Om te sterf in stadige aksie – Deel 1
Dat die liefde ʼn duisend vorme aanneem, dié weet ons al te goed. Danksy I.D. du Plessis. Maar van die grootste en suiwerste liefdes in die geskiedenis het maar altyd tragies gehuiwer buite die konvensionele grense wat so algemeen aan dié lastige begrip toegedig word.
Gistermiddag bel Hennie Aucamp my, meegevoer deur die film Little Ashes, waarin die liefdesverhouding tussen Salvador Dalí en Federico Gracía Lorca onder die vergrootglas geplaas word. Ek en Hennie is baie opgewonde oor die fliek, want ons wag al lank vir ʼn rolprent wat die komplekse emosies en feite rondom dié Spaanse digter se geskiedenis op ʼn sensitiewe wyse verken. Nie dat Little Ashes as bio-pic so akuraat is nie, daarvoor is die akteurs darem te mooi, en boonop word Lorca as student uitgebeeld waar hy seks met ʼn vrou het (heiligskennis!) terwyl onse Salvador masturberend toekyk. Maar soos Hennie tereg opmerk: hierdie prent is die eerlikste poging nóg om beslag te gee aan die omstrede geskiedenis van twee van Spanje se grootste seuns.
Saam met die res van die wêreld wag ons steeds op dié Lorca-film wat as ʼn universele verwysingspunt kan dien. Soos Richard Attenborough se Gandhi, byvoorbeeld.
As Salvador Dalí nie ʼn klein pielietjie gehad het en nie so angstig was oor anale seks nie, raai ek, sou hy en Lorca lewenslank aan mekaar kon rank, en sou die digter se lewe heel waarskynlik anders ontrafel het. Die kooie in Madrid se Residencia de Estudiantes en die beddens in die skilder se ouerhuis in Figueres sou beslis ánders gekraak het. Miskien sou Gala haar skrede nie hoef te gewend het tot die arms van sjarmante jong mans nie.
Maar dit daar gelaat. Die geskiedenis kan of wil nie verander word nie, allermins volgens die verbeeldingsvlug van ʼn rolprentregisseur. En dit bring my by ʼn ander aangrypende liefdesgeskiedenis wat die beperkinge van norme en verwagtinge oorstyg (maar nie oorleef) het.
Tot en met sy dood aan Vigs-verwante komplikasies, het Derek Jarman, die Britse skilder, filmregisseur, skrywer en teaterontwerper, sy gedagtes opgeteken in 33 leergebonde dagboekies. Die tydperk vanaf 11 Mei 1991 tot vroeg 1994, is deur Keith Collins geredigeer en saamgevat onder die titel Smiling in Slow Motion.
Een van die mooiste liefdesverhale – dié tussen Jarman en sy beeldskone minnaar HB – lê opgesluit tussen die bladsye van hierdie besondere boek.
Jarman het die jong man die eerste keer opgemerk toe hy saam met Artie Bressanen en Wieland Speck deelgeneem het aan ʼn paneelbespreking by ʼn gay-filmfees in Newcastle, en hy in die vraesessie nie sy oë kon afhou van ʼn kêrel in die voorste ry, geklee in ʼn “immaculate suit with a very sharp haircut and bright, intelligent eyes” nie.
Maande later het die regisseur, wat bekend is vir films soos Sebastiane, Jubilee, The Tempest, Caravaggio en Edward II, die moed bymekaargeskraap om vir HB te kontak en te nooi vir ʼn kuier by sy huis in Dungeness.
Dit was nie lank nie of HB trek by Jarman in en word sy laaste groot liefde.
Die twee had ʼn oop verhouding. Toe Jarman die jonge HB uit Middlesbrough met sy aankoms in Dungeness inlig dat hy HIV+ is, het die jong man ongeërg aangekondig: “That doesn’t worry me, I’m not here for sex.”
Een van die aangrypendste foto’s in Smiling in Slow Motion is van die skone HB wat liefderyk met sy arm lê om die sterwende Jarman.
(Vervolg)
Bron van Little Ashes-foto.
Bron van Jarman-foto.







Dis ‘n boeiende vertelling Melt. Jou Afrikaans is so mooi, so lekker en vloeiend. En gewapen met die spreekwoordelike magtige ‘pen’ verbreek jy die taboe om aan die seksuele orientering van wonderlike kunstenaars erkenning te gee.
Ek wonder nog altyd - nee ek jok, sedert ek ‘grootgeword’ het - is dit enigsins moontlik vir die mensdom om seksuele vooroordele te transendeer? Dan moet ek dadelik erken dat ek as ‘n heteroseksuele mens, ook maar ‘wydsbeen’
leef. Want ek sal nie stry dat ek ironiese grappies oor moffies en letties en die tradisionele dom straights geniet nie. Dit is so ooglopend dat gay mense meer talentvol, finansieel suksesvol en intelektueel genuanseerd is, dat net ‘n absoluut miopiese homofobiese mens sal weier om dit in te sien. Tog vind ek dat my eie seksualiteit verdag raak en ‘n ongemaklikheid intree wanneer mense (heteroseksueel sowel as gay, bewus raak van hierdie waardering. Dankie vir jou eerlikheid wat so heerlik opwindend is!
Melt, ek moes pas ‘n gedig van Hennie Aucamp probeer opspoor en kom toe toevallig op die volgende gedig van hom af. Dalk ken jy dit?
Die dode van Lorca
In Cadaqués, daardie somer, by die Dalí’s as gas,
het Lorca moedswillig sy dood voorgespeel,
half ernstig selfs, dié klein ritueel;
en ‘n foto bevestig ‘n dood wat nooit was.
Dalí vertel ook, hoe om Lorca se bed
sy vriende moes skrik: ag, nee, is hy dood?
die “lyk” sit orent dan, verby alle nood;
en Frederico slaap in, deur toneelspel gered.
Voortydig vir Lorca val wél die gordyn:
as anti-fascis, by die Tranefontein,
word sy lyk, saam met ander, in ‘n gat ingestoot;
en niemand wou glo nie: Fredrico is dood.
Maar die landskap onthou en treur oor ‘n man
wat sy lewe verdig het soos min mense kan.
Hennie Aucamp (Uit: Hittegolf, 2002: Homeros)
Krige se vertaling van Lorca se gedigte oor Walt Whitman en New York was een van die beste ontdekkings wat ek as skoolseun gemaak het. Ek dink ek het dit op die destydse Radio Sonder Grense gehoor en toe die boekie in die biblioteek gaan uitneem.
Krige se vertaling van die “Ode aan Walt Whitman” is BAIE korter as die oorspronklike gedig deur Lorca. Hieroor voel kritici verskillend. Aucamp meen bv. hy was onverantwoordelik terwyl Hambidge van mening is dat hy die herhalende element mooi gesny het. Dit het ek jare gelede in persoonlike gesprekke met hulle opgetel. Ek weet nie of hul standpunte intussen verander het nie.
gelukkig was dit nie LANGER as die oorspronklike nie!
Is Little Ashes al op die silwerdoek? Waar is dit te sien? Gaan dit op DVD beskikbaar wees? Gaan M-Net dit wys? Groete, Welma
Die film draai tans in Suid-Afrika, waarskynlik in kunsfliekteaters. Dis geruime tyd gelede al in die buiteland bekendgestel.