Intieme afwesige

Intieme afwesige. Deur Cas Vos. 2009. Protea Boekhuis. 106 pp. ISBN 978-1-86919-294-5.

Intieme afwesige

Intieme afwesige

Sedert sy digterlike debuut in 1999 het die Pretoriaanse teoloog Cas Vos ‘n oeuvre met ‘n stygende kwaliteitskurwe opgebou. In Die afdruk van ons hande van twee jaar gelede – sy vierde bundel – is ‘n hoogtepunt van afgewerktheid deur hom bereik.

          Die titel van sy jongste werk, Intieme afwesige, stel een van die konstantes in Vos se digwerk op die voorgrond, naamlik die verwoording van die teenstrydighede in die mens (derhalwe ook die Christen-gelowige) se bestaan en belewing.

Daar is byvoorbeeld reeds sowel iets magies en genadigs as iets gewelddadigs en gevaarvols in die menslike ontvangenis en geboorte te bespeur (afdeling I, “Geboortes”) – selfs, of júís, wanneer die goddelike betrokkenheid daarby verreken word. Die ganse bestaan staan in die teken van die paradoksale. Soos dit in gedig 3 uit hierdie afdeling lui:

                      Alles is kenbaar en onseker;

                      alles is digby maar buite bereik.

          Die lewe is derhalwe ‘n onvoorspelbare avontuur vir die mens. In gedig 5 uit hierdie selfde afdeling word die maagdelike bevrugting van die “meisie” Maria, latere moeder van Jesus, geteken. Tot twee maal toe – via ‘n half-erotiese beeld wat ook aan Michelangelo se beroemde Sikstynse kapel-voorstelling van God se verwekking van Adam herinner – word haar verhewigde belewenisstaat, haar lewensbegeerte ná die goddelike ingryping gesuggereer:

                      God se vinger raak haar aan,

                      haar wange gloei.

Die paradoks as stylfiguur duik herhaaldelik (en dikwels ironies getint) op in hierdie bundel. Blykens die bundelmotto (‘n aanhaling uit Breyten Breytenbach se werk) word dit trouens as ‘n digterlike probleemstelling aangedui: “hoe skryf ‘n mens ‘n afwesigheid vas in die vers?”

Brief-, gebeds-, gespreks- en ander belydenisvorme, ook kunsbeskoulike verse, word meermale in diens van hierdie vraagstuk aangewend in Intieme afwesige. Gevolglik is dat die apostroof ‘n volgende stylfiguur opval, synde ‘n aanspreking of oproeping van die afwesige. 

Begeerte bevat in wese sowel iets van die intimiteit as iets van die afwesigheid waarvan in die bundeltitel gewag maak word. Dit lê ten grondslag aan sowel die liefde(-sverlange) as die kunsskepping, soos uit die gedigte van afdeling II blyk – dit wil sê indien die begeerte nie net altyd in terme van die erotiese gesien word nie, maar ook as ‘n drang na selfekspressie (“Die wingerde van Arles”) of begrip (“Martha”), selfs na die dood (“lewe en dood”). Sowel in die liefde as in die maak en waardeer van kuns “hink” die mens “bedwelmd tussen paradokse” (“Twee digters”).

In enkele gevalle word vaster digvorme funksioneel benut in hierdie afdeling. Die tersinevorm met omarmende rym werk in “Die vyfde evangelis” treffend mee om Johann Sebatian Bach se fugale komposisies – “heen op togte melodie, en weer” – te help evokeer. Daarenteen gaan die herhalings in die villanelle “lewe en dood” mank aan noodwendigheid, terwyl ‘n rymdwang soos “jy graaf daagliks jou diep graf bloot” en die teenstrydigheid in “die skadu’s kom versigtig nader en lê bloot” ook hinder.

Afdeling III bevat enersyds gedigte oor ontheemdes, vervolgdes, gevallenes, benoudes en verdoemdes wat die onbegryplike, selfs wrede of kille goddelike bestiering moet ervaar – hoewel soms ook die glansende teenwóórdigheid van God. Dié tematiek vind neerslag in boeiende ironieë, soos die volgende (met ‘n toespeling op Van Wyk Louw) uit  “Ontheemde”:

          Al hou ek my hart van gode rein,

          vertroebel U s’n, dra ek die pyn.

“Il Gigante”, nóg ‘n gedig na aanleiding van ‘n werk deur Michelangelo Buonarotti, is een van die treffendstes uit hierdie reeks. Let op hoe Bybelse verwysings en geykte uitdrukkings nuwe lewe ingeblaas word in die openingsreëls daarvan.

          Die beeldhouer blaas asem

          in ‘n massiewe stollingsklip;

          sy beitel hap log marmervlees,

          tap bloed in die klip tot

          uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,

          oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.

Vanaf bladsy 38 volg dan ‘n klomp liefdesgedigte waarin sowel die intieme teenwoordigheid van as die gemis aan die geliefde onder woorde gebring word, soms op bykans hoogliedagtige trant (onder meer in “In die tuin van die nag”). In die twee kunstige Engelse sonnette wat die sluitstuk van hierdie afdeling vorm, word die aanwesigstelling van die afwesige geliefde deur middel van (vergeefse) artistieke skepping die onderwerp. “Vere in die wind”, die geslaagdste van die twee sonnette, eindig treffend:

Ek verlang ‘n brief – verlang jou brief, jou asem.

My woorde slaan teen jou omtrek aan soos wasem.

Op hierdie wyse word die bewerkings in afdeling IV van grepe uit die beroemde twaalfde-eeuse briefwisseling tussen Pierre Abélard en Héloïse voorberei.

Laasgenoemde afdeling skop af met ‘n alleenstaande gedig, “Troebadoer”. Daarin word die spanning tussen religieuse wyding en sensuele begeerte wat so sentraal is aan die Abélard-Héloïse-tweegesprek wat hierna volg, aan die bod gestel. Van Wyk Louw het tereg gewaarsku dat daar uit die “gevormde literatuur” moeilik nuwe heuning te maak is. Sommige bewerkings in “Abélard en Héloïse” ontkom myns insiens nie aan die gefragmenteerde grepe wat daaruit geneem is nie. En ten spyte van sekere beeldvondste (“terwyl marmerbeelde sonder ooglede / soos wit skemertes op my afkyk”; “riviere […] waarop wildeganse / haastig voor die skemer se spane dryf”), doen die meerderheid van die gedigte hier ietwat geyk aan, ietwat prosaïes konstaterend – waarskynlik as gevolg van die aard van die brontekste.

Tot slot van hierdie afdeling dien ‘n sewetal gedigte wat, luidens die ondertitel, verbeelde “[g]esprekke oor verlatenheid” tussen die digter en “Astralabe” bevat. Uit die “Aantekeninge” agterin die bundel blyk dat Astralabe die haas onbekende liefdeskind van Abélard en Héloïse was. Dié verse verteenwoordig ‘n strewe  om hom dan “in die skaduwees / van vergeet te onthou”. “[K]ersrook” is die beste onder hierdie gedigte. Dis ‘n gedig oor die onvaslêbaarheid op papier van die apostrofies aangesprokene. Korter, onreëlmatige en dikwels sterk enjamberende versreëls word ironies funksioneel ingespan om die onvergestaltbaarheidsgedagte vormlike beslag te help gee.

Ander gedigte hier veryl in abstraksies (“eeue tyd”) of gaan mank aan beeldtroebelhede. Veral die rookbeelde in “voor ek vergeet” verwar ‘n mens. Blykens die gedigopdrag is die beelde ingegee deur Diane Victor se “smoke drawing” (wat op die bundelomslag afgedruk is), maar dit wil nie oortuigend tuiskom in die werklikheid van die “jy” in die gedig nie (wat, gegewe die gedigreekskonteks, as Astralabe gesien moet word).

In afdeling V, die slotafdeling, word hartstog en dood, die sensueel genietlike en beelde van ondergang, in gespanne paradoks geplaas. Die dood is as ‘t ware die “intieme afwesige” in lewens (soos dié van Edith Piaf) wat so passievol geleef word. Vergelyk ook die treffende “Nag”, geskryf na aanleiding van ‘n gedig deur Jim Morrison:

          Die nag is nog jonk

                      & vol gloed en vonk.

          Sy dra ‘n gesplete rok

                      om índink uit te lok.

          Sy wag vir ‘n soete inval

                      & braak intussen gal.

          Sy’s daar vir jou pure plesier

                      om doodsnikke te vier.

          Die nag is afgeleef en oud

                      & jy kry bibberboud.

Dit is duidelik dat die bundeltitel as motief (dikwels so te sê woordeliks) oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. Trouens, ‘n mens kry naderhand ‘n indruk van effense oordaad en derhalwe van kunsmatigheid in hierdie verband.

Nóg beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede (“val my meetsnoere in ‘n klooster”), oortollighede (byvoorbeeld “die weemoed van verdriet”) en enkele ander styllomphede. Soos gesien, is daar egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek aan te toon.

Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ‘n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor – en ‘n veelsins boeiende bundel. Tegnies en stilisties ewenaar Intieme afwesige egter nie heeltemal die hoë peil van Die afdruk van jou hande van twee jaar gelede nie. 

 

Prof Bernard Odendaal.

Bookmark and Share

Comments are closed.