Kinkel en Vonkeljander

     Die Noord-Amerikaanse digter Raymond Carver het op ’n keer die volgende gedoen.

     Hy het ’n kortverhaal van die Russiese skrywer Anton Tjekhof geneem. Hy het toe ’n passasie daarin afgemerk, ’n natuurtoneel natuurlik, atmosferies geskets, met ’n bepaalde – hoe sal mens sê? – resonansie. Soos mens maar van ’n groot skrywer (ek bedoel nou Tjekhof ) sal verwag.

     Ek wens ek kan dit nou hier weergee, maar my boeke is almal gestoor en ek is in limbo. Dis maar my persoonlike huldeblyk aan Francois Villon, laat mens maar sê. Ek het darem nog my tande.

     In elk geval, die kortverhaal van Tjekhof. Die gras waai nie net nie, nee, dit waai op ’n bepaalde manier, ’n manier wat impliseer dat die hele wêreld, nie net daardie grassies nie, deurtrek is van ’n waarheid. En nie net sommer enige waarheid nie. ’n Bepaalde waarheid wat terugherlei kan word na daardie gras, daardie bepaalde gras, geen ander gras nie, op daardie bepaalde agtermiddag, nie die vorige agtermiddag nie, naby ’n dachau iewers nie sover van Moskou, nie St. Petersburg of Salzburg, nie.

    Wat Carver gedoen het was om die passasie, net so, onveranderd uit die prosa van Tjekhof, as losstaande snit aan te bied. Hy het dit dus “omraam”.  En wat gebeur toe?

     Die passasie word op die plek ’n gedig! Ja, die onnutsige fee het haar staffie geswaai. ’n Gedig deur Raymond Carver! Sonder dat hy wat Carver is ’n enkele woord geskryf het. Lazy genius. Ek bedoel nou, Tjekhof.

     Was dit Carver se gedig of Anton s’n? Wel, moeilik om te sê. Dis so mooi dat dit nie eintlik saak maak nie.

     Die heer Raymond het ’n hele paar dinge met daardie eksperiment bewys. Hy het onder meer gewys dat prosa en poësie integraal verbind is en inmekaar in vloei, en dat die genregrense relatiewe konsepte is. Hy het gewys hoedat ’n goeie prosais en ’n goeie digter minstens een ding in gemeen het: ’n sin vir metrum. Al is dit bietjie vermom by die prosais. En al is die “prosa” ’n bietjie vermom by die digter.

    Pas het ek dieselfde gedoen met ’n Afrikaanse kortverhaalskrywer. Daar is nie baie Suid-Afrikaanse skrywers wat in suiwerheid van woordkeuse en ongerepte fokus aan Tjekhof herinner nie. Al is sy nuuste kortverhaalbundel nie sy beste nie. Ek bedoel nou die Afrikaanse skrywer.

     Ek praat nou nie van myself nie. Ek bedoel nou, ek het die gedig geskryf. Of het ek nie? Dit maak nie saak nie. Hier volg dit. Ek het effens anders as Carver te werk gegaan. Ek het strofe-indelings ook gebruik, so “my” gedig is nie ’n prosagedig soos Carver s’n nie. Dis proppers.

    

Ou man dink terug

My lieflikste herinnering

aan wolke gaan terug na ’n dag

toe die reën my vasgekeer het

teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems

 

vir my ma gaan pluk, daardie blomme

wat lyk of dit soos fonteine

opspring uit splete in die kranse;

lang, soepel stele

wat buig van die gewig – veerligte,

ligpers klokkies, ook die kleur van wyn

soms, maar selde.

 

Ek het na waaibesems

teen die agtergrond van wolke

opgekyk en my toe na die skuiling

van ’n bakkrans gehaas, die een

waar ’n Boesmankunstenaar

’n pruimswart bokkie geskilder het,

’n onherkenbare plant daarnaas.

En toe kom die reën, ook lieflik,

 

en hang sy stippelgordyn

tussen my en die droëveld.

       

    

 Hier volg die passasie soos dit in die prosastuk voorkom. Ek het enkele woorde verander, nie veel nie:   

    

            

Een van my lieflikste herinneringe aan wolke op Rust-mijn-ziel gaan terug na ’n dag toe die reën my vasgekeer het teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems

vir my ma gaan pluk, daardie elegante blomme (familie Dierama) wat lyk of dit soos fonteine opspring uit splete in die kranse; lang, soepel stele wat buig van die gewig – veerligte gewig – van ligpers klokkies;  soms maar seer selde, ook wynpers.

   Ek het verlangend na waaibesems teen die agtergrond van wolke opgekyk en my toe na die beperkte skuiling van ’n bakkransie gehaas, die een waar ’n Boesmankunstenaar ’n pruimswart bokkie geskilder het, met ’n onherkenbare plant daarnaas.

   En toe kom die reën, ook lieflik, en hang sy stippelgordyn tussen my en die droëveld.

 

(Poëtiese omsetting van ’n passasie uit “Waar die wolke middag maak”, geneem uit Die huis van die digter en ander liefdesverhale, deur Hennie Aucamp (Protea, 2009).

 

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Kinkel en Vonkeljander”

  1. Louis :

    Dankie vir ‘n interessante inskrywing, Charl-Pierre. Maar, indien ek duiwelsadvokaat mag speel, die volgende: In jou resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” op LitNet het jy verwys na “laer orde mimetiese verse” en “hoër orde” verse. Sal hierdie vers dan vanweë sy direktheid as ‘n voorbeeld van eersgenoemde geld? En wat kwalifiseer dit as sulks? Die oormatige gebruik van kontekstualisering? Hier is immers nie juis van resonansie sprake nie, is daar? Dis gewoon ‘n (baie mooi) natuurbeskrywing met bykans géén “verplasing” soos jy daarna in die reedsgenoemde stuk op LitNet verwys nie. Kan dit dan as “gedig” kwalifiseer?

  2. Charl-Pierre :

    Hallo Louis,

    Ek gaan weldra ‘n meer uitgebreide inskrywing doen op die begrippe “laer en hoër mimese”. Nou die aand bel Gilbert Gibson my om te praat oor die konsepte, en hy het intussen ook speurwerk op die internet gaan doen om te kyk waar die twee begrippe al gebruik is. Hy het op baie interessante stof afgekom.
    Nee, ek sou beslis die omdigting van Aucamp se prosa as hoër mimese beskou. Direktheid alleen kan nie myns insiens die kader “hoër” of “laer” bepaal nie. Soos ek ook in my resensie van Bloot mens gesê het, die sekerheid van fokus is ook ‘n faktor. En daar is ander faktore. Daar is al groot name wat oor hierdie begrippe geskryf het, en ons sal spoedig na hulle moet begin verwys as ons die gesprek wil verder voer.

    Trouens, hoe meer n gedig LYK soos ‘n blote beskrywing maar NIE IS nie, met ander woorde, hoe groter die ILLUSIE, hoe groter is die verplasing ook dikwels. Trouens, in my bundel In die geheim van die dag, het ek juis ook probeer werk met hierdie “oëverblindery”, om iets opsetlik na blote beskrywing te laat klink, terwyl dit by nadere beskouing dan nie is nie.

    Wat my opgeval het van die Aucamp-passasie was ‘n flonkering van verborge simboliek, in hoe hy die woorde plaas, verborge suggestie. Dit is “poëties” gedoen. Ek het toe heengegaan en die passasie “omlyn” ten einde daardie metaforiese en simboliese flonkeringe nog verder te belig met emjambement en so meer. Natuurlik as ek die skrywer was van die gedig (die REGTE skrywer …) sou ek hierdie waardes effens meer uitgelig wou gesien het, maar dis nie deel van die eksperiment om by te skryf nie.

    Vir my is dit veral die slotkoeplet wat die vers sy resonansie gee. Hier is ‘n ouer man wat ‘n jeugherinnering beleef (die leser moet hierdie kennis omtrent die outeur, Aucamp) in berekening bring. Hy beleef die jeugherinnering juis omdat hy oud word, dis in daardie konteks wat hy terugdink. Die droëveld is die ouderdom, die aftakeling, miskien selfs ‘n heenwysing na die dood.

    Dis dus myns insiens beslis meer as net blote beskrywing. En die feit dat dit die leser ‘n rat voor die oë draai, en LYK soos blote beskrywing, dit verhoog die verrassingselement, en daarmee saam die verplasingselement - en vergroot sodoende die transformasie wat die leser ervaar.

    Die prosastuk, sowel as die omdigting is myns insiens bepaald van ‘n hoër mimese.

  3. Charl-Pierre :

    Nog ‘n verdere punt. Daar is wel enkele verse in Wierenga se bundel wat mens as hoër mimese sou kon beskou. DIe voorbeeld waarna ek sou wil verwys is “Gespook”, (bl. 73) van Bloot mens. Hierdie is juis ‘n baie direkte vers. Maar wat dit van ‘n hoër mimese maak (vir my), is die verrassingselement in die slotreël, wat baie op dieselfde wyse funksioneer as die verrassingselement in die slotkoeplet in my omdigting hierbo. Die spoke waarna die outeur (Wierenga) aan die begin van die gedig verwys is nie dieselfde spoke waarna sy aan die einde van die vers verwys nie. Hier is ‘n merkbare verplasing, selfs merk-waardig, wat groter is as die verplasings wat in meeste van haar ander verse plaasvind.

    So, om weer te beklemtoon: dis nie soseer direkte segswyse wat ‘n gedig laer mimese maak nie, maar ‘n baie nou kader van resonansie of metaforiese verplasing, gepaard gaande dikwels met ‘n growwer soort fokus. Hiervan is baie “direkte” digwyses, soos rap, steeds goeie voorbeelde.

  4. Charl-Pierre :

    Dis belangrik dat die lading van woorde soos “herinnering” en “Bakenberg” geaktiveerd word, vir die gedig om metafories te kan funksioneer. Sal dit help as ons die titel verander? Kyk hier onder.

    OU MAN DINK TERUG

    My lieflikste herinnering
    aan wolke gaan terug na ’n dag
    toe die reën my vasgekeer het
    teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems

    vir my ma gaan pluk, daardie blomme
    wat lyk of dit soos fonteine
    opspring uit splete in die kranse;
    lang, soepel stele
    wat buig van die gewig – veerligte,
    ligpers klokkies, ook die kleur van wyn
    soms, maar selde.

    Ek het na waaibesems
    teen die agtergrond van wolke
    opgekyk en my toe na die skuiling
    van ’n bakkrans gehaas, die een
    waar ’n Boesmankunstenaar
    ’n pruimswart bokkie geskilder het,
    ’n onherkenbare plant daarnaas.
    En toe kom die reën, ook lieflik,

    en hang sy stippelgordyn
    tussen my en die droëveld.

  5. Desmond Painter :

    Die nuwe kortverhaalbundel is dalk nie sy beste nie (wonder wat is? Volmink?) maar dit is nog steeds pretty damn good!!

    Ek hou van “jou” gedig ook…

  6. Ek hoop Hennie Aucamp vergewe my die nuwe titel van my omdigting van sy passasie “Ou man dink terug”. Ek het dit sommer in die bloginskrywing hierbo verander. Dit was eers “Die dag toe die reën”.

    Persoonlik dink ek Hennie is ‘n sprieng tsjiekin. Die vertelstem in my omdigting is maar ons almal wanneer en as ons sou oud word.

  7. Lucas Malan :

    Charl-Pierre

    Alles hierbo vind ek boeiende stof, veral
    t.o.v. die werkwyse in jou bundel In die geheim van die dag (2004) wat so ontwykend
    “tussen” genres beweeg.
    Kan ek net met kenmerkende beskeidenheid
    daarop wys dat ek reeds in 2000 ‘n artikel
    gepubliseer het oor Hennie Aucamp se prosa
    wat van meet af en deurgaans tegnieke van die poësie vertoon: “Mý soort poësie - oor die
    poëtiese aspekte in Hennie Aucamp se prosa” het in Tydskrif vir Letterkunde, XXXVIII:1/2
    Februarie/ Mei 2000 verskyn.

  8. Charl-Pierre :

    Hallo Lucas,

    Ek is besonder bly oor die naslaanwenk wat jy hier laat met die verwysing na jou artikel oor die poëtiese aspekte van Aucamp se prosa. Ek gaan dit beslis opsoek. Dankie.

  9. Lucas Malan :

    Beste Charl-Pierre

    Ek hoop jy kan daardie artikel van my maklik
    opspoor,anders faks ek vir jou ‘n fotokopie.

    Maar ek wil nog iets oor hierdie interessante onderwerp noem. Naas Aucamp is daar ook ander prosaskrywers wat hulle meermale op die poëtiese beroep. Voorop staan Karel Schoeman,
    en ek noem net een treffende voorbeeld. Gaan lees op die voorlaaste bladsy van Op ‘n Eiland (my kopié,1971:132)die laaste para=
    graaf vóór die tipografiese breuk wat begin
    met “Hy kyk na my…” , maar veral die laaste 7 reëls. Dis poësie. Lees ook in Abraham de Vries se bundel Skaduwees tussen skaduwees (1997:56)die laaste 3 paragrawe van “Hierdie poskaarte”. Dis mos ‘n gedig wat haar vorm net effens kwyt geraak het.

    En Louis, kan ons die onhaalbare terza rima
    in Afrikaans nie liewer inruil vir ‘n versoek
    aan kollegas om soortgelyke gevalle van verse
    wat in prosatekste skuil, te gaan verlos nie? Dit kan ‘n vrugbare oefening word vir dié wat
    so swaar dra aan die praat- of anekdotiese
    vers.

Los kommentaar