T. S. Eliot – vertaling in Afrikaans

T. S. Eliot – vertaal deur Andries Wessels

 

 

Dorsland

T. S. Eliot

 

‘Nam Sibyllam quidem Cumis ego ipse oculis meis

vidi in ampulla pendere,  et cum illi pueri dicerent:

Σιβυλλα τι Θελεζ; respondebat illa; απ Θανετν Θελω.’

 

 

I. Teraardebestelling

 

   April is steeds die wreedste maand, as

Lilas uit die droogland dring, as

Begeerte syfer deur herinnering, as

Lentereën die trae wortels dwing.

Die winter het ons gekoester, die aarde knus

Bedek met vergetelheidsneeu, ’n sprankie lewe knap

gevoed met droë knolle.

Die somer het ons verras met ’n bui oor die

Starnbergersee: ons het in die suilegang vertoef,

Toe die sonlig ingetree, tot in die Hofgarten,

Bin gar keine Russin, stamm’ aus Litauen, echt deutsch.

En toe ons kinders was, en by die aartshertog, my neef,

kuier, het hy my op ’n slee uitgeneem,

En ek was bang. Marie, roep hy,

Marie, hou vas! En daar trek ons.

In die berge, ja daar voel ek vry.

Ek lees, soms heelnag lank, en trek suid in die winter.

 

    Watter wortels reik, watter takke groei

Uit hierdie klippepuin? Seun van die mens,

Jy kan nóg antwoord, nóg selfs raai, want al wat jy ken

Is ’n stapel gebreekte beelde, waar die son neerskroei,

En die dooie boom geen skuiling bied, die kriek ook geen verligting,

En die droë klip geen waterklank. Tog

Is daar skadu onder hierdie rooi rots

(Kom in onder die skadu van hierdie rooi rots)

En ek wys jou iets in die halflig stuif,

nié jou skadu wat jou soggens volg,

nóg jou skadu wat jou saans ontmoet,

Ek wys jou vrees in ’n hand vol stof.

    Frisch weht der Wind

    Der Heimat zu

    Mein Irisch Kind,

    Wo weilest du?

‘Jy het my ook ’n jaar gelede hiasinte gegee;

‘Hulle noem my die hiasintenooi.’

– Tog, toe ons terugkeer, laat uit die hiasintetuin,

Jou arms vol, en jou hare nat, was ek

Sprakeloos, en my oë verblind, was ek

Nóg lewend, nóg dood, en onwetend kon ek

Slegs die hart van lig, die stilte in staar.

Oed’ und leer das Meer.

 

    Madame Sosostris, die beroemde waarsegster,

Het swaar verkoue, maar is steeds vermaard;

Sy’s bekend as die wysste vrou in Europa,

het ’n duiwelse slag met ’n kaart. Hier sê sy

Is jóu kaart, die drenkeling-matroos,

(Kyk, daar is pêrels waar sy oë eens was!)

Hier’s die Belladonna, Onse Vrou van die Gesteente,

die vrou van situasies.

Hier is die man met drie strawwe, en hier die Wiel,

En hier is die eenoog-koopman, en dié kaart,

Wat blanko is, is iets wat hy op sy rug karwei,

Wat ek nie mag sien nie. Ek kan

Die Gehangde Man nie vind nie. Vrees ’n waterdood.

Ek sien skares mense, wat in ’n kring rondmaal.

Dankie. As jy dalk vir Mevrou Equitone raakloop,

Sê vir haar, ek bring self die horoskoop.

’n Mens moet deesdae só versigtig loop.

 

    Onwenslike Stad,

In die bruin mis van ’n winterdaeraad

Vloei ’n skare oor Londen-brug, soveel –

Ek sou nie kon dink dat die dood soveel sou maai,

Sugte word nou en dan kortweg geslaak,

En elke man se blik bly oor sy eie voetstap waak.

Die stroom vloei heuwel-op, en af na King Williamstraat,

Tot waar St Mary Woolnoth die ure laat weergalm

En met ’n dooie klank op die nege-uurslag bly talm.

Daar tref ek ’n bekende aan, en roep hom: ‘Stetson!

‘Jy wat met my in die seeslag by Mylae beland het,

‘Het die lyk wat jy laasjaar in jou tuin geplant het,

‘Begin bot? Gaan hy hierdie jaar blom?

Of het die skielike ryp die bedding versteur?

‘O, die Hond, die mensevriend, moet jy vér weghou,

‘Of met sy naels sal hy dit weer uitgrou!

‘Jy! hypocrite lecteur! – mon semblable, – mon frère!

 

 

II. Skaakspel

 

    Die Stoel waarop sy sit, gloei op die marmer

Soos ’n glimmende troon, en die spieël,

Tussen pilare omrank met wingerdblare

waardeur ’n goue engeltjie loer

(Nog een skuil skaam agter ’n vlerk)

Verdubbel die vlamme van sewe-kerskandelare

En weerkaats die lig op die tafelblad

waarop skitter-juwele reik na die lig,

Ryklik peul uit satyngevoerde kiste.

In oopgelate flessies van ivoor en glas in kleure

lê haar vreemde, vals parfuum verskuil

In poeier, salf of sap – en kwel, verwar,

Verdrink die neus in geure; die vars lug

Deur die venster druk stygend dié na bo,

Verdik verlengde vlamme,

Slinger rook in die laquearia,

Laat vervloei die beeld in die plafonvernis.

Groot stompe opgestop met koper,

Brand groen-oranje; daarnaas in helder klip

Se droewe lig swem ’n gekerfde dolfyn.

Bo die kaggelrak antiek, pryk –

Soos ’n vensterblik op woud en plant –

Die treurmare van Philomel, wreed aangerand

Deur die koning, die barbaar; tog spoel

die nagtegaal se lied onaantasbaar deur woestyn,

Vertolk steeds haar pyn, en steeds verkies die wêreld

Die vuil ‘neuk, neuk’-refrein.

En ander uitgedorde tydsoorblyfsels

Versier verslae die muur; starende gedaantes

Beur uit, leun uit, verstom omsingelend die vertrek.

Voetstappe skuifel op die trap.

In die gloed van die vuur, onder haar borsel

Vertak haar hare in punte wat gloei,

Ontbrand in woorde wat spoedig tot woedende stilte verskroei.

 

    ‘My senuwees is gedaan. Gedaan! Bly by my.

Praat met my. Hoekom praat jy nooit nie? Praat.

    Waaraan dink jy? Wat dink jy? Wat?

Ek weet nooit wat jy dink nie. Dink.’

 

    Ek dink ons is in rotsteeg

Waar dooies hul beendere laat bly het.

 

    ‘Watse geluid is dit?’

                    Die wind onder die deur.

‘Watse geluid is dit nou? Wat maak die wind?’

                    Niks nie, steeds niks nie.

                                        ‘Weet

Jy niks nie? Sien jy niks nie? Onthou jy

‘Niks nie?’

 

    Ek onthou

Daar is pêrels waar sy oë eens was.

‘Is jy lewendig of dood? Gaan daar niks in jou kop aan nie?’

 

                                        Maar

O O O O die Shakespeheriese sinkopasie –

Dis elegant,

Intelligent

‘Wat moet ek nou doen? Wat moet ek doen?

Ek gaan uithardloop soos ek is, en in die straat loop

Met my hare los, só. Wat gaan ons môre doen?

Wat gaan ons ooit weer doen?’

                    Warm water om tienuur.

En as dit reën, ’n motorrit om vier.

En ons sal skaak speel,

En ledelose oë knip terwyl ons wag vir ’n klop aan die deur.

 

Toe Lil se man uit die army kom, het ek gesê –

Ek het nie doekies omgedraai nie, ek het self vir haar gesê

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Jong, Albert is op pad terug, maak jouself ’n bietjie smart.

Hy sal wil weet wat van die geld geword het

Wat hy vir jou nuwe tande gestuur het. Hy het, ek was by.

Laat die hele lot trek, Lil; jy kan vir jou ’n nice stel kry,

Sê hy nog, ek sweer, ek kan nie eers vir jou kyk nie,

En ek ôk nie, sê ek, en dink tog aan die arme ou,

Hy was vier jaar in die army, hy wil ’n lekker tyd hê,

En as jy dit nie wil gee nie, sê ek vir haar, ander sal wel,

Dan sal ek weet wie om te bedank, sê sy toe, en kyk my beskuldigend aan.

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Kyk, as jy nie daarvan hou nie, kan jy dit los,

Party van ons kan pick en choose al kan jy nie.

Maar as Albert jou los, moenie sê ek het nie gepraat nie.

Jy behoort jou te skaam, sê ek nog, jy lyk stokoud.

(Sy’s nog maar een-en-dertig.)

Ek kan nie help nie, sê sy toe, en begin tjank,

Dis daai pille wat ek gedrink het, om dit af te bring, sê sy,

(Sy’t al vyf gehad, en is byna dood met die laaste een)

Die apteker het gesê dit behoort ôraait te wees, maar ek was nooit weer dieselle nie.

Jy is wragtigwaar onnosel, sê ek.

Wel, as Albert jou nie kan uitlos nie, dan gaan dit maar so, sê ek.

Hoekom trou jy as jy nie kinders wil hê nie? Waarvoor?

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Wel, toe Albert die Sondag by die huis was, het hulle ’n heerlike varkboud gebraai,

toe vra hulle my vir ete, en ek’s mos mal daaroor –

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Goeienag Bill. Goeienag Lou. Goeienag May. Goeienag.

Ta-ta. Goeienag. Goeienag.

Goeienag dames, goeienag my liewe dames, goeienag, goeienag.

 

 

III. Vuurpredikasie

 

    Die rivier se tent is stukkend; die laaste blarevingers

Gryp en sink weg in die deurdrenkte wal; die wind

Deurkruis die bruin land ongehoor. Die nimfe het vertrek.

Soete Theems, vloei saggies tot ek ophou sing.

Die rivier lewer geen leë bottels of servette,

Geen sysakdoeke, kartondose, stompiesigarette,

Of ander getuienis van somernagte. Die nimfe het vertrek,

En hul vriende, die dralende seuns van maatskappydirekteure,

is weg sonder om ’n adres te verstrek.

By die waters van Leman het ek gesit en geween …

Soete Theems, vloei saggies tot ek ophou sing,

Soete Theems, vloei saggies want my stem is sag en woorde min.

Maar agter my in ’n rukwind kan ek hoor

Hoe bene ratel, en ’n grynslag strek van oor tot oor.

 

’n Rot kruip saggies deur die plantekors

En sleep slymerig sy pens voort oor die wal

Waar ek visvang in die sloom kanaal

Een winteraand, agter die kragstasie,

Terwyl ek peins oor die skipbreuk van my broer, die vors,

En die dood van my vader, die vors, daarvoor.

Wit lyke nakend op die lae nat grond

En bene gewerp in ’n klein droë solder,

Wat jaar vir jaar deur die rot versteur word.

Maar agter my kan ek nou en dan hoor

Hoe die motors toet en kling

En Sweeney na mevrou Porter toe bring.

O die maan skyn hoe later al hoe kwater

Op die Porter-dogter en haar mater

Wat hul voete was in sodawater.

Et O ces voix d’enfants, chantant dans la coupole!

 

Twiet twiet twiet

Neuk neuk neuk neuk neuk neuk

Wreed aangerand.

Tereu.

 

    Onwesenlike stad

Onder die bruin mis van ’n winterdag

het mnr. Eugenides, die koopman uit Smirna,

ongeskeerd, met ’n sak vol korente,

k.v.v. Londen: ter-hand-dokumente,

my uitgenooi in vulgêre Frans,

om hom na ’n ete by die Cannonstraat-hotel

en ’n naweek by die Metropole te vergesel.

 

    In die skemerpers-uur, as die oë en rug

Hul uit die lessenaar lig, as die mensmasjien hyg,

soos ’n huurmotor luierend wag,

Kan ek, Tiresias, dog blind, waar ek tussen twee lewens luier,

Ou man met verrimpelde vroueborste, kan ek tog

In die skemerpers-uur, die aanduur wat tuiswaarts neig,

En die seeman tuis van die see besorg,

En die tikster tuis vir tee, sien hoe sy tafel afdek,

Vuur in die stoof aansteek, en kos uit blikkies skep.

Gevaarlik ver by die venster uit hang

Haar onderklere, om die son se laaste strale te vang;

En uitgestrek oor die divan (saans haar bed)

Lê kouse, pantoffels, onderrok, korset.

Ek, Tiresias, ou man met verrimpelde pramme,

Het die toneel gesien, die res voorspel –

Ek het ook die sekondes tot sy koms afgetel.

Hy arriveer, die jong man met puisies, voor op die wa.

’n klerk wat by ’n kleinskaalse huisagent werk,

met die vertroue van die laer klas aan sy bas,

Soos ’n Bedford-miljoenêr wat ’n syhoed dra.

Die tyd is nou gunstig, besluit hy verlig

Die maaltyd verby, sy verveeld en vermoeid,

Hy probeer haar liefkoos;

word nóg begeer, nóg betig.

Aangevuur, vasbeslote, val hy onmiddellik aan,

Verkennende hande kom voor geen teenstand te staan;

Sy eiewaan vereis geen toegeneentheid,

Gebruik die gaping van onverskilligheid.

(En ek, Tiresias, het alles vooruit gely,

Afgespeel op dieselfde divan of bed,

Ek wat by Thebes onder die muur gesit

En saam met die laagste dooies gewandel het.)

Hy gee haar ’n laaste neerbuigende kus,

En strompel voel-voel teen die donker trap af…

 

    Sy draai na die spieël en betrag haar beeld,

Skaars bewus van haar minnaar wat ry;

Half-bewustelik dink sy verveeld:

‘Wel, nou’s dit klaar en ek’s bly dis verby.’

As ’n lieflike vrou haar met stommiteit ophou,

Stap sy weer alleen deur haar kamer,

Druk sy haar kapsel reg met haar mou

En laat ’n plaat deur die kamer dawer.

 

    ‘Dié musiek sluip om my oor die water’

Al langs die Strand, met Queen Victoriastraat op.

O my Stad, my stad, soms hoor ek –

Langs ’n kroeg in Onder-Theemsstraat –

hoe ’n mandolien heerlik huil

En hoe die gekletter en gesels binne skuil

Waar vistermanne smiddae kuier: die mure

Van Magnus Martyr verskans

Ioniese wit en goud, onverklaarbare glans.

 

    Die rivier sweet

    Olie en teer

    Die bote drywe

    As die gety draai

    Rooi seile

    Swaai

    Aan die swaar mas, lywaarts.

    Die bote dryf

    Stompe wat gly

    Al langs die bo-loop by Greenwich

    By die Eiland van Honde verby.

        Weialala leia

        Wallala leialala

 

    Elizabeth en Leicester

    Spane wat roei

    Die agterstewe

    ’n Vergulde skulp

    Goud en rooi

    Die snelle deining

    Kabbel teen beide walle

    Die suidwestewind

    Dra die gebeier van klokke

    Stroomaf

    Wit torings

        Weialala leia

        Wallala leialala

 

‘Busse en bome onder die stof.

Highbury het my gedra. Richmond en Kew

was my ondergang. By Richmond lig ek my bene

Op die vloer van ’n nou kano.’

 

‘My voete is by Moorgate, en my hart

Is onder my voete. Na die insident

Huil hy, maak beloftes heel verward.

Ek sou dit daar wou laat. Wat sou wrewel baat?’

‘Op Margate-strand

kan ek niks met niks

Verbind.

Gebreekte naels – ’n vuil hand.

My volk, beskeie volk wat

Niks verwag.’

    la la

 

Na Karthago het ek toe gekom

 

Brandend brandend brandend brandend

O Heer U pluk my daaruit

O Heer U pluk

 

brandend

 

 

IV. Waterdood

 

Phlebas, die Feniciër, veertien dae dood,

Vergeet die skreeu van meeue, die deining van die diepsee

En wins en verlies.

                    ’n Ondersese stroom

Vreet fluisterend sy bene af. Terwyl hy dein en val

Deurreis hy weer die fases van ouderdom en jeug

Tot die draaikolk met hom maal.

                    Vreemdeling of Jood

O jy wat aan die roer staan en loefwaarts staar,

Onthou vir Phlebas, soos jy, eens skoon en rysig daar.

 

 

V. Die Woorde van die Donder

 

Na die rooi glans van fakkels op sweet

Na die koue stilte in die tuin

Na die doodsangs en klipplek-leed,

Die geskreeu en die geween

Tronk en paleis en die galm

Van lentedonder oor verre berge

Is hy wat geleef het nou dood

Ons wat geleef het nou sterwend

Met ’n bietjie geduld.

 

Hier is geen water slegs klip

Klip en geen water en die sandpad

Die pad wat slinger tussen hoë berge

Berge van klip sonder water

As daar water was kon ons stop en drink

Tussen die klip kan jy nie stop en dink

Sweet is droog en voete in die sand

As daar net water was tussen die klip

Dooie bergmond met vrot tande waar geen spoegkrag bestaan

Hier kan jy nóg lê nóg staan

Tussen die berge is daar selfs nie eens stilte

Maar droë dorre donder sonder reën

Tussen die berge is daar selfs nie eens eensaamte

Maar nors rooi gesigte snou en hoon

Uit deure van moddergekraakte wonings

                    As daar water was

En geen klip

As daar klip was

En ook water

En water

’n Fontein

’n Kuil tussen klippe

As daar maar net die klank van water was

Nie die sonbesie

En die droë gras wat sing nie

Maar die klank van water oor klip

Waar die lyster sing in die dennebome

Drip drup drip drup drup drup drup

Maar daar is geen water

 

    Wie is die derde wat langs jou bly loop?

As ek tel, is dit maar ek en jy

Maar as ek in die wit pad vorentoe tuur

Is daar ’n ander wat langs jou bly loop

In ’n bruin mantel en mus bly gly

’n Man of ’n vrou dis vir my onbekend

– Maar wie is dit dié aan jou anderkant?

 

    Wat is die klank hoog in die lug

Geklaag van moeders wat ween

Wie is die hordes wat swerm verskuil

Oor eindelose vlaktes, wat strompel deur slote

Omsingel deur slegs die horisonlyn

Wat is die stad oor die berge

Wat kraak en vervorm en in die pers lug ontplof

torings wat val

Jerusalem Athene Alexandrië

Wene Londen

Onwesenlik

 

    Styf span ’n vrou haar lang swart hare

En stryk fluistermusiek op dié snare

En vlermuise wat na babas in die pers lig lyk

Fluit en laat hul vlerke fladderend reik

En kruip onderstebo af teen ’n swart muur

En onderstebo in die lug hang torings

wat herinneringsklokke lui op die uur

En stemme sing uit droë bakke en uitgeputte putte.

 

    In hierdie vervalle oopte tussen die berge

In die dowwe maanlig, is die gras aan ’t sing

Oor die gebuitelde grafte, rondom die kapel

Daar is die leë kapel waar net die wind woon

Dit het geen vensters en die deur hel,

Droë bene kan niemand verloën.

Slegs ’n haan staan op die nok

Koe-ke-le-koe-koe-ke-le-koe                        

In ’n bliksemstraal. Dan bring ’n klam vlaag

Reën.

 

    Ganga’s versonke, en die slap blare

Wag vir reën, terwyl die swart wolke

Veraf vergader, oor die Himavant

Die oerwoud hurk, in stilte geboë.

Dan spreek die donder

DA

Datta:   wat het ons gegee?

My vriend, bloed wat die hart ruk

Die ontsettende waagmoed van ’n oomblik se oorgee

Wat ’n ewigheidswysheid nooit kan herroep

Hierdeur en hierdeur alleen het ons bestaan

Wat nie in ons doodsberigte gevind sal word

Of in herinnerings deur die weldadige spinnekop bedek

Of onder seëls deur die maer prokureur gebreek

In ons leë kamers nie

DA

Dayadhvam: Ek hoor die sleutel

Eenmaal in die deur draai, net eenmaal

Ons bedink die sleutel, elkeen in sy sel

Denkend aan die sleutel, bevestig elk sy sel

Slegs sawens, herleef ’n gebroke Coriolanus

Vir ’n wyle in vlugtige gerugte.

DA

Damyata: Die boot antwoord

Vrolik op hand en seil en spaan

Die see is kalm, jou hart sou ook

Vrolik antwoord, klop, uitgenooi

Deur hande wat beherend maan.

 

                    Ek sit op die strand

en visvang, met die droë vlakte agter my

Sal ek ten minste my lande in orde kry?

Londen-brug is aan die val aan die val aan die val

Poi s’ascose nel foco che gli affina

Quando fiam uit chelidon – O swawel swawel

Le Prince d’Aquitaine à la tour abolie

Hierdie brokke dam ek teen my ondergang op

Goed dan pas ek julle maar in. Hieronymo is al weer mal.

Datta. Dayadhvam. Damyata.

                    Shantih   shantih   shantih

 

 

 

(Vertaal deur Andries Wessels)

 

[Ter viering van die sewentigste herdenking van die publikasie van T.S. Elliot se The Waste Land in 1922, ’n vertaling van die gedig in Afrikaans.]

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.