Carina Stander. Welpies op die strand
Ek wens dit was anders, maar my nagdrome is nie juis interessant nie. ‘n Keer of wat het ek wel iets waardevols gedroom; iets wat waarsku, bevestig of troos. Maar meestal is my drome ‘n vrugteslaai van skynbaar niksseggende smake en herinnering.
Een van die bloedweinige mooi drome het ek in 1996 ontvang toe ek twintig jaar oud was. Deur die jare het ek graag dié fabel oorvertel: Hoe ek op ‘n boot op die oop see vaar tot aan die ooskus van Afrika (waar ek op daardie stadium nog nie was nie.) In die skemerlig kon ek die palmbome uitmaak en vier of vyf goudgeel leeuwelpies wat mekaar op die strand rondjaag. Hulle “gesigte” was so uitbundig dat hulle soos kinders gelyk het.
In 2004 neem my man, Gerrit, een naweek aan ‘n adventure resies in die Oos-Vrystaat deel. Terwyl die lot absail en swem en die Maluti met perde kafdraf, sit ek op ‘n kampstoel onder ‘n boom en lees my eerste Ernest Hemingway. Die novelle, “Old man and the sea” is in 1951 in Kuba geskryf en het die jaar daarna verskyn. Dit was die laaste groot werk wat Hemingway in sy leeftyd gepubliseer het en deurslaggewend in sy verering met die Nobelprys vir Letterkunde in 1954.
En so sit ek in 2004 in die koelte van ‘n boom - die berge in die verte - en lees van die bejaarde visserman, Santiago, se vriendskap met ‘n seun en sy worstelstryd met ‘n reuse swaardvis. Op bl.13 lees ek: “When I was your age I was before the mast on a square-rigged ship that ran to Africa and I have seen lions on the beaches in the evening.” Maar eers op bl 16 tref die ooreenkoms my tussen die oë: “He no longer dreamed of storms, nor of women, nor of great occurrences, nor of great fish, nor fights, nor contests of strength, nor of his wife. He only dreamed of places now and of the lions on the beach. The played like young cats in the dusk and he loved them as he loved the boy.”
Spelende leeuwelpies op ‘n skemerstrand in Afrika besoek tog mos nie elke aand ons droomlandskappe nie, of hoe? Beteken dit dat menslike verbeeldingswêrelde soms tot in die mees obskure detail oor eeue en kontinente heen vervleg is? Hoe maklik/ moeilik is dit dan om plagiaat te pleeg? En waarvan is die welpe aan die Afrikakus nou eintlik ‘n simbool? Enige psigoanalis of droomkenner wat sy hand aan hierdie raaisel wil waag, is welkom. Want vir my bly dit ‘n bietjie freaky.





Carina, dalk help hierdie interpretasie jou? “Lions are usually a regal dream symbol of power and pride. In a woman’s dream, it may represent the male aspect of her psyche. A Freudian interpretation may consider lions to represent the powerful and admired aspect of the father. It may also symbolize your ‘animal’ nature or your aggressiveness and will to power.” {http://www.dreamsleep.net/lion-dream.html}
Ek droom baie. Lang stories. Ek droom soms gebeure vooruit. Sommige drome word verse.
groete.
Dankie vir jou skrywe & die webskakel, Marlise! Jip, ek onthou die leeumannetjie is die argetipiese pa-figuur, maar waarop sou die leeuwelp dui - ‘n seun? Wat my veral interesseer is die paralle: Albei is gedroom (in sy boek & in my slaap.) ‘n Afrika-strand word in albei gevalle genader. Vanuit ‘n boot. Skemertyd. Leeuwelpies speel op die strand. Dieselfde uitbundige emosie/ verwondering. DIT is wat my kop laat woer: hoe eenders die ervarings is. En hoe verbeeldingswêrelde kan ooreenstem oor dekades/ geslagte/ kontinente heen.
Is oorspronklikheid die grootste mite denkbaar?
Carina -
Oorspronklikheid in die eng sin van die woord is inderdaad ‘n sprokie. Wys my ‘n oorspronklike teks & ek wys jou ‘n teks waarvan die intertekste nog nie drooggelê is nie.
Jou droom egter, dink ek is ‘n mooi illustrasie van hoe die kollektiewe onbewuste alles & almal in kontak met mekaar bring. Dit is die grondwater waaruit ons almal put.
Ek stem saam met Johann, Carina. Ken jy die boek Man & his symbols van Jung? Fassinerend -gepuliseer in 1964 - & steeds ‘n naslaanwerk vir my. In die afdeling oor drome: “There are many symbols, however, that are not individual but collective in their nature and origin.” ens. Drome oor leeu welpies - iemand op die internet sê : A friendly lion cub is a forecast of a new and valuable friendship. Miskien was dit van toepassing op jou in daardie jaar? Die paralelle in jou droom met die droom in die boek is nogal verstommend. Maar dan, hoeveel van ons het nie al gedroom dat ons vlieg nie? Dat ons val, dat ons moet vlug, dat jou kar nie wil ry nie, dat jy hardloop maar op een plek bly stilstaan, ens. Argitipiese drome, kollektief. Die onderbewuste fassineer - dis ook daar waar gedigte en metaforiese taal dikwels begin. Weet die digter altyd waar al sy beelde of metafore vandaan kom?
Kognitief kan hy dit nie altyd verklaar nie. En dis die ‘grondwater’ waarna Johann verwys dink ek. Dit wat jy nie bewustelik ken nie, probeer jy in taal vas te vang, in ‘n vorm, dmv ‘n skeppingsproses. ‘n Her-skepping, ‘n oor-maaksel, van dit wat reeds bestaan, wat ‘ingebore geskiedenis’ is, sou ek wil glo. In die opsig kan jou spesifieke ‘kunswerk’, hetsy musiek, ‘n skildery of ‘n gedig ten minste uniek wees. Of hoe?
Johann en Marlise, baie dankie! Die “grondwater waaruit ons almal put” (JdL) of die “ingebore geskiedenis” (MJ) is lyk my inderdaad ‘n onsigbare naelstring wat ons almal bind. En DIT maak my opgewonde, want by implikasie beteken dit dat werklike begrip vir die Ander ‘n moontlikheid is. As ons selfs ‘n gedetailleerde nagdroom kan deel met, sê nou maar, ‘n onwettige emigrant uit Zimbabwe, ‘n parapleeg in die Andes, ‘n Sweedse bakker of ‘n beroemde skrywer in Kuba, dan is ware medemenslikheid en empatie mos ‘n waaragtige moontlikheid, dan nie? Hoe ver terug onthou die kollektiewe geheue?
Nie net kan empatie tussen mens tot mens op die manier gekweek word nie, maar selfs mens tot dier of mens tot plant. Ek het so 3 jaar gelede gedroom daar sit ‘n tier langs my aanboord op ‘n vliegtuig en hy huil iets vreesliks. Toe ek vir hom ‘n snesie aangee, snik hy: “Hoekom is almal so bang vir my?” Met my kop weet ek natuurlik hoekom, maar met my hart…
Ja, Man and his symbols is wunderbar, Marlise. Cirlot en De Vries se leksikons is net sulke fantastiese bronne. Weet jy of dit by Protea Boekwinkel beskikbaar is?
Inderdaad, Carina. Cirlot se “A dictionary of symbols” prys R341.75 en Jung se “Man and his symbols” R206. Lekker droom verder.
De Vries is uiteraard die beste van die lot, maar teen dié tyd seker onbekostigbaar duur. Ek onthou toe ek dit so 30 jaar gelede gekoop het, was dit iets soos R300-00 - ‘n fortuin in 1979!
Eish, Johann, bloedgeld! (Darem het jy die jaar daarna ‘n geldjie vir die Ingrid Jonker-prys gekry.:)