Bernard Odendaal. “Skoppensboer”

Skoppensboer

 

I.

’n Druppel gal is in die soetste wyn;

’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,

in elke lag ’n sug van pyn,

in elke roos ‘n dowwe blaar.

    Die een wat deur die nag

    ons pret beloer

    en laaste lag

    is Skoppensboer.

 

II.

Gewis en seker is die woord:

die skatte wat ons opvergaar,

ondanks die sterkste slot en koord

word net vir mot en roes bewaar.

    Net pagters ons

    van stof en dons

    om oor te voer

    aan Skoppensboer.

 

III.

Die heerlikheid van viees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee in ’n goue gloed:

die dagbreek op elk’ sagte wang

en oge vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begint die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

    Want swart en droef,

    die hoogste troef

    oor ál wat roer,

    is Skoppensboer.

 

IV. L’Envoi

Gewis is alles net ’n grap!

Ons speel in die komedie mee

geblinddoek met ’n lamfer-lap

wat selfs die son ’n skadu gee.

    Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid;

en lank die nag wat voorlê nog.

Al kan ons nooit volmaaktheid raak,

nog blink die oog en gloei die huid

wat heel die winter blomtyd maak.

    Dus onverlee

    lag ons maar mee

    met elke toer

    van Skoppensboer!

 ·         Eugène N. Marais

 

Marais is saam met Toon van den Heever, A.G. Visser, J.R.L. van Bruggen en H.A. Fagan digters van die sogenaamde Tweede Geslag. Kannemeyer (1978: 221) skryf soos volg oor hulle: “In teenstelling tot Celliers, Totius en Leipoldt, wat tot ongeveer 1920 sterk op die nasionale as boustof vir hulle poësie steun, is die digters wat vanaf 1917 aan die woord kom maar veral in die twintigerjare publiseer, oorwegend ’n kenteringsgeslag […]. (Daar is) sprake van ’n groter indiwidualisme deur die persoonlike worsteling en aandoening, ’n dieper verkenning van liefde en erotiek en soms ‘n afwysing van die tradisionele geloof deur ’n (aarselende) geding-met-God.”

Hulle digkuns wys trouens vooruit na dié van die Dertigers (W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Uys Krige), ’n geslag digters wat die Afrikaanse poësie tot volwassenheid sou opvoer.

Marais en Van den Heever het indertyd gedigte geskryf wat nie gemaklik gepas het in die tradisionele lewensbeskoulike en ervaringswêreld van die meeste Afrikaanse lesers nie. Kritzinger (1938: xii—xiii) praat in dié verband van indiwidualistiese, “vreemde” sentimente wat in hul verse geopenbaar is. Marais is byvoorbeeld vir “swartkykery” en “pessimisme” verwyt (Lindenberg, s.d.: 208), en die gedig “Skoppensboer” is as belangrikste bewys aangevoer.

Die gedigtitel verwys letterlik na die hoogste troefkaart in ’n sekere kaartspel, maar in die gedig is dit, soos tradisioneel die geval is, simbolies van “onheil en dood” (Ohlhoff, 1999:57). Die dood word in die gedig as uiteindelike triomfeerder oor alles voorgestel. Daarom is daar ’n skadukant aan al ons genietinge (strofe I), is alle rykdom net ydelheid (strofe II), is alle lyflike genot en skoonheid verganklik (strofe III). Die besef noop egter nie tot droefheid en vrome inkeer nie; in die slotstrofe word ons opgeroep tot oorgawe aan wat nog oorbly van die aardse genietinge.

Die gedig is volgens ’n baie ou digsoort geskryf, naamlik die sestiende-eeuse Franse ballade. Die tradisionele vorm word egter nie alte getrou gevolg nie. Dit is wel in ’n betogende (= redenerende, bewysvoerende) trant en bestaan uit drie strofes en ’n finale opdragstrofe, waarin ’n refrein telkens voorkom. Die strofes is egter nie almal agtreëlig nie en die refrein is nie deurgaans dieselfde soos die tradisionele stokreël nie. Die L‘Envoi (’n direkte aanspreking van die vors, of van die regter in Middeleeuse literêre kompetisies; selfs van God – Grové, 1992:17) bevat ook geen werklike opdrag nie.

Tog is die vorm effektief benut om eerstens deur die herhalings die altyd teenwoordige bedreiging van die dood, en tweedens deur die opstapeling van kontraste die verskeurdheid van ons aardse bestaan te beklemtoon.

Hoewel die gedig destyds by sy verskyning (dit is die eerste keer in Die Brandwag van 25 Mei 1921 gepubliseer) as indiwidualisties en religieus vertwyfeld ervaar is, is dit vir die moderne smaak ietwat opsetlik en retories. Soos Lindenberg (s.d.: 208) dit stel: “Lees mens die gedig […] teen die agtergrond van ’n ou poëtiese tradisie, dan is die konvensionele in die gedagtegang en beeldspraak te sprekend om die gedig sonder meer te interpreteer as ’n persoonlike bieg. Eintlik is dit weinig meer as die eeue-oue sug van ‘alle vlees is gras’ en die aansporing om intussen die genot van die oomblik te gryp.” (Lees maar wat in die Bybelboek Prediker in hierdie verband geskryf staan.)

Die gedig het nogtans ’n “klassieke” in die Afrikaanse letterkunde geword, weens sy literêr-historiese waarde bekend by baie mense.

 

 

1. Die gedig is vol teenstellings van lig en donker, geluk en smart” (Cloete, 1985: 7). Toon sodanige teenstellings volledig aan en formuleer in jou eie woorde wat die digter so wil beklemtoon.

Leerlinge sal die teenstellings maklik vind. Die digter wil beklemtoon dat die positiewe steeds deur die negatiewe bedreig of geneutraliseer word.

2. Sekere kritici het die reël “en lank die nag wat voorlê nog” (slotstrofe) geïnterpreteer as ’n sinspeling op die ewige nag (= die dood) wat voorlê. Stem jy saam? Motiveer.

Nee. Cloete (1985: 7-8) skryf in hierdie verband: “Weens daardie ‘nog’ (ook soos dié woord in ander verse in dieselfde strofe gebruik word) moet ons dit verstaan as troosgedagte dat die feesnag nog lank is (ook volgens strofe 1 vind die fees in die nag plaas).”

3. Cloete (1985: 7) skryf dat, hoewel die teenstellings in die gedig oppervlakkig is, hulle egter almal in die teken van ’n veel dieper teenstelling staan, “wat sinvol is deurdat dit ironies is: daar word feesgevier met wyn, musiek, gelag, rose, sinlikheid en kaartspel, om die donker te verdryf, máár – die fees vind in die nag plaas”. Hoe sou jy hierdie “diepere” teenstelling wat Cloete in gedagte het met twee enkelwoorde beskryf? Dink jy dis ‘n geldige interpretasie, gesien in die lig van wat jou antwoord op vraag 2 hierbo was?

Lewe teenoor dood. Ja, die bedreigende negatiewe kan in hierdie gedig as die dood geïnterpreteer word. “Skoppensboer” word dikwels simbolies van die dood gesien. In die gedig is dit vrolikheid, skoonheid, sintuiglike genietinge, aardse oorvloed – die dinge wat gewoonlik met “lewe” vereenselwig word – wat daardeur bedreig word.

4. Lindenberg (s.d.: 208) is van mening dat die beelde in die gedig “retories” is en dat by hulle “’n sintuiglike basis ten ene male ontbreek”. Stem jy saam?Motiveer jou antwoord met voorbeelde uit die gedig.

Ja en nee. Die beelde is oorwegend geyk, met uitsondering van miskien die volgende: “Alreeds begint die rimpel sny” (strofe III). Dit is egter nie waar dat die beelde nie ’n sintuiglike basis het nie. Vergelyk selfs retoriese beelde soos “’n (d)ruppel gal is in die soetste wyn”, “in elke roos ’n dowwe blaar”, “oge vol van sterreprag”, ensovoorts. Dalk vat die volgende woorde van Kannemeyer (1978: 229) die hedendaagse leser se oordeel oor die gedig goed saam: “Alhoewel die gedig nie sonder sy bekoring is nie en deur sy sterk sinisme in sy tyd iets nuuts in Afrikaans was, is die beeldspraak konvensioneel en word die vers in hoofsaak gedra deur die onderliggende teenstelling tussen die aardse heerlikhede en die verganklikheidsmotief.”

 

Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat

 

Bronnelys

Cloete, T.T. 1985. Gids by D.J. Opperman se Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Grové, A.P. 1992. Ballade. In: Cloete, T.T. (red.). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 1. Kaapstad en Pretoria: Academica.

Kritzinger, M.S.B. 1938. Eugéne N. Marais as digter. In: Versamelde gedigte van Eugéne N. Marais. Pretoria: J.L. van Schaik-uitgewers Bpk.

Lindenberg, E. (Sonder datum.) Profiel oor Eugéne N. Marais. In: Nienaber, P.J. (samest.). Nuwe hersiene uitgawe. Perspektief en profiel. ’n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. Bladsye 205-214.

Ohlhoff, Heinrich. 1999. Perspektief op die Afrikaanse poësie: die poësie van voor 1900 tot 1960. In: van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria. J.L. van Schaik. Bladsye 21-243.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Bernard Odendaal. “Skoppensboer””

  1. Dene :

    Skoppensboer is altyd een van my geliefkoosde verse. Ek sien die tietel woord ook as die Noodlot. As ook die ‘Ace’ van ‘Clubs’. Kan iemand my se, wat die oorsprong is en verduideliking van ‘skoppensboer’? Dit klink na Hollands miskien. Dankie.