Om te sterf in stadige aksie – Deel 2

Jarman was nie op sy bek geval nie. As gay-aktivis en aweregse sosiale kommentator het hy humor ingespan om sy afkeer in tradisionele instellings en oortuigings oor te dra.

 

Vir die Britse koninklikes had hy nie ooghare nie. Wanneer hy op ’n reis na Frankryk aan boord gaan van ʼn skeertuig wat vernoem is na die koningin se suster, raak hy sardonies in sy dagboek:

 

The hovercraft is called Princess Margaret, it presumably runs on gin. A hovercraft is a lumbering sort of thing, rather like a large black beetle, which you can’t quite believe flies. It seems to date from another technology, like Princess Margaret. I suspect she wears rubber skirts too.

 

Met die terugtog oor die Engelse kanaal ʼn week of wat later, stap hy, soos die noodlot dit wil hê, aan boord die Princess Anne

 

HB is daar om te red wanneer Jarman se pad op 16 Mei 1991 kruis met dié van sy “nommer een-bewonderaar”:

 

As we arrive my ‘number one fan’ lies in wait for me. ‘Did you get my postcard?’

‘Yes, I did, thank you.’

‘I telephoned Working Title and they said you were so very busy I was not to bother you, but I’ve been waiting in the café outside your flat, hoping to see you. Would you autograph my ticket stubs?’

As I sign she continues: ‘The new Pet Shop Boys show isn’t a patch on your one.’

Oh, really, where did you see that?’

She tenses and glares. ‘Paris! Where I sent you my postcard from!’

HB slips between us and manoeuvres me into the auditorium.

 

Vir Jarman was HB met sy vurige geaardheid die teenpool van die Britse middelklas met hul somtyds verwronge sin vir sosiale korrektheid. Wanneer HB op ʼn dag ontsteld by die huis opdaag, vertel hy van ʼn insident op ʼn bus in Camden waar ʼn dronkie amok gemaak het. Die busbestuurder het homself in sy hokkie toegesluit en die enjin afgeskakel nadat die besopene geweier het om die voertuig te verlaat.

 

Toe die dronkaard die busbestuurder uitskel as ʼn “fucking poof”, bereik HB die einde van sy geduld, spring op en skreeu: “I’m one of your fucking poofs and if you don’t get off the fucking bus now, I’ll kick your fucking head in!”

 

Die gesuipte homofoob het die aftog geblaas, maar toe HB sy sitplek triomfantlik langs ʼn tantetjie op die bus inneem, gee dié hom ʼn skewe kyk, staan op en sluit aan by die staande passasiers. Niemand wou langs hom sit nie.

 

Jarman sluit die inskrywing oor dié insident af met die volgende kommentaar:

 

The urban British are stupid, dim-witted, none more so than the dullards in Camden. They were quite happy to sit grumbling in the heat and quite unprepared to so much as nod in the direction of someone who helped them get home.

 

FB en Jarman in Los Angeles

FB en Jarman in Japannees

 

 

 

Wanneer die David Koresh-tragedie ʼn jaar later die aandag van die wêreld opeis, merk Jarman op: “In Waco, Jesus is in a stand-off with the Feds, he’s shot four of them and is badly wounded in the crossfire.”

 

Hoe skepties Jarman ookal teenoor die Christelike geloof gestaan het, kan die rol van sy minnaar as ʼn Verlossingsfiguur nie misgekyk word nie. Wanneer die kunstenaar bloedoortappings moet kry om sy sisteem teen die aanslae van die virus te versterk, dring HB by dokters aan dat sý are getap word. In die ure tussen 8 en 9 Julie 1992 ontmoet Jarman vir God in ʼn droom en verneem dat HB ʼn geskenk aan hom is. Hy maak HB wakker en rapporteer dié boodskap uit die hemele: “Hinney Beast is your helpmeet.”

 

Die fisieke aftakeling wat Jarman verduur tydens sy siekte verhewig die band tussen hom en sy geliefde, al is hulle met tye apart. Ongeveer ʼn jaar voor sy dood bely Jarman in sy dagboek dat hy nie sonder HB kan lewe nie.

 

Ten spyte van die vernedering wat die siekte hom in die openbaar besorg, deins Jarman nie terug van openbare optredes nie. So ontvang hy ʼn eredoktorsgraad enkele maande voor sy dood, met ʼn ontluisterende blik op die geleentheid: “There were people in gowns everywhere, including Gray Gowrie who had a gown that looked like a cheap evening dress.”

 

Tydens ʼn vlug uit Rome word Jarman oorval deur inkontinensie. Self kan hy niks onthou van die “farce and horror” – waaroor HB hom agterna skynbaar ongeërg inlig – nie.  

 

The funny thing about this – it amused him – was that some horrible yuppie types were sitting in front of us ordering champagne and being obnoxious: ‘What is that terrible smell, steward?’ No one would let on that it was the shitbomb I’ve become.

 

Soos wat die skaduwees algaande om Jarman invou namate hy sy sig verloor, word die begrip LIEFDE skerper en blinker omlyn in die gedaante van HB.

 

 

(Vervolg)

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar