Onderhoud: Gilbert Gibson

Die kodes van waarneming

Gilbert Gibson in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.
Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met  die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.

 

 

 

 

 

 

Gilbert, met jou eerste twee digbundels, Boomplaats en Kaplyn, het jy jou reeds gevestig as een van ons mees gedurfde digters wat sy ambag met gróót omsigtigheid en vernuf benader. ʼn Titel soos oogensiklopedie is dus nié lukraak gekies nie; watter betekenisse wens jy met dié titel op te vang?

 

die titel verwys my na die byeenbring van verspreide kennis (’n periodiese of  sikliese kennis) in en deur die oog. met wetenskaplike inligting wat ’n halflewe van sowat vyf jaar het, is die ensiklopedie as bron van/ vir kennis maar treurig. as aanduider van die stand van kennis vanuit ’n sekere tydgleuf, is dit voortreflik. die oog is daardie vreemde orgaan wat lig waarneem en elektriese impulse via die optiese senuwee na die visuele-  en ander areas in die brein stuur, sodat die persepsie van sig ontstaan.  ons sien nie met ’n oog nie, maar met die brein.  die oog is die om-kodering van waarneming, sodat  die eksterne sein in visuele chaos tot ’n gevormde elektriese sinjaal kom waaruit die binneste (soms) sin (kan) maak.  oogensiklopedie probeer my visuele wêreld poëties kodeer.  verwys Dickinson “I’ve seen a dying eye/ Run round and round a room/ In search of something, as it seemed,/ Then cloudier become;/ And then, obscure with fog,/ And then be soldered down,/ Without disclosing what it be,/ ‘T were blessed to have seen.

 

Een van die hoofkenmerke van jou digkuns is die eiesoortige hantering van taal. Dit is asof jy die taal verwring en buig tot dit amper soos ʼn kodetaal begin funksioneer wat enersyds die leser op ʼn afstand hou, maar andersyds by die “privaatwêreld” van die gedig inlyf. Kan jy kommentaar lewer op dié vreemde teenstrydigheid van vervreemding en intimiteit?

 

die teenstrydigheid tussen afstand en nadering, tussen vervreemding en intimiteit,  ontstaan dalk toevallig uit die psigodinamiese hoek vanwaar ’n mens skryf.  en hoe jy die wêreld sien. in die proses van skryf gaan ek met myself om, en nie met die toekomstige leser nie.  klink so bietjie voor-die-hand liggend, maar hierdie proses lei tot afsondering, en daarom ’n onwillekeurige neiging om die leser eintlik as’t ware weg te hou. jare terug vertel Petra Müller my: “ niemand val die naakte man aan nie”, of iets in dier voege.  dink baie daaraan: in die oop vlakte van ’n vers, waar skrywer weerloos word, is hy/ sy meeste bestand teen die oë van die leser.  desnieteenstaande is hierdie verhouding tussen skrywer en leser onoorkomelik kompleks. taal is slegs die tuig.  woorde het nie inherent magiese eienskappe nie.  die buig van taal is toelaatbaar, en intuïtief, onopsetlik.

 

Hiermee sluit jy aan by nog ’n vreemde teenstrydigheid in jou poësie, Gilbert. Die kwessie van intuïsie. Vanweë die digte netwerk van verwysings en taalverwringing sou iemand wat oppervlakkig lees, jou verse as serebrale poësie beskou en tog is dit juis nié. Jou verse werk besonder assosiatief en met ’n haas onfeilbare intuïsie. Hoe belangrik is dié werkswyse vir jou? Jy is immers ook ’n skilder, is jy nie?

 

om intuïtief te werk is vir my taamlik moeilik om te beskryf.  sou makliker wees om te spekuleer hoekom iemand op jeugdige ouderdom reeds grys is, of koffie bo tee verkies. dit is bloot net so.  ek dink Jung het veronderstel dat intuïsie een van die vier psigologiese ‘funksies’ is wat in die Myers-Briggs model vandag nog gebruik word (twee waarnemende funksies –  intuïsie, en wat ’n mens noem “sensing”,  en twee funksies van besluitneming, naamlik denke en gevoel).  hierdie vier funksies is in ʼn poëtiese model redelik na aan mekaar, maar intuïsie het miskien meer as die ander te doen met ’n aangebore meganisme van insameling en verwerking van informasie.  die inligting van intuïsie is dikwels abstrak, en word onwillekeurig toegepas op ’n konkrete model of probleem wat voor die skrywer lê.  miskien sal dit beter wees om in hierdie konteks te praat van instink. jare terug het ’n buurman van ons beeste uit Holsteen ingevoer. na ’n lang tog per skip het hulle in die hawe op Port Elizabeth aangekom, en daar vir die eerste keer in geslagte kennis gemaak met die reuk van ’n leeu wat opdryf uit die nabygeleë Boswell Wilkie – die daaropvolgende chaos kan nie in eenvoudige terme beskryf word nie.  die digter is so bietjie soos ʼn frieskoei.  hy reageer blindelings op dinge waarvan hy nog nie weet nie, anders as ander modaliteite van skeppende kuns waar die kunstenaar omgaan met modaliteite waarvan hy dikwels baie weet.  ek weet hoe om verf te meng en het ’n versameling kwasse en allerhande stelle waterverf en papier en akriele en olies en leë doeke en prente deur die uwe wat in my huis of in my kantoor hang. ek het dus al geverf, maar ’n skilder is ek nie.

 

Uit ʼn vorige onderhoud wat jy met Joan Hambidge gevoer het op LitNet, weet ek dat die emotiewe lading van ʼn gedig vir jou baie belangrik is. “Die emosie van gedigte (anders as die tegniek) is ʼn primordiale ding wat opkom as mens met jou eie binnekant in taal (of met taal as werktuig) omgaan,” het jy gesê. Ter wille van volledigheid: kan jy dalk op hierdie uiters belangrike stelling van jou uitbrei?

 

as ’n mens gedig maak, dan vertaal jy sekere impulse sodat die leser dit vertolk en as ’n emotiewe opwekking of ’n emosionele uitdrukking kan ervaar.  iets anders as tegniek, want diesulke is aangeleerde en soms geposeerde dinge wat jy uit ’n boek kan naslaan.  die emosionele opwekking uit die gedig kom uit bloed.  die bloed van die skrywer; die bloed van die gedig; die bloed van die leser. die oriëntasie in daardie bloed word bepaal deur die vertolking van skrywer (die slaap ’n nagtelike dood) teenoor die leesvermoë van die betragter (die slaap as ’n uitweg tot droom). Sê Eliot: “Poetry is not a turning loose of emotion, but an escape from emotion; it is not the expression of personality, but an escape from personality. But, of course, only those who have personality and emotions know what it means to want to escape from these things.” taal het sekere gebreke, en sal in beginsel gebuk gaan onder die babelse juk van verwarring. in die ideale gedig sal daar geen grens tussen die leser en die skrywer wees nie – die woord sal dus in hierdie ontmoeting verdwyn.  ek verbeel my daarom dat die ideale gedig ’n wit papier is. Die onlangse verwysings tussen poësie en prosa kom ook hier aan die bod: prosa dra inligting oor, poësie iets emosioneel.

 

oogensiklopedie. gilbert gibson

oogensiklopedie. gilbert gibson

Die deurlopende toon van die verse in oogensiklopedie is myns insiens die van angs: ʼn angstigheid wat gevoed word deur onsekerheid en die gepaardgaande bevraagtekening van waarneming. Iets wat natuurlik met ongelooflike resultate deur die verwringing van taal in jou verse gerugsteun word. Stem jy saam, of lees ek verkeerd?

 

die toon van verse is dalk ge-angs omdat dit in daardie verse alleen is. en gedurig delf na vervreemding, gemarginaliseerdheid, veral daardie tipe van “een tussen baie”.  angs is dikwels die eerste tree of die eerste hoeksteen van ander affekversteurings. en ánders as vrees (’n bang gevoel teenoor iets gespesifiseer: weerlig; slange). dit is die paniek voor die onnoembare, vir die onsienlike, en volg al te dikwels op alleen.  is die lewe nie op sy beste juis ’n verlies aan dinge nie – asof jy volmaak gebore word, en daarna progressief guur onder noodwendige biologiese afbraak tot die einde in en van stof? angs is vir my  ikonies onder die emosies. en hoort in gedigte soms ook net omdat dit in die wêreld so is. as jy angsloos is, is dit net omdat jy nie die feite het nie.

Jou verse ontstaan allermins in ’n vakuum; daar is ’n besonder sterk buitegerigtheid ten opsigte van lokaliteit en sosiale bewussyn; sonder om kommentaar te lewer of oordeel te vel. Lê die onsekerheid jeens ons sosiaal-aktuele problematiek na aan die wortels van genoemde “angstigheid”, of probeer jy juis wégskryf daarvan?

 

 

angs kom lê in die bewussyn omdat die wêreld en sy inherente probleme nie ’n oplosbare probleemstelling is nie.  dit skep angs.  die gaping tussen die wat het en die wat nie het nie, elke dag groterwordende. onderliggende grondstof elke dag minder. nuttelose toestroom van inligting elke dag meer. die mens as ‘een tussen baie’ elke dag eensamer. as daar ’n aardse oplossing vir angs is, was hierdie wêreld die hemel. ek is dus nie altyd seker of die skrywer skryf na die waarheid toe (in poging om die waarheid te vind) of weg van die waarheid af (om van waarheid te vlug) nie.  poësie interpreteer nie noodwendig eksterne inligting nie, maar sal altyd emosie daar-rondom ondersoek en weergee.
 

In hierdie bundel maak jy selfs nog meer as in jou vorige bundels gebruik van woordverklarings, indekse en semantiese (poëtiese) koderings in die kantlyn langs die gedigte. Hou hierdie werkswyse verband met die kodifisering van taal vir jou, of het jy iets anders in gedagte?

 

woordverklarings, indekse, voetnotas en diesulke gebruik ek om die taal op te splyt vir ’n meerlagigheid in woorde.  dit amper asof vir elke woord ’n interne waarheid (die woordeboek), ’n eksterne waarheid (wat ek dink dit beteken), en ’n interpretatiewe waarheid (wat die leser daarvan/ daaruit dink). dit het ook tipografiese impak – byvoorbeeld. as jy die oë van links na regs in ’n reël beweeg, en dan terugspring tot die volgende reël, gebeur daar selfs dan vir ’n breukdeel iets emosioneel in die brein. tipografie van poësie is dus nie so lukraak as wat dit op die oog (if you’ll excuse en daardie) af lyk nie. in Idea of Prose skryf Giorgio Agamben (en dit sluit aan by die prosa/ poësie klief)  No definition of verse is perfectly satisfying unless it asserts an identity for poetry against prose through the possibility of enjambement.  Quantity, rhythm, and the number of syllables – all elements that can equally well occur in prose – do not, from this standpoint, provide sufficient criteria.  But we shall call poetry the discourse in which it is possible to set a metrical limit against a syntactic one (verse in which enjambement is not actually present is to be seen as verse with zero enjambement).  Prose is the discourse in which this is impossible. Enjambement reveals a mismatch, a disconnection between the metrical and syntactic elements, between sounding rhythm and meaning, such that (contrary to the received opinion that sees in poetry the locus of an accomplished and a perfect fit between sound and meaning) poetry lives, instead, only in their inner disagreement. voetnotas, indekse, lywaartse verwysings en diesulke breek natuurlik daardie enjambement in ’n mate op, verdoesel die interne vaart van die gedig. interessant genoeg kom voetnotas uitgebreid in fiksie voor (Paul Auster, Oracle Night; Jorge Luis Borges, Ficcione;  Michael Chabon, The Amazing Adventures of Kavalier & Clay;  James Joyce, die “lessons” hoofstuk uit Finnegans Wake; Georges Perec, Life A User’s Manual (La Vie mode d’emploi); en so aan…)

 

Bybelse verwysings en – inspelings kom vry algemeen voor in jou verse. Vorm hierdie tendens deel van “die geding met God” vir jou, of probeer jy hiermee die privaat-persoonlike belewenis van die enkeling plaas teen ’n groter bestel van wat ’n mens “noodlotsbepaling” kan noem?

 

ek het gepoog om die landskap bokant die skrywer te ontgin, anders as die landskap in byvoorbeeld Boomplaats waar die landskap langs my in taal omgeskakel is. hierdie soeke na “God” is eintlik  ’n teenstrydigheid. die persoon wat soek na God impliseer eintlik dat God voor sy soeke reeds daar is, en het dus reeds die eerste tree, daardie blinde sprong waarvan Paulus praat (die hoop op die onsienlike), gegee. die mens soek dikwels dus nie na God nie, maar na die manifestasies van God: die stok wat ’n slang word; die bos wat begin brand; die water wat oopkloof. so asof dit jou sou oorhaal tot bevestiging van ’n eksterne waarheid wat vir jou troos bring in die gang van elke dag.  die wêreld is nie ons woning nie. en die Bybel is teks.

 

Iets wat ek besonder interessant vind, is die struktuur van jou bundel: sonder afdelings, met die gedigte wat alfabeties volgens titel geplaas is, vanaf die sterk geografies-gelokaliseerde openingsvers (28°47’S, 27°19’O) tot die algemeen besinnende slotvers wat die mens; ’n werkswyse wat enersyds die ensiklopedie-matigheid van die titel ondervang, dog andersyds die vermoede plaas dat die verse geïsoleerd naas mekaar geplaas is en as sulks gelees moet word. Maar wanneer ’n mens die bundel lees, besef jy alte gou dat daar wél van progressiewe groepering sprake is: soos gesê, die verse beweeg myns insiens van ’n “nabykyk” na ’n “verafkyk”; van persoonlike tot meer algemeen-besinnende verse. Kommentaar?

 

inderdaad is hulle gekies om te loop vanaf die hier en nou tot by die toe en daar. die weggaan van die ek in die mitologiese lug; die asem van God.  die groot verskil tussen prosa en poësie het te doen met presies daardie beweging: in prosa word ’n kleine dikwels beskryf en omgebou met meer en meer woorde. in poësie word ’n groot handeling beskryf in al hoe minder woorde (die kleiner tot die groter, soos die groter tot die hele gedeelte – amper ’n literêre Fibonacci). om dieselfde rede is poësie waarskynlik meer ontoeganklik en bietjie elitisties. maar dan, natuurlik moet poësie elitisties wees, want dit is die hoogste vorm van taal, en taal is die suiwerste werktuig in kuns: “Poetry, whose material is language, is perhaps the most human and least worldly of the arts, the one in which the end product remains closest to the thought that inspired it.” (Hannah Arendt).  om die rede eien ek poësie altyd met agting, en gaan ek met  ontsag met die skryfproses om. per slot van rekening sien jy nooit Mediterreense vissers sonbaai nie. op hulle strande is hulle besig om te werk.

 

Verstegnies beskou, vind ek oogensiklopedie ’n uiters opwindende bundel; nie net vanweë die tematiese gevarieerdheid nie, maar ook in stilistiese aanbod. ’n Voorbeeld hiervan is die gedig “glimlag” (p. 45) wat tipografies aan Bybelteks herinner. In dié vers is daar ten slotte sprake van verraad: “ … maar ook ten dele, soos grepe grammatika tot die prul van inkyk gemaan; dit wat woorde wek, selfs die obskure, in vele herhalings van verraad. ek soen die jesus op sy lippe. glimlag. toe was dit aand. toe nag” Sinspeel hierdie “verraad” gewoon op ’n verraad teenoor taal of het jy iets anders in gedagte, hier?

 

let op dat Judas nie ’n dissipel geword het met eie intensie om Christus te verraai nie – hy het inteendeel daardie sosiale kontrak aangegaan om goed te doen, min wetende dat. verraad verwys na die onwetende toekomstige breuk in daardie kontrak. verraad in hierdie geval nie net teenoor die Christus nie, maar ook teenoor Judas self, daar dat twee partye betrokke was, nes skrywer en leser.  taal word eintlik (double bind) deur sy onderlinge woorde verraai.  taal is die skriftelike en ouditiewe simbole van kommunikasie. woorde verraai soms daardie simbole in die weergee van wat nie bedoel is/ word nie.  hierdie meervoudige taligheid of veelbetekenis-eienskap van taal is vir my soms ’n groot probleem in die skryf van ’n gedig.  in die lees van ’n gedig is dit natuurlik glad geen probleem nie, maar eerder ’n redding.  verraad egter noodwendig, net soos by Judas. 

 

Nog ’n tegniek wat jy met groot sukses gebruik, is die sogenaamde uitsteltegniek, soos in die besonder treffende vers “another roadside attraction” (p.13). Hierdie vers het ook deel gevorm van Allooi – ’n woord / visuele kunste-projek tydens die Volksblad-kunstefees verlede jaar. Hoe belangrik is dié “buitekurrikulêre” aktiwiteite vir jou as digter?

 

uitsteltegniek laat my dink aan iemand wat ek geken het wat soms sy asem vinnig ingetrek het asof hy iets wou sê, en dan op die nippertjie daarteen besluit.  dan sou jy as luisteraar al in gespanne afwagting woorde hoor wat nie gaan kom nie. uitsteltegniek. Cartier-Bresson het geskryf dat dit meer belangrik is wat buite die foto hoort, as wat binne die foto is.  dit is sekerlik in gedigte ook so – dit wat ongesê is, die spasie tussen die reëls, die oomblikke voor en die oomblikke na die gedig, die verwagte gebeurtenis wat nooit gebeur nie, dit alles skep daardie heerlike en tragiese interne spanning binne ʼn gedig, so asof daar meer nog is wat kom, meer nog wat kom, meer nog wat kom, nes ’n kind se gedagte oor die lewe self. ‘buite- kurrikulêre’ aktiwiteite rondom digkuns en letterkunde is vir my merendeels vreemd. ek’s viervoetig in ’n ander wêreld waar ek my daaglikse sweet in die aanskyn van wetenskaplike brood verdien.  ek spandeer dus nie tyd in die openbare oog, of koester belangrike opinie rondom ander digte en digters nie.  ek skryf. en vir rekreasie drink ek eerder ʼn koppie koffie, of luister na Glenn Gould se asemhaling tussen die Goldberg variasies deur. 

 

Nou praat jy! Toevallig is Glenn Gould een van my ’n gunsteling pianiste … Terloops, watter opname van die Goldberg variasies is jou gunsteling? Die 1955 opname met my frenetiese aanslag, of die 1981 opname met sy teruggehoue, bykans bewoë stryd teen stuwing? Speel musiek ’n belangrike rol in jou skryfwerk?

 

ek kan nie na Gould luister sonder om te dink aan Kasper Krone nie (The Quiet Girl: A Novel – Peter Hoeg; Farrar, Straus and Giroux; 2007), met sy verstommende “ability to access people’s acoustic essence, especially children’s”. hou van die ’81 opname meer, die een van toewyding, waar hy die aria met variasies as ’n enkel passie-en-passasie (!) hanteer; teenoor die meer voortstuwende styl van die ’55. musiek is amper meer nog basies in die kreatiewe wêreld as poësie (eerste was per slot van rekening klank, toe woord). en by my ’n groot belangstelling. ken jy daardie gedig van Conrad Aitken, The House Of Dust: Part 03: 13: The half-shut doors through which we heard that music?

 

The half-shut doors through which we heard that music
Are softly closed. Horns mutter down to silence.
The stars whirl out, the night grows deep.
Darkness settles upon us. A vague refrain
Drowsily teases at the drowsy brain.
In numberless rooms we stretch ourselves and sleep.Where have we been? What savage chaos of music
Whirls in our dreams?—We suddenly rise in darkness,
Open our eyes, cry out, and sleep once more.
We dream we are numberless sea-waves languidly foaming
A warm white moonlit shore;

Or clouds blown windily over a sky at midnight,
Or chords of music scattered in hurrying darkness,
Or a singing sound of rain . . .
We open our eyes and stare at the coiling darkness,
And enter our dreams again

 

 

Jy is inderdaad bekend as iemand wat besonder wyd lees … Is daar spesifieke skrywers wat vir jou persoonlik van belang is? Digters na wie se werk jy telkens sal terugkeer en by wie jy ’n mate van aanklank vind? 

die skrywers wat al emosioneel op my impakteer het, is te veel om op te noem.  die afgelope tyd het ek stil gestaan by post-apokaliptiese fiksie soos die van Bruce Sterling, William (Neuromancer) Gibson, China Miéville, Walter M. Miller, Jr. (A Canticle for Leibowitz), en Cormac McCarthy (The Road).  die gedigte van WS Mervin en die prosa van James Salter maak iets binne wakker.  ek loer altyd terug na die werke van Michael Ondaatje, na Frank Stanford en Galway Kinnel. die nuwe Atwood (The Door; Virago: 2007) is aangrypend. Opperman maak my bang, so noukeurig is sy woord.  en Jacques Elluil lees ek nou, ook omdat hy die uiteindelike ondergang van woorde teen visuele media voorspel. dit is wat ek lees.

 

In die Junie-Julie uitgawe van Poeziekrant vanjaar het daar ’n omvattende artikel oor jou werk deur Luc Renders verskyn. Bestaan daar dalk ’n moontlikheid dat jou verse in Nederlands vertaal gaan word?

 

ek twyfel. ek sukkel genoeg onder die keurende blik van Francois Smith (my redakteur) om my verse in Afrikaans te vertaal.

         

Luc Renders sluit bogenoemde artikel af met ’n verwysing na jou as ’n “meesterdichter” – met goeie reg – met ’n “boeiende en eigenzinnige” stem. Net so het jy belangrike pryse met jou vorige bundels verwerf en ek vermoed dat oogensiklopedie ’n soortgelyke roemryke paadjie gaan loop … Ervaar jy dat hierdie hoë verwagting (en verering) jeens jou werk jou des te meer inspireer of dalk intimideer?

 

ek dink ‘meesterdichter’ het dalk in Nederlands ander emotiewe waarde as in Afrikaans.  Zandra Bezuidenhout skryf in ’n onlangse artikel juis “Bowendien het ons in die geval van hierdie twee tale te kampe met ‘n groot aantal “valse vriende”, dit wil sê woorde wat in albei tale eenders lyk, maar nie noodwendig dieselfde betekenis dra nie. Etlike voorbeelde is aan ons bekend, soos dat ‘n “beest” op Nederlands beslis nie na ‘n bees of koei verwys nie, maar na ‘n dier in die algemeen. En dat ‘n “beestje” geen jong kalfie is nie, maar ‘n gogga van een of ander geaardheid, of enige klein diertjie.” nee wat – ek soek onmeesterlik op/ in my eie na die ‘verlore woord’, so bietjie soos die Moody Blues In search of the Lost Chord. vir die Protea wat ek vir Boomplaats gewen het, is ek baie dankbaar – dit het ’n (kunsmatige) sin tot behoort (sense of belonging) in die boekwêreld geskep. soos jy nog beter weet as ek, dit het nie baie te doen met die literêre meriete van skryfwerk of skrynwerk nie. die reaksie van ander op eie gedigte is sonnestelsels verwyder van die woord self.

 

Baie dankie vir die geleentheid tot gesprek, Gilbert, en veels geluk met ’n bundel wat myns insiens ’n uiters belangrike bydrae tot ons digkuns lewer. Met jou vergunning plaas ons hieronder die slotgedig uit oogensiklopedie; ’n vers wat eintlik die hele bundel op treffende manier “sluit”:

 

wat die mens

 

wat is die mens dat u

verby die duister ondergrond van ʼn vrou, verby

die vermindering van gevoel, verby die bekken so leeg soos die knersvlakte

 

(dofheid van elke dag se opstaan die elektriese sleep van wakkerword;

kinders van skaapdiewe en uitgestorwe lammergiere;

verhale uit lapland;

ʼn leë silo se koringkafreuk;

die whooii-whooii van ’n paniekerige ambulans;

intervensie tot droom

geloof, die sluipende suspisie;

bome wat in die wind buig soos rek agter ʼn kettiemik, uitgestrekte;

grys, soos gemengde verf of die vooraansig van septisemie;

die mite dat die tyd genees;

kragte van toordokters sonder grense; 

ʼn kapskoot op die grassy knoll, tsafendas se innerlike okapi;

aandete, en ingeligte gesprek;

die ritsel van blaaie bloupers soos stormwolke in die skemer;

mistige oorde uit ouer, verhalende gedigte;

bauhaus;

ongelukke naby leeu-gamka;

die stil gebed van prozac;

en ʼn onstuimige hart wat in woorde soos in water sink)

 

aan hom dink?

 

© Gilbert Gibson (Uit: oogensiklopedie, Tafelberg, 2009.)

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud: Gilbert Gibson”

  1. Desmond Painter :

    Interessante onderhoud. Toevallig terwyl ek hier lees sit ek ook en luister na die Goldberg Variations deur my oorfone. Was nogal ‘n verrassing om julle verwysing daarna te lees! Maar dit was nie Gould se weergawes waarna ek luiter nie. Dit is die meer onlangse opname van Murray Perahia. Minder idiosinkraties, maar nogtans ‘n deurdagte, deurleefde en uiters professionele opname deur ‘n skitterende pianis.

    EMI het ook onlangs Alexis Weissenberg se opname van hierdie variasies heruitgereik op hulle ‘budget imprint’, Encore, vir baie goedkoop. Ek het dit nog nie gehoor nie, maar ek hou nogal van Weissenberg se opname van Beethoven se klavierkonserte 3 & 4, saam met Karajan en die Berliner Philharmoniker. Dit is opgeneem in die vroee 70s, dink ek, toe Karajan vir ‘n rukkie uitgeval het met Deutsche Gramaphon (alhoewel hy natuurlik deur sy loopbaan baie opnames vir EMI gemaak het, naas sy werk vir DG).