid onthul

Thérèse Hulme in gesprek met Louis Esterhuizen oor piemp

 

 

Thérèse Bartman

Thérèse Hulme

 

 

Thérèse Hulme (Bartman) is ʼn terapeut en gemeenskapswerker. In 2006 begin sy ʼn skrywersgroep met jongmense van Scottsville in Kraaifontein. Hul eie toneelstuk oor die gevare van Tik in hul gemeenskap, is in 2008 onder andere by die Woordfees opgevoer. Met haar aanmoediging skryf hulle ook poësie en woon haar gereelde werksessies in die gemeenskap by. Thérèse voltooi tans haar DTh (UNISA) proefskrif getiteld: Pastoral care and the challenge of poverty: when opening hearts and minds create possibilities in a marginalised school community. Thérèse het gedebuteer in “Nuwe Stemme 3″ in 2005.

 

 

 

 

 

 

 

Thérèse, kan jy dalk, ter wille van volledigheid, ietsie omtrent die gemeenskap van Scottsville vertel?

 

Scottsville is ʼn arm sogenaamde “bruin” buurt in Kraaifontein. Toe ek met my navorsing deur UNISA vir my doktorsgraad in Praktiese Teologie met spesialisasie in pastorale terapie begin het, wou ek by Petunia Primêr een of ander terapeutiese bydrae maak en daaroor skryf.   Die terapeutiese gesprekke het my ingestem op die diskoerse van geweld en vernedering waaraan jongmense in die gemeenskap blootgestel word.  Die literatuur het bevestig wat ek in die gesprekke gehoor het en wat ek self ervaar het; dat die sogenaamde bruin buurtes in die Wes-Kaap die gevaarlikste plekke  in Suid-Afrika is vir jongmense om groot te word.  Daarom is piemp gekies as titel vir die publikasie, want dit is die werkwoord wat in Scottsville gebruik word vir “uitpraat” of “die waarheid onthul.”

 

In jou inligtingstuk oor piemp noem jy dat jy as narratiewe terapeut by ʼn laerskool by Scottsville betrokke geraak het. Wat het jou laat besluit om die skryf van gedigte by jou program in te skakel? Hoe lank het die proses om dié bloemlesing te produseer, geneem, Thérèse? In jou inligtingstuk noem jy byvoorbeeld dat dit die projek op Graad 7-llerlinge gerig was … is hulle tans nog skoliere en het jy steeds kontak met hulle?

 

Piemp

Piemp

Op ʼn dag het ek ʼn gesprek met ʼn Afrikaanse graad sewe onderwyser by die skool gehad. Hy het my vertel hoe gelaai sy curriculum was en hoe min tyd hy, tot op daardie stadium gehad het om oor Afrikaanse poësie met die 50 jongmense in sy klas te praat.  Ek het aangebied om dit te doen – as dit hom sou help. Dis hoe dit gekom het dat ek Ingrid Jonker se Toemaar die Donkerman een Dinsdagoggend vir twee van sy klasse voorgelees het, terwyl een van die seuns die beat gekap het op ʼn trom. Die kinders was opgewonde. Hulle reaksie het my die volgende week laat waag met Breyten. Ek het ʼn CD speler geneem en het sy voorlesing van  Ek sal sterf en na my vader gaan   op die Mondmusiek CD voorgespeel. Totale ontroering. Jongmense het pouse my kom opsoek in my kantoor en gevra of hulle weer daarna kon luister.  Dis hoe dit gekom het dat ek in die graad sewe klasse in 2005 die uitnodiging gerig het dat as iemand self wou waag om te skryf, hulle hul skryfwerk na my kon bring … Een vir een het kinders voor my deur opgedaag. Ek beskryf in my verantwoording voorin piemp hoe uitbundig daardie die eerste skrywersessies was toe jongmense besef het hulle kan oor enigiets skryf.  Een van die gedigte wat Michael Khoosal van die huis af gebring het was getiteld: Wat my nie worry nie. Die gedig was een lang lys van goed wat nie vir Michael geworry het nie; soos vloede in Asië. Toe vra ek: wat worry julle wel ?  En daar kom die beskrywings van tatoes en bendewreedheid en kapsabels.  Meteens het dit vir my gevoel of dié gedig besig was om uit sy nate te bars. Ek het gevra: het ons dalk hier met ʼn toneelstuk te doen?  Die jongmense was begeester. Elkeen het aangebied om ʼn toneel te gaan skryf en dit terug te bring die volgende week. So is Die Groot Gevaar geskryf oor wat Tik aan menseverhoudings doen in Scottsville. Dit is vanaf 2006, toe dit die eerste keer opgevoer is, tot 2008, ʼn paar keer herskryf. Die Groot Gevaar verskyn agterin piemp.  In die herskryf en bymekaarbring van tonele het Theltom en Thelren Masimila ontpop as dramaturge van formaat.  Hulle het byvoorbeeld die hoftoneel geskryf met spesifieke akteursvriende in gedagte.  Sedert Die Groot Gevaar het Thelren nog ʼn toneelstuk geskryf. Hy het ook ʼn skoolkoerant by Scottsville Sekondêr begin. 

 

Uiteraard was die reaksie en deelname van die leerders oorweldigend; anders sou daar nie ʼn bloemlesing soos piemp tot stand gekom het nie … Moes jy heelwat van hul werk weglaat of het jy alles wat ontvang was, opgeneem?

 

Na die laaste opvoering van Die Groot Gevaar by die Woordfees in 2008, het ek besluit dat ons weer sou terugkeer na die skryf van poësie.  Michael, Verona en Zulrich het toe alreeds poësie geskryf van hul laerskooldae af. Esmé, wat toe nog op laerskool was, het net eendag uit die bloute opgedaag by ʼn sessie met ʼn scrapboek vol limerieke.   As gevolg van hul betrokkenheid by die drama, het Theltom en Thelren en Juclite hulle ook nou by die skrywersgroep aangesluit. In 2009 het ons al om die tweede week bymekaargekom by die skool of in die konsistorie van die VGK kerk. Sommige dae het net een of twee skrywers opgedaag, ander dae was daar meer. 

 

Die gedigte wat opgeneem was reeds in Augustus deur die jongmense, in oorleg met my, gekies as hul bestes.  Daar was nog ander wat wel voorgelê was maar wat net nie heeltemal gereed was nie. Die gedigte wat Verona en Zulrich voorgelê het, is die gedigte van hulle wat opgeneem is. 

 

ʼn Mens staan werklik stom voor die gehalte van die bydraes. In welke mate het jy skoling aan die bydraers gebied en help afrond aan die verse?

 

Michael Khoosal & Thérèse

Michael Khoosal & Thérèse

Aan die begin was my rol om in die gedigte wat hulle gebring het te luister vir daardie besondere frase, metafoor, selfs tema. Dan het ek dit sigbaar gemaak deur presies te vertel  wat dit was wat vir my geraak het en hoekom. Ek onthou nog die dag toe Michael sy boom-gedig gebring het. Ek was getref deur die eenvoud van sy beskrywing en hoe dit die verwondering van ʼn veertienjarige vasgevang het. Dit het my ook getref dat hy gekies het om hieroor te skryf in ʼn buurt waarin daar so min bome is.  Onthou, Michael het groot gewaag met hierdie gedig want dit was so ver van die aanvanklike gestoei in die groep met belangrike woorde en groot temas.  Hy sou in die eerste weergawes van hierdie gedig net  die woord “luister” gebruik het ,maar sonder ʼn konteks.  My logiese vraag was toe: waarna presies luister jy?  Waarna wil jy hê moet jou leser luister?  Vir ʼn tydjie het ʼn arend toe in die gedig ingevlieg met sy iee, iee – roep.  Ek wou weet hoekom het hy ʼn arend gekies vir dié gedig oor ʼn boom in Scottsville.  Soos ek gevra het, het Michael begin praat oor die ander meer algemene voëls in die buurt.. Omdat ek self deur so ʼn kort proses met Antjie was voor Nuwe Stemme 3 , het ek geweet om nooit ʼn woord te plant nie, en liewer te bly by die vrae.  Tussen my laaste vraag en die volgende skrywers-sessie het Michael self besluit dat die luister in die gedig gaan oor hoe die mossies hulle neste bou.  Dit was ʼn totale verrassing. 

Net so het Juclite se gedig oor Scottsville se geto (Ghetto) ʼn bmw en ʼn 4×4 met getinte ruite in gehad.  Ek wou weet hoekom albei.  Antjie het my geleer hoe belangrik die klank in ʼn gedig is. Sy het iets gesê soos dat sy belangrike keuses in haar gedigte maak op grond van haar oor.  Juclite het daardie reël weer en weer gelees en self gehoor hoe een van die voertuie moes uit.   Toe was my vraag: watter een van die voertuie sê die meeste oor die mag van die drugdealers? Dis ʼn vraag waarvan ekself natuurlik nie die antwoord geken het nie.   Dis hoe dit gekom het dat die gedig sy  4×4 behou het.

Sommige van die digters is net weggestuur met “iets werk nie lekker hier nie. Voel/hoor jy dit ook?  Gaan werk daarmee.”  Jare terug het Petra Müller eenmaal vir my gesê om wilder te skryf en meer. Bladsye vol. Haar woorde “laat waai meraai” het ek dikwels vir die jongmense herhaal.    Die digters hét laat waai. Hulle het die afgelope ses maande veral elkeen baie hard gewerk aan hul gedigte.  Wat lekker was om te sien is hoe die jongmense mettertyd hul eie kritiese vaardighede ontwikkel het.  Beide Theltom en Thelren het al hoe meer gedigte gebring wat min skaafwerk nodig gehad het.

 

Wat was vir jou ʼn besonderse hoogtepunt met dié onderneming, Thérèse?

 

Daar was meer as een.

Die jongmense het begin om hulle eie taal, eie ervarings en verbeeldingswêreld te sien as geldige bronne vir die maak  van vol-waardige poësie.  Die hoogtepunte was elke keer wanneer een van hulle ʼn gedig gebring het waarin ek dit herken het.

Nog ʼn hoogtepunt was die dag toe vier van die skrywers piemp vir die eerste maal in die hand gehou het. 

Teen April laasjaar het my gesprekke met die skrywers ook begin gaan oor die feit dat hulle nie (genoeg) lees nie. Hulle het my vertel dat hulle skool nie ʼn funksionerende biblioteek het nie. Die skrywers het teenoor my erken dat hulle ook nie na die munisipale biblioteke toe gaan nie omdat dit te ver uit Scottsville is en die paaie daarheen te onveilig. So het dit gekom dat die jongmense en ek, met die hulp van vriende en veral Vriende van Afrikaans met die ruimhartige Amanda de Stadler aan die stuur, weer in 2008 Scottsville Sekondêr se skoolbiblioteek na die lewe toe teruggebring het. Amanda het weer prof Carel Jansen, ʼn Nederlander met ʼn hart vir boeke, jongmense en Afrikaans, met die biblioteek gekonnekteer. Voor die wintervakansie van 2008 het 30 jongmense vir die eerste maal hier boeke uitgeneem. Daar is tans meer as 200 jongmense wat lede van die biblioteek is. Dis ʼn uitvloeisel en terselfdertyd ʼn hoogtepunt van ons projek.

 

In welke mate hou die skryf van gedigte terapeutiese waarde in, volgens jou?

 

Die skrywery het vir my as digter/terapeut in die eerste plek gegaan daaroor dat my verhouding met die jongmense dit vir hulle veilig sou maak om te begin waag met taal. Ek skryf voor in piemp: “Hoe meer ek met Scottsville se jongmense gewerk het, hoe meer het ek besef dat hier ook kodes is wat voorskryf wat gepraat en wat nie gepraat mag word nie. Sulke kodes trek ook grense vir taal. As jongmens in dié gemeenskap leer “ken jy jou plek” en daardie plek is meesal ʼn plek van stilte.  Piemp is as titel vir die bundel gekies omdat dit ʼn werkwoord is oor die verbreking van stilswye en geheimhouding. Tradisioneel is dit ʼn woord wat geassosieer word met skande. Dis ʼn woord wat ek vir die eerste keer by jongmense in Scottsville gehoor het.  In hierdie bundel steek elkeen van die jong skrywers met hul eie Afrikaans die grense van stilte en skande oor.  So word piemp terselfdertyd ʼn metafoor vir die risiko van taal.  In verse soos Wie sou kon dink  (Zulrich Isaacs), en Ek is nou daar (Juclite Joseph) praat die jong digters sonder skaamte uit die hart uit. In Ek wou (Thelren Masimila) en Ek het planne gehad (Juclite Joseph) word die waarheid vertel van hoe drome in Scottsville eindig.  Verder word daar uit die huis uit gepraat in Begonia (Esmé Kok), Vertraagde Michael (Michael Khoosal), en in Hy kyk en kyk na die wie staar (Theltom Masimila).  Maar in die bundel word daar ook gepiemp op die gesiglose geweldenaars in hul 4×4’s met getinte ruite (In Scottsville se strate, Juclite Joseph) en op die ongeërgde gemeenskap (Gemeenskapsverlies, Verona de Villiers).” 

So beskryf Ronelda in haar flapteks die belang van woorde in ʼn gemeenskap soos hierdie: “Vir jongmense is die moeilikste dinge nie die geweld, die bendes en die hulpeloosheid nie – die moeilikste is die woorde. Die woorde om te sê wat fout is, die woorde om te beskryf wat seer is, die woorde om vrae te vra. Die moeilikste van alles is die tekort aan woorde.” 

Reg aan die begin moes ek streng reëls neerlê vir ons sessies saam. Ek het geen laggery vir ander se werk geduld nie. Dis een van die vreeslikste goed in die sogenaamde “bruin” gemeenskap: om te sien hoe lag gebruik word as instrument van ondermyning. 

Die proses het groot terapeutiese waarde vir my gehad.  Die jongmense het my as wit bevoorregte Afrikaanse digter ʼn praktiese kans gegee om ook ʼn grens van stilbly oor te steek – oor die onreg van hulle stiltes.

 

Ronelda S. Kamfer se flapteks is myns insiens ʼn treffende kommentaar op hierdie besonderse projek. Was Ronelda in ander opsigte ook hierby betrokke?

 

Ronelda en my vriendskap het in 2005 begin tydens Nuwe Stemme 3.  In 2005 het sy vir die graad sewes van haar werk kom voorlees. Daarna was sy nie weer in Scottsville nie, maar ek het altyd geweet dat sy die projek ondersteun.

 

Vertel ons ietsie van die produksieproses: die uitleg, finansiering, bandontwerp, ensovoorts. Vir ʼn selfpublikasie is Piemp immers ʼn pronkproduk.

 

Dankie. Celeste Volk, wat die uitleg en bandontwerp gedoen het, is ʼn begaafde finalejaar grafiese kunsstudent aan die Universiteit van Stellenbosch.  Van die font-tipe, tot die manier waarop sy my foto’s van die landskap en die jongmense gebruik het, het my en die skrywers se stoutste verwagtinge oortref. Ek het besluit om die selfpublikasie-roete te volg omdat die jongmense en ek op ons eie gewerk het vir so lank. Toe ek seker was hiervan het ek ʼn sakeman van Stellenbosch, George Ducharme gevra of hy sou omgee as ek fondse wat hy oorbetaal het vir ʼn ander projek wat doodgeloop het, kon kanaliseer na dié een toe.  Hy het dadelik ja gesê. Dit het die projek gedeeltelik gefinansieer dit het my vryheid gegee.  Ek kon sien dat Celeste iets besonders sou bring na die boek en bowendien wou ek graag baie boeke weggee. Elkeen van die sewe jong skrywers het vyf boeke gekry. Tydens die boekbekendstelling in Scottsville het ek gewonder of hulle as poësie ‘pushers’ of digter-dealers dalk langs die drugdealers op straat hul goed sou kon begin verkoop. Die oplaag was 200 , maar dit lyk alreeds of ek nog sal moet laat druk.  Dankie dat julle kans gesien het om die boek by Protea verkoop.

 

En wat nou verder? Beplan julle verdere bekendstellings en/of voorlesings?

 

As iemand ons vra sal ons kom.  Mens moet in gedagte hou dat hulle nog op skool in en hulle eksamens is in November. Die boek is op 13 en 14 Oktober bekendgestel by ʼn Narratiewe kongres in Bellville en in die Scottsville gemeenskap.

 

Die bestaande Scottsville-skrywersgroep gaan voort. Dis my hoop dat daar êrens geld vandaan sal kom vir my om hierdie werk uit te brei na Delft, Heideveld en Manenberg. As terapeut is ek ʼn tyd lank betrokke by ʼn ander projek in Heideveld en die verwaarlosing van kinders daar ontstel my elke keer as ek daar kom.

 

Ten slotte, jou eie skryfwerk – kry jy darem tyd om dan en wan ook aandag dááraan te gee?

 

So bietjie. ʼn Gedig van my is onlangs in ʼn Nederlandse bundel opgeneem: 

 

 

Water-gedig van ʼn Afrikaanse immigrant in Nederland

 

Verlange is ʼn onstuimige oer-oseaan

waarop ek in die eerste week die soekgeselskappe van my woorde uitstuur.

 

Verlange is die wilde in-vloei

waarteen ek, vermoeid, oor jare ʼn afsluitdyk  gebou kry,

my deurweekte gedagtes langsamerhand herwin of sy gang laat gaan

tot dit verstil in onbereikbare vleilande

lepelaars en weekdiere.

 

Verlange word onherkenbaar gewoon

dit wat huisbote en naaldekokers in gemeen het.

 

 

uit : “De mooiste gedichten over water” 

– door de jury als beste geselecteerde gedichten,

 ingezonden voor de Maerlant Poëzieprijs 2009.

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud: Thérèse Hulme”

  1. Monty :

    Ek sê nie vir jou dankie nie. Ek sê vir jou baie, baie dankie, vir die onbaatsugtigheid wat jy aan die dag gelê het, dat jy die grense tussen ons oorsgeteek het, om ons kinders in die ghettos van Scottsville te kom ophef.
    Hulle trots en selfvertroue met hul optrede was so opvallend. Jy het voorwaar hier wondere verrig en ‘n ewigheid vasgelê.
    Die eenvoud van hul gebruikstaal is so sonder pretensie dat dit ‘n mens aan die hart gryp. Hartlike geluk met hierdie prestasie. Weereens het jy bewys, dat die muse self kies wie die digkuns mag bedryf.

  2. Monty :

    Grense.
    (vir Thérèse)

    oor grense heen
    bou ons die brûe.
    die grense wat ons inperk.
    oor nasionale bane
    span ons oorgangsbrûe
    wat grense tussen ons ontperk.
    ons tale het ons ook begrens
    maar eindelik kan ons
    tale se grense nou oorsteek.
    begrensing in eie dialek
    beperkings van ons kultuur
    se skanse nou deurbreek.
    in vreemde klanke te oreer
    breek ons alle grense deur.

    Monty.